Die nuwe geboorte—Wat bring dit teweeg?
WAAROM het Jesus die uitdrukking ‘uit gees gebore’ gebruik toe hy oor die doop met heilige gees gepraat het? (Johannes 3:5). Wanneer die woord “geboorte” figuurlik gebruik word, beteken dit “die begin”, soos in die uitdrukking “die geboorte van ’n nasie”. Die term “nuwe geboorte” dui dus op ’n “nuwe begin”. Daarom beklemtoon die figuurlike uitdrukkings “gebore” en “nuwe geboorte” dat daar ’n nuwe begin sal wees in die verhouding tussen God en dié wat met heilige gees gedoop word. Hoe vind hierdie algehele verandering in die verhouding plaas?
Toe die apostel Paulus verduidelik het hoe God mense voorberei om in die hemel te heers, het hy ’n illustrasie gebruik wat op die gesinslewe gebaseer is. Hy het aan Christene van sy dag geskryf dat hulle ’n “aanneming as kinders” sou ondervind en dat God hulle dus “soos seuns” kon behandel (Galasiërs 4:5; Hebreërs 12:7). Om te sien hoe die voorbeeld van aanneming ’n mens help om te verstaan watter soort verandering plaasvind wanneer iemand met heilige gees gedoop word, kan ons weer eens kyk na die illustrasie van die jong man wat hom wil inskryf by ’n skool vir leerders wat aan ’n inheemse gemeenskap behoort.
’n Verandering wat deur aanneming teweeggebring word
In die illustrasie kan die jong man hom nie by die skool inskryf nie omdat hy nie deel van die inheemse gemeenskap is nie. Stel jou nou voor dat daar eendag ’n groot verandering plaasvind. Hy word wetlik aangeneem deur ’n gesinshoof wat aan die inheemse groep behoort. Wat beteken dit vir die jong man? Wel, aangesien hy as ’n seun aangeneem is, kan hy nou dieselfde regte as die ander jongmense in hierdie groep hê—insluitende die reg om by die skool in te skryf. Die aanneming het sy vooruitsigte heeltemal verander.
Dit illustreer wat in ’n baie betekenisvoller sin gebeur met dié wat die nuwe geboorte ondervind. Kyk na ’n paar ooreenkomste. Die jong man in die illustrasie sal ’n plek in die skool gegee word, maar net as hy aan die toelatingsvereiste voldoen—naamlik dat hy aan die inheemse gemeenskap moet behoort. Maar op sy eie kan hy hierdie vereiste nie nakom nie. Net so sal sommige mense ’n plek in God se Koninkryk, of hemelse regering, gegee word, maar net as hulle aan die toelatingsvereiste voldoen—naamlik om “weer gebore” te word. Maar op hulle eie kan hulle hierdie vereiste nie nakom nie, want die nuwe geboorte hang van God af.
Wat het die jong man se situasie verander? Die wetlike aannemingsproses. Hierdie proses het natuurlik nie die jong man se natuur verander nie. Ná sy aanneming was hy nog steeds dieselfde persoon. Nogtans het die jong man, nadat die wetlike vereistes vir aanneming nagekom is, ’n nuwe status ontvang. Ja, hy het ’n nuwe begin—oftewel ’n nuwe geboorte—ondergaan. Hy het sy pleegvader se seun geword, wat hom die reg gee om deel van sy gesin te wees en om die skool by te woon.
Jehovah het eweneens die situasie van ’n groep onvolmaakte mense verander deur ’n wetlike proses aan die gang te sit om hulle as sy kinders aan te neem. Die apostel Paulus, wat aan daardie groep behoort het, het aan medegelowiges geskryf: “Julle het ’n gees van aanneming as kinders ontvang, en deur dié gees roep ons uit: ‘Abba, Vader!’ Die gees self getuig met ons gees dat ons God se kinders is” (Romeine 8:15, 16). Ja, deur middel van die aannemingsproses het daardie Christene deel van God se gesin, of “kinders van God”, geword.—1 Johannes 3:1; 2 Korintiërs 6:18.
Hierdie aanneming deur God het natuurlik nie die natuur van die aangenome kinders verander nie, want hulle het onvolmaak gebly (1 Johannes 1:8). Soos Paulus verder verduidelik het, het hulle nietemin, nadat die wetlike vereistes nagekom is, ’n nuwe status ontvang. God se gees het terselfdertyd die oortuiging in hierdie aangenome seuns geplaas dat hulle saam met Christus in die hemel sou lewe (1 Johannes 3:2). Daardie vaste oortuiging wat die heilige gees hulle gegee het, het hulle ’n heel nuwe uitkyk op die lewe gegee (2 Korintiërs 1:21, 22). Ja, hulle het ’n nuwe begin ondervind—as ’t ware ’n nuwe geboorte.
Die Bybel sê wanneer dit van God se aangenome seuns praat: “Hulle sal priesters van God en van die Christus wees en sal die duisend jaar lank saam met hom as konings heers” (Openbaring 20:6). God se aangenome seuns sal saam met Christus ’n plek as konings in God se Koninkryk, of hemelse regering, ontvang. Die apostel Petrus het vir medegelowiges gesê dat hulle “’n onverderflike en onbesmette en onverwelklike erfenis” sal ontvang wat vir hulle “in die hemele bewaar” word (1 Petrus 1:3, 4). Inderdaad ’n kosbare erfenis!
Maar hierdie kwessie van heerskappy laat ook ’n vraag ontstaan. As diegene wat weer gebore word, as konings in die hemel gaan heers, oor wie gaan hulle heers? Hierdie vraag sal in die volgende artikel bespreek word.
[Prent op bladsy 10]
Wat het Paulus omtrent aanneming gesê?