Wys Bybelprofesie na die hedendaagse staat Israel?
VANDAG hou die wêreld die Midde-Ooste gespanne dop. Vuurpylaanvalle, botsings tussen gewapende burgermagte en bomaanvalle deur terroriste kom algemeen voor. Voeg by hierdie plofbare situasie die sterk moontlikheid dat kernwapens gebruik kan word. Geen wonder dat mense in alle wêrelddele bekommerd is nie!
Die wêreld het die Midde-Ooste ook in Mei 1948 angstig dopgehou. Op daardie stadium, 62 jaar gelede, het die Britse mandaat om die destydse Palestina te beset, ten einde geloop, en oorlog het gedreig. Die Verenigde Nasies het die vorige jaar die skepping van ’n onafhanklike Joodse staat in ’n deel van die besette gebiede goedgekeur. Die omliggende Arabiese nasies het gesweer dat hulle dit ten alle koste sou verhoed. “Die skeidslyn sal niks anders wees nie as ’n lyn van vuur en bloed”, het die Arabiese Bond gewaarsku.
Dit was vieruur Vrydagmiddag 14 Mei 1948. Die Britse mandaat sou oor ’n paar uur verstryk. In die Tel Aviv-museum was ’n groep van 350 toeskouers, wat ’n geheime uitnodiging ontvang het, teenwoordig vir ’n aankondiging waarna daar gretig uitgesien is—die formele verklaring van die hedendaagse nasie Israel tot ’n staat. Daar was streng veiligheidsmaatreëls ingeval die baie vyande van die nuwe staat ’n aanval gedurende die verrigtinge sou doen.
David Ben-Gurion, die leier van Israel se Nasionale Raad, het Die Verklaring van die Stigting van die Staat Israel voorgelees. Dit het deels gesê: “Ons, die lede van die Volksraad, verteenwoordigers van die Joodse Gemeenskap van Eretz-Israel . . . verklaar hiermee, op grond van ons natuurlike en geskiedkundige reg en kragtens die Resolusie van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering, die stigting van ’n Joodse staat in Eretz-Israel, wat as die staat Israel bekend sal staan.”
Die vervulling van ’n Bybelprofesie?
Party Evangeliese Protestante glo dat die hedendaagse staat Israel sodoende ’n Bybelprofesie vervul het. In die boek Jerusalem Countdown sê die geestelike John Hagee byvoorbeeld: “Hierdie gedenkwaardige geleentheid is voorspel deur die profeet Jesaja, wat gesê het: ‘’n Nasie sal op een dag gebore word.’ (Sien Jesaja 66:8.) . . . Dit was die grootste oomblik in die profetiese geskiedenis van die twintigste eeu. Dit was lewende bewys vir alle mense om te sien dat die God van Israel nog bestaan.”
Is hierdie verklaring waar? Het Jesaja 66:8 die stigting van die hedendaagse staat Israel voorspel? Was 14 Mei 1948 die “grootste oomblik in die profetiese geskiedenis van die twintigste eeu”? As die hedendaagse staat Israel nog steeds God se uitverkore nasie is, en as hy dit gebruik om Bybelprofesieë te vervul, sal dit beslis vir Bybelstudente in die hele wêreld van belang wees.
Jesaja se profesie sê: “Wie het so iets gehoor? Wie het sulke dinge gesien? Sal ’n land op een dag met geboortepyne voortgebring word? Of sal ’n nasie met een slag gebore word? Want Sion het geboortepyne begin kry sowel as geboorte gegee aan haar kinders” (Jesaja 66:8). Dit is duidelik dat hierdie vers die skielike geboorte van ’n hele nasie, asof op een dag, voorspel. Maar wie sou hierdie geboorte teweegbring? Die volgende vers verskaf ’n leidraad: “‘Wat my betref, sou ek die moederskoot laat oopgaan en nie die geboorte laat plaasvind nie?’ sê Jehovah. ‘Of laat ek ’n geboorte plaasvind en sluit ek die moederskoot toe?’ het jou God gesê.” Jehovah God stel dit duidelik dat die dramatiese geboorte van die nasie deur sy toedoen sou plaasvind.
Die hedendaagse Israel word bestuur as ’n sekulêre demokrasie wat amptelik geen aanspraak daarop maak dat dit op die God van die Bybel vertrou nie. Het die Israeli’s in 1948 Jehovah God erken as die een wat verantwoordelik was vir die stigting van hulle staat? Hulle het nie. Nie die naam van God of selfs die woord “God” word enigsins in die oorspronklike teks van die verklaring gemeld nie. Die boek Great Moments in Jewish History sê van die finale teks: “Selfs eenuur die middag, toe die Nasionale Raad vergader het, kon sy lede nie saamstem oor die bewoording van die verklaring nie . . . Vroom Jode wou ’n verwysing na ‘die God van Israel’ hê. Sekulariste wou nie. In ’n kompromis het Ben-Gurion besluit dat die woord ‘Rots’ in plaas van ‘God’ sou verskyn.”
Vandag nog baseer die hedendaagse staat Israel sy aanspraak op nasieskap op ’n resolusie van die VN en op wat dit die natuurlike en geskiedkundige reg van die Joodse volk noem. Is dit redelik om te verwag dat die God van die Bybel die grootste profetiese wonderwerk in die 20ste eeu sou verrig ten behoewe van ’n volk wat weier om hom te erken?
Hoe vergelyk die hedendaagse aanspraak op nasieskap?
Die sekulêre gesindheid van hedendaagse Israel vorm ’n skerp teenstelling met die situasie in 537 VHJ. Destyds is die nasie Israel inderdaad asof op een dag ‘herbore’ nadat dit 70 jaar vroeër deur die Babiloniërs verwoes en ontvolk is. Jesaja 66:8 is destyds op treffende wyse vervul toe die Persiese veroweraar van Babilon, Kores die Grote, toegelaat het dat die Jode na hulle vaderland terugkeer.—Esra 1:2.
Die Persiese koning Kores het Jehovah se hand in die saak in 537 VHJ erken, en dié wat na Jerusalem teruggekeer het, het dit gedoen met die spesifieke doel om die aanbidding van Jehovah God te herstel en sy tempel te herbou. Die hedendaagse staat Israel het nooit amptelik verklaar dat hulle so ’n begeerte of bedoeling het nie.
Nog steeds God se uitverkore nasie?
In die jaar 33 HJ het die vleeslike nasie Israel sy aanspraak daarop om God se uitverkore nasie te wees, verloor toe dit Jehovah se Seun, die Messias, verwerp het. Die Messias self het dit soos volg gestel: “Jerusalem, Jerusalem, wat die profete doodmaak en dié stenig wat na haar gestuur is . . . Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat” (Matteus 23:37, 38). Jesus se verklaring is bewaarheid toe die Romeinse legioene Jerusalem tesame met sy tempel en priesterdom in 70 HJ vernietig het. Maar wat sou word van God se voorneme om ’n “spesiale eiendom uit al die ander volke, . . . ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie” te hê?—Eksodus 19:5, 6.
Die apostel Petrus, wat self ’n vleeslike Jood was, het hierdie vraag beantwoord in ’n brief wat hy aan nie-Joodse sowel as Joodse Christene geskryf het. Hy het gesê: “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit,’ . . . want julle was eens nie ’n volk nie, maar is nou God se volk; julle was dié aan wie nie barmhartigheid bewys is nie, maar is nou dié aan wie barmhartigheid bewys is.”—1 Petrus 2:7-10.
Christene wat deur die heilige gees gekies is, behoort dus aan ’n geestelike nasie, en hulle lidmaatskap word nie deur geboorte of geografiese ligging bepaal nie. Die apostel Paulus het dit soos volg beskryf: “Nie besnydenis of onbesnedenheid is iets nie, maar ’n nuwe skepping is iets. En mag daar vrede en barmhartigheid op almal rus wat ordelik sal wandel volgens hierdie gedragsreël, ja, op die Israel van God.”—Galasiërs 6:15, 16.
Terwyl die hedendaagse nasie Israel aanbied om burgerskap aan enige natuurlike of bekeerde Jood te verleen, word burgerskap in wat die Bybel “die Israel van God” noem, net gegee aan dié wat “gehoorsaam [is] en met die bloed van Jesus Christus besprinkel” is (1 Petrus 1:1, 2). Met verwysing na hierdie lede van die Israel van God, of geestelike Jode, het Paulus geskryf: “Hy is nie ’n Jood wat dit uiterlik is nie, en ook is besnydenis nie dit wat uiterlik aan die vlees is nie. Maar hy is ’n Jood wat dit innerlik is, en sy besnydenis is dié van die hart deur gees, en nie deur ’n geskrewe kode nie. Die lof van so iemand kom nie van mense nie, maar van God.”—Romeine 2:28, 29.
Hierdie vers help ons om ’n kontroversiële kommentaar van Paulus te verstaan. In sy brief aan die Romeine het Paulus verduidelik hoe die ongelowige natuurlike Jode soos takke van ’n simboliese olyfboom was wat afgekap is sodat “wilde” nie-Joodse “takke” op die boom geënt kon word (Romeine 11:17-21). Hy het hierdie illustrasie afgesluit deur te sê: “’n Afstomping van gevoeligheid [het] gedeeltelik oor Israel gekom . . . totdat die volle getal mense van die nasies ingekom het, en op hierdie manier sal die hele Israel gered word” (Romeine 11:25, 26). Het Paulus voorspel dat ’n massabekering van die Jode tot die Christelike godsdiens ter elfder ure sou plaasvind? Dit is duidelik dat geen bekering van hierdie aard plaasgevind het nie.
Met die uitdrukking “die hele Israel” het Paulus die hele geestelike Israel bedoel—Christene wat deur die heilige gees gekies is. Hy het gesê dat die natuurlike Jode se versuim om die Messias te aanvaar, nie God se voorneme sou verydel om ’n geestelike ‘olyfboom’ vol vrugbare takke te hê nie. Dit stem ooreen met Jesus se illustrasie waarin hy homself as ’n wingerdstok voorstel waarvan die onvrugbare takke afgekap sal word. Jesus het gesê: “Ek is die ware wingerdstok, en my Vader is die landbouer. Elke loot in my wat nie vrug dra nie, neem hy weg, en elkeen wat vrug dra, maak hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.”—Johannes 15:1, 2.
Hoewel die stigting van die hedendaagse staat Israel nie in die Bybel voorspel is nie, is die stigting van die nasie van geestelike Israel wel voorspel! As jy vandag hierdie geestelike nasie identifiseer en met hulle assosieer, sal jy ewige seëninge maai.—Genesis 22:15-18; Galasiërs 3:8, 9.