Adam en Eva—Het hulle werklik bestaan?
DIE Genesisverslag van Adam en Eva is vir baie mense bloot ’n interessante verhaal. “Hoofstroom-Christene beskou Genesisverhale soos dié van Adam en Eva lank reeds as sinnebeeldig”, sê ’n brief aan die redakteur van die tydskrif Time. Baie Katolieke, Protestantse en Joodse geleerdes stem saam. Hulle beweer dat baie van wat in Genesis staan, eenvoudig nie met die geskiedenis of die wetenskap ooreenstem nie.
Wat dink jy? Glo jy dat Adam en Eva werklik bestaan het? Is daar enige bewyse om te toon dat hulle werklik gelewe het? Aan die ander kant, wat is die implikasies daarvan om die Genesisverslag as ’n blote mite af te maak?
Die Genesisverslag—Wetenskaplik geloofwaardig?
Kom ons bespreek eerstens die sleutelelemente in die verslag oor die skepping van die eerste mens. Die Bybel sê aangaande Adam: “Jehovah God het die mens uit stof van die aarde begin vorm en in sy neusgate die asem van die lewe geblaas, en die mens het ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). Is hierdie stelling geloofwaardig op wetenskaplike gebied?
Die boek Nanomedicine sê dat die menseliggaam uit 41 chemiese elemente bestaan. Hierdie basiese elemente—koolstof, yster, suurstof en ander—kan almal in die “stof” van die aarde gevind word. Gevolglik is mense, soos Genesis sê, werklik “uit stof van die aarde” gevorm.
Hoe is hierdie lewelose boustene saamgevoeg om ’n lewende mens te vorm? Om toe te lig watter enorme uitdaging dit is, dink aan die NASA-pendeltuig, een van die mees komplekse masjiene wat ooit ontwerp is. Hierdie tegnologiese wonder bestaan uit ’n verstommende 2,5 miljoen onderdele. Dit het spanne ingenieurs jare geneem om dit te ontwerp en aanmekaar te sit. Dink nou aan die menseliggaam. Dit bestaan uit ongeveer 7 000 kwadriljoen atome, 100 biljoen selle, tientalle organe en ten minste 9 belangrike orgaanstelsels.a Hoe het hierdie biologiese masjien met sy verbysterende kompleksiteit en voortreflike samestelling tot stand gekom? Deur blinde toeval of deur middel van intelligente ontwerp?
Wat meer is, wat hou mense aan die lewe? Waar kom die lewensvonk vandaan? Wetenskaplikes erken dat hulle nie weet nie. Trouens, hulle kan nie eers saamstem oor ’n aanvaarbare definisie van lewe nie. Vir diegene wat die idee van ’n Skepper aanvaar, is die gevolgtrekking voor die hand liggend. Die Bron is natuurlik God.b
Wat van die beskrywing in Genesis dat Eva uit Adam se ribbebeen gemaak is? (Genesis 2:21-23). Voordat jy die verslag as ’n mite of fantasie afmaak, beskou eers die volgende feite: In Januarie 2008 het wetenskaplikes in Kalifornië, VSA, die wêreld se eerste ontwikkelde gekloonde menslike embrios uit volwasse velselle voortgebring. Trouens, deur soortgelyke tegnieke te gebruik, het wetenskaplikes al ten minste 20 diere gekloon. Die beroemdste onder hulle, die skaap Dolly, is in 1996 uit die melkklier van ’n volwasse skaap gekloon.c
Wat die gevolg van sulke eksperimente sal wees, moet nog gesien word. Die punt is: As mense biologiese materiaal van een organisme kan gebruik om nog een van sy soort voort te bring, kan die almagtige Skepper dan nie ’n mens uit bestaande biologiese materiaal van ’n ander mens maak nie? Interessant genoeg, chirurge gebruik oor die algemeen die ribbebeen in rekonstruktiewe chirurgie weens die vermoë daarvan om weer te groei en te herstel.
Die Bybel se interne bewyse
Party mense is verbaas om uit te vind dat Adam en Eva herhaaldelik in die Bybel genoem word. Watter lig werp hierdie verwysings op die geskiedkundige egtheid van die Genesisverslag?
Dink byvoorbeeld aan die Joodse geslagslyste wat in die Bybelboek Eerste Kronieke hoofstukke 1 tot 9 en in die Evangelie van Lukas hoofstuk 3 opgeteken is. Hierdie merkwaardig uitvoerige geslagsregisters strek oor onderskeidelik 48 en 75 geslagte. Lukas beskryf Jesus Christus se geslagslyn, terwyl Kronieke die koninklike en priesterlike geslagslyne vir die nasie Israel bevat. Albei lyste sluit die name van welbekende persone soos Salomo, Dawid, Jakob, Isak, Abraham, Noag en laastens Adam in. Al die name op die twee lyste verteenwoordig mense wat werklik bestaan het, en Adam was die eerste persoon op elke lys wat werklik gelewe het.
Verder stel die Bybel Adam en Eva herhaaldelik as werklike mense voor, nie as mitiese karakters nie. Hier is ’n paar voorbeelde:
• “[God] het uit een mens elke nasie van die mense gemaak.”—HANDELINGE 17:26.
• “Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde en die dood [het] só . . . as koning geheers van Adam tot by Moses.”—ROMEINE 5:12, 14.
• “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword.”—1 KORINTIËRS 15:45.
• “Adam is eerste gevorm, daarna Eva.”—1 TIMOTEUS 2:13.
• “Die sewende in die lyn van Adam, Henog, het ook oor [die goddeloses] geprofeteer.”—JUDAS 14.
Nog belangriker, Jesus Christus, die geloofwaardigste getuie in die Bybel, het die bestaan van Adam en Eva erken. Toe Jesus oor die onderwerp van egskeiding uitgevra is, het hy geantwoord: “Van die begin van die skepping af ‘het [God] hulle man en vrou gemaak. Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat, en die twee sal een vlees wees’ . . . Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Markus 10:6-9). Sou Jesus ’n sinnebeeldige voorstelling gebruik het om ’n bindende regspresedent te skep? Nee! Jesus het Genesis as feitelik aangehaal.
The New Bible Dictionary som die skriftuurlike bewyse op en kom tot dié gevolgtrekking: “Die Nuwe Testament bevestig die geskiedkundige egtheid van die verslag wat in die eerste hoofstukke van Genesis verskyn.”
Die domino-effek
Baie opregte kerkgangers dink dat geloof in Adam en Eva nie noodsaaklik is om ’n goeie Christen te wees nie. Op die oog af lyk dit dalk wel so. Maar kom ons volg hierdie redenasie en kyk waarheen dit ons lei.
Dink byvoorbeeld aan ’n Bybelleerstelling wat die meeste kerkgangers na aan die hart lê—die losprys. Volgens hierdie lering het Jesus Christus sy volmaakte menselewe as ’n losprys gegee om mense van hulle sondes te red (Matteus 20:28; Johannes 3:16). Soos ons weet, is ’n losprys ’n betaling van ’n ooreenstemmende waarde om iets los te koop of terug te kry wat verloor of verbeur is. Dit is waarom die Bybel Jesus as “’n ooreenstemmende losprys” beskryf (1 Timoteus 2:6). Ons vra dalk: Ooreenstemmend waarmee? Die Bybel antwoord: “Net soos almal in Adam sterf, só sal almal ook in die Christus lewend gemaak word” (1 Korintiërs 15:22). Die volmaakte lewe wat Jesus opgeoffer het om gehoorsame mense los te koop, stem ooreen met die volmaakte lewe wat Adam as gevolg van die eerste sonde in Eden verloor het (Romeine 5:12). As Adam nie bestaan het nie, sou Christus se losprysoffer ongetwyfeld heeltemal betekenisloos gewees het.
Om die Genesisverslag oor Adam en Eva te verwerp of om dit as onbelangrik af te maak, veroorsaak ’n domino-effek wat amper elke belangrike lering in die Bybel ondermyn!d Só ’n denkwyse lei tot menige onbeantwoorde vrae en geloof sonder enige grondslag.—Hebreërs 11:1.
Die lewe—Betekenisvol of tevergeefs?
Laastens kom ons by hierdie fundamentele vraag: Bevredig dit die mens se behoefte aan betekenis en ’n doel in die lewe as die Genesisverslag verwerp word? Volgens Richard Dawkins, ’n vooraanstaande evolusionis en ateïs, het die heelal “geen ontwerp, geen doel, geen goed en geen kwaad, niks behalwe blinde, wrede onverskilligheid nie”. Wat ’n uiters sombere beskouing, lynreg in stryd met die menslike natuur!
In skrille kontras hiermee voorsien die Bybel bevredigende antwoorde op die lewe se belangrikste vrae: Waar kom ons vandaan? Wat is die doel van die lewe? Waarom is daar soveel boosheid en lyding in die wêreld? Sal goddeloosheid ooit tot ’n einde kom? En so meer. Verder bied geloof in Christus se losprys die hoop op die ewige lewe in paradystoestande, soos dié in Eden, waar God die eerste mense, Adam en Eva, geplaas het (Psalm 37:29; Openbaring 21:3-5). Wat ’n waarlik wonderlike vooruitsig!e
Hoewel die verslag oor Adam en Eva dalk nie met die evolusieteorie ooreenstem nie, strook dit met wat bekend is aan die wetenskap. Wat meer is, dit stem ten volle ooreen met die res van God se geïnspireerde Woord, die Bybel, wat ware betekenis en ’n doel in die lewe voorsien.
Ondersoek die Bybel gerus self verder. Jehovah se Getuies is heeltemal bereid om jou te help.
[Voetnote]
a In die Suid-Afrikaanse getalstelsel is hierdie getalle onderskeidelik 7 000 gevolg deur 24 nulle en 100 gevolg deur 12 nulle.
b Vir verdere inligting, sien die boeke Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? en Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?, albei uitgegee deur Jehovah se Getuies.
c Hierdie wetenskaplikes skep natuurlik nie lewe nie. Hulle werk eerder met materiaal van bestaande lewende selle.
d Dit sluit leringe in oor God se soewereiniteit, die mens se onkreukbaarheid, goed en kwaad, wilsvryheid, die toestand van die dooies, die huwelik, die beloofde Messias, ’n paradysaarde, God se Koninkryk en nog baie ander.
e Vir verdere besonderhede, sien die boek Wat leer die Bybel werklik?, hoofstuk 3, “Wat is God se voorneme met die aarde?” en hoofstuk 5, “Die losprys—God se grootste geskenk”, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Lokteks op bladsy 14]
As Adam nie bestaan het nie, sou Christus se losprysoffer ongetwyfeld heeltemal betekenisloos gewees het
[Prente op bladsy 12, 13]
Net soos ’n pendeltuig, is die menslike liggaam ook sorgvuldig ontwerp
[Prent op bladsy 15]
Jesus het Adam en Eva se bestaan erken