Is oorlog versoenbaar met die Christelike godsdiens?
“Volgens watter sedelike standaard is oorlog ’n misdaad of ’n sonde? Dit is inderdaad ’n raaisel.”—Oliver O’Donovan, professor in Christelike etiek
’N SKILDERY met die naam Sacrifice, wat deur die Eerste Wêreldoorlog geïnspireer is en in die Kanadese Oorlogsmuseum hang, beeld gesneuwelde soldate, oorlogsmoeë oorlewendes en hulle gesinne tuis uit. Bo hulle hang Jesus Christus, genael aan ’n kruis. Party wat daarna kyk, is geskok dat Jesus, die “Vredevors”, saam met tonele van vleeslike oorlogvoering uitgebeeld word (Jesaja 9:6). Ander, wat dankbaar is vir die opofferings van hulle landgenote, voel dat God en sy Seun van Christene verwag om oorloë te voer wat die veiligheid en vryheid van hulle nasie beskerm.
Godsdiensleiers verkondig al eeue lank ’n boodskap ten gunste van oorlogvoering. In die jaar 417 HJ het die teoloog Augustinus geskryf: “Julle moenie dink dat niemand wat as ’n soldaat dien, wat wapens vir oorlogvoering gebruik, vir God aanneemlik kan wees nie. . . . Ander veg ten behoewe van julle teen onsigbare vyande deur te bid, terwyl julle ten behoewe van hulle teen sigbare barbare stry deur te veg.” In die 13de eeu het Thomas van Aquino verduidelik dat “oorloë geoorloof en geregverdig is, solank dit die armes en die hele ryk teen ’n vyand [se] verraderlikheid beskerm”.
Wat dink jy? Dra dit God se seën weg wanneer wapens opgeneem word vir ’n skynbaar edele doel—om ’n nasie se vryheid te verdedig of om die onderdruktes te verlos? Watter “sedelike standaard” kan Christene gebruik om God se wil in hierdie saak te onderskei?
Jesus Christus se voorbeeld
Is dit moontlik om God se denke oor ’n komplekse kwessie soos hedendaagse oorlogvoering te kry? Die apostel Paulus het ons moeilike posisie erken en gevra: “‘Wie het die denke van Jehovah leer ken, dat hy hom kan onderrig?’ Maar ons het wel die denke van Christus” (1 Korintiërs 2:16). Om ons te help, het Jehovah God Jesus as ons Voorbeeld na die aarde toe gestuur. Wat Jesus gesê en gedoen het, het Jehovah se gedagtes en weë weerspieël. Wat het Jesus dus oor oorlogvoering gesê? Watter standpunt het hy ten opsigte van oorlog ingeneem?
’n Mens sou dink dat die verdediging van Jesus Christus se lewe en veiligheid die edelste doel sou wees waarvoor wapens opgeneem kan word. Een van sy apostels het so gevoel. Toe Jesus verraai is en in die middel van die nag deur ’n gewapende skare in hegtenis geneem is, het sy vriend Petrus “sy hand uitgesteek en sy swaard getrek en die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap”. Was dit geregverdig om ’n wapen te gebruik? Jesus het vir Petrus gesê: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan.”—Matteus 26:47-52.
Jesus se reaksie is geensins verbasend nie. Twee jaar vroeër het hy gesê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand haat.’ Ek sê egter vir julle: Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg; sodat julle kan toon dat julle kinders is van julle Vader wat in die hemele is, aangesien hy sy son laat opgaan oor goddeloses en goeies en dit laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Matteus 5:43-45). Is dit redelik om te dink dat ’n Christen sy vyande kan liefhê en vir hulle kan bid terwyl hy teen hulle oorlog voer?
Die geskiedenis toon dat Christene baie vyande gehad het. Byvoorbeeld, die Romeine het Jesus Christus gevonnis en tereggestel. Kort daarna het dit ’n halsmisdaad geword om net te bely dat ’n mens ’n Christen is. Jesus het geweet dat Christene dalk in die versoeking sou kom om wapens te dra en teen Romeinse onderdrukking in opstand te kom, soos party van die Jode gedoen het. Daarom het hy van sy volgelinge gesê: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). Christene het gekies om polities neutraal te bly. Geen ongeregtigheid of bedreiging vir hulle of vir die land waarin hulle gewoon het, het dit geregverdig om aan militêre optrede deel te neem nie.
Ondersteuners van God se Koninkryk
Ware Christene het Jesus se wense nageleef en neutraal gebly. Kyk na wat in Ikonium, ’n eertydse stad in Klein-Asië, gebeur het. “Toe ’n gewelddadige poging deur mense van die nasies sowel as die Jode saam met hulle heersers aangewend is om [Paulus en Barnabas] minagtend te behandel en hulle met klippe te gooi, het hulle, toe hulle daarvan vertel is, na die stede Likaonië, Listra en Derbe en die omliggende gebied gevlug; en daar het hulle voortgegaan om die goeie nuus bekend te maak” (Handelinge 14:5-7). Let daarop dat Christene nie wapens opgeneem het om hulle te verdedig en ook nie weerwraak geneem het toe hulle hewig teëgestaan is nie. Hulle het eerder voortgegaan om “die goeie nuus” te verkondig. Watter goeie nuus het hulle gehad om te vertel?
Christene het dieselfde boodskap as Jesus verkondig. Hy het gesê: “Ek [moet] die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak” (Lukas 4:43). Jesus en sy volgelinge het God se Koninkryk ondersteun. Christus het nooit ’n nasionale weermag gebruik om hierdie Koninkryk te verdedig nie. “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie”, het hy gesê. “As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie.”—Johannes 18:36.
Julle moet “liefde onder mekaar” hê
Neutraliteit gedurende oorlogstyd is ’n kenmerk van ware aanbidding. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Miljoene mense was bly om ’n groep te vind wat hierdie liefde openbaar selfs wanneer hulle weiering om wapens te dra, tot bespotting, gevangenskap of teregstelling gelei het.
In Nazi-besette Europa het amptenare nagenoeg 10 000 van Jehovah se Getuies opgesluit weens hulle Christelike neutraliteit, insluitende sowat 3 000 wat na konsentrasiekampe gestuur is. Intussen is meer as 4 300 Getuies gedurende dieselfde tydperk in die Verenigde State opgesluit omdat hulle geweier het om by die leër aan te sluit. Nóg Duitse nóg Amerikaanse Getuies het wapens gedra en teen hulle Christenbroers of enigiemand anders geveg. Hoe kon hulle dit doen en terselfdertyd beweer dat hulle mekaar en hulle medemens liefhet?
Baie mense voel dat militêre optrede ’n noodsaaklike vorm van selfverdediging is. Maar dink hieraan: Hoewel eerste-eeuse Christene wreed vervolg is en geweier het om terug te veg, het hulle oorleef. Die magtige Romeinse Ryk kon nie die Christelike godsdiens uitwis nie. Ware Christene floreer vandag nog, en hulle handhaaf nog steeds ’n neutrale standpunt. Hulle neem nie sake in eie hande nie, maar vertrou eerder ten volle op God vir hulp. Sy Woord, die Bybel, sê: “Moet julle nie wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die gramskap; want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah.’”—Romeine 12:19.
[Venster op bladsy 30]
OORLOË WAT GOD GESEËN HET
Eertydse Israel, ’n nasie wat eeue voor die stigting van die Christelike godsdiens spesiaal deur God uitverkies is, is by tye gemagtig om ’n leër op die been te bring en oorlog te voer. Voordat die Israeliete Kanaän, die land wat God aan Abraham beloof het, binnegegaan het, is daar vir hulle gesê: “Jehovah jou God sal [sewe nasies] beslis aan jou oorlewer, en jy moet hulle verslaan. Jy moet hulle vir seker aan vernietiging oorgee. Jy mag geen verbond met hulle sluit en geen guns aan hulle betoon nie” (Deuteronomium 7:1, 2). Daarom het die Israelitiese generaal Josua daardie vyandige nasies verslaan “net soos Jehovah, die God van Israel, beveel het”.—Josua 10:40.
Was dit ’n gewetenlose verowering waartydens Israel ander nasies uit gierigheid onderwerp het? Glad nie. Daardie nasies was vol afgodediens, bloedvergieting en verdorwe seksuele gebruike. Selfs kinders is in offervure doodgemaak (Numeri 33:52; Jeremia 7:31). God se heiligheid, geregtigheid en liefde vir sy volk het hom beweeg om alle onreinheid uit die land te verwyder. Jehovah het nietemin almal se harte ondersoek—iets wat geen militêre bevelvoerder vandag kan doen nie—en het diegene gespaar wat gewillig was om hulle goddelose weë te verlaat en hom te dien.
[Prent op bladsy 31]
Het Jesus van sy volgelinge verwag om te veg om hom of mede-Christene te verdedig?
[Prent op bladsy 31]
’n Groep van Jehovah se Getuies ná hulle vrylating uit die Buchenwald-konsentrasiekamp in 1945