Waarom het hulle die Messias verwerp?
TOE Jesus op die aarde was, het sy woorde die skares geboei en het sy wonderwerke hulle verstom. Gevolglik het baie “geloof in hom gestel” en hom as die voorspelde Messias, of Christus, aanvaar. Hulle het geredeneer: “Wanneer die Christus kom, sal hy tog nie meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het nie, of hoe?”—Johannes 7:31.
Ondanks die oorweldigende bewyse ter bevestiging van Jesus se identiteit as die Messias het die meeste van dié wat Jesus gesien en gehoor het, nie gelowiges geword nie. Ongelukkig het selfs party wat aanvanklik geglo het, hom later verlaat. Waarom het so baie Jesus as die Messias verwerp ten spyte van die kragtige bewyse? Kom ons kyk na die redes, en terwyl ons dit doen, vra jou af: ‘Verkeer ek dalk in die gevaar om vandag dieselfde fout te begaan?’
Onvervulde verwagtinge
Toe Jesus gebore is, het baie Jode die koms van die Messias verwag. Toe Jesus as ’n baba na die tempel gebring is, het persone ‘wat gewag het op Jerusalem se verlossing’ deur die beloofde Messias, na hom toe gekom (Lukas 2:38). Later het baie wat die werke van Johannes die Doper gesien het, gewonder: “Is hy miskien die Christus?” (Lukas 3:15). Maar wat het die Jode in die eerste eeu verwag dat die Messias sou doen?
Die Jode het destyds algemeen geglo dat die Messias sou kom en hulle van die onderdrukkende Romeinse juk sou bevry en die aardse koninkryk van Israel sou herstel. Voordat Jesus met sy bediening begin het, het ’n aantal charismatiese leiers opgestaan en gewelddadige verset teen die bestaande politieke bewind voorgestaan. Wat hierdie manne gedoen het, het waarskynlik die volk se verwagtinge met betrekking tot die Messias beïnvloed.
Jesus was opvallend anders as hierdie valse Messiasse. Hy het nie geweld voorgestaan nie, maar sy toehoorders geleer om hulle vyande lief te hê en om aan die owerheid onderdanig te wees (Matteus 5:41-44). Hy het die mense se pogings om hom koning te maak, verwerp. Hy het eerder geleer dat sy koninkryk “geen deel van hierdie wêreld” sou wees nie (Johannes 6:15; 18:36). Vooropgesette idees oor die Messias het nietemin ’n baie sterk invloed op die mense uitgeoefen.
Johannes die Doper het self wonderdadige bewyse gesien en gehoor wat Jesus se identiteit as God se Seun bevestig het. Maar toe Johannes in die tronk was, het hy sy dissipels gestuur om Jesus te vra: “Is u die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” (Matteus 11:3). Johannes het miskien gewonder of Jesus inderdaad die beloofde Verlosser is, wat die Jode se verwagtinge sou vervul.
Dit was vir Jesus se apostels moeilik om te verstaan dat hy doodgemaak en dan opgewek sou word. Toe Jesus by een geleentheid verduidelik het dat die Messias sou moes ly en sterf, het Petrus “hom opsy geneem en hom begin bestraf” (Markus 8:31, 32). Petrus kon nog nie sien hoe Jesus se dood by sy rol as die Messias inpas nie.
Toe Jesus Jerusalem kort voor die Pasga van 33 HJ binnegegaan het, is hy deur geesdriftige skares verwelkom wat hom as Koning begroet het (Johannes 12:12, 13). Hoe vinnig het die situasie tog verander! In daardie selfde week is Jesus in hegtenis geneem en tereggestel. Ná Jesus se dood het twee van sy dissipels gekla: “Ons het gehoop dat hierdie man die een was wat bestem is om Israel te verlos” (Lukas 24:21). Selfs toe die verrese Jesus aan sy dissipels verskyn het, het hulle nog steeds die idee gehad dat die Messias ’n aardse koninkryk sou oprig. Hulle het gevra: “Here, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?” Dit is duidelik dat verkeerde verwagtinge met betrekking tot die Messias diep in die harte en verstande van Jesus se toehoorders gewortel was.—Handelinge 1:6.
Nadat Jesus na die hemel opgevaar het en die heilige gees uitgestort is, het sy dissipels duidelik verstaan dat die Messias as ’n hemelse Koning sou regeer (Handelinge 2:1-4, 32-36). Die apostels Petrus en Johannes het met vrymoedigheid oor Jesus se opstanding gepreek en bewys gelewer dat hulle God se steun geniet deur self wonderwerke te verrig (Handelinge 3:1-9, 13-15). Duisende in Jerusalem het gunstig gereageer en gelowiges geword. Dit het die Joodse owerheid egter nie aangestaan nie. Net soos hulle Jesus teëgestaan het, het hulle nou sy apostels en dissipels teëgestaan. Waarom het die Joodse godsdiensleiers Jesus so heftig verwerp?
Verwerp deur godsdiensleiers
Teen die tyd dat Jesus aarde toe gekom het, het Joodse godsdiensdenke en -gebruike ver afgewyk van wat in die geïnspireerde Geskrifte geleer is. Die godsdiensleiers van destyds—die Sadduseërs, Fariseërs en skrifgeleerdes—het aan mensgemaakte tradisies vasgehou en dit bo God se geskrewe Woord gestel. Hulle het Jesus keer op keer daarvan beskuldig dat hy die Wet verbreek omdat hy wonderdadige genesings op die Sabbat verrig het. Deur hulle onskriftuurlike leringe kragtig te weerlê, het Jesus hulle gesag sowel as hulle bewering dat hulle ’n goedgekeurde posisie voor God het, betwis. In teenstelling met hulle het Jesus uit ’n nederige agtergrond gekom en nie dieselfde formele godsdiensopvoeding as hulle gehad nie. Geen wonder dat dit vir hierdie trotse manne so moeilik was om Jesus as die Messias te aanvaar nie! Hierdie konfrontasies het hulle so woedend gemaak dat hulle “teen [Jesus] beraadslaag [het] sodat hulle hom kon doodmaak”.—Matteus 12:1-8, 14; 15:1-9.
Maar hoe kon die godsdiensleiers Jesus se vermoë om wonderwerke te verrig, wegpraat? Hulle het nie ontken dat die wonderwerke plaasgevind het nie. Hulle het eerder geloof in Jesus probeer ondermyn deur sy krag op lasterlike wyse aan Satan toe te skryf en te sê: “Hierdie man dryf die demone nie anders uit as deur middel van Beëlsebub, die heerser van die demone, nie.”—Matteus 12:24.
Daar was nog ’n diepliggende rede waarom hulle hardnekkig geweier het om Jesus as die Messias te erken. Nadat Jesus Lasarus opgewek het, het leiers van die verskillende godsdiensgroepe saam beraadslaag en gesê: “Wat moet ons doen, want hierdie man doen baie tekens? As ons hom so laat begaan, sal hulle almal geloof in hom stel, en die Romeine sal kom en ons plek sowel as ons nasie wegneem.” Uit vrees dat hulle hulle mag en posisie sou verloor, het die godsdiensleiers saamgesweer om Jesus sowel as Lasarus dood te maak!—Johannes 11:45-53; 12:9-11.
Gemeenskapsvooroordeel en vervolging
Die gesindheid van die eerste-eeuse Joodse godsdiensleiers het ’n maatskaplike klimaat geskep waarin dit vir enigiemand moeilik was om Jesus as die Messias te aanvaar. Hulle was trots op hulle prominente posisies en het enigiemand wat geloof in Jesus getoon het, verkleineer deur te sê: “Nie een van die heersers of van die Fariseërs het geloof in hom gestel nie, of hoe?” (Johannes 7:13, 48). Party Joodse leiers, soos Nikodemus en Josef van Arimatea, het wel dissipels van Jesus geword, maar het hulle geloof uit vrees geheim gehou (Johannes 3:1, 2; 12:42; 19:38, 39). Die Joodse leiers het beveel dat “as iemand hom as Christus bely, hy uit die sinagoge geban moet word” (Johannes 9:22). So ’n persoon sou as ’n uitgeworpene verstoot en verag word.
Teenstand teen Jesus se apostels en dissipels het uiteindelik hewige vervolging laat ontvlam. Weens hulle vrymoedige predikingswerk is die apostels deur die Sanhedrin, die Joodse Hoë Raad, vervolg (Handelinge 5:40). Teenstanders het valse aanklagte van godslastering teen die dissipel Stefanus versin. Hy is deur die Sanhedrin veroordeel en gestenig. Toe “het daar groot vervolging ontstaan teen die gemeente wat in Jerusalem was; almal behalwe die apostels is in al die streke van Judea en Samaria verstrooi” (Handelinge 6:8-14; 7:54–8:1). Saulus, wat later die apostel Paulus geword het, het deelgeneem aan ’n vervolgingsveldtog wat amptelik deur die hoëpriester en die “vergadering van ouer manne” gesteun is.—Handelinge 9:1, 2; 22:4, 5.
Selfs onder hierdie moeilike omstandighede het die Christelike godsdiens in die jare ná Jesus se dood vinnig gegroei. Hoewel duisende gelowiges geword het, het die Christene egter ’n minderheid in die eerste-eeuse Palestina gebly. As iemand hom openlik as ’n volgeling van Christus geïdentifiseer het, kon dit verstoting en selfs geweld beteken het.
Leer by dié wat Jesus verwerp het
Soos ons gesien het, het wanopvattings, gemeenskapsdruk en vervolging baie in die eerste eeu verhinder om geloof in Jesus te stel. Vandag kan verkeerde idees oor Jesus en sy leringe ’n soortgelyke uitwerking hê. Byvoorbeeld, baie is geleer dat God se Koninkryk in hulle hart is of dat dit deur mensepogings tot stand gebring sal word. Ander word oorreed om op die wetenskap of die tegnologie te vertrou vir oplossings vir die mensdom se probleme, wat dit dan onnodig maak om geloof in die Messias te stel. Talle hedendaagse kritici beweer dat die gebeure van Jesus se bediening wat in die Bybel opgeteken is, nie geskiedkundige feite is nie; sodoende ondermyn hulle geloof in Jesus as die Messias.
Die gevolg van hierdie idees en teorieë is dat baie óf verward is oor die rol van die Messias óf nie die nodigheid sien om die saak te ondersoek nie. Maar vir diegene wat bereid is om die getuienis te ondersoek, is daar in werklikheid vandag baie meer bewyse dat Jesus die Messias is as wat daar in die eerste eeu was. Ons het die volledige Hebreeuse Geskrifte wat talle profesieë bevat oor wat die Messias sou doen, asook die verslag in die vier Bybelse Evangelies oor wat Jesus ter vervulling van hierdie profesieë gedoen het.a
Daar is werklik oorgenoeg bewyse waarvolgens elkeen van ons in hierdie verband ’n ingeligte keuse kan maak of besluit kan neem. En hierdie besluit is dringend. Waarom? Omdat die Bybel openbaar dat Jesus, as die Messiaanse Koning van God se Koninkryk, binnekort sal optree om almal te verwyder wat die aarde verderf en om ’n regverdige heerskappy tot stand te bring sodat alle gehoorsame onderdane vir ewig op die aarde in paradystoestande sal kan lewe (Daniël 2:44; Openbaring 11:15, 18; 21:3-5). Jy kan hierdie wonderlike toekoms geniet as jy ’n poging aanwend om nou van Jesus te leer en geloof in hom te beoefen. Neem Jesus se woorde ter harte: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
[Voetnoot]
a Sien die tabel “Profesieë aangaande die Messias” op bladsy 200 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Lokteks op bladsy 20]
Sou jy die Messias erken het as jy in Jesus se dag gelewe het?
[Prent op bladsy 21]
Moenie toelaat dat vooropgesette idees jou verhinder om die waarheid oor Jesus te leer nie