Dinge waarvoor ons moet vlug
“Addergebroedsel, wie het julle te kenne gegee dat julle vir die komende gramskap kan vlug?”—MATT. 3:7.
1. Wat is ’n paar Bybelvoorbeelde van mense wat gevlug het?
WAARAAN dink jy wanneer jy die woord “vlug” hoor? Party sien miskien in hulle verbeelding hoe die jong man Josef wegvlug van die onsedelike toenadering van Potifar se vrou (Gen. 39:7-12). Ander dink dalk aan die Christene wat in die jaar 66 G.J. uit Jerusalem gevlug het in gehoorsaamheid aan Jesus se waarskuwing: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet . . . dié wat in Judea is, . . . na die berge begin vlug, en laat dié wat in die stad is, uitgaan.”—Luk. 21:20, 21.
2, 3. (a) Wat was die betekenis van Johannes die Doper se kritiek teen die godsdiensleiers? (b) Hoe het Jesus die waarskuwing versterk wat Johannes gegee het?
2 Die bogenoemde voorbeelde handel oor mense wat in letterlike sin gevlug het. Vandag is dit vir ware Christene in feitlik elke land regoor die aarde dringend nodig om in figuurlike sin te vlug. Johannes die Doper het die woord “vlug” in hierdie sin gebruik. Onder die mense wat uitgegaan het om Johannes te sien, was eiegeregtige Joodse godsdiensleiers wat gevoel het dat hulle nie berou hoef te toon nie. Hulle het neergesien op die gewone mense wat gedoop is as ’n simbool van berou. Johannes het hierdie huigelagtige leiers vreesloos ontmasker: “Addergebroedsel, wie het julle te kenne gegee dat julle vir die komende gramskap kan vlug? Bring dan vrugte voort wat by berou pas.”—Matt. 3:7, 8.
3 Johannes het nie van vlug in die letterlike sin gepraat nie. Hy het oor ’n komende oordeel, ’n dag van gramskap, gewaarsku; en hy het die godsdiensleiers gewaarsku dat hulle vrugte moet voortbring as bewys van hulle berou as hulle gedurende daardie dag wou ontkom. Later het Jesus die godsdiensleiers vreesloos veroordeel—hulle moorddadige gesindheid het getoon dat die Duiwel hulle regte vader is (Joh. 8:44). Jesus het Johannes se vroeëre waarskuwing versterk en hulle “addergebroedsel” genoem en gevra: “Hoe sal julle die oordeel van Gehenna ontvlug?” (Matt. 23:33). Wat het Jesus met “Gehenna” bedoel?
4. Wat het Jesus met “Gehenna” bedoel?
4 Gehenna was ’n vallei buite die mure van Jerusalem waar vullis en die karkasse van dooie diere verbrand is. Jesus het Gehenna as ’n simbool van ewige dood gebruik. (Sien bladsy 27.) Sy vraag oor die ontvlugting van Gehenna het getoon dat daardie godsdiensleiers as ’n klas ewige vernietiging verdien het.—Matt. 5:22, 29.
5. Hoe bewys die geskiedenis dat Johannes en Jesus se waarskuwings vervul is?
5 Die Joodse leiers het hulle sondes vererger deur Jesus en sy volgelinge te vervolg. Later het God se dag van gramskap gekom, soos Johannes en Jesus gewaarsku het. In daardie geval was “die komende gramskap” toegespits op een spesifieke gebied, Jerusalem en Judea; dit was dus moontlik om in letterlike sin te vlug. Die gramskap is uitgestort toe Jerusalem en sy tempel in 70 G.J. deur Romeinse leërs vernietig is. Daardie “verdrukking” was groter as enigiets wat Jerusalem ooit tevore ervaar het. Baie is doodgemaak of gevange geneem. Dit het vooruitgewys na ’n groter vernietiging wat op talle verklaarde Christene en lede van ander godsdienste wag.—Matt. 24:21.
’n Toekomstige gramskap om van te vlug
6. Wat het in die vroeë Christengemeente ontstaan?
6 Party onder die vroeë Christene het afvallig geword en volgelinge gewerf (Hand. 20:29, 30). Terwyl Jesus se apostels gelewe het, het hulle as “’n teëhouer” gedien teen hierdie afvalligheid, maar ná hulle dood het talle valse Christelike sektes ontstaan. Vandag is daar honderde teenstrydige godsdienste in die ryk van die Christendom. Die Bybel het die opgang van die Christendom se geestelikes voorspel en hulle as ’n groep beskryf as “die mens van wetteloosheid” en “die seun van vernietiging . . . , met wie die Here Jesus sal wegdoen . . . en wat hy tot niet sal maak deur die openbaarwording van sy teenwoordigheid”.—2 Tess. 2:3, 6-8.
7. Waarom is die uitdrukking “die mens van wetteloosheid” gepas vir die Christendom se geestelikes?
7 Die Christendom se geestelikes is wetteloos in die sin dat hulle miljoene mislei deur leerstellings, heilige dae en gedrag te bevorder wat strydig is met die Bybel. Soos die godsdiensleiers wat deur Jesus veroordeel is, sal die hedendaagse aanbidders wat deel van “die seun van vernietiging” is, vernietig word, sonder enige hoop op ’n opstanding (2 Tess. 1:6-9). Maar wat wag op mense wat deur die geestelikes van die Christendom en die leiers van ander vorme van valse godsdiens mislei is? Om hierdie vraag te beantwoord, gaan ons kyk na gebeure wat ’n vroeëre vernietiging van Jerusalem, in 607 v.G.J., voorafgegaan het.
“Vlug uit Babilon uit”
8, 9. (a) Wat was Jeremia se profetiese boodskap aan Joodse ballinge in Babilon? (b) In watter sin kon hulle vlug nadat die Mede en die Perse Babilon verower het?
8 Die profeet Jeremia het die vernietiging van Jerusalem, wat in 607 v.G.J. plaasgevind het, voorspel. Hy het gesê dat God se volk in gevangenskap weggevoer sou word maar ná “sewentig jaar” in hulle vaderland herstel sou word (Jer. 29:4, 10). Jeremia het ’n belangrike boodskap gehad vir die Joodse ballinge in Babilon; hulle moes nie besmet word deur die valse godsdiens wat in Babilon beoefen is nie. Op dié manier sou hulle gereed wees om na Jerusalem terug te keer en rein aanbidding te herstel wanneer die vasgestelde tyd aanbreek. Dit het gebeur kort nadat die Mede en die Perse Babilon in 539 v.G.J. verower het. Die Persiese koning Kores II het ’n verordening uitgevaardig dat die Jode moet terugkeer en Jehovah se tempel in Jerusalem moet herbou.—Esra 1:1-4.
9 Duisende Jode het hierdie geleentheid aangegryp en teruggekeer (Esra 2:64-67). Sodoende het hulle Jeremia se profetiese opdrag vervul wat in hulle geval beteken het dat hulle in sekere sin moes vlug, naamlik van een plek na ’n ander. (Lees Jeremia 51:6, 45, 50.) Weens omstandighede kon nie alle Jode die lang reis terug na Jerusalem en Juda onderneem nie. Dié wat in Babilon agtergebly het, soos die bejaarde profeet Daniël, kon God se seën geniet, mits hulle rein aanbidding, waarvan Jerusalem die middelpunt was, heelhartig ondersteun het en afgeskeie van Babiloniese valse aanbidding gebly het.
10. Vir watter soort “walglike dinge” is “Babilon die Grote” verantwoordelik?
10 Vandag is miljarde mense betrokke by verskillende vorme van valse godsdiens wat tot eertydse Babilon teruggevoer kan word (Gen. 11:6-9). Hierdie godsdienste word almal saam beskryf as “Babilon die Grote, die moeder van die hoere en van die walglike dinge van die aarde” (Op. 17:5). Valse godsdiens ondersteun al baie lank die politieke heersers van hierdie wêreld. Een van “die walglike dinge” waarvoor sy verantwoordelik is, is die talle oorloë waarin honderdmiljoene “op die aarde doodgemaak is” (Op. 18:24). Ander “walglike dinge” sluit in dade van pedofilie en ander vorme van geslagsonsedelikheid wat deur geestelikes gepleeg en deur die kerkowerhede geduld word. Is dit dan enigsins verbasend dat Jehovah God valse godsdiens binnekort van die aarde sal verwyder?—Op. 18:8.
11. Wat is ware Christene verplig om te doen totdat Babilon die Grote vernietig word?
11 Ware Christene, wat dít weet, is verplig om lede van Babilon die Grote te waarsku. Een manier waarop hulle dit doen, is deur Bybels en Bybellektuur te versprei wat uitgegee word deur “die getroue en verstandige slaaf”, wat deur Jesus aangestel is om geestelike “voedsel op die regte tyd” te voorsien (Matt. 24:45). Wanneer mense belangstelling in die Bybel se boodskap toon, word reëlings getref om hulle deur middel van ’n Bybelstudie te help. Hulle sal hopelik sien hoe belangrik dit is om ‘uit Babilon uit te vlug’ voordat dit te laat is.—Op. 18:4.
Vlug vir die afgodediens
12. Hoe beskou God die verering van beelde en afgode?
12 Nog ’n walglike gebruik wat in Babilon die Grote algemeen is, is die verering van beelde en afgode. God noem hulle “walglike dinge” en “drekgode” (Deut. 29:17). Almal wat God wil behaag, moet afgodediens vermy in ooreenstemming met God se verklaring: “Ek is Jehovah. Dit is my naam; en aan niemand anders sal ek my heerlikheid gee nie, en ook nie my lof aan gesnede beelde nie.”—Jes. 42:8.
13. Vir watter subtiele vorme van afgodediens moet ons vlug?
13 God se Woord lê ook subtiele vorme van afgodediens bloot. Byvoorbeeld, dit noem hebsug “afgodediens” (Kol. 3:5). Hebsug is ’n begeerte na wat verbode is, soos iemand anders se besittings (Eks. 20:17). Die engel wat Satan die Duiwel geword het, het ’n hebsugtige begeerte ontwikkel om soos die Allerhoogste te wees en aanbid te word (Luk. 4:5-7). Dit het daartoe gelei dat hy teen Jehovah in opstand gekom het en Eva verlei het om iets te begeer wat God verbied het. Adam het hom ook in sekere sin aan afgodediens skuldig gemaak deur sy selfsugtige begeerte na sy vrou se kameraadskap bo gehoorsaamheid aan sy liefdevolle hemelse Vader te stel. In teenstelling hiermee moet almal wat God se dag van gramskap wil ontvlug, uitsluitlike toegewydheid aan hom gee en enige hebsug van hierdie aard weerstaan.
“Vlug vir die hoerery”
14-16. (a) Waarom was Josef so ’n goeie voorbeeld op sedelike gebied? (b) Wat moet ons doen as ons ’n onrein seksuele begeerte het? (c) Hoe kan ons daarin slaag om vir die hoerery te vlug?
14 Lees 1 Korintiërs 6:18. Toe Potifar se vrou Josef probeer verlei het, het hy letterlik van haar af weggevlug. Wat ’n goeie voorbeeld het hy tog vir ongetroude sowel as getroude Christene gestel! Dit is duidelik dat Josef se gewete gevorm is deur vroeëre aanduidings van God se denke. As ons gehoorsaam wil wees aan die gebod om ‘vir die hoerery te vlug’, sal ons dinge vermy wat ’n seksuele begeerte na iemand anders as ons huweliksmaat kan opwek. Daar word vir ons gesê: “Maak . . . dood julle liggaamsdele . . . ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodediens is. Weens dié dinge kom die gramskap van God.”—Kol. 3:5, 6.
15 Let daarop dat ‘die gramskap van God kom’. Baie in die wêreld ontwikkel ongepaste seksuele begeertes en gee daaraan toe. Gevolglik moet ons as Christene om God se hulp en die heilige gees bid sodat onrein seksuele begeertes nie die oorhand oor ons kry nie. En as ons die Bybel bestudeer, Christelike vergaderinge bywoon en ons medemens van die goeie nuus vertel, sal dit ons help om ‘aan te hou om deur gees te wandel’. Sodoende “sal [ons] hoegenaamd geen vleeslike begeerte uitvoer nie”.—Gal. 5:16.
16 As ons na pornografie kyk, sal ons beslis nie ‘deur gees wandel’ nie. Elke Christen moet ook daarteen waak om seksueel prikkelende materiaal te lees of daarna te kyk of te luister. So ook is dit vir God se “heilige mense” verkeerd om enige genot daaruit te put om grappies oor sulke dinge te maak of dit onder mekaar te bespreek (Ef. 5:3, 4). Hierdeur toon ons aan ons liefdevolle Vader dat ons werklik sy komende gramskap wil ontvlug en in die regverdige nuwe wêreld wil lewe.
Vlug vir “die liefde vir geld”
17, 18. Waarom moet ons vlug vir “die liefde vir geld”?
17 In sy eerste brief aan Timoteus het Paulus beginsels beklemtoon wat Christenslawe moes rig, van wie party dalk materiële voordele verwag het omdat hulle eienaars Christene was. Ander het miskien heilige dinge vir selfsugtige gewin probeer gebruik. Paulus het gewaarsku dat niemand moet “dink dat godvrugtige toegewydheid ’n middel tot [materiële] gewin is” nie. Die kern van die probleem was moontlik “die liefde vir geld”, wat ’n slegte uitwerking kan hê op enigiemand, ryk of arm.—1 Tim. 6:1, 2, 5, 9, 10.
18 Kan jy dink aan Bybelvoorbeelde van persone wie se verhouding met God geskaad is deur “die liefde vir geld” of die liefde vir onnodige dinge wat geld kan koop? (Jos. 7:11, 21; 2 Kon. 5:20, 25-27). Paulus het Timoteus aangespoor: “Jy, o mens van God, vlug vir hierdie dinge. Streef daarenteen na regverdigheid, godvrugtige toegewydheid, geloof, liefde, volharding, sagmoedigheid” (1 Tim. 6:11). Dit is noodsaaklik dat almal wat die komende dag van gramskap wil oorleef, hierdie raad gehoorsaam.
‘Vlug vir die begeertes wat eie is aan die jeug’
19. Wat het alle jongmense nodig?
19 Lees Spreuke 22:15. Die dwaasheid in die hart van ’n jongmens kan hom of haar maklik mislei. Iets wat dit kan help teëwerk, is dissipline wat op die Bybel gegrond is. Talle jong Christene wie se ouers nie dieselfde godsdiensoortuiging as hulle het nie, probeer beginsels in die Bybel vind en toepas. Ander vind baat by die wyse raad van geestelik volwasse persone in die gemeente. Ongeag wie die Bybelse raad gee, gehoorsaamheid daaraan kan nou sowel as in die toekoms tot geluk lei.—Heb. 12:8-11.
20. Hoe kan jongmense hulp vind om vir verkeerde begeertes te vlug?
20 Lees 2 Timoteus 2:20-22. Menige jong hart wat nie goeie dissipline ontvang het nie, het die slagoffer van dwase weë geword, soos ’n gees van mededinging, hebsug, hoerery, die liefde vir geld en die najaging van genot. Hierdie dinge weerspieël “die begeertes wat eie is aan die jeug”, waarvoor die Bybel ons maan om te vlug. Om te vlug, vereis dat ’n jong Christen waak teen skadelike invloede, waar dit ook al voorkom. Die goddelike raad om godvrugtige eienskappe na te streef “saam met dié wat die Here uit ’n rein hart aanroep”, is besonder nuttig.
21. Watter wonderlike belofte het Jesus Christus in verband met sy skaapgeaarde volgelinge gemaak?
21 Hetsy ons jonk of oud is, as ons weier om na mense te luister wat ons probeer mislei, toon dit dat ons onder Jesus se skaapgeaarde volgelinge wil wees wat “wegvlug [van] die stem van vreemdelinge” (Joh. 10:5). Maar as ons God se dag van gramskap wil ontvlug, moet ons meer doen as om net vir skadelike dinge te vlug. Ons moet ook positiewe eienskappe nastreef. Die volgende artikel sal sewe hiervan bespreek. Ons het goeie rede om dít verder te ondersoek, want Jesus maak hierdie wonderlike belofte: “Ek gee [my skape] die ewige lewe, en hulle sal beslis nooit vernietig word nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”—Joh. 10:28.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter waarskuwing het Jesus aan godsdiensleiers gegee?
• Watter gevaarlike situasie staar miljoene vandag in die gesig?
• Vir watter subtiele vorme van afgodediens moet ons vlug?
[Prente op bladsy 8, 9]
Waaraan dink jy wanneer jy die woord “vlug” hoor?