Wanneer is die Bybel geskryf?
Die Bybel is ’n uitsonderlike boek. Meer as driemiljard mense beskou dit as ’n heilige geskrif. Dit is al die topverkoper van alle tye genoem en nagenoeg 6 000 000 000 eksemplare is al in meer as 2 400 tale gedruk (in die geheel of gedeeltelik).
HOEWEL die Bybel die mees gelese boek in die geskiedenis is, is daar baie idees in omloop oor wanneer dit geskryf is, veral die Hebreeuse Geskrifte, wat dikwels die Ou Testament genoem word. Jy het dalk al sulke teorieë in tydskrifte en boeke gelees, of jy het moontlik al gesien hoe geleerdes dit in dokumentêre programme op televisie verduidelik. Hier is ’n paar verklarings wat die aandag vestig op sommige beskouings wat vandag algemeen is.
▪ “Die teks van die Bybel is merendeels vanaf die agtste tot die sesde eeu VHJ, of tussen die dae van die profete Jesaja en Jeremia, geskryf.”
▪ “Die afgelope tweehonderd jaar het Bybelgeleerdes gewoonlik aangeneem dat die Hebreeuse Bybel grotendeels in die Persiese en Hellenistiese periodes (die vyfde tot tweede eeu VHJ) geskryf en saamgestel is.”
▪ “Die hele teks van die Hebreeuse Bybel in sy huidige vorm dateer uit die Hellenistiese era (selfs so onlangs as die 2de-1ste eeu [VHJ]).”
Hoe moet ’n Christen wat glo dat “die hele Skrif . . . deur God geïnspireer” is, hierdie botsende idees beskou? (2 Timoteus 3:16). Kom ons ondersoek die twee kante van die saak om die antwoord te vind.
Die Bybel se eie tydtafel
Die Hebreeuse Bybel bevat talle chronologiese verwysings. Dit dui aan dat die vroeë boeke in die tyd van Moses en Josua, ongeveer 3 500 jaar gelede, geskryf is.a Samuel, Dawid, Salomo en ander het gedurende die 11de eeu VHJ ander geskrifte bygevoeg. Dit is deur geskiedkundige, poëtiese en profetiese boeke gevolg, wat uit die negende tot die vyfde eeu VHJ dateer.
Kopieë of fragmente van hierdie Bybelboeke, met uitsondering van die boek Ester, is deel van die Dooie See-rolle. Datering met behulp van koolstof-14 (radioaktiewe koolstof) en paleografie (die studie van eertydse geskrifte) bevestig dat die oudste dele van hierdie boekrolle om en by 200 VHJ tot 100 VHJ geskryf is.
Wat die kritici sê
’n Vername rede waarom die Bybel se eie tydtafel bevraagteken word, is omdat die Bybel aanspraak maak op goddelike inspirasie. In sy boek The Old Testament Documents skryf professor Walter C. Kaiser jr. daaroor: “Die [Bybel se] teks is skuldig omdat dit daarop aanspraak maak dat dit deur God geïnspireer is en omdat dit oor wonderwerke en God praat.” Geleerdes met ’n sekulêre ingesteldheid voer aan dat die Bybel, soos enige ander boek, krities ondersoek moet word.
Darwin se evolusieteorie is ’n tyd lank gebruik om te verduidelik dat godsdienste geëvolueer het van die eenvoudige tot die komplekse, van animisme tot politeïsme, en ’n klimaks bereik het in monoteïsme. Omdat die vroeë Bybelboeke ’n monoteïstiese vorm van aanbidding van God beskryf, meen party dat dit baie later geskryf is as wat beweer word.
Bybelkritiek het sedertdien talle vorme aangeneem. Byvoorbeeld, ’n woordeboek van die Ou Testament wat onlangs uitgegee is, bevat omvattende artikels oor vormgeskiedenis, historiese kritiek, literêre kritiek, die geskiedenis van Pentateugkritiek, bronkritiek en oorleweringshistoriese kritiek.
Hoewel geleerdes verskil wanneer dit kom by die datering van die Bybelboeke, is baie ten gunste van professor R.E. Friedman se teorie. Hy skryf: “Eertydse skrywers het oor talle honderde jare poësie, prosa en regsgeskrifte voortgebring. En dan het samestellers hierdie dokumente as bronne gebruik. Hulle het die Bybel uit hierdie bronne saamgestel.”
Die boek Faith, Tradition, and History bespreek ’n aantal van hierdie en ander kritiese beskouings van die Bybel. Maar dit sê ter opsomming: “Hoewel geleerdes verenig is in hulle gebrek aan vertroue in die Skrif en die grootste vertroue in hulle eie teorieë het, staan hulle uiters krities teenoor mekaar se beskouings.”
Ter verdediging van die Bybel se tydtafel
Die vroeë Bybelboeke is op bederfbare materiaal geskryf. Gevolglik is dit onrealisties om te verwag dat die oorspronklike geskrifte of vroeë kopieë uit die tyd van Moses, Josua, Samuel of Dawid ooit gevind sal word. Maar dit is moontlik om indirekte geskiedkundige bewyse te bestudeer, waaruit ons kan aflei dat dit redelik is om die datums wat deur die Bybel self aangegee word, te aanvaar, soos ’n aantal gerespekteerde geleerdes en argeoloë wel doen. Wat leer ons uit sulke bewyse? Kyk na ’n paar voorbeelde.
▪ Het geskrewe literatuur 3 500 jaar gelede in die eertydse Midde-Ooste bestaan toe Moses en Josua gelewe het, soos die Bybel aandui? Geskiedkundige, godsdienstige, literêre en regstekste is in eertydse Mesopotamië en Egipte voortgebring. Wat van Moses en die Israeliete? Die Dictionary of the Old Testament: Pentateuch antwoord: “Daar is geen rede om te twyfel dat geskrewe literatuur wel in die Laat Bronstydperk [ongeveer 1550 tot 1200 VHJ] in Kanaän bestaan het nie.” Dit voeg by: “Uit die oogpunt van die eertydse skryfpraktyk is daar geen rede om te glo dat die tekste wat Moses na bewering geskryf het, nie deur hom geskryf is nie. En dieselfde kan gesê word van die meeste ander skrywers.”—Eksodus 17:14; 24:4; 34:27, 28; Numeri 33:2; Deuteronomium 31:24.
▪ Het Bybelskrywers eertydse bronne as verwysings gebruik? Ja, party verwys na ‘boeke’, wat moontlik staatsdokumente, geslagsregisters, geskiedkundige werke en stam- en familiedokumente was.—Numeri 21:14; Josua 10:13; 2 Samuel 1:18; 1 Konings 11:41; 2 Kronieke 32:32.
▪ Waarom is geen eertydse Bybeldokumente gevind wat ouer as die Dooie See-rolle is nie? Die tydskrif Biblical Archaeology Review verduidelik: “Papirus- en leerdokumente het in die grootste deel van Palestina nie behoue gebly nie, behalwe in baie droë gebiede, soos die gebied om die Dooie See. Hierdie materiaal verrot in klam grond. Die feit dat dit nie ontdek is nie, beteken dus nie dat dit nie bestaan het nie.” Trouens, honderde kleiseëls is al gevind wat gebruik is om dokumente te seël. Die papirus- en leerdokumente het vergaan as gevolg van vuur of klam grond, maar die kleiseëls het behoue gebly. Hierdie seëls dateer uit omstreeks die negende tot die vyfde eeu VHJ.
▪ Hoe is die Bybelmanuskripte bewaar? Die boek The Bible as It Was voer aan: “Die verhale, psalms, wette en profesieë wat ons vandag as deel van die Bybel bereik het, is dus ongetwyfeld talle kere gekopieer, selfs gedurende Bybelse tye. . . . As hierdie geskrifte gedurende Bybelse tye herhaaldelik gekopieer is, is dit omdat dit gebruik is; dit het ’n rol gespeel in die daaglikse lewe. . . . Niemand sou die moeite doen om geskrifte om dowe neute te kopieer nie.”—Deuteronomium 17:18; Spreuke 25:1.
In die geval van die vroeë Bybelboeke het dit beteken dat dit herhaaldelik gekopieer is oor ’n tydperk van byna 1 500 jaar wat tot die eerste eeu HJ gestrek het. Deel van die proses om geskrifte akkuraat te kopieer, was die “bywerking van verouderde grammatikale vorme en spelwyses, ’n proses wat in die eertydse Nabye Ooste algemeen was”, sê die boek On the Reliability of the Old Testament.b Dit laat vrae ontstaan oor die geloofwaardigheid van kritiek wat gebaseer is op vorme en style van die geskrewe teks.
Wanneer is die Bybel geskryf?
Is dit logies om daarop aan te dring dat die afwesigheid van manuskripte wat uit die tyd van Moses, Josua, Samuel en ander dateer, bewys dat die Bybelboeke nie so vroeg geskryf is as wat gesê word nie? Baie geleerdes stem saam dat die afwesigheid van bewyse nie ’n bewys van afwesigheid is nie. Hoeveel bederfbare geskrewe materiaal kon realisties gesproke behoue gebly het? Die Egiptoloog K.A. Kitchen het byvoorbeeld geskat dat byna alle Egiptiese papirusgeskrifte wat voor die Grieks-Romeinse tyd geskryf is, vergaan het.
Diegene wat die Bybel respekteer, kan hulle ook afvra: ‘Hoe het Jesus die Hebreeuse Bybel beskou?’ Datering was destyds nooit ’n geskilpunt nie. Jesus het, soos die Jode oor die algemeen, klaarblyklik die chronologiese inligting in die Skrif aanvaar. Het hy die outeurskap van die vroeë Bybelboeke aanvaar?
Jesus het na die geskrifte van Moses verwys. Byvoorbeeld, hy het melding gemaak van “die boek van Moses” (Markus 12:26; Johannes 5:46). Hy het verwys na verslae in Genesis (Matteus 19:4, 5; 24:37-39); Eksodus (Lukas 20:37); Levitikus (Matteus 8:4); Numeri (Matteus 12:5) en Deuteronomium (Matteus 18:16). Hy het gesê: ‘Al die dinge wat in die wet van Moses en in die Profete en Psalms oor my geskrywe staan, moet vervul word’ (Lukas 24:44). As hy die outeurskap van Moses en ander erken het, het hy ongetwyfeld die akkuraatheid van die chronologiese inligting van die Hebreeuse Bybel aanvaar.
Wanneer is die Bybel dan geskryf? Is die Bybel se eie tydtafel betroubaar? Ons het gekyk na die kritiese beskouing van baie geleerdes sowel as inligting in die Bybel self, indirekte geskiedkundige bewyse en Jesus se beskouing. Met dit in gedagte, sal jou antwoord toon dat jy dit eens is met Jesus toe hy in gebed tot sy Vader, Jehovah God, gesê het: “U woord is die waarheid”?—Johannes 17:17.
[Voetnote]
a Vir ’n breedvoerige bespreking van Bybelchronologie, sien die boek Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 447-467, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b Sien die artikel “Eertydse kopiïste en die Woord van God” in Die Wagtoring van 15 Maart 2007, bladsye 18-20.
Tabel/Prente op bladsye 20-23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
(Tydlyn toon naastenby wanneer Bybelboeke voltooi is)
2000 VHJ
1800
[Prent]
Egiptiese skrywers het voor die tyd van Moses geskrewe materiaal voortgebring
[Erkenning]
© DeA Picture Library/Art Resource, NY
1600
[Prent]
Moses het Genesis op bederfbare materiaal geskryf en dit teen 1513 VHJ voltooi
Genesis 1513 VHJ
Josua
1400
1200
Samuel
1000 VHJ
[Prent]
Honderde kleiseëls het behoue gebly
Dateer uit 900 tot 500 VHJ
Jona
800
Jesaja
600
Jeremia
Daniël
[Prent]
’n Gevoude papirusdokument, gebind met ’n toutjie en geseël met ’n kleiseël
Dateer uit 449 VHJ
[Erkenning]
Brooklyn Museum, Bequest of Theodora Wilbour from the collection of her father, Charles Edwin Wilbour
400
200
[Prent]
Die Dooie See-rolle is in linne toegedraai en in kruike bewaar. Dit is die oudste Bybelgeskrifte wat nog gevind is
Dateer uit 200 tot 100 VHJ
[Erkenning]
Shrine of the Book, Photo © The Israel Museum, Jerusalem