Die gebruik om te vas—Bring dit jou nader aan God?
‘Om te vas, help jou om oor geestelikheid te peins en herinner jou dat materiële dinge nie die belangrikste in die lewe is nie.’—’N KATOLIEKE VROU.
‘Om te vas, help jou om ’n geestelike band met God te smee.’—’N JOODSE RABBI.
‘In my geloof is dit verpligtend om te vas; dit is ’n pilaar om my toegewydheid aan God en my dankbaarheid teenoor hom te toon. Ek vas omdat ek God liefhet.’—’N AANHANGER VAN BAHAÏSME.
DIE gebruik om te vas, is iets wat baie van die wêreld se godsdienste, onder meer Boeddhisme, Hindoeïsme, Islam, Djainisme en Judaïsme, in gemeen het. Baie mense glo dat dit ’n mens nader aan God bring om jou vir ’n sekere tydperk van voedsel te onthou.
Wat dink jy? Moet jy vas? Wat het God se Woord, die Bybel, oor hierdie onderwerp te sê?
Vaste in Bybeltye
In Bybeltye het mense om verskillende redes gevas, met God se goedkeuring. Party het gevas om diepe smart of berou oor sondes te toon (1 Samuel 7:4-6), om God se guns af te smeek of sy leiding te soek (Rigters 20:26-28; Lukas 2:36, 37) of om beter te konsentreer terwyl hulle peins.—Matteus 4:1, 2.
Die Bybel verwys egter ook na vaste wat God nie behaag het nie. Koning Saul het gevas voordat hy ’n geestemedium geraadpleeg het (Levitikus 20:6; 1 Samuel 28:20). Goddelose mense, soos Isebel asook die fanatiese manne wat planne beraam het om die apostel Paulus dood te maak, het vaste uitgeroep (1 Konings 21:7-12; Handelinge 23:12-14). Die Fariseërs was bekend daarvoor dat hulle gereeld gevas het (Markus 2:18). Tog is hulle deur Jesus veroordeel en het hulle God nie beïndruk nie (Matteus 6:16; Lukas 18:12). Jehovah het eweneens die vaste van sekere Israeliete geïgnoreer weens hulle slegte gedrag en verkeerde beweegredes.—Jeremia 14:12.
Hierdie voorbeelde toon dat vaste op sigself God nie behaag nie. Maar talle opregte knegte van God wat wel gevas het, het God se goedkeuring weggedra. Moet Christene dus vas?
Is dit vir Christene verpligtend om te vas?
Die Mosaïese Wet het die Jode beveel om een keer per jaar op die Versoendag hulle “siel [te] kasty”, dit wil sê te vas (Levitikus 16:29-31; Psalm 35:13). Dit was die enigste vas wat Jehovah sy volk ooit beveel het om te onderhou.a Jode wat onder die Mosaïese Wet gelewe het, sou daardie bevel gehoorsaam het. Maar daar word nie van Christene vereis om die Mosaïese Wet te onderhou nie.—Romeine 10:4; Kolossense 2:14.
Al het Jesus wel gevas soos die Wet vereis het, was hy nie vir hierdie gebruik bekend nie. Hy het vir sy dissipels gesê hoe hulle moes optree as hulle besluit om te vas, maar hy het hulle nooit beveel om te vas nie (Matteus 6:16-18; 9:14). Waarom het Jesus dan gesê dat sy dissipels ná sy dood sou vas? (Matteus 9:15). Dit was nie ’n bevel nie. Jesus se woorde gee bloot te kenne dat sy dissipels diep bedroef sou wees oor sy dood en nie sou lus wees om te eet nie.
Twee Bybelverslae van vroeë Christene wat wel gevas het, toon dat dit vir God aanvaarbaar is as iemand weens die regte beweegrede besluit om hom van voedsel te onthou (Handelinge 13:2, 3; 14:23).b Christene is dus onder geen verpligting om te vas nie. Maar as iemand besluit om dit te doen, moet hy bewus wees van sekere gevare.
Pas op vir die slaggate
Een slaggat in verband met vaste wat vermy moet word, is eiegeregtigheid. Die Bybel waarsku teen “skynnederigheid” (Kolossense 2:20-23). Jesus se illustrasie van die hoogmoedige Fariseër wat gevoel het dat hy sedelik verhewe is bo ander omdat hy gereeld vas, laat geen twyfel dat God so ’n gesindheid verwerp nie.—Lukas 18:9-14.
Dit sal ook ’n fout wees om vir almal te vertel dat jy vas of om te vas omdat iemand anders vir jou sê om dit te doen. Volgens Matteus 6:16-18 het Jesus gemaan dat dit ’n persoonlike saak moet wees om te vas, iets tussen jou en God, en dat jy dit nie aan ander moet verkondig nie.
’n Mens moet nooit dink dat dit op die een of ander manier vir sonde vergoed as jy vas nie. Om vir God aanvaarbaar te wees, moet ’n vas met gehoorsaamheid aan sy wette gepaardgaan (Jesaja 58:3-7). Hartgrondige berou, nie die vas as sodanig nie, is wat tot vergifnis van sondes lei (Joël 2:12, 13). Die Bybel beklemtoon dat ons vergifnis ontvang deur middel van die onverdiende goedhartigheid van Jehovah wat hy deur die offerande van Christus betoon het. Dit is onmoontlik om deur enige werke, insluitende om te vas, vergifnis te verdien.—Romeine 3:24, 27, 28; Galasiërs 2:16; Efesiërs 2:8, 9.
Jesaja 58:3 lig ’n ander algemene fout toe. Die Israeliete het aan die hand gedoen dat Jehovah hulle iets skuld omdat hulle gevas het, asof hulle God ’n guns bewys het deur te vas. Hulle het gevra: “Waarom het ons gevas en het u dit nie gesien nie, en het ons ons siel gekasty en het u geen ag daarop geslaan nie?” Vandag dink baie mense ook dat hulle, as hulle vas, van God kan verwag om vir hulle die een of ander guns in ruil daarvoor te doen. Mag ons nooit so ’n oneerbiedige en onskriftuurlike gesindheid openbaar nie!
Ander glo dat ’n mens God se guns kan verkry deur jou liggaam aan iets onaangenaams te onderwerp deur te vas, jouself te slaan of iets soortgelyks te doen. God se Woord veroordeel hierdie idee en toon dat “’n streng behandeling van die liggaam . . . geen waarde [het] in die bestryding van” verkeerde begeertes nie.—Kolossense 2:20-23.
’n Gebalanseerde beskouing
Dit is nie verpligtend om te vas nie; dit is ook nie verkeerd nie. Dit kan in sommige gevalle voordelig wees indien ons die bogenoemde gevare vermy. Maar aanvaarbare aanbidding hang nie daarvan af dat ons vas nie. Jehovah is “die gelukkige God” en hy wil hê dat sy knegte gelukkig moet wees (1 Timoteus 1:11). Sy eie Woord sê: “Daar [is] vir hulle niks beters . . . nie as . . . dat elke mens eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk. Dit is die gawe van God.”—Prediker 3:12, 13.
Ons aanbidding moet deur vreugde gekenmerk word, maar in die Bybel word vaste nooit met blydskap geassosieer nie. Wat meer is, as die feit dat ons ons van voedsel onthou ons gesondheid benadeel of ons van die energie beroof wat ons nodig het vir die vreugdevolle werk wat ons Maker aan ware Christene toevertrou het—die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk—sal dit beslis teenproduktief wees.
Hetsy ons besluit om te vas of nie, ons moet ander nie oordeel nie. Onder ware Christene behoort hierdie onderwerp nie kontroversieel te wees nie, “want die koninkryk van God beteken nie voedsel en drank nie, maar beteken regverdigheid en vrede en vreugde met heilige gees”.—Romeine 14:17.
[Voetnote]
a Ester se vas, wat die Purimfees voorafgegaan het, is nie deur God ingestel nie, maar haar vas het blykbaar sy goedkeuring weggedra.
b Sekere Bybels bevat onegte verwysings na vaste, maar hierdie byvoegings verskyn nie in die oudste Griekse manuskripte nie.—Matteus 17:21; Markus 9:29; Handelinge 10:30; 1 Korintiërs 7:5, King James Version.
[Lokteks op bladsy 28]
Die Fariseërs het skynnederigheid getoon wanneer hulle gevas het
[Lokteks op bladsy 29]
“Die koninkryk van God beteken nie voedsel en drank nie, maar beteken regverdigheid en vrede en vreugde”
[Venster op bladsy 29]
Wat van die Vastyd?
Daar word gesê dat die 40 dae lange Vastyd Christus se 40 dae lange vas herdenk. Tog het Jesus nooit sy dissipels beveel om sy vas te herdenk nie, en daar is ook geen bewys dat hulle dit gedoen het nie. Die eerste betroubare verwysing na die 40 dae lange vas voor Paasfees kan blykbaar gevind word in briewe van Atanasius, wat uit 330 G.J. dateer.
Aangesien Jesus ná sy doop gevas het en nie voor sy dood nie, lyk dit dalk vreemd dat party godsdienste die Vastyd in die weke voor Paasfees onderhou. ’n Vas van 40 dae in die vroeë deel van die jaar was egter algemeen onder die eertydse Babiloniërs, Egiptenare en Grieke. Die “Christelike” gebruik het klaarblyklik sy oorsprong by hulle gehad.