Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 6/1 bl. 18-21
  • Maak goeie gebruik van jou nuuskierigheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Maak goeie gebruik van jou nuuskierigheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wees versigtig en gebalanseerd
  • ’n Aanmoedigende voorbeeld
  • ’n Veld wat verdien om ondersoek te word
  • Hou dit lewend!
  • Is jy weetgierig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Die mensdom het die kennis van God nodig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Neem kennis in—nou en vir ewig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Wat is die waarheid omtrent God?
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 6/1 bl. 18-21

Maak goeie gebruik van jou nuuskierigheid

“Die mens is ’n wese wat vrae vra. Van ons geboorte af begin ons vrae vra . . . Daar kan selfs gesê word dat die mensegeskiedenis die geskiedenis is van vrae en antwoorde wat ons as mense geformuleer het.” —Octavio Paz, Mexikaanse digter.

WAT inspireer ’n sjef om ’n nuwe dis te skep? Wat dryf ’n ontdekkingsreisiger om verafgeleë plekke te gaan verken? Wat laat ’n kind soveel vrae vra? Dit is meestal nuuskierigheid.

Wat van jou? Prikkel nuwe idees of ’n soeke na antwoorde op interessante vrae jou nuuskierigheid? Byvoorbeeld: Waar kom lewe vandaan? Waarom is ons hier? Bestaan God? Van kleins af word baie van ons deur nuuskierigheid beweeg om sulke vrae te vra en die hoekoms en die waaroms van dinge te probeer uitvind. Wanneer ’n idee ons fassineer, probeer ons alles daaromtrent leer. Nuuskierigheid kan dus tot baie wonderlike dinge lei. Maar dit kan ook probleme, selfs rampe, tot gevolg hê.

Wees versigtig en gebalanseerd

Baie mense ken die gesegde: Van nuuskierigheid is die tronk vol. Ja, nuuskierigheid kan gevaarlik wees as ’n mens dit nie beheer nie. Byvoorbeeld, ’n kind raak dalk uit nuuskierigheid aan ’n warm stoof, met rampspoedige gevolge. Aan die ander kant kan weetgierigheid ons aanspoor om ons kennis te verbreed, om tot die kern van dinge deur te dring. Maar sou dit verstandig wees om sommer enigiets wat dalk ons nuuskierigheid prikkel, te ondersoek?

Daar is natuurlik kennis wat nie gewens is nie omdat dit skadelik is. Nuuskierigheid oor pornografie, die okkulte of leringe van kultusse of ekstremistiese groepe kan maklik ons welsyn bedreig. Op hierdie en ander gebiede sal dit goed wees as ons die Hebreeuse psalmis navolg wat gebid het: “Wend my oë af, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie.”—Psalm 119:37.

Dan is daar kennis wat dalk nie as sodanig skadelik is nie, maar in werklikheid sinloos en onnodig is. Wat baat dit ons om byvoorbeeld alles te weet van die privaat lewe van rolprentsterre of ander beroemdes, om die statistiek in verband met elke sportspan en -speler te leer of om alles oor al die nuutste uitvindsels of jongste motormodelle te weet? Vir die meeste mense lei dit tot niks voordeligs om “deskundiges” op hierdie gebiede te wees nie.

’n Aanmoedigende voorbeeld

Nuuskierigheid het natuurlik sy positiewe sy. Dink aan die geval van Alexander von Humboldt, die 19de-eeuse Duitse natuurkenner en ontdekkingsreisiger na wie die Humboldt-stroom, langs die weskus van Suid-Amerika, vernoem is.

Op een stadium in sy lewe het Humboldt gesê: “Vandat ek baie jonk was, het ek ’n vurige begeerte gehad om na verre lande te reis, waar Europeërs nog selde gekom het.” Hierdie begeerte, het hy gesê, het ontstaan toe hy “’n onweerstaanbare aantrekkingskrag [gevoel het] in die impulsiewe onstuimigheid van die verstand”. Toe hy 29 was, het hy na Sentraal- en Suid-Amerika gereis op ’n ekspedisie wat vyf jaar geduur het. Met die inligting wat hy daar ingesamel het, het hy ’n verslag van sy reise geskryf wat 30 boekdele beslaan het.

Humboldt het alles ondersoek—die temperatuur van die oseaan, die visse wat daarin gelewe het, die plante wat hy op sy pad gevind het. Hy het berge uitgeklim, riviere verken en die oseane deurvaar. Humboldt se navorsing het die fondament gelê van etlike velde in die hedendaagse wetenskap. Dit het alles begin met sy intense nuuskierigheid, en sy onversadigbare begeerte na kennis was sy hele lewe lank deel van hom. In die woorde van die Amerikaanse essayis Ralph Waldo Emerson “was Humboldt een van daardie wonders . . . wat van tyd tot tyd verskyn, asof dit hulle doel is om aan ons te toon wat die moontlikhede van die menslike verstand is, die krag en die omvang van die sinne”.

’n Veld wat verdien om ondersoek te word

Daar is natuurlik baie min van ons wie se omstandighede ons toelaat om wêreldverkenners te word of om wetenskaplike ontdekkings te maak. Maar daar is een kennisveld waarin ons ons verstandelike vermoëns kan inspan, wat tot groter belonings sal lei as enige ander strewe. Jesus Christus het na hierdie strewe verwys toe hy tot sy hemelse Vader gebid het: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.

Kennis van die ware God, wie se naam Jehovah is, en van sy Seun, Jesus Christus, kan ’n weetgierige gees beloon op maniere wat geen ander inligting dit kan doen nie. Dink aan die vrae oor die lewe wat aan die begin van hierdie artikel gestel is. ’n Paar verdere vrae is: Waarom is daar soveel lyding in die wêreld? Sal die aarde deur die mens verderf, selfs vernietig, word? En wat sal God doen om te verseker dat so ’n lot die mens nie tref nie? As ons antwoorde op hierdie vrae vind, sal dit nie net ons nuuskierigheid bevredig nie. Soos Jesus gesê het: “Dít beteken die ewige lewe.” Waarom kan ons hiervan seker wees?

Die Bybel is die geïnspireerde Woord van God. Die Christenapostel Paulus het daarvan geskryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk.”—2 Timoteus 3:16, 17.

Dink net—die apostel het gesê dat die Bybel kennis voorsien wat ons kan toerus of in staat kan stel om alles wat goed is, te doen. Dit kan ons help om dinge uit God se oogpunt te beskou. En ons weet dat God se kennis en wysheid ver verhewe is bo dié van enigiemand anders. Die profeet Jesaja is geïnspireer om hierdie betekenisvolle verklaring van God op te teken: “‘Julle gedagtes is nie my gedagtes nie, en ook is my weë nie julle weë nie’, sê Jehovah. ‘Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.’”—Jesaja 55:8, 9.

Sou jy graag van God se verhewe weë en gedagtes wou leer? Spoor jou nuuskierigheid jou aan om uit te vind wat God se Woord, die Bybel, oor God se weë en gedagtes sê? Is jy gretig om te leer hoe God ’n einde gaan maak aan alle lyding en watter goeie dinge hy vir die gehoorsame mensdom in die vooruitsig stel? Die Bybel rig hierdie uitnodiging aan jou: “Smaak en sien dat Jehovah goed is; gelukkig is die man wat sy toevlug tot hom neem.”—Psalm 34:8.

Die kragtige waarhede van God se Woord kan ’n impak hê op ’n opregte hart, net soos lig op iemand wat vir die eerste keer sien. Die apostel Paulus is beweeg om te verklaar: “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë!” (Romeine 11:33). Die waarheid is dat dit ons ’n ewigheid sal neem om die rykdom van God se kennis en wysheid ten volle te kan verstaan. Ons het die opwindende vooruitsig om nooit verveeld te raak nie, om altyd iets nuuts te ontdek.

Hou dit lewend!

Die meeste van ons sal weliswaar nooit beroemde ontdekkingsreisigers of uitvinders word nie. En moontlik sal ons nooit in ’n gewone leeftyd alles verstaan wat ons graag wil verstaan nie. Maar moenie ophou om nuuskierig te wees nie. Hou die dors na kennis, wat God met soveel liefde vir ons gegee het, lewend.

Maak goeie gebruik van hierdie wonderlike gawe van God, en ontwikkel ’n juiste begrip van God se geïnspireerde Woord, die Bybel. As jy dit doen, sal jy nou ’n sinvolle en vreugdevolle lewe lei, en jy kan daarna uitsien om dit tot in alle ewigheid te geniet. “Alles het [God] mooi gemaak op die tyd daarvoor”, sê die Bybel. “Selfs onbepaalde tyd het hy in hulle hart gesit, dat die mensdom nooit die werk wat die ware God gemaak het, van begin tot einde kan uitvind nie.”—Prediker 3:11.

[Venster/Prente op bladsy 21]

Het jy geweet?

• Eeue voordat Columbus en Magellaan getoon het wat die vorm van die aarde is, het die Bybel gesê dat die aarde nie plat is nie, maar rond.—Jesaja 40:22.

• Lank voordat ruimtevaarders gesien het dat die aarde in leë ruimte hang, het die Bybel gesê dat dit aan niks hang nie.—Job 26:7.

• Ten minste 2 500 jaar voordat die Engelse dokter William Harvey die bloedsomloopstelsel in die menseliggaam ontdek het, het die Bybel na die hart verwys as ’n fontein, of bron, van lewe.—Spreuke 4:23.

• Sowat 3 000 jaar gelede het die Bybel in eenvoudige terme die aarde se waterkringloop beskryf as ’n deel van die ekosisteem wat lewe op die aarde moontlik maak.—Prediker 1:7.

Is dit nie verbasend dat hierdie wetenskaplike feite in die Bybel genoem is lank voordat mense dit kon verstaan of ontdek het nie? Die Bybel bevat in werklikheid ’n skatkis van lewensbelangrike inligting wat net wag om ontdek te word.

[Prent op bladsy 19]

Alexander von Humboldt

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel