Moet jy die weeklikse Sabbat hou?
IN DIE laat 1980’s het groepies Metodiste die hoofstad van Fidji, Soewa, beleër. Mans, vroue en kinders—almal in kerkklere—het 70 padversperrings beman. Hulle het alle handelsverkeer sowel as binnelandse en internasionale vlugte tot stilstand gedwing. Wat het hiertoe aanleiding gegee? ’n Eis dat die volk die Sabbat weer nougeset moet hou.
Sedert 2001 moet elke nuwe veelverdiepinggebou wat in Israel opgerig word, ten minste een hyser hê wat outomaties by elke verdieping stop. Waarom? Sodat vroom Jode, wat die Sabbat van Vrydagaand tot Saterdagaand hou, nie die “werk” hoef te doen om die knoppies in ’n hyser te druk nie.
In Tonga, ’n koninkryk in die Stille Suidsee, is alle werk op ’n Sondag verbode. Geen vliegtuie mag land nie, en geen skepe mag dok nie. Enige kontrakte wat op dié dag onderteken word, word as ongeldig beskou. Die grondwet van Tonga vereis dat Sondae deur almal “heilig gehou” word, ongeag ’n persoon se godsdiensoortuiging. Waarom? Om te verseker dat die Sabbat landwyd gehou word.
Soos die bogenoemde voorbeelde toon, dink baie mense dat God van hulle vereis om ’n weeklikse Sabbatdag te hou. Trouens, volgens party is dit van die allergrootste belang om die Sabbat te hou omdat hulle glo dat ons ewige redding daarvan afhang. Ander meen dat die belangrikste gebod van God is om die Sabbat te hou. Wat is die Sabbat? En spoor die Bybel Christene aan om elke week ’n Sabbatdag te hou?
Wat is die Sabbat?
Die Afrikaanse woord “Sabbat” kom van ’n Hebreeuse woord wat “rus, ophou, staak” beteken. Hoewel die Genesisverslag sê dat Jehovah God op die sewende dag van sy skeppingswerke gerus het, is God se volk eers in die tyd van Moses beveel om ’n 24 uur lange rusdag, of Sabbat, te hou (Genesis 2:2). Nadat die Israeliete Egipte in 1513 VHJ verlaat het, het Jehovah hulle in die wildernis op wonderdadige wyse van manna voorsien. Hulle is aangaande die insameling van hierdie manna beveel: “Ses dae sal julle dit optel, maar op die sewende dag is dit ’n sabbat. Daarop sal niks vorm nie” (Eksodus 16:26). Dan word daar vir ons gesê: “Die volk het die sabbat op die sewende dag gehou”, van sonsondergang Vrydagaand tot sonsondergang Saterdagaand.—Eksodus 16:30.
Kort nadat hierdie instruksies gegee is, het Jehovah ’n wet oor Sabbatsheiliging voorsien en dit ingesluit by die Tien Gebooie wat aan Moses gegee is (Eksodus 19:1). Die vierde gebod het deels gesê: “Ten einde die sabbatdag te gedenk, om dit heilig te hou, moet jy ses dae arbei en al jou werk doen. Maar die sewende dag is ’n sabbat vir Jehovah jou God” (Eksodus 20:8-10). Sabbatsheiliging het dus ’n onafskeidbare deel van die Israeliete se lewe geword.—Deuteronomium 5:12.
Het Jesus ’n weeklikse Sabbat gehou?
Ja, Jesus het die Sabbat gehou. Aangaande hom word daar vir ons gesê: “Toe die voleinding van die tyd aangebreek het, het God sy Seun uitgestuur, wat uit ’n vrou gebore is en onder die wet te staan gekom het” (Galasiërs 4:4). Aangesien Jesus as ’n Israeliet gebore is, was hy onder die Wet, en dit het die Sabbatwet ingesluit. Die Wetsverbond het eers ná Jesus se dood tot ’n einde gekom (Kolossense 2:13, 14). As ons weet wanneer hierdie gebeure plaasgevind het, help dit ons om God se beskouing van die saak te verstaan.—Sien bladsy 15.
Jesus het weliswaar gesê: “Moenie dink dat ek gekom het om die Wet of die Profete tot niet te maak nie. Ek het gekom, nie om tot niet te maak nie, maar om te vervul” (Matteus 5:17). Maar wat beteken die woorde “om te vervul”? Ter toeligting: Wanneer ’n bouer ’n kontrak vervul om ’n gebou te voltooi, doen hy dit nie deur die kontrak op te skeur nie, maar deur die gebou klaar te maak. Maar wanneer die werk voltooi en die kliënt gelukkig is, is die kontrak vervul en staan die bouer onder geen verdere verpligting nie. Jesus het ook nie die Wet verbreek, of opgeskeur, nie; hy het dit eerder vervul deur dit volmaak te onderhou. Toe daardie Wet, of kontrak, vervul is, was dit nie meer bindend op God se volk nie.
’n Christelike vereiste?
Is Christene verplig om die weeklikse Sabbat te hou as Christus die Wet vervul het? Die apostel Paulus antwoord onder inspirasie: “Laat niemand julle dan in verband met eet en drink of met betrekking tot ’n fees of ’n viering van die nuwemaan of van ’n sabbat oordeel nie; want dié dinge is ’n skaduwee van die toekomstige dinge, maar die werklikheid behoort aan die Christus.”—Kolossense 2:16, 17.
Hierdie geïnspireerde woorde toon dat ’n groot verandering met betrekking tot God se vereistes vir sy knegte plaasgevind het. Waarom die verandering? Omdat Christene onder ’n nuwe wet, “die wet van die Christus”, is (Galasiërs 6:2). Die eertydse Wetsverbond wat deur Moses aan Israel gegee is, het tot ’n einde gekom toe Jesus se dood dit vervul het (Romeine 10:4; Efesiërs 2:15). Het die gebod dat die Sabbat gehou moet word, ook tot ’n einde gekom? Ja. Nadat Paulus gesê het dat “ons van die Wet onthef” is, het hy na een van die Tien Gebooie verwys (Romeine 7:6, 7). Die Tien Gebooie—insluitende die Sabbatwet—is dus deel van die Wet wat tot ’n einde gekom het. Gevolglik hoef God se aanbidders nie meer ’n weeklikse Sabbat te hou nie.
Die verandering van die Israelitiese tot die Christelike stelsel van aanbidding kan as volg toegelig word: ’n Land verander dalk sy grondwet. Wanneer die nuwe grondwet wetlik bevestig is, hoef die volk nie meer die vorige grondwet te gehoorsaam nie. Al is party van die wette in die nuwe grondwet miskien dieselfde as dié in die vorige grondwet, verskil ander moontlik. ’n Mens sal dus die nuwe grondwet noukeurig moet bestudeer om te sien watter wette nou van toepassing is. En ’n lojale burger sal wil weet van wanneer af die nuwe grondwet van krag is.
Net so het Jehovah God meer as 600 wette, insluitende 10 vernames, aan die nasie Israel gegee. Dit het wette oor sedes, offerandes, gesondheidsake en Sabbatsheiliging ingesluit. Maar Jesus het gesê dat sy gesalfde volgelinge ’n nuwe “nasie” sal uitmaak (Matteus 21:43). Van 33 HJ af het hierdie nasie ’n nuwe “grondwet”, wat op twee basiese wette—liefde vir God en liefde vir naaste—gegrond is (Matteus 22:36-40). Hoewel “die wet van die Christus” voorskrifte insluit wat soortgelyk is aan dié in die Wet wat aan Israel gegee is, moet dit ons nie verbaas dat party wette baie anders is en dat sommige nie meer nodig is nie. Die wet wat vereis dat ’n weeklikse Sabbat gehou word, is een van dié wat nie meer bindend is nie.
Het God sy standaarde verander?
Beteken hierdie verandering van die Wet van Moses na die wet van die Christus dat God sy standaarde verander het? Nee. Net soos ’n ouer die reëls wat hy vir sy kinders maak, na gelang van hulle ouderdom en omstandighede sal aanpas, het Jehovah die wette aangepas wat sy knegte moet gehoorsaam. Die apostel Paulus verduidelik die saak as volg: “Voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet bewaak, aangesien ons saam in bewaring oorgegee is, in afwagting van die geloof wat bestem was om geopenbaar te word. Gevolglik het die Wet ons tugmeester geword wat na Christus gelei het, sodat ons weens geloof regverdig verklaar kon word. Maar noudat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ’n tugmeester nie.”—Galasiërs 3:23-25.
Hoe is Paulus se redenasie van toepassing op die Sabbat? Dink aan hierdie illustrasie: Op skool word daar dalk van ’n leerder vereis om ’n sekere vak, soos houtwerk, op ’n sekere dag van die week te leer. Maar wanneer hy die arbeidsmark betree, moet hy moontlik die vaardighede wat hy aangeleer het, nie net op daardie een dag gebruik nie, maar elke dag van die week. Terwyl die Israeliete onder die Wet was, moes hulle ook een dag elke week opsysit vir rus en aanbidding. Daar word egter van Christene vereis om God elke dag te aanbid, nie net een dag per week nie.
Is dit dan verkeerd om een dag elke week opsy te sit vir rus en aanbidding? Nee. God se Woord laat hierdie besluit aan elke individu oor en sê: “Die een persoon besluit dat die een dag heiliger is as die ander. ’n Ander besluit dat al die dae dieselfde is. Elkeen moet sy eie besluit neem” (Romeine 14:5, God’s Word). Hoewel party dalk kies om die een dag as heiliger as die ander te beskou, toon die Bybel duidelik dat God nie van Christene verwag om ’n weeklikse Sabbat te hou nie.
[Lokteks op bladsy 12]
“Ses dae sal julle dit optel, maar op die sewende dag is dit ’n sabbat. Daarop sal niks vorm nie.”—EKSODUS 16:26
[Lokteks op bladsy 14]
“Die Wet [het] ons tugmeester geword wat na Christus gelei het, sodat ons weens geloof regverdig verklaar kon word. Maar noudat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ’n tugmeester nie.”—GALASIËRS 3:24, 25
[Venster/Diagram op bladsy 13]
Die internasionale datumlyn en die Sabbat
Die internasionale datumlyn bied ’n uitdaging vir diegene wat glo dat hulle oral op dieselfde dag ’n weeklikse Sabbat moet hou. Die datumlyn is ’n denkbeeldige lyn wat hoofsaaklik deur die Stille Oseaan met die 180ste meridiaan langs loop. Lande wes van die datumlyn is een dag voor dié wat oos is.
Byvoorbeeld, wanneer dit Sondag is in Fidji en Tonga, is dit Saterdag in Samoa en Niue. As ’n persoon in Fidji dus die Sabbat op ’n Saterdag hou, sal lede van sy godsdiens in Samoa, net 1 145 kilometer daarvandaan, by die werk wees, want daar is dit Vrydag.
Sewendedagadventiste in Tonga hou hulle Sabbat op Sondae omdat hulle redeneer dat hulle dan die Sabbat op dieselfde tyd as lede van hulle godsdiens in Samoa, bietjie meer as 850 kilometer daarvandaan, hou. Maar Sewendedagadventiste in Fidji, minder as 800 kilometer daarvandaan, rus nie omdat dit Sondag daar is en hulle hulle Sabbat op ’n Saterdag hou!
[Diagram]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
\
\
\
\ SAMOA
\
— ― ― ― ― ― ― ―
FIDJI \
Sondag \ Saterdag
\
\
TONGA \
\
\
\
[Tabel op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Feite oor die Sabbat om te onthou:
Hoewel ’n Bybelvers dalk sê dat ’n weeklikse Sabbat gehou moet word, moet ons vasstel wanneer dié woorde gesê is.
4026 VHJ VOOR DIE TYD VAN MOSES
ADAM GESKEP Die wet aangaande die
Sabbat is nie voor
die tyd van Moses en die
Israeliete gegee nie.
1513 VHJ GOD SE WET AAN ISRAEL
WET AAN ISRAEL GEGEE Die wet aangaande die Sabbat
is nie aan ander nasies
gegee nie
Dit is gegee as “’n teken”
tussen Jehovah en die kinders
van Israel.—Eksodus 31:16, 17.
Die weeklikse Sabbatdag was
net een van baie Sabbatte wat
die Israeliete beveel is
om te hou.
25:4,
11;
33 HJ DIE WET VAN DIE CHRISTUS
EINDE VAN WET WAT AAN
ISRAEL GEGEE IS Toe die apostels en die
ouer manne in Jerusalem
in 49 HJ besluit het wat
God van Christene verwag,
het hulle glad nie genoem
dat dit nodig is om ’n
weeklikse Sabbat te hou nie.
Die apostel Paulus was
besorg oor die Christene
wat dit as belangrik
beskou het om spesiale
dae te hou.
2010 HJ
[Prent op bladsy 11]
Koerantberigte oor padversperrings wat opgerig is deur groepe Metodiste wat geëis het dat Fidji die Sabbat weer nougeset moet hou
[Erkenning]
Courtesy of the Fiji Times