‘Die vrug van die gees’ verheerlik God
“My Vader word hierin verheerlik, dat julle veel vrug bly dra.”—JOH. 15:8.
1, 2. (a) Watter geleenthede het ons om ander aan te moedig? (b) Watter gawe van Jehovah verbeter ons vermoë om hom te dien?
STEL jou twee scenario’s voor: ’n Christenvrou sien dat ’n jonger suster bekommerd lyk. Sy reël om saam met haar velddiens te doen. Terwyl hulle tussen die deure gesels, begin die jonger suster vertel wat haar pla. Later daardie dag dank die jonger suster Jehovah in gebed vir die liefdevolle belangstelling van die geestelik volwasse suster; dit was net wat sy nodig gehad het. Elders het ’n egpaar kort tevore teruggekeer uit ’n ander land waar hulle gaan preek het. Terwyl hulle by ’n geselligheid opgewonde ondervindinge vertel, luister ’n jong broer in stilte. Wanneer hy ’n paar jaar later voorbereidings tref om na sy eie buitelandse toewysing te vertrek, dink hy aan daardie egpaar en die gesprek wat by hom die begeerte gewek het om ’n sendeling te wees.
2 Hierdie situasies herinner jou dalk aan iemand wat ’n verskil in jou lewe gemaak het of aan iemand op wie se lewe jy ’n invloed gehad het. Dit gebeur natuurlik nie dikwels dat ’n enkele gesprek iemand se lewe verander nie, maar ons het elke dag geleenthede om ander aan te moedig en te versterk. Stel jou voor dat daar iets is wat jou vermoëns en eienskappe kan verbeter en dit voordeliger vir jou broers en nuttiger vir God kan maak. Sal dit nie wonderlik wees nie? Jehovah gee ons in werklikheid juis so ’n gawe—sy heilige gees (Luk. 11:13). Wanneer God se gees in ons lewe werksaam is, bring dit pragtige eienskappe in ons voort wat elke aspek van ons diens aan God verbeter. Wat ’n wonderlike gawe is dit tog!—Lees Galasiërs 5:22, 23.
3. (a) Hoe verheerlik dit God as ons ‘die vrug van die gees’ aankweek? (b) Na watter vrae sal ons kyk?
3 Die eienskappe wat die heilige gees voortbring, is ’n weerspieëling van die persoonlikheid van die Bron van hierdie gees, Jehovah God (Kol. 3:9, 10). Jesus het gewys op die vernaamste rede waarom Christene daarna moet streef om God na te volg toe hy vir sy apostels gesê het: “My Vader word hierin verheerlik, dat julle veel vrug bly dra” (Joh. 15:8).a Wanneer ons ‘die vrug van die gees’ aankweek, kan die resultate duidelik gesien word in ons woorde en dade; en dit bring dan lof aan ons God (Matt. 5:16). In watter opsigte verskil die vrug van die gees van die eienskappe van Satan se wêreld? Hoe kan ons die vrug van die gees aankweek? Waarom kan dit vir ons ’n uitdaging wees om dit te doen? Ons sal na hierdie vrae kyk terwyl ons die eerste drie aspekte van die vrug van die gees bespreek—liefde, vreugde en vrede.
Liefde wat op ’n hoër beginsel gegrond is
4. Watter soort liefde het Jesus sy volgelinge geleer om te beoefen?
4 Die liefde wat deur die heilige gees voortgebring word, is opvallend anders as die soort liefde wat algemeen is in die wêreld. Hoe so? Dit is op ’n hoër beginsel gegrond. Jesus het hierdie verskil in die Bergpredikasie beklemtoon. (Lees Matteus 5:43-48.) Hy het gesê dat selfs sondaars ander behandel soos ander hulle behandel. Hierdie “liefde” behels nie werklike opoffering nie, maar kom neer op ’n uitruiling van gunste. As ons wil ‘toon dat ons kinders is van ons Vader wat in die hemele is’, moet ons anders wees. Ons moet ander nie behandel soos hulle ons behandel nie, maar moet hulle eerder beskou en behandel soos Jehovah hulle beskou en behandel. Maar hoe is dit moontlik om ons vyande lief te hê, soos Jesus beveel het?
5. Hoe kan ons liefde betoon aan dié wat ons vervolg?
5 Beskou ’n Bybelvoorbeeld. Terwyl Paulus en Silas in Filippi gepreek het, is hulle in hegtenis geneem, erg geslaan en in die binneste gevangenis gegooi, waar hulle voete in die blok vasgemaak is. Hulle is terselfdertyd dalk ook deur die tronkbewaarder mishandel. Het hulle, toe hulle weens ’n aardbewing onverwags bevry is, hulle verlustig in die vooruitsig om op hierdie man wraak te neem? Nee. Hulle opregte besorgdheid oor sy welsyn—hulle selfopofferende liefde—het hulle beweeg om vinnig ten behoewe van hom op te tree, en dit het die weg gebaan vir die tronkbewaarder en al sy huisgenote om gelowiges te word (Hand. 16:19-34). Baie van ons broers in hedendaagse tye het ook die weg gevolg “om dié te seën wat [hulle] vervolg”.—Rom. 12:14.
6. Hoe kan ons selfopofferende liefde aan ons broers betoon? (Sien venster op bladsy 21.)
6 Ons liefde vir medegelowiges strek verder. “Ons staan onder verpligting om vir ons broers van ons siele afstand te doen.” (Lees 1 Johannes 3:16-18.) Maar ons kan meer dikwels liefde in kleiner dinge betoon. As ons byvoorbeeld iets sê of doen wat ’n broer aanstoot gee, kan ons liefde betoon deur die inisiatief te neem om die vrede te herstel (Matt. 5:23, 24). Sê nou iemand gee ons aanstoot? Is ons “vergewensgesind”, of is ons soms geneig om ’n wrok te koester? (Ps. 86:5). Die intense liefde wat deur die heilige gees voortgebring word, kan ons help om geringe oortredings te bedek en ander vryelik te vergewe “net soos Jehovah [ons] vryelik vergewe het”.—Kol. 3:13, 14; 1 Pet. 4:8.
7, 8. (a) Hoe hou liefde vir mense verband met liefde vir God? (b) Hoe kan ons ons liefde vir Jehovah versterk? (Sien die prent hieronder.)
7 Hoe kan ons selfopofferende liefde vir ons broers aankweek? Deur ons liefde vir God te versterk (Ef. 5:1, 2; 1 Joh. 4:9-11, 20, 21). Die intieme oomblikke wat ons saam met Jehovah deurbring wanneer ons die Bybel lees, peins en bid, voed ons hart en laat ons liefde vir ons hemelse Vader toeneem. Maar ons moet tyd uitkoop om nader aan God te kom.
8 Ter toeligting: Stel jou voor dat dit net gedurende ’n sekere uur elke dag moontlik is om God se Woord te lees, daaroor te peins en tot Jehovah te bid. Sal jy nie alles in jou vermoë doen om te verseker dat niks inbreuk maak op hierdie persoonlike tyd saam met Jehovah nie? Niemand kan natuurlik ons toegang tot God in gebed beperk nie, en die meeste van ons kan die Bybel lees wanneer ons wil. Maar ons moet miskien stappe doen om te voorkom dat die warrelwind van daaglikse bedrywighede inbreuk maak op ons persoonlike tyd saam met God. Koop jy elke dag soveel tyd moontlik uit om nader aan Jehovah te kom?
“Vreugde van die heilige gees”
9. Wat is ’n kenmerk van die vreugde wat deur die heilige gees voortgebring word?
9 ’n Belangrike kenmerk van die vrug van die gees is die bestendigheid daarvan. Vreugde, die tweede aspek wat ons sal bespreek, dien as voorbeeld van hierdie veerkragtigheid. Vreugde is soos ’n geharde plant wat selfs in ’n ongunstige omgewing kan floreer. Regoor die aarde het baie van God se knegte “die woord onder groot verdrukking met vreugde van die heilige gees aangeneem” (1 Tess. 1:6). Ander het met teëspoed en ontberinge te kampe. Maar Jehovah gee hulle deur middel van sy gees die krag “om ten volle te volhard en lankmoedig te wees met vreugde” (Kol. 1:11). Wat is die bron van hierdie vreugde?
10. Wat is die bron van ons vreugde?
10 In teenstelling met die “onsekere rykdom” van Satan se wêreld het die geestelike skatte wat ons van Jehovah ontvang, blywende waarde (1 Tim. 6:17; Matt. 6:19, 20). Hy hou die vreugdevolle vooruitsig van ’n eindelose toekoms aan ons voor. Ons smaak die vreugde om deel van ’n wêreldwye Christenbroederskap te wees. Ons vreugde is bowenal gegrond op ons verhouding met God. Ons voel soos Dawid wat, hoewel hy as ’n vlugteling moes lewe, Jehovah met sang geloof en gesê het: “Omdat u liefderyke goedhartigheid beter is as die lewe, sal my lippe u prys. So sal ek u gedurende my lewe loof” (Ps. 63:3, 4). Selfs wanneer ons ontberinge deurmaak, wel vreugdevolle lof aan God in ons hart op.
11. Waarom is dit belangrik dat ons Jehovah met vreugde dien?
11 Die apostel Paulus het Christene aangespoor: “Verbly julle altyd in die Here. Weer eens sal ek sê: Verbly julle!” (Fil. 4:4). Waarom is dit belangrik dat Christene hulle diens aan Jehovah met vreugde verrig? Weens die geskil wat Satan in verband met Jehovah se soewereiniteit geopper het. Satan beweer dat niemand God met ’n gewillige hart dien nie (Job 1:9-11). As ons Jehovah pligsgetrou maar sonder vreugde sou dien, sou ons lofoffer onvolledig wees. Ons probeer dus ag slaan op die psalmis se aansporing: “Dien Jehovah met blydskap. Kom voor hom met vreugdegeroep” (Ps. 100:2). Diens wat met ’n vreugdevolle, gewillige hart verrig word, verheerlik God.
12, 13. Hoe kan ons teen negatiewe gevoelens stry?
12 Maar selfs toegewyde knegte van Jehovah sal natuurlik soms mismoedig word en sukkel om ’n positiewe uitkyk te behou (Fil. 2:25-30). Wat kan ons gedurende hierdie tye help? Efesiërs 5:18, 19 sê: “Word voortdurend met gees vervul, en spreek tot mekaar met psalms en lofliedere tot God en geestelike liedere, en sing en begelei julle met musiek in julle hart tot Jehovah.” Hoe kan ons hierdie raad toepas?
13 Wanneer ons deur negatiewe gevoelens oorweldig word, kan ons Jehovah in gebed smeek en oor lofwaardige sake probeer peins. (Lees Filippense 4:6-9.) Party vind dat dit hulle opbeur en hulle help om aan positiewe dinge te dink as hulle saggies neurie terwyl opnames van ons Koninkryksliedere speel. ’n Broer wat ’n beproewing deurgemaak het wat hom dikwels gefrustreerd en mismoedig laat voel het, vertel: “Behalwe dat ek gereeld uit die hart gebid het, het ek ook ’n paar Koninkryksliedere gememoriseer. Dit het vrede in my hart gebring wanneer ek hierdie pragtige lofliedere tot Jehovah hardop of in my gedagtes gesing het. En ongeveer daardie tyd is die boek Kom nader aan Jehovah vrygestel. Ek het dit die daaropvolgende jaar twee keer gelees. Dit was soos salf vir my hart. Ek weet dat Jehovah my pogings geseën het.”
“Die verenigende band van vrede”
14. Wat is ’n merkwaardige aspek van die vrede wat deur die heilige gees voortgebring word?
14 By ons internasionale byeenkomste verlustig byeenkomsgangers uit verskillende agtergronde hulle in die hartlike Christelike omgang. Hierdie tonele vestig die aandag op ’n aspek van die vrede wat God se hedendaagse volk geniet—ons wêreldwye eenheid. Mense is dikwels verbaas wanneer hulle sien hoe persone wat hulle verwag vyande sou wees, “ywerig daarna streef om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar” (Ef. 4:3). Hierdie eenheid is werklik merkwaardig in die lig van wat talle te bowe moes kom.
15, 16. (a) Wat was Petrus se agtergrond, en hoe het dit vir hom ’n uitdaging gebied? (b) Hoe het Jehovah Petrus gehelp om sy gesindheid te verander?
15 Dit is ’n uitdaging om mense van verskillende agtergronde te verenig. Om ons te help besef wat te bowe gekom moet word om hierdie eenheid te verkry, sal ons kyk na ’n eerste-eeuse voorbeeld, die apostel Petrus. ’n Mens kan aflei wat sy gesindheid teenoor onbesnede nie-Jode was uit sy woorde: “Julle weet goed hoe ongeoorloof dit vir ’n Jood is om by iemand van ’n ander ras aan te sluit of hom te nader; en tog het God vir my gewys dat ek geen mens verontreinig of onrein moet noem nie” (Hand. 10:24-29; 11:1-3). In ooreenstemming met ’n beskouing wat destyds algemeen was, het Petrus blykbaar grootgeword met die opvatting dat die Wet hom verplig om net mede-Jode lief te hê. Dit het dalk vir hom heeltemal normaal gelyk om nie-Jode te beskou as vyande wat gehaat moet word.b
16 Stel jou voor hoe ongemaklik Petrus moes gevoel het toe hy in die huis van Kornelius ingegaan het. Kon ’n man wat voorheen ’n negatiewe beskouing van nie-Jode gehad het, ooit “harmonies saamgeheg” word met hulle in “die verenigende band van vrede”? (Ef. 4:3, 16). Ja, want net dae tevore het God se gees Petrus se hart geopen, wat hom in staat gestel het om sy gesindheid te begin verander en sy vooroordeel te bowe te kom. Deur middel van ’n visioen het Jehovah duidelik aan hom getoon dat God se beskouing van mense nie deur ras of nasionaliteit bepaal word nie (Hand. 10:10-15). Petrus kon dus vir Kornelius sê: “Ek sien vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Hand. 10:34, 35). Petrus het verander, en hy het werklik verenig geword met “die hele gemeenskap van broers”.—1 Pet. 2:17.
17. Waarom is die eenheid wat God se volk geniet, merkwaardig?
17 Petrus se ondervinding help ons om te besef watter merkwaardige verandering onder God se hedendaagse volk plaasvind. (Lees Jesaja 2:3, 4.) Miljoene mense “uit alle nasies en stamme en volke en tale” het hulle denke verander om ooreen te stem met “die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God” (Op. 7:9; Rom. 12:2). Baie van hulle is voorheen sterk beïnvloed deur die haat, vyandskappe en verdeeldheid van Satan se wêreld. Maar deur ’n studie van God se Woord en met die hulp van die heilige gees het hulle geleer om ‘die dinge na te streef wat vrede bevorder’ (Rom. 14:19). Die gevolglike eenheid bring lof aan God.
18, 19. (a) Hoe kan elkeen van ons bydra tot die vrede en eenheid van die gemeente? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
18 Hoe kan elkeen van ons bydra tot die vrede en eenheid onder God se volk? Baie gemeentes sluit mense in wat uit ’n ander land kom. Party het moontlik ander gebruike of praat dalk nie ons taal goed nie. Wend ons ’n poging aan om hulle te leer ken? Dit is die weg wat God se Woord aanbeveel. In ’n brief aan die gemeente in Rome, wat Joodse sowel as nie-Joodse gelowiges ingesluit het, het Paulus gesê: “Verwelkom mekaar . . . , net soos die Christus ons ook verwelkom het, tot heerlikheid van God” (Rom. 15:7). Is daar iemand in julle gemeente wat jy beter kan leer ken?
19 Wat anders kan ons doen om toe te laat dat die heilige gees in ons lewe werksaam is? In die volgende artikel sal ons na hierdie vraag kyk terwyl ons die oorblywende aspekte van die vrug van die gees bespreek.
[Voetnote]
a Die vrug wat Jesus gemeld het, sluit ‘die vrug van die gees’ in sowel as “die vrug van die lippe” wat Christene aan God bring deur middel van die Koninkrykspredikingswerk.—Heb. 13:15.
b Levitikus 19:18 sê: “Jy mag nie wraak neem of ’n wrok koester teen die kinders van jou volk nie; en jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Joodse godsdiensleiers was van mening dat “die kinders van jou volk” en “jou naaste” net na Jode verwys. Die Wet het vereis dat die Israeliete afgeskeie van ander nasies moet bly. Maar dit het nie die beskouing ondersteun wat deur die eerste-eeuse godsdiensleiers voorgestaan is nie, naamlik dat alle nie-Jode vyande is en as individue gehaat moet word.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe kan ons selfopofferende liefde aan ons broers betoon?
• Waarom is dit belangrik dat ons ons diens aan God met vreugde verrig?
• Hoe kan ons bydra tot die vrede en eenheid van die gemeente?
[Venster op bladsy 21]
“Hierdie mense is ware Christene”
Die boek Between Resistance and Martyrdom—Jehovah’s Witnesses in the Third Reich vertel wat ’n jong Joodse gevangene gesê het oor sy eerste ontmoeting met Jehovah se Getuies nadat hy by die Neuengamme-konsentrasiekamp aangekom het:
“Toe ons, die Jode van Dachau, in die blok inkom, het die ander Jode dadelik alles wat hulle gehad het, begin wegsteek sodat hulle niks met ons hoef te deel nie. . . . Buite [die konsentrasiekamp] was ons daar vir mekaar. Maar hier, in ’n situasie van lewe of dood, was almal eerstens daaroor besorg om hulleself te red en het hulle van die ander vergeet. Maar stel jou voor wat die Bybelstudente gedoen het. Op daardie tydstip moes hulle baie hard werk om van die waterpype te herstel. Dit was koud, en hulle het die hele dag in yskoue water gestaan. Niemand het verstaan hoe hulle dit kon verduur nie. Hulle het gesê dat Jehovah hulle die krag gee. Hulle het hulle brood bitter nodig gehad, net soos ons, want hulle was honger. Maar wat het hulle gedoen? Hulle het al die brood wat hulle gehad het, bymekaargemaak, die helfte vir hulleself geneem en die ander helfte vir hulle medegelowiges gegee wat toe net van Dachau af daar aangekom het. En hulle het hulle verwelkom en gesoen. Voordat hulle geëet het, het hulle gebid. Agterna was hulle almal versadig en gelukkig. Hulle het gesê dat hulle nie meer honger is nie. Dit is toe dat ek gedink het: Hierdie mense is ware Christene.”
[Prente op bladsy 19]
Koop jy elke dag tyd van ander bedrywighede uit om nader aan Jehovah te kom?