Volg Jesus na—Aanbid God op aanneemlike wyse
God nooi mense “uit alle nasies en stamme en volke en tale” liefdevol om hom te aanbid (Op. 7:9, 10; 15:3, 4). Diegene wat hierdie uitnodiging aanvaar, kan “die lieflikheid van Jehovah . . . sien” (Ps. 27:4; 90:17). Soos die psalmis, verhef hulle hulle stem in lof aan God en sê: “Laat ons aanbid en ons neerbuig; laat ons kniel voor Jehovah, ons Maker.”—Ps. 95:6.
Aanbidding wat hoog op prys gestel is
As God se enigverwekte Seun het Jesus volop tyd gehad om sy Vader se denke, beginsels en standaarde te leer ken. Jesus kon dus met vertroue die weg na ware aanbidding aandui. Hy het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.”—Joh. 1:14; 14:6.
Jesus het ’n volmaakte voorbeeld van nederige onderdanigheid aan sy Vader gestel. Hy het gesê: “Ek [doen] niks op eie inisiatief . . . nie; maar net soos die Vader my geleer het, spreek ek hierdie dinge.” Toe het hy bygevoeg: “Ek [doen] altyd die dinge . . . wat hom behaag” (Joh. 8:28, 29). Op watter maniere het Jesus sy Vader behaag?
Om maar een ding te noem, Jesus was ten volle toegewyd aan sy Vader, en dit is basies wat dit beteken om God te aanbid. Jesus het ’n persoonlike gehegtheid aan sy Vader geopenbaar deur aan Hom gehoorsaam te wees en Sy wil te doen, selfs wanneer dit groot persoonlike ontbering behels het (Fil. 2:7, 8). ’n Belangrike aspek van Jesus se aanbidding was ’n gereelde deelname aan die dissipelmaakwerk, in so ’n mate dat gelowiges sowel as ongelowiges hom Leermeester genoem het (Matt. 22:23, 24; Joh. 3:2). Verder het Jesus hom ten behoewe van ander ingespan. Sy selfopofferende gees het hom min tyd vir persoonlike dinge gegee, maar hy was nietemin bly om ander te dien (Matt. 14:13, 14; 20:28). Alhoewel hy besig was, het Jesus altyd tyd gemaak om met sy hemelse Vader in gebed te praat (Luk. 6:12). Hoe kosbaar was Jesus se aanbidding tog vir God!
Die stryd om vir God welbehaaglik te wees
Jehovah het gelet op sy Seun se gedrag en het Sy goedkeuring uitgespreek (Matt. 17:5). Maar Satan die Duiwel het ook Jesus se getroue lewenswyse gesien. Jesus het dus ’n spesiale teiken van Satan geword. Waarom? Omdat geen mens tot op daardie stadium volkome gehoorsaamheid aan God gehandhaaf en hom sodoende ten volle aanbid het nie. En die Duiwel wou verhoed dat Jesus die aanbidding beoefen wat Jehovah tereg toekom.—Op. 4:11.
In ’n poging om Jesus te verlei, het Satan met ’n aanloklike aanbod na hom toe gekom. Hy het Jesus geneem “na ’n buitengewoon hoë berg en hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid gewys”. Toe het hy gesê: “Al hierdie dinge sal ek jou gee as jy neerval en ’n daad van aanbidding teenoor my verrig.” Hoe het Jesus gereageer? Hy het gesê: “Gaan weg, Satan! Want daar staan geskrywe: ‘Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig’” (Matt. 4:8-10). Ja, Jesus het besef dat dit ’n daad van afgodediens sou wees om hom voor Satan neer te buig, ongeag watter voordele dit moontlik sou meebring. Hy was nie bereid om selfs een daad van aanbidding teenoor enigiemand anders as Jehovah te verrig nie.
Satan bied dalk nie vir ons al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid aan in ruil vir ons aanbidding nie. Maar hy probeer nog steeds om die aanbidding wat opregte Christene aan God gee, te ontwrig. Die Duiwel wil hê dat ons iets of iemand anders moet aanbid.—2 Kor. 4:4.
Christus Jesus het hom selfs tot in die dood getrou bewys. Deur sy onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf, het Jesus Jehovah verheerlik soos geen ander mens dit nog gedoen het nie. Wat ware Christene van vandag betref, ons streef daarna om Jesus se getroue lewenswyse na te volg deur ons aanbidding van die Skepper bo alle ander dinge te stel. ’n Goeie verhouding met God is inderdaad ons kosbaarste besitting.
Aanneemlike aanbidding bring seëninge mee
Wanneer ons “die vorm van aanbidding” bevorder wat vanuit God se standpunt “rein en onbesmet is”, bring dit baie seëninge mee (Jak. 1:27). Ons lewe byvoorbeeld in ’n tyd wanneer al hoe meer mense “liefhebbers van hulleself . . . , liefhebbers van geld, aanmatigend” en “sonder liefde vir die goeie” is (2 Tim. 3:1-5). Maar in God se huisgesin het ons die voorreg om te assosieer met ’n rein, heilsame volk, wat daarna streef om God se standaarde met betrekking tot sy aanbidding te handhaaf. Is dit nie ’n bron van verkwikking nie?
As ons ons nie deur hierdie wêreld laat besmet nie, geniet ons die bykomende seën van ’n rein gewete. Ons wil ’n rein gewete behou deur ons aan God se regverdige beginsels te onderwerp en deur gehoorsaam te wees aan die keiser se wette wat nie met God se wette bots nie.—Mark. 12:17; Hand. 5:27-29.
Heelhartige aanbidding bring seëninge van ’n ander aard mee. Wanneer ons ons daarop toelê om eerder God se wil as ons eie te doen, word ons lewe sinvol en bevredigend. Ons sê nie: “Laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf” nie, maar het eerder die betroubare hoop van die ewige lewe op ’n paradysaarde.—1 Kor. 15:32.
Die boek Openbaring wys na ’n tyd wanneer dié wat ’n rein posisie voor Jehovah behou, ‘uit die groot verdrukking sal kom’. Die verslag sê: “Die Een wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle uitsprei” (Op. 7:13-15). Die Een wat op die troon sit, is niemand anders nie as Jehovah God, die glorierykste Persoon in die heelal. Probeer jou voorstel wat ’n vreugde dit sal wees wanneer hy jou as ’n gas in sy tent verwelkom deur jou van sy beskermende sorg te voorsien, sodat jy niks sal oorkom nie! En ons kan nou al in sekere mate sy beskerming en sorg geniet.
Verder word daar gesê dat almal wat God op aanneemlike wyse aanbid, na “fonteine van waters van die lewe” gelei word. Hierdie verkwikkende fonteine verteenwoordig al die voorsienings wat Jehovah maak sodat ons die ewige lewe kan verkry. Ja, deur middel van Christus se losprys “sal [God] elke traan van hulle oë afvee” (Op. 7:17). Die mensdom sal tot volmaaktheid verhef word, en dit sal ongekende vreugde verskaf aan dié wat die vooruitsig het om vir ewig op die aarde te lewe. Gelukkige aanbidders van God roep nou al met vreugde uit, terwyl hulle hulle opregte waardering teenoor Jehovah uitspreek en hom aanbid saam met diegene in die hemel wat sing: “Groot en wonderbaar is u werke, Jehovah God, die Almagtige. Regverdig en waaragtig is u weë, Koning van die ewigheid. Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en u naam nie verheerlik nie, want u alleen is lojaal? Want al die nasies sal kom en voor u aanbid, omdat u regverdige verordeninge openbaar gemaak is.”—Op. 15:3, 4.
[Prent op bladsy 27]
Wat bied Satan ons aan in ruil vir ons aanbidding?