Behou “’n driedubbele tou” in die huwelik
“’n Driedubbele tou kan nie gou in twee gebreek word nie.”—PRED. 4:12.
1. Wie het die eerste mensepaar in die huwelik verenig?
NADAT Jehovah God die plante en diere geskep het, het hy die eerste mens, Adam, gemaak. God het later ’n diep slaap op Adam laat val, en Hy het een van Adam se ribbebene gebruik om vir hom ’n volmaakte helper te maak. Toe Adam haar sien, het hy gesê: “Dit is eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees” (Gen. 1:27; 2:18, 21-23). Jehovah het getoon dat hy hierdie verwikkeling goedkeur deur die eerste mensepaar in die huwelik te verenig en sy seën oor hulle uit te spreek.—Gen. 1:28; 2:24.
2. Hoe het Satan ’n wig tussen Adam en Eva ingedryf?
2 Ongelukkig is die goddelike instelling van die huwelik weldra aangeval. Hoe so? ’n Bose gees, wat later Satan genoem is, het Eva bedrieg sodat sy geëet het van die enigste boom wat vir die egpaar verbode was. Later het Adam by sy vrou aangesluit in ’n daad wat neergekom het op opstand teen God se regmatige heerskappy en goeie leiding (Gen. 3:1-7). Toe Jehovah die egpaar gevra het wat hulle gedoen het, het dit duidelik geword dat hulle verhouding reeds gespanne was. Adam het die skuld op sy vrou gepak en gesê: “Die vrou wat u gegee het om by my te wees, sy het vir my vrugte van die boom gegee, en daarom het ek geëet.”—Gen. 3:11-13.
3. Watter verkeerde beskouing het party Jode ontwikkel?
3 In die eeue sedertdien het Satan ’n verskeidenheid slinkse metodes gebruik om onmin in die huwelik te veroorsaak. Byvoorbeeld, hy het soms godsdiensleiers gebruik om ’n onskriftuurlike beskouing van die huwelik te bevorder. Party Joodse leiers het God se standaarde geminag en mans toegelaat om van hulle vrou te skei oor onbenullighede soos te veel sout in die kos. Maar Jesus het gesê dat “elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery, en met ’n ander trou, egbreuk pleeg”.—Matt. 19:9.
4. Hoe word die huweliksreëling vandag aangeval?
4 Satan probeer nog steeds om die huweliksband te verbreek. Homoseksuele verbintenisse, ongetroudes wat saamlewe en maklike egskeidings bewys dat hy groot sukses behaal in hierdie opsig. (Lees Hebreërs 13:4.) Wat kan ons as Christene doen sodat ons nie deur die heersende verdraaide beskouing van die huwelik beïnvloed word nie? Kom ons bespreek ’n paar kenmerke van ’n gelukkige, suksesvolle huwelik.
Hou Jehovah in die huwelik
5. Wat beteken die uitdrukking “driedubbele tou” met betrekking tot die huwelik?
5 ’n Huwelik kan slegs floreer wanneer Jehovah deel van die verhouding is. Sy Woord sê: “’n Driedubbele tou kan nie gou in twee gebreek word nie” (Pred. 4:12). “Driedubbele tou” is ’n figuurlike uitdrukking. Wanneer hierdie illustrasie op die huwelik toegepas word, sluit dit die man en vrou in, die eerste twee drade, wat verweef is met die vernaamste draad, Jehovah God. Wanneer ’n egpaar met God verenig is, gee dit hulle die geestelike krag om probleme die hoof te bied, en dit is die sleutel tot die grootste geluk in die huwelik.
6, 7. (a) Wat kan Christene doen om te verseker dat God in hulle huwelik is? (b) Wat waardeer een suster omtrent haar man?
6 Maar wat kan ’n egpaar doen om te verseker dat hulle huwelik soos ’n driedubbele tou is? Die psalmis Dawid het gesing: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen, en u wet is in my ingewande” (Ps. 40:8). Ons liefde vir God beweeg ons eweneens om hom met ’n volkome hart te dien. Albei huweliksmaats moet dus ’n innige persoonlike verhouding met Jehovah aankweek en daarin behae skep om sy wil te doen. Huweliksmaats moet ook daarna streef om hulle maat se liefde vir God te versterk.—Spr. 27:17.
7 As God se wet werklik in ons ingewande is, sal ons eienskappe soos geloof, hoop en liefde openbaar, wat sal help om die huweliksband te versterk (1 Kor. 13:13). ’n Christen met die naam Sandra, wat al 50 jaar lank getroud is, sê: “Wat ek die meeste in my man waardeer, is sy geestelike leiding en raad en sy liefde vir Jehovah, wat sterker is as sy liefde vir my.” Mans, kan soortgelyke kommentare oor julle gemaak word?
8. Wat is nodig om “’n goeie beloning” in die huwelik te verkry?
8 Stel julle as ’n egpaar altyd geestelike sake en Koninkryksbelange eerste in julle lewe? En beskou julle werklik julle maat as julle metgesel in Jehovah se diens? (Gen. 2:24). Die wyse koning Salomo het geskryf: “Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle harde werk” (Pred. 4:9). Ja, ’n man en vrou moet hulle inspan om “’n goeie beloning” te verkry in die vorm van ’n liefdevolle en blywende huwelik wat God se seën geniet.
9. (a) Watter verantwoordelikhede het mans? (b) Hoe moet ’n man sy vrou volgens Kolossense 3:19 behandel?
9 As die man sowel as die vrou hulle inspan om aan God se vereistes te voldoen, is dit ’n aanduiding dat Hy in hulle huwelik is. Dit is hoofsaaklik die man se verantwoordelikheid om na die materiële en geestelike behoeftes van die gesin om te sien (1 Tim. 5:8). Hy word ook aangemoedig om sy vrou se emosionele behoeftes in ag te neem. Ons lees in Kolossense 3:19: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê en moenie vir hulle bitter kwaad wees nie.” ’n Bybelgeleerde het verduidelik dat die uitdrukking “bitter kwaad” onder meer beteken “om hulle bitter woorde, of houe, te gee en om hulle die liefde, sorg, voorsiening, beskerming en hulp wat hulle toekom, te ontsê”. Sulke gedrag is beslis onvanpas in ’n Christengesin. ’n Man wat sy hoofskap op ’n liefdevolle wyse uitoefen, wek in sy vrou ’n bereidwilligheid om aan hom onderdanig te wees.
10. Watter gesindheid moet Christenvrouens openbaar?
10 Christenvrouens wat daarna streef om Jehovah in hulle huwelik te hou, moet ook aan God se vereistes voldoen. Die apostel Paulus het geskryf: “Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans soos aan die Here, want ’n man is die hoof van sy vrou, soos die Christus ook die hoof van die gemeente is” (Ef. 5:22, 23). Satan het Eva bedrieg en die leuen bevorder dat onafhanklikheid van God blywende geluk sal meebring. Die gees van onafhanklikheid word nou in baie huwelike duidelik gesien. Maar vir godvrugtige vrouens is onderdanigheid aan hulle liefdevolle hoof nie onaangenaam nie. Hulle hou in gedagte dat Jehovah Eva gemaak het om “’n komplement” van haar man te wees, wat God natuurlik as ’n eerbare posisie beskou het (Gen. 2:18). ’n Christenvrou wat hierdie reëling gewillig ondersteun, is werklik “’n kroon” vir haar man.—Spr. 12:4.
11. Wat het een broer gemeen het sy huwelik gehelp?
11 Nog iets wat help om God in ’n huwelik te hou, is dat ’n egpaar God se Woord saam bestudeer. Gerald, wat al 55 jaar lank gelukkig getroud is, sê: “Die allerbelangrikste bestanddeel in ’n suksesvolle huwelik is om die Bybel saam te lees en te bestudeer.” Hy voeg by: “As huweliksmaats dinge saam doen, veral geestelike dinge, bring dit hulle baie nader aan mekaar en aan Jehovah.” As die gesin die Bybel saam bestudeer, help dit hulle om Jehovah se standaarde duidelik voor oë te hou, hulle geestelikheid te versterk en vooruitgang te bly maak.
12, 13. (a) Waarom is dit so belangrik vir ’n egpaar om saam te bid? (b) Watter ander geestelike bedrywighede versterk ’n huwelik?
12 Gelukkige egpare bid ook saam. Wanneer ’n man ‘sy hart uitstort’ met spesifieke versoeke in verband met hulle omstandighede, kan dit nie anders as om die huweliksband te versterk nie (Ps. 62:8). Hoeveel makliker sal dit byvoorbeeld wees om ’n meningsverskil met jou maat opsy te skuif nadat julle die Almagtige saam om raad en leiding gevra het! (Matt. 6:14, 15). In ooreenstemming met die gebed sal dit vir albei maats uiters gepas wees om hulle voor te neem om die ander een te help en om ‘aan te hou om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe’ (Kol. 3:13). Hou in gedagte dat gebed vertroue op God openbaar. Koning Dawid het gesê: “Op u is almal se oë hoopvol gerig” (Ps. 145:15). Wanneer ons ons hoopvol in gebed tot God wend, het ons minder kwellinge, in die wete dat ‘hy vir ons sorg’.—1 Pet. 5:7.
13 Nog ’n belangrike manier om Jehovah in ’n huwelik te hou, is deur gemeentelike vergaderinge by te woon en in die bediening saam te werk. By ons vergaderinge leer egpare hoe om die “listige dade” te weerstaan wat Satan gebruik om verdeeldheid in gesinne te veroorsaak (Ef. 6:11, vtn. in NW). En ’n man en vrou wat gereeld in die bediening saam werk, leer om ‘standvastig, onbeweeglik te word’.—1 Kor. 15:58.
Wanneer probleme ontstaan
14. Watter dinge kan tot druk in die huwelik bydra?
14 Die bogenoemde wenke klink weliswaar miskien nie nuut of oorspronklik nie, maar bespreek dit gerus openlik met jou maat. Kyk of daar ’n aspek in julle huwelik is waaraan groter aandag geskenk moet word. Die Bybel erken egter dat selfs diegene wat God in hulle huwelik het, “verdrukking in hulle vlees [sal] hê” (1 Kor. 7:28). As gevolg van menslike onvolmaaktheid, die slegte invloed van hierdie wettelose wêreld en die strikke van die Duiwel kan selfs die huwelike van getroue knegte van God onder groot druk geplaas word (2 Kor. 2:11). Maar Jehovah stel ons in staat om sulke druk die hoof te bied. Ja, dit kan gedoen word. Die getroue man Job het sy vee, sy dienaars en sy kinders verloor. Tog sê die Bybel: “In dit alles het Job nie gesondig of enigiets ongepas aan God toegeskryf nie.”—Job 1:13-22.
15. Hoe kan druk mense laat reageer, en wat is die beste manier waarop huweliksmaats so ’n reaksie kan hanteer?
15 Job se vrou het egter vir hom gesê: “Hou jy nog vas aan jou onkreukbaarheid? Vervloek God en sterf!” (Job 2:9). Ja, wanneer tragedies plaasvind of ander moeilike omstandighede ontstaan, kan die ontsteltenis wat dit veroorsaak, ’n mens irrasioneel laat optree. “Verdrukking kan ’n wyse waansinnig laat optree”, sê die wyse man (Pred. 7:7). As jou maat weens ’n ontbering of “verdrukking” met kwetsende woorde uitvaar, moet jy probeer kalm bly. As jy op dieselfde wyse as jou maat reageer, kan dit een of albei van julle iets laat sê wat die situasie sal vererger. (Lees Psalm 37:8.) Sien dus enige “wilde praatjies” wat uit frustrasie of ontmoediging voortspruit, oor die hoof.—Job 6:3.
16. (a) Hoe is Jesus se woorde in Matteus 7:1-5 op die huwelik van toepassing? (b) Waarom is balans so belangrik in die huwelik?
16 Huweliksmaats moet realisties wees in hulle verwagtinge. Een maat sien moontlik sekere eienaardighede in die ander en dink: ‘Ek kan hom (of haar) verander.’ Met liefde en geduld sal jy miskien jou maat kan help om geleidelik te verbeter. Maar moenie vergeet dat Jesus iemand wat altyd ’n ander se geringe tekortkominge kritiseer, vergelyk het met iemand wat ’n “strooihalm” in sy broer se oog sien, maar nie ’n “balk” in sy eie oog opmerk nie. Jesus het ons aangespoor: “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie.” (Lees Matteus 7:1-5.) Dit beteken nie dat ernstige tekortkominge geïgnoreer moet word nie. Robert, wat al byna 40 jaar lank getroud is, het gesê: “Om eerlik en openhartig met mekaar te wees en dan bereid te wees om geldige kritiek te aanvaar, sal dalk beteken dat huweliksmaats veranderinge in hulle lewe moet maak.” Wees dus gebalanseerd. Moet jou nie verknies oor die eienskappe wat jy graag in jou maat wil sien nie, maar leer eerder om die positiewe eienskappe wat hy of sy nou het, te waardeer en te geniet.—Pred. 9:9.
17, 18. Waar kan ons hulp kry wanneer probleme toeneem?
17 ’n Verandering van lewensomstandighede kan toetse meebring. ’n Egpaar kom moontlik voor uitdagings te staan wanneer hulle kinders het. ’n Maat of ’n kind word miskien ernstig siek. Bejaarde ouers het dalk spesiale versorging nodig. Volwasse kinders trek moontlik ver van die huis af weg. Teokratiese voorregte en verantwoordelikhede kan ander veranderinge meebring. Al hierdie veranderinge kan ’n mate van druk en angstigheid in ’n verhouding veroorsaak.
18 Wat kan jy doen as die druk op jou huwelik jou laat voel dat jy ’n breekpunt bereik het? (Spr. 24:10). Moenie moed opgee nie! Satan sou baie graag wou sien dat een van God se knegte ware aanbidding versaak. Hy sou selfs gelukkiger wees as ’n egpaar dit doen. Doen dus alles in jou vermoë om seker te maak dat jou huwelik ’n driedubbele tou bly. Die Bybel bevat baie verslae van persone wat ondanks hewige beproewinge getrou gebly het. Dawid het byvoorbeeld eenkeer sy hart voor Jehovah uitgestort en gesê: “Betoon guns aan my, o God, want die sterflike mens . . . bly my verdruk” (Ps. 56:1). Het jy al ooit gevoel dat “die sterflike mens” jou verdruk? Hetsy die druk wat jy ervaar, van ver af kom of van iemand wat naby jou is, onthou: Dawid het die krag gevind om te volhard, en jy kan ook. “Ek het Jehovah geraadpleeg, en hy het my geantwoord”, het Dawid gesê. “Uit al my verskrikkinge het hy my verlos.”—Ps. 34:4.
Verdere seëninge
19. Hoe kan ons Satan se aanvalle afweer?
19 In hierdie tyd van die einde moet huweliksmaats “[aanhou] om mekaar te vertroos en mekaar op te bou” (1 Tess. 5:11). Moenie vergeet dat Satan steeds beweer dat ons lojaliteit teenoor Jehovah op selfsug gegrond is nie. Hy sal elke moontlike middel, insluitende die ontwrigting van ’n huwelik, gebruik om ons onkreukbaarheid teenoor God te ondermyn. Om Satan se aanvalle af te weer, moet ons ten volle op Jehovah vertrou (Spr. 3:5, 6). Paulus het geskryf: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Fil. 4:13.
20. Watter seëninge bring dit mee wanneer jy God in jou huwelik hou?
20 Dit bring baie seëninge mee wanneer God in ’n huwelik is. Dit is beslis waar in die geval van Joel en sy vrou waarmee hy al 51 jaar lank getroud is. Hy sê: “Ek dank Jehovah voortdurend vir my vrou en ons gelukkige kameraadskap. Sy was nog altyd ’n ideale maat.” Wat is hulle geheim? “Ons probeer altyd om goedhartigheid, geduld en liefde teenoor mekaar te betoon.” Nie een van ons sal dit in hierdie stelsel van dinge volmaak kan doen nie. Maar laat ons ons inspan om Bybelbeginsels toe te pas en Jehovah in ons huwelik te hou. As ons dit doen, sal ons huwelik wees soos ‘’n driedubbele tou wat nie gou in twee gebreek kan word nie’.—Pred. 4:12.
Onthou jy?
• Wat beteken dit om Jehovah in ’n huwelik te hê?
• Wat moet huweliksmaats doen wanneer probleme ontstaan?
• Hoe weet ons wanneer God in ’n huwelik is?
[Prente op bladsy 18]
As egpare saam bid, help dit hulle om moeilike situasies die hoof te bied