Leer uit God se Woord
Hoe kan jy ware aanbidding identifiseer?
Hierdie artikel opper vrae wat jy dalk al gevra het en toon waar jy die antwoorde in jou Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.
1. Is daar net een ware godsdiens?
Jesus het sy volgelinge van net een godsdiens geleer, die ware godsdiens. Dit is soos ’n pad wat na die lewe lei. Aangaande daardie pad het Jesus gesê: “Dié wat dit vind, is min” (Matteus 7:14). God aanvaar slegs aanbidding wat op sy Woord van waarheid gebaseer is. Alle ware aanbidders is verenig in een geloof.—Lees Johannes 4:23, 24; 14:6; Efesiërs 4:4, 5.
2. Waarom beweer soveel verskillende godsdienste dat hulle Christelik is?
Valse profete het die Christelike godsdiens verderf en het dit gebruik om hulle eie belange te bevorder. Soos Jesus voorspel het, gee hulle voor dat hulle sy “skape” is, maar tree hulle soos honger wolwe op (Matteus 7:13-15, 21, 23). Die valse Christelike godsdiens het veral ná die dood van Jesus se apostels ontwikkel.—Lees Handelinge 20:29, 30.
3. Wat is ’n paar kenmerke wat ware aanbidding onderskei?
Ware aanbidders respekteer die Bybel as God se Woord. Hulle streef daarna om volgens die beginsels daarin te lewe. Ware godsdiens verskil dus van godsdienste wat op die idees van mense gebaseer is (Matteus 15:7-9). Ware aanbidders sê nie een ding en doen ’n ander nie.—Lees Johannes 17:17; 2 Timoteus 3:16, 17.
Die ware godsdiens vereer God se naam, Jehovah. Jesus het God se naam bekend gemaak. Hy het mense gehelp om God te leer ken en het hulle geleer om te bid dat God se naam geheilig word (Matteus 6:9). Watter godsdiens in jou omgewing bevorder die gebruik van God se naam?—Lees Johannes 17:26; Romeine 10:13, 14.
4. Hoe kan jy ware aanbidders identifiseer?
Ware Christene verkondig God se Koninkryk. God het Jesus gestuur om die Koninkryk te verkondig. God se Koninkryk is die enigste hoop vir die mensdom. Jesus het tot sy dood toe aangehou om hieroor te praat (Lukas 4:43; 8:1; 23:42, 43). Hy het vir sy volgelinge gesê om God se Koninkryk te verkondig. Aan watter godsdiens behoort iemand waarskynlik as hy jou nader om oor God se Koninkryk te praat?—Lees Matteus 10:7; 24:14.
Jesus se volgelinge is geen deel van hierdie goddelose wêreld nie. Hulle raak glad nie betrokke by politieke aangeleenthede of maatskaplike konflikte nie (Johannes 17:16). Hulle volg ook nie die wêreld se skadelike gebruike of gesindhede nie.—Lees Jakobus 1:27; 4:4.
5. Wat is die hoofkenmerk van die ware Christelike godsdiens?
Ware Christene het uitsonderlike liefde vir mekaar. God se Woord leer hulle om mense van alle etniese groepe te respekteer. Hoewel valse godsdiens die oorloë van die nasies dikwels ywerig ondersteun het, weier ware aanbidders om dit te doen (Miga 4:1-4). Lede van die ware godsdiens gebruik hulle tyd en middele eerder op ’n onselfsugtige wyse om ander te help en aan te moedig.—Lees Johannes 13:34, 35; 1 Johannes 4:20, 21.
Watter groep baseer al hulle leringe op God se Woord, vereer God se naam en verkondig God se Koninkryk as die mensdom se enigste hoop? Watter groep beoefen liefde en ondersteun nie oorlog nie? Die feite toon dat dit Jehovah se Getuies is.—1 Johannes 3:10-12.
Vir meer inligting, sien hoofstuk 15 van hierdie boek, Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 16]
“Hulle verkondig in die openbaar dat hulle God ken, maar hulle verloën hom deur hulle werke.”—Titus 1:16