Ek het die groei in Korea gesien
Soos vertel deur Milton Hamilton
“Dit spyt ons om julle mee te deel dat die Republiek van Korea al julle visums as sendelinge teruggetrek het en aangedui het dat julle nie welkom is in die land nie. . . . Met die oog op hierdie verwikkeling word julle tydelik na Japan gestuur.”
EK EN my vrou het laat in 1954 die boodskap hierbo van Brooklyn, New York, VSA, ontvang. Vroeër daardie jaar het ons gegradueer aan die 23ste klas van die Gileadskool, wat noord van New York was. Toe ons die brief ontvang het, het ons tydelik in Indianapolis, Indiana, gedien.
Ek en my vrou, Liz (voorheen Liz Semock), was klasmaats op hoërskool. Later, in 1948, is ons getroud. Sy was lief vir die voltydse bediening, maar was skrikkerig om die Verenigde State te verlaat om in ’n ander land te dien. Wat het haar van gedagte laat verander?
Liz het ingestem om saam met my na ’n vergadering vir voornemende Gileadstudente te gaan. Hierdie vergadering is gedurende die internasionale byeenkoms by Yankee-stadion, New York, in die somer van 1953 gehou. Ná hierdie aanmoedigende vergadering het ons aansoeke vir Gilead ingevul. Tot ons verbasing is ons genooi na die volgende klas, wat in Februarie 1954 sou begin.
Ons is na Korea gestuur, hoewel ’n drie jaar lange oorlog, wat verwoesting in die land gesaai het, kort tevore in die somer van 1953 tot ’n einde gekom het. Soos aangedui in die bogenoemde brief, het ons eers na Japan gegaan. Ná ’n seereis van 20 dae het ons in Januarie 1955 daar aangekom saam met ses medesendelinge wat ook ’n toewysing in Korea ontvang het. Lloyd Barry, wat destyds die opsiener van die takkantoor in Japan was, het ons sesuur die oggend by die kaai ontmoet. Kort daarna was ons op pad na die sendinghuis in Jokohama. Later daardie selfde dag was ons uit in velddiens.
Ons kom uiteindelik in Korea aan
Ná verloop van tyd het ons visums gekry om die Republiek van Korea binne te gaan. Op 7 Maart 1955 het ons vliegtuig vanaf Haneda- Internasionale Lughawe in Tokio opgestyg vir die drie uur lange vlug na Joido-lughawe in Seoel. Meer as 200 Koreaanse Getuies het ons verwelkom, en ons het trane van vreugde gestort. Daar was destyds net 1 000 Getuies in die hele Korea. Soos baie ander Westerlinge het ons gedink dat almal in die Ooste dieselfde lyk en optree, ongeag hulle land van herkoms. Ons het gou uitgevind dat dit nie so is nie. Koreane het nie net hulle eie taal en alfabet nie, maar ook unieke geregte, gelaatstrekke en tradisionele kleredrag, sowel as ander dinge wat eie aan hulle is, soos die ontwerp van hulle geboue.
Ons eerste groot uitdaging was om die taal te leer. Ons het geen boeke gehad oor hoe om Koreaans te leer nie. Ons het gou agtergekom dat dit onmoontlik is om die klanke van die Koreaanse woorde presies na te boots deur net Engelse klanke te gebruik. ’n Mens kan slegs die regte uitspraak leer deur die Koreaanse alfabet te leer.
Ons het foute gemaak. Liz het byvoorbeeld vir ’n huisbewoner gevra of sy ’n Bybel het. Die huisbewoner het verward gelyk toe sy in die huis inloop en het met ’n dosie vuurhoutjies teruggekom. Liz het gevra vir soengnjang (vuurhoutjies) in plaas van soengkjoeng, die woord vir “Bybel”.
Ná ’n paar maande is ons gevra om ’n sendinghuis te open in Poesan, ’n hawestad in die suide. Ons kon drie klein kamers huur vir ons en die twee susters wat saam met ons daar toegewys is. Die kamers het nie lopende water of ’n spoeltoilet gehad nie. Die waterdruk was net snags hoog genoeg om die water deur ’n tuinslang tot by die eerste verdieping te stoot. Ons het dus beurte gemaak om in die vroeë oggendure op te staan om ons waterhouers vol te maak. Ons moes die water kook of met chloor behandel sodat ons dit kon drink.
Daar was ook ander uitdagings. Die kragtoevoer was so swak dat ons nie ’n wasmasjien of ’n strykyster kon gebruik nie. Ons kombuis was in die gang, en daar was net ’n paraffienstoof. Ons het almal gou geleer om ’n ete op ons toegewese kookdag voor te berei. Drie jaar ná ons aankoms het ek en Liz albei hepatitis gekry. Die meeste sendelinge het destyds hierdie siekte opgedoen. Dit het ons maande geneem om te herstel, en ons het ook ander gesondheidsprobleme gehad.
Hulp om struikelblokke te oorkom
Die Koreaanse skiereiland is al die afgelope 55 jaar lank een van Asië se politieke probleemgebiede. Die gedemilitariseerde gebied verdeel die skiereiland. Dit is 55 kilometer noord van Seoel, die hoofstad van die Republiek van Korea. In 1971 het Frederick Franz van die Brooklyn-hoofkwartier ons kom besoek. Ek het hom vergesel na die gedemilitariseerde gebied, die bes bewapende grens op aarde. Oor die jare heen het amptenare van die Verenigde Nasies dikwels hier met verteenwoordigers van die twee regerings vergader.
Ons bly natuurlik neutraal ten opsigte van die politieke aangeleenthede van hierdie wêreld, insluitende die situasie op die Koreaanse skiereiland (Joh. 17:14). Omdat hulle weier om die wapen teen hulle medemens op te neem, het meer as 13 000 Koreaanse Getuies altesaam 26 000 jaar in die tronk deurgebring (2 Kor. 10:3, 4). Al die jong broers in hierdie land weet dat hulle voor hierdie geskil te staan gaan kom, maar dit skrik hulle nie af nie. Dit is jammer dat Christenbedienaars, wie se enigste “misdaad” is dat hulle weier om hulle Christelike neutraliteit prys te gee, deur die regering as “misdadigers” bestempel word.
In 1944, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, het ek ook geweier om militêre diens te doen en is ek gevolglik gevonnis tot twee en ’n half jaar in die Amerikaanse strafgevangenis in Lewisburg, Pennsilvanië. Hoewel ons Koreaanse broers moeiliker omstandighede in die tronk verduur, het ek dus ’n idee van wat hierdie jong Getuies deurmaak. Die wete dat party van ons wat as sendelinge in Korea dien, ’n soortgelyke ondervinding deurgemaak het, was al vir talle bemoedigend.—Jes. 2:4.
Ons kom voor ’n uitdaging te staan
In 1977 het ’n geskil ontstaan wat ook ons neutraliteit in die gedrang gebring het. Amptenare het gemeen dat ons jong Koreane beïnvloed het om te weier om in die weermag te dien en die wapen op te neem. Die regering het dus besluit om sendelinge wat die land om enige rede verlaat, nie toe te laat om terug te keer nie. Hierdie beperking het van 1977 tot 1987 geduur. As ons Korea gedurende daardie jare verlaat het, sou hulle ons nie toegelaat het om terug te keer nie. Ons het dus gedurende daardie tyd nooit eers vir ’n besoek huis toe gegaan nie.
Ons het talle kere met regeringsamptenare vergader en ons neutrale standpunt as volgelinge van Christus verduidelik. Hulle het op die ou end besef dat niks ons sou intimideer nie, en hierdie beperking is dus uiteindelik—ná tien jaar—opgehef. ’n Paar sendelinge moes die land gedurende daardie jare byvoorbeeld om gesondheidsredes verlaat, maar die res van ons het gebly, en ons is verheug dat ons dit gedoen het.
Gedurende die middel-1980’s het teenstanders van ons bediening die direkteure van ons wetlike korporasie valslik daarvan beskuldig dat hulle jong manne leer om nie militêre diens te doen nie. Toe het die regering elkeen van ons ingeroep vir ondervraging. Op 22 Januarie 1987 het die kantoor van die aanklaer bevind dat die aanklagte ongegrond is. Dit het gehelp om enige toekomstige wanopvatting op te klaar.
God seën ons werk
Weens ons neutraliteit het die teenstand teen ons predikingswerk oor die jare in Korea toegeneem. Gevolglik het dit al hoe moeiliker geword om geskikte plekke vir ons groter byeenkomste te vind. Die Getuies het dus die inisiatief geneem en ’n Byeenkomssaal in Poesan gebou, die eerste een in die Ooste. Ek het die voorreg gehad om die toewydingstoespraak op 5 April 1976 voor ’n gehoor van 1 300 te hou.
Sedert 1950 was tienduisende soldate uit die Verenigde State in Korea gestasioneer. Nadat hulle na die Verenigde State teruggekeer het, het baie van hulle bedrywige Getuies geword. Ons ontvang dikwels briewe van hulle en beskou dit as ’n seën dat ons hulle geestelik kon help.
Ongelukkig het ek my geliefde vrou, Liz, op 26 September 2006 aan die dood afgestaan. Ek mis haar vreeslik. Gedurende die 51 jaar dat sy hier gedien het, het sy enige toewysing blymoedig aanvaar en nooit gekla nie. Sy het nooit voorgestel of selfs geskimp dat ons na die Verenigde State moet terugkeer, die land wat sy eens op ’n tyd gesê het sy nooit wil verlaat nie!
Ek dien nog steeds in Korea as ’n lid van die Bethelgesin. Die gesin het van ’n handjie vol in die vroeë jare toegeneem tot ongeveer 250 vandag. Ek het die voorreg om op die Takkomitee te dien, wat uit sewe lede bestaan en oor die werk hier toesig hou.
Hoewel Korea baie arm was toe ons hier aangekom het, is dit nou een van die wêreld se gevorderdste nasies. Daar is meer as 95 000 Getuies in Korea, waarvan byna 40 persent as gewone pioniers of as hulppioniers dien. Dit is alles nog redes waarom ek dankbaar is dat ek God hier kan dien en God se kudde kan sien toeneem.
[Prent op bladsy 24]
Ons kom saam met medesendelinge in Korea aan
[Prent op bladsy 24, 25]
Diens in Poesan
[Prent op bladsy 25]
Saam met broer Franz by die gedemilitariseerde gebied, 1971
[Prent op bladsy 26]
Saam met Liz kort voor haar dood
[Prent op bladsy 26]
Takkantoor in Korea waar ek nog steeds dien as ’n lid van die Bethelgesin