Neem jy die leiding in eerbetoning?
“Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar.”—ROM. 12:10.
1. Wat is in baie wêrelddele nie meer algemeen nie?
IN PARTY wêrelddele is dit gebruiklik dat jong kinders volwassenes eer deur respekvol in hulle teenwoordigheid te kniel. Sodoende staan hulle nie hoër as ouer persone nie. In hierdie gemeenskappe word dit ook as oneerbiedig beskou as ’n kind sy of haar rug op ’n volwassene draai. Hoewel respek in verskillende kulture op verskillende maniere betoon word, herinner hierdie blyke van respek ons aan die Mosaïese Wet. Dit het die gebod ingesluit: “Voor grys hare moet jy [uit respek] opstaan, en jy moet aan ’n bejaarde agting betoon” (Lev. 19:32). Ongelukkig is dit op baie plekke nie meer algemeen om eer aan ander te betoon nie. Trouens, oneerbiedigheid is aan die orde van die dag.
2. Wie moet ons volgens God se Woord eer?
2 God se Woord heg groot waarde aan eerbetoning. Dit sê vir ons dat ons Jehovah en Jesus moet eer (Joh. 5:23). Ons word ook beveel om eer te betoon aan gesinslede en medegelowiges, asook aan party buite die gemeente (Rom. 12:10; Ef. 6:1, 2; 1 Pet. 2:17). Wat is van die maniere waarop ons toon dat ons Jehovah eer? Hoe betoon ons eer, of diep respek, aan ons Christenbroers en -susters? Kom ons bespreek hierdie en ’n paar verwante vrae.
Eer Jehovah en sy naam
3. Wat is een belangrike manier waarop ons Jehovah eer?
3 Een belangrike manier waarop ons Jehovah eer, is deur gepaste respek vir sy naam te toon. Ons is immers “’n volk vir sy naam” (Hand. 15:14). Dit is werklik ’n eer om die naam van die almagtige God, Jehovah, te dra. Die profeet Miga het gesê: “Wat al die volke betref, elkeen sal in die naam van sy god wandel; maar wat ons betref, ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig” (Miga 4:5). Ons ‘wandel in die naam van Jehovah’ deur daarna te streef om elke dag so te lewe dat dit die naam wat ons dra, tot eer strek. Soos Paulus die Christene in Rome herinner het, word die naam van God “gelaster”, of oneer aangedoen, as ons nie lewe in ooreenstemming met die goeie nuus wat ons verkondig nie.—Rom. 2:21-24.
4. Hoe beskou jy die voorreg om van Jehovah te getuig?
4 Ons eer Jehovah ook deur ons getuieniswerk. In die verlede het Jehovah lede van die nasie Israel genooi om sy getuies te wees, maar hulle het versuim om hierdie rol te vervul (Jes. 43:1-12). Hulle het dikwels hulle rug op Jehovah gedraai en selfs “die Heilige van Israel bedroef” (Ps. 78:40, 41). Die nasie het uiteindelik Jehovah se guns heeltemal verloor. Ons is egter vandag dankbaar vir die voorreg om vir Jehovah te getuig en sy naam bekend te maak. Ons doen dit omdat ons hom liefhet en wil hê dat sy naam geheilig moet word. Hoe kan ons versuim om te preek as ons weet wat die waarheid omtrent ons hemelse Vader en sy voornemens is? Ons voel soos die apostel Paulus toe hy gesê het: “Die dwang is my opgelê. Waarlik, wee my as ek die goeie nuus nie bekend maak nie!”—1 Kor. 9:16.
5. Hoe hou geloof in Jehovah verband met respek vir hom?
5 Die psalmis Dawid het gesê: “Dié wat u naam ken, sal op u vertrou, want u sal dié wat u soek, beslis nie verlaat nie, o Jehovah” (Ps. 9:10). As ons Jehovah werklik ken en sy naam respekteer as gevolg van wat dit verteenwoordig, sal ons op hom vertrou, net soos sy getroue knegte van ouds gedoen het. Om hierdie vertroue en geloof in Jehovah te hê, is nog ’n manier om eer aan hom te betoon. Let op hoe God se Woord vertroue op Jehovah met respek vir hom verbind. Toe eertydse Israel versuim het om op Hom te vertrou, het Jehovah Moses gevra: “Hoe lank sal hierdie volk my met minagting bejeën, en hoe lank sal hulle geen geloof in my stel nie, ondanks al die tekens wat ek onder hulle verrig het?” (Num. 14:11). Die teenoorgestelde is ook waar. As ons op Jehovah vertrou om ons selfs tydens beproewinge te beskerm en te onderskraag, toon ons dat ons hom respekteer.
6. Wat beweeg ons om diep respek vir Jehovah te toon?
6 Jesus het aangedui dat respek vir Jehovah uit die innerlike mens moet kom. Toe Jesus met diegene gepraat het wie se aanbidding nie opreg was nie, het hy Jehovah se woorde aangehaal: “Hierdie volk eer my met hulle lippe, maar hulle hart is ver van my verwyderd” (Matt. 15:8). Opregte respek vir Jehovah spruit voort uit hartgrondige liefde vir hom (1 Joh. 5:3). En ons hou ook Jehovah se belofte in gedagte: “Dié wat my eer, sal ek eer.”—1 Sam. 2:30.
Dié wat die leiding neem toon respek vir ander
7. (a) Waarom moet broers wat verantwoordelike posisies beklee, eer betoon aan diegene onder hulle toesig? (b) Hoe het Paulus respek vir medegelowiges getoon?
7 Die apostel Paulus het medegelowiges gemaan: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Rom. 12:10). Broers wat verantwoordelike posisies in die gemeente beklee, moet die voorbeeld stel—‘die leiding neem’—om eer te betoon aan diegene onder hulle toesig. In hierdie opsig sal dit raadsaam wees vir dié met gewigtige verantwoordelikhede om Paulus se voorbeeld te volg. (Lees 1 Tessalonisense 2:7, 8.) Die broers in die gemeentes wat Paulus besoek het, het geweet dat hy hulle nooit sou vra om iets te doen wat hy self nie bereid was om te doen nie. Paulus het respek vir medegelowiges getoon, en hy het op sy beurt hulle respek gewen. Toe Paulus gesê het: “Ek versoek julle dus dringend: Word navolgers van my”, kan ons seker wees dat talle geredelik daarop gereageer het weens sy goeie voorbeeld.—1 Kor. 4:16.
8. (a) Wat is ’n belangrike manier waarop Jesus respek vir sy dissipels getoon het? (b) Hoe kan opsieners vandag Jesus se voorbeeld navolg?
8 Nog ’n manier waarop ’n verantwoordelike broer respek toon vir diegene onder sy toesig, is deur redes te voorsien vir die versoeke wat hy rig of die instruksies wat hy gee. Sodoende volg hy Jesus na. Byvoorbeeld, toe Jesus vir sy dissipels gesê het om te bid dat meer werkers in die oes uitgestuur word, het hy vir hulle vertel waarom. Hy het gesê: “Die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Matt. 9:37, 38). Ook toe hy sy dissipels aangesê het om ‘aan te hou waak’, het hy vir hulle ’n rede gegee. Hy het gesê: “Want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie” (Matt. 24:42). Jesus het keer op keer nie net vir sy dissipels gesê wat hulle moet doen nie, maar ook waarom hulle dit moet doen. Op dié manier het hy respek vir hulle getoon en waardigheid aan hulle verleen. Wat ’n goeie voorbeeld vir Christenopsieners om na te volg!
Respekteer Jehovah se gemeente en die leiding wat dit gee
9. Waarvan is respek vir die wêreldwye Christengemeente en die verteenwoordigers daarvan ’n weerspieëling? Verduidelik.
9 Om Jehovah te eer, moet ons ook die wêreldwye Christengemeente eer, sowel as die verteenwoordigers daarvan. Wanneer ons ag slaan op skriftuurlike raad wat van die ‘getroue slaaf’-klas kom, toon ons respek vir Jehovah se reëling. In die eerste-eeuse Christengemeente het die apostel Johannes dit nodig geag om dié te bestraf wat ’n gebrek aan respek vir aangestelde manne geopenbaar het. (Lees 3 Johannes 9-11.) Johannes se woorde toon dat daar nie net ’n gebrek aan respek vir individuele opsieners was nie, maar ook vir hulle onderrigting en leiding. Gelukkig was die meeste Christene nie so nie. Terwyl die apostels gelewe het, het die broederskap as ’n geheel klaarblyklik diep respek getoon vir dié wat die leiding geneem het.—Fil. 2:12.
10, 11. Verduidelik aan die hand van die Skrif waarom dit gepas is dat party ’n mate van gesag in die Christengemeente het.
10 Party het geredeneer dat daar geen gesagsposisies in die Christengemeente moet wees nie, aangesien Jesus vir sy dissipels gesê het dat “julle almal broers is” (Matt. 23:8). Maar in die Hebreeuse sowel as die Griekse Geskrifte is daar talle voorbeelde van manne wat godgegewe gesag uitgeoefen het. Die geskiedenis van die aartsvaders, rigters en konings onder die eertydse Hebreërs voorsien oorgenoeg bewyse dat Jehovah leiding deur menslike verteenwoordigers voorsien. Wanneer die volk nie die gepaste eer aan die aangestelde persone betoon het nie, is hulle deur Jehovah gedissiplineer.—2 Kon. 1:2-17; 2:19, 23, 24.
11 Eerste-eeuse Christene het eweneens die gesag van die apostels erken (Hand. 2:42). Paulus het byvoorbeeld vir sy broers instruksies gegee (1 Kor. 16:1; 1 Tess. 4:2). Maar hy het hom ook gewilliglik onderwerp aan dié wat gesag oor hom gehad het (Hand. 15:22; Gal. 2:9, 10). Ja, Paulus het die regte beskouing van gesag in die Christengemeente gehad.
12. Watter tweevoudige les oor gesag kan ons uit Bybelse voorbeelde leer?
12 Ons leer ’n tweevoudige les. Eerstens, dit is skriftuurlik dat “die getroue en verstandige slaaf” deur middel van sy Bestuursliggaam manne in verantwoordelike posisies aanstel, en party manne word aangestel om gesag oor ander aangestelde manne uit te oefen (Matt. 24:45-47; 1 Pet. 5:1-3). Tweedens, ons almal, insluitende aangestelde manne, moet eer betoon aan dié wat gesag oor ons het. Wat is dan ’n paar praktiese maniere waarop ons eer kan betoon aan dié wat opsienersposisies in die wêreldwye Christengemeente beklee?
Toon respek vir reisende opsieners
13. Hoe kan ons respek toon vir hedendaagse verteenwoordigers van die Christengemeente?
13 Paulus het gesê: “Ons versoek julle, broers, om respek te hê vir dié wat hard onder julle werk en onder julle die leiding neem in die Here en julle ernstig vermaan; en om weens hulle werk meer as buitengewone agting aan hulle te betoon in liefde. Wees vreedsaam teenoor mekaar” (1 Tess. 5:12, 13). Reisende opsieners moet beslis gereken word onder “dié wat hard . . . werk”. Laat ons dus “meer as buitengewone agting” aan hulle betoon. Een manier om dit te doen, is deur heelhartig gehoor te gee aan hulle raad en aanmoediging. Wanneer so ’n opsiener riglyne van die ‘getroue slaaf’-klas aan ons oordra, sal die “wysheid van bo” ons beweeg om “bereid [te wees] om te gehoorsaam”.—Jak. 3:17.
14. Hoe bewys die gemeente dat hulle hartgrondige respek vir reisende opsieners het, en wat is die gevolg?
14 Maar gestel ons word aangesê om dinge op ’n ander manier te doen as waaraan ons gewoond is. Om respek te toon, kan soms vereis dat ons stry teen die neiging om beswaar te maak en te sê: “Hier doen ons dinge nie so nie” of “Dít werk dalk op ander plekke, maar nie in ons gemeente nie”. Ons probeer eerder om gehoorsaam te wees. Dit sal vir ons makliker wees om dit te doen as ons altyd in gedagte hou dat die gemeente aan Jehovah behoort en dat Jesus die Hoof daarvan is. Wanneer die gemeente riglyne van ’n reisende opsiener met vreugde ontvang en dit toepas, getuig dit van hartgrondige respek. Die apostel Paulus het die broers in Korinte geprys vir hulle respekvolle gehoorsaamheid aan die leiding wat deur die besoekende ouer man, Titus, gegee is (2 Kor. 7:13-16). Ons kan vandag eweneens seker wees dat die bereidwilligheid waarmee ons die leiding toepas wat van reisende opsieners ontvang word, grootliks bydra tot die vreugde wat ons in ons predikingswerk ervaar.—Lees 2 Korintiërs 13:11.
“Eer alle soorte mense”
15. Wat is van die maniere waarop ons respek vir medegelowiges toon?
15 Paulus het geskryf: “Moenie ’n ouer man skerp kritiseer nie. Inteendeel, vermaan hom soos ’n vader, jonger manne soos broers, ouer vroue soos moeders, jonger vroue soos susters met alle kuisheid. Eer weduwees wat werklik weduwees is” (1 Tim. 5:1-3). Ja, God se Woord vermaan ons om almal in die Christengemeente te eer. Maar sê nou daar is ’n persoonlike geskil tussen jou en jou broer of suster? Sal dit jou verhinder om jou verpligting na te kom om jou mede-Christen te respekteer? Of kan jy jou gesindheid verander deur te let op die geestelike eienskappe van daardie kneg van God? Veral dié met gesag moet ’n respekvolle beskouing behou van hulle broers—en nooit “baasspeel oor . . . die kudde” nie (1 Pet. 5:3). Ja, in die Christengemeente, wat gekenmerk word deur die hartgrondige liefde wat onder die lede daarvan bestaan, het ons talryke geleenthede om mekaar te eer.—Lees Johannes 13:34, 35.
16, 17. (a) Waarom is dit belangrik om nie net respek te hê vir mense vir wie ons preek nie, maar ook vir teenstanders? (b) Hoe “eer [ons] alle soorte mense”?
16 Ons toon natuurlik nie net respek vir lede van die Christengemeente nie. Paulus het aan Christene in sy dag geskryf: “Solank ons die geleentheid het, laat ons dan aan almal goed doen” (Gal. 6:10). Dit kan beslis ’n uitdaging wees om hierdie beginsel toe te pas wanneer ’n werksmaat of ’n skoolmaat ons onvriendelik behandel. Op sulke tye moet ons die woorde onthou: “Moenie driftig wees oor die kwaaddoeners nie” (Ps. 37:1). As ons hierdie raad toepas, sal dit ons help om selfs teenoor teenstanders respekvol op te tree. Wanneer ons aan die openbare bediening deelneem, kan ’n nederige beskouing van onsself ons ook help om almal met “sagmoedigheid en diep respek” te antwoord (1 Pet. 3:15). Ook ons voorkoms en kleredrag kan aandui of ons die mense vir wie ons preek, respekteer.
17 Ja, hetsy ons met ons medegelowiges of met dié buite die gemeente te doen het, ons wil die vermaning probeer toepas: “Eer alle soorte mense, wees lief vir die hele gemeenskap van broers, vrees God, eer die koning.”—1 Pet. 2:17.
Hoe sal jy antwoord?
Hoe kan jy gepaste respek toon vir:
• Jehovah?
• Gemeentelike ouer manne en reisende opsieners?
• Elke lid van die gemeente?
• Dié vir wie jy preek?
[Prent op bladsy 23]
Eerste-eeuse Christene het die toesig van die bestuursliggaam gerespekteer
[Prent op bladsy 24]
In elke land betoon ouer manne eer aan reisende opsieners, wat deur die Bestuursliggaam aangestel is