Die skatte van Sentraal-Amerika se grootste meer
HOEWEL Nicaragua ’n klein landjie is, het dit die grootste binnelandse watermassa in Sentraal-Amerika—die Nicaragua-meer. Wat interessant is, is dat die Nicaragua-meer moontlik die enigste varswatermeer is waarin seevissoorte soos haaie, swaardvisse en tarponne gevind kan word. Wetenskaplikes glo dat hierdie meer voorheen ’n baai in die Stille Oseaan was, maar dat vulkaniese aktiwiteit dit van die oseaan afgesny het. Namate die water sy soutgehalte verloor het, het die visse by hulle nuwe omgewing aangepas.
Die meer, wat omtrent 160 kilometer lank en 70 kilometer by sy breedste punt is, is ongeveer 30 meter bo seevlak. Daar is meer as 400 eilande in die Nicaragua-meer, met omtrent 300 om die Asese-skiereiland, naby die dorp Granada aan die noordelike punt van die meer. Hulle word die Granada-eilandjies genoem.
Die grootste eiland in die meer is die Ometepe-eiland, wat in die middel lê. Ometepe is sowat 25 kilometer lank en 13 kilometer breed en bestaan uit twee vulkane wat deur ’n landengte verbind word. Die indrukwekkende simmetriese keël van die hoër vulkaan, Concepción, toring 1 610 meter bo die meer uit. Dit is aktief en oorheers die noordelike kant van die eiland. Die ander vulkaan, die 1 394 meter hoë Madera, is rustend. In Madera se krater lê ’n mistige meer omring deur digte plantegroei.
Die Nicaragua-meer is een van die toeriste-aantreklikhede in hierdie gebied. Mense kom om die natuurlike tropiese prag en die oorvloedige argeologiese oorblyfsels van eertydse beskawings te sien. Maar daar is ’n ander aspek van die Nicaragua-meer se skatte wat wag om ontdek te word.
’n Gemeenskap op die meer
Die Granada-eilandjies is ryk aan tropiese plante en diere. Uitsonderlike blomme groei in die welige woude wat die grootste deel van hierdie vulkaniese eilande oordek. Langs die kus word pragtige watervoëls aangetref, soos kleinbloureiers, grootsilwerreiers, visvalke, slanghalsvoëls en duikers, wat rustig besig is met hulle daaglikse bedrywighede. Aan die rande van die oerwoud is daar yslike bome waarin groot goudbruin voëls wat Montezuma-oropendolas genoem word, hulle neste bou, wat heen en weer geswaai word deur die wind van die meer.
Party van die eilandjies word bewoon. Hier staan die wonings van die plaaslike vissermanne langs die vakansiehuise van die rykes. Ook word plaaslike skole en ’n begraafplaas sowel as restaurante en kroeë op die eilande aangetref. Die eilandgroep lyk soos ’n dorpie, ’n gemeenskap op die meer.
Elke oggend vaar ’n blou en wit boot van eiland tot eiland om kinders skool toe te neem. ’n Drywende winkel op ’n kano gaan van een eilandjie na die ander om vrugte en groente te verkoop. Elke dag sien ’n mens mans wat hulle visnette regkry en vroue wat klere in die meer was.
Jehovah se Getuies is ook besig op hierdie eilande. Hulle gebruik bote om die plaaslike mense te besoek en met hulle oor die goeie nuus van God se Koninkryk te praat (Matteus 24:14). Die ongewone geografie van hierdie gebied skep ’n uitdaging: Waar kan vergaderinge gehou word om God se Woord, die Bybel, te bestudeer? Uit gehoorsaamheid aan die Bybel se opdrag om ‘nie ons onderlinge vergadering na te laat nie’, het die Getuies met ’n uitstekende oplossing vorendag gekom—Nicaragua se eerste drywende Koninkryksaal!—Hebreërs 10:25.
’n Drywende Koninkryksaal
’n Egpaar wat voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies is, het in November 2005 na die Granada-eilandjies getrek. ’n Paar maande later, toe hulle die plaaslike mense na die jaarlikse Herdenking van Christus se dood genooi het, was hulle aangenaam verras toe 76 dit bygewoon het. Dit het die egpaar daarvan oortuig dat daar ’n behoefte aan gereelde Christelike vergaderinge in hierdie gebied is. Aangesien dit moeilik was om ’n geskikte plek vir sulke vergaderinge te vind, het die pioniers aan ’n ander idee gedink: ’n Drywende Koninkryksaal wat na verskillende plekke gesleep kon word waar dit ook al gerieflik vir die mense sou wees.
Hierdie vindingryke egpaar, wat nog nooit ’n drywende voorwerp ontwerp of gebou het nie, het aan die werk gespring. Hulle en ses ander het ’n maand lank aan die projek gewerk. Die nuwe vergaderplek moes ’n eenvoudige vlot wees. Dit sou bestaan uit ’n gesweiste raamwerk van staalpype wat ’n dosyn 150-literdromme aanmekaar hou, wat met druklug gevul is om te kan dryf. Dit sou ’n houtvloer hê en ’n seil wat as ’n dak sou dien. Die werkers het elke aand oor die projek gebid omdat hulle nie seker was dat die saal sou dryf nie. Maar dit het!
Die nuwe Koninkryksaal is op 10 Junie 2006 vir sy eerste Openbare Vergadering gebruik. Die volgende dag is dit na die ander kant van die eilandgroep gesleep om dieselfde vergadering vir die mense daar te hou. Die gesamentlike bywoningsyfer was 48, al moes party van die mense meer as ’n halfuur deur die oerwoud loop. Almal was verheug om hulle eie plek van aanbidding te hê!
Vergaderinge in hierdie Koninkryksaal het beslis ’n unieke atmosfeer. Terwyl die spreker sy toespraak hou, kan die gehoor in die agtergrond die geklots van water teen die rotse hoor of ’n aap wat nou en dan in die verte skree. Die saal het gou ’n bekende gesig vir die eilandbewoners geword. Hulle waai vir die broers wanneer hulle dit van die een plek na die ander sleep. Elke week kom meer as 20 mense na die drywende Koninkryksaal vir Christelike assosiasie en Bybelonderrig. Wat ’n kosbare skat het dit tog geword!
Op Ometepe-eiland
Ongeveer 50 kilometer suid van Granada lê Ometepe-eiland. Weens die eiland se natuurskoon en vrugbare grond is dit lank reeds ’n gesogte woonplek. Om die waarheid te sê, die vroegste bewys van landbou in Nicaragua word hier gevind. Vandag het Ometepe ’n bevolking van sowat 42 000, wat vis vang asook mielies, piesangs, koffie en ander gewasse verbou. Ook hier is die dierelewe besonders. Daar is groepe skreeuende papegaaie, groot blou en wit ekstergaaie wat tussen die bome vlieg, en kapusynape met hulle wit gesiggies, ’n gunsteling van baie.
Die inwoners van Ometepe word ook gereeld besoek deur verkondigers van die goeie nuus van God se Koninkryk. Van 8 Getuies wat in 1966 gedoop is, het die aantal Getuies op Ometepe tot 183 in vier florerende gemeentes vermeerder. Elke gemeente het sy eie Koninkryksaal op ’n gerieflike plek. Vandag is daar 1 Getuie vir elke 230 mense op die eiland.
Jehovah se Getuies op Ometepe het deur die jare heen voor struikelblokke te staan gekom. Byvoorbeeld, teenstanders het in 1980 die Koninkryksaal in Mérida afgebrand. ’n Ander saal is in 1984 gebou. Dit is tot 2003 gebruik toe ’n pragtige nuwe Koninkryksaal gebou is, tot die groot vreugde van die 60 lede van die plaaslike gemeente.
In Moyogalpa is ’n Koninkryksaal ontwerp waar groter samekomste gehou kan word, indien nodig. Teen die agterkant van die saal is ’n dak opgerig, en ’n verhoog is daaronder gebou. Voor die verhoog is daar sitplekke onder ’n afdak wat tot aan die agterkant van die eiendom strek. Plaaslike Getuies en hulle vriende wat om die meer woon, vergader hier vir die groter byeenkomste wat van tyd tot tyd gehou word. By hierdie geleenthede voorsien die Nicaragua-meer die ideale plek waar nuwe dissipels van Jesus Christus gedoop kan word.—Matteus 28:19.
Skatte—Sal hulle bewaar bly?
Die Nicaragua-meer het altyd onskendbaar gelyk, veral omdat dit so groot is. Maar vandag het dit beskerming nodig. Die water daarvan word bedreig deur besmetting weens landbou- en nywerheidsafval en die afsetting uit ontboste gebiede.
Die tyd sal leer of pogings deur plaaslike inwoners en die regering sake sal verbeter. Nietemin sal die Skepper toesien dat al die skatte van die aarde, waaronder die kristalhelder mere, pragtige eilande en asemrowende natuurlewe, as ’n erfenis vir die gehoorsame mensdom bewaar word. “Die regverdiges sal die aarde besit”, sê die Bybel vir ons, “en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.
[Prent op bladsy 26]
’n Drywende Koninkryksaal vir Bybelvergaderinge