Ek het aanpassings gemaak en seëninge ontvang
Soos vertel deur James A. Thompson
Toe ek in 1928 in die suidelike deel van die Verenigde State gebore is, was rasseskeiding tussen wit en swart mense regeringsbeleid. As jy in stryd daarmee opgetree het, kon dit tot tronkstraf of iets ergers lei.
GEDURENDE daardie tyd moes wit en swart Getuies van Jehovah in sekere dele van die Verenigde State afsonderlike gemeentes, kringe en streke hê. In 1937 het my pa die groepkneg (nou die koördineerder van die liggaam van ouer manne) van die swart gemeente in Chattanooga, Tennessee, geword. Henry Nichols was die groepkneg van die wit gemeente.
Ek het aangename herinneringe aan hoe ek as jong seun saans op die agterstoep na my pa en broer Nichols gesit en luister het terwyl hulle gesels. Al het ek nie alles verstaan waaroor hulle gepraat het nie, het ek dit geniet om by my pa te wees terwyl hulle bespreek het wat die beste manier is om die predikingswerk onder die bestaande omstandighede uit te voer.
Vroeër, in 1930, het ’n tragedie ons gesin getref. My ma, wat net 20 jaar oud was, het gesterf. My pa moes toe alleen omsien na my, wat net twee jaar oud was, en my vierjarige suster, Doris. Hoewel my pa net ’n kort rukkie tevore gedoop is, het hy goeie geestelike vooruitgang gemaak.
Voorbeelde wat ’n invloed op my lewe gehad het
In 1933 het my pa ’n wonderlike Christensuster met die naam Lillie Mae Gwendolyn Thomas ontmoet, en hulle is kort daarna getroud. My pa sowel as my ma het vir my en Doris ’n goeie voorbeeld gestel deur Jehovah getrou te dien.
In 1938 is gemeentes van Jehovah se Getuies gevra om ’n resolusie te ondersteun dat ouer manne in plaaslike gemeentes deur die hoofkwartier in Brooklyn, New York, aangestel word pleks van plaaslik verkies te word. Toe party in Chattanooga geaarsel het om die verandering te aanvaar, het my pa verklaar dat die organisatoriese aanpassing sy onvoorwaardelike ondersteuning geniet. Sy voorbeeld van lojaliteit—tesame met my ma se heelhartige samewerking—help my vandag nog.
Doop en die voltydse bediening
In 1940 het ’n aantal in ons gemeente ’n bus gehuur en na die streekbyeenkoms in Detroit, Michigan, gereis. ’n Paar in ons busgroep is daar gedoop. Party het gewonder waarom ek nie gedoop is nie, aangesien ek al vandat ek vyf is, aan die predikingswerk deelneem en baie ywerig in die bediening is.
Toe hulle my daaroor vra, het ek geantwoord: “Ek verstaan nie wat doop alles behels nie.” My pa het dit gehoor en was verbaas. Van toe af het hy ’n groter poging aangewend om my te help om te verstaan wat doop beteken en hoe belangrik dit is. Op ’n bitter koue dag vier maande later, op 1 Oktober 1940, is ek in ’n dammetjie buite Chattanooga gedoop.
Toe ek 14 was, het ek gedurende somerskoolvakansies begin pionier. Ek het in klein dorpe in Tennessee en die naburige staat Georgia gepreek. Ek het soggens vroeg opgestaan, middagete ingepak en sesuur ’n bus of ’n trein na die gebied gehaal. Ek het saans omstreeks sesuur teruggekom. Die kos wat ek ingepak het, was dikwels lank voor middagete op. Hoewel ek geld gehad het, kon ek nie in ’n plaaslike winkel ingaan om nog kos te koop nie omdat ek swart is. Eenkeer het ek in ’n winkel ingegaan om ’n roomys te koop en is ek gevra om die winkel te verlaat. ’n Gawe wit vrou het vir my een uitgebring.
Toe ek met hoërskool begin het, het die burgerregtebeweging in die Suide groter momentum begin kry. Organisasies soos die NAACP (die Nasionale Vereniging vir die Bevordering van Gekleurde Mense) het studenteaktivisme aangemoedig. Ons is aangespoor om lede te word. Verskeie swart skole, insluitende myne, het hulle dit ten doel gestel om ’n lidmaatskap van 100 persent te hê. Daar is druk op my uitgeoefen om “ons ras te ondersteun”, soos dit gestel is. Maar ek het geweier en verduidelik dat God nie partydig is en een ras bo ’n ander begunstig nie. Daarom vertrou ek op God om hierdie onregte uit die weg te ruim.—Joh. 17:14; Hand. 10:34, 35.
Kort nadat ek my hoërskoolopleiding voltooi het, het ek besluit om na die stad New York te trek. Maar op pad soontoe het ek eers in Philadelphia, Pennsilvanië, by vriende gaan kuier wat ek vroeër by ’n byeenkoms ontmoet het. Dit was die eerste keer dat ek ’n gemeente bygewoon het wat uit verskillende rasse bestaan het. Tydens die kringopsiener se besoek het hy my eenkant toe geneem en vir my gesê dat ek ’n deel op die program by die volgende vergadering moet behartig. Dit het my help besluit om daar te bly.
Onder die vriende wat ek in Philadelphia gemaak het, was ’n jong suster met die naam Geraldine White—Gerri, soos ek haar begin noem het. Sy het die Bybel deeglik geken en kon goed met huisbewoners in die deur-tot-deur-bediening redeneer. Dit was vir my veral belangrik dat sy dieselfde doelwit as ek gehad het om te pionier. Ons is op 23 April 1949 getroud.
’n Uitnodiging na Gilead
Dit was van die begin af ons doelwit om die Gileadskool by te woon en as sendelinge in ’n ander land te dien. Ons het ons omstandighede met graagte aangepas sodat ons vir Gilead kon kwalifiseer. Kort voor lank is ons gevra om na Lawnside, New Jersey, te trek; toe na Chester, Pennsilvanië; en uiteindelik na Atlantic City, New Jersey. Terwyl ons in Atlantic City was, het ons gekwalifiseer om vir Gilead aansoek te doen, aangesien ons twee jaar getroud was. Maar ons uitnodiging is teruggehou. Waarom?
Gedurende die vroeë 1950’s is baie jong mans vir militêre diens opgeroep om in Korea te gaan veg. Dit het gelyk of die dienspligraad in Philadelphia bevooroordeeld teenoor Jehovah se Getuies was weens ons neutrale standpunt. Uiteindelik is ek deur ’n regter ingelig dat die FBI my agtergrond nagegaan het en dat dit my neutrale standpunt bevestig het. Op 11 Januarie 1952 het die presidensiële appèlraad my as ’n bedienaar vrygestel van militêre diens.
In Augustus van daardie jaar het ek en Gerri ’n uitnodiging ontvang om die 20ste klas van Gilead by te woon, wat in September begin het. Gedurende die kursus het ons verwag dat ons ’n buitelandse toewysing sou ontvang. My suster, Doris, het aan die 13de klas van Gilead gegradueer en het in Brasilië gedien. Hoe verbaas was ek en Gerri tog toe ons ’n toewysing kry om kringwerk te doen—om swart gemeentes in die suidelike staat Alabama te besoek! Ons was ietwat teleurgesteld, want ons het ons hart daarop gesit om in ’n ander land te dien.
Die eerste gemeente wat ons besoek het, was in Huntsville. Toe ons daar aankom, is ons na die huis van ’n Christensuster by wie ons sou bly. Terwyl ons ons bagasie afgelaai het, het ons haar oor die telefoon hoor sê: “Die kinders is hier.” Ons was net 24 en het selfs nog jonger gelyk. Ons is “Die kinders” genoem die hele tyd dat ons in daardie kring gedien het.
Die Suide is baie keer die Bybelstreek genoem omdat die meeste mense daar hoë agting vir die Bybel gehad het. Ons het dus dikwels gesprekke begin met ’n aanbieding wat uit hierdie drie punte bestaan het:
(1) ’n Kort kommentaar oor wêreldtoestande.
(2) Die oplossing wat die Bybel bied.
(3) Wat die Bybel sê ons moet doen.
Dan het ons ’n gepaste Bybelstudiehulp aangebied. Omdat ons soveel sukses met hierdie aanbieding behaal het, is ek ’n deel op die program gegee by die Nuwewêreldgemeenskap-byeenkoms wat in 1953 in New York gehou is. Ek het hierdie driepuntaanbieding daar gedemonstreer.
Kort daarna, in die somer van 1953, is ek toegewys om swart kringe in die Suide as streekopsiener te dien. Ons streek het van Virginië tot Florida en so ver wes as Alabama en Tennessee gestrek. Ja, reisende opsieners moes aanpasbaar wees. Ons het byvoorbeeld dikwels in huise gebly wat nie binnenshuise sanitêre geriewe gehad het nie en het in ’n sinkbad agter die kombuisstoof gebad. Gelukkig was dít die warmste deel van die huis!
Die uitdaging van rasseskeiding
Om in die Suide te dien, het beplanning en vindingrykheid geverg om dinge gedoen te kry. Swart mense is nie toegelaat om wasserye te gebruik nie. Gerri het dus daarheen gegaan en verduidelik dat die wasgoed vir “mev. Thompson” is. Baie mense het blykbaar gedink dat sy ’n bediende is en dat “mev. Thompson” die vrou van die huis is. Wanneer streekopsieners die film The New World Society in Action vertoon het, het ek ’n winkel gebel en ’n groot skerm vir “mnr. Thompson” bespreek. Later het ek dit by die winkel gaan haal. Ons was altyd vriendelik en het ons bediening oor die algemeen sonder groot probleme vervul.
Daar was nog ’n vorm van vooroordeel, ’n streeksvooroordeel, teen mense van die Noorde. ’n Plaaslike koerant het eenkeer berig dat James A. Thompson jr. van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van New York ’n toespraak by ’n byeenkoms sal lewer. Party het gedink dat dit beteken dat ek van New York was, en ons kontrak om ’n skoolouditorium te gebruik, is gekanselleer. Ek het dus na die skoolraad gegaan en verduidelik dat ek in Chattanooga skoolgegaan het. Ons is toe toestemming gegee om ons kringbyeenkoms te hou.
Rassespanning het in die middel-1950’s toegeneem, en soms was daar geweld. In 1954 het party Getuies aanstoot geneem toe daar by ’n aantal streekbyeenkomste geen swart sprekers op die program was nie. Ons het ons swart broers aangespoor om geduldig te wees. Die daaropvolgende somer is ek aangewys om ’n toespraak te hou. Daarna is meer swart broers uit die Suide dele op byeenkomsprogramme gegee.
Mettertyd het rassegeweld in die Suide afgeneem, en gemeentes het geleidelik begin integreer. Dit het beteken dat verkondigers na ander gemeentes moes gaan en dat gemeentes se gebied sowel as die verantwoordelikhede van broers wat die leiding geneem het, aangepas moes word. Party broers, swart sowel as wit, het nie van die nuwe reëling gehou nie. Die meerderheid was egter onpartydig, soos ons hemelse Vader. Om die waarheid te sê, baie was intieme vriende ongeag hulle kleur. Ons gesin het dit al in die 1930’s en 1940’s ondervind terwyl ek grootgeword het.
’n Nuwe toewysing
In Januarie 1969 het ek en Gerri ’n uitnodiging ontvang om na Guyana, Suid-Amerika, te gaan, en ons het dit vreugdevol aanvaar. Ons is eers na Brooklyn, New York, waar ek opleiding ontvang het om na die predikingswerk in Guyana om te sien. Ons het in Julie 1969 daar aangekom. Ná 16 jaar in die reisende werk was dit ’n groot aanpassing om op een plek te bly. Gerri het die meeste van haar dae as ’n sendeling in die veldbediening deurgebring, en ek het by die takkantoor gewerk.
My werk het alles ingesluit van grassny en die hantering van die lektuurbehoeftes van die 28 gemeentes tot korrespondensie met die hoofkwartier in Brooklyn. Ek het elke dag 14 tot 15 uur gewerk. Ons het albei hard gewerk, maar ons het ons toewysing geniet. Toe ons in Guyana aangekom het, was daar 950 verkondigers in die land; vandag is daar meer as 2 500.
Hoewel ons die aangename weer en eksotiese vrugte en groente geniet het, het ons ware vreugde geput uit die feit dat nederige mense wat na Bybelwaarhede gehunker het, van God se Koninkryk geleer het. Gerri het dikwels 20 Bybelstudies per week gehou, en baie van die mense met wie ons gestudeer het, het tot doop gevorder. Party het later pioniers of gemeentelike ouer manne geword, en sommige het selfs Gilead toe gegaan om self ook sendelinge te word.
Uitdagings, veral met betrekking tot gesondheid
In 1983 het my ouers in die Verenigde State hulp nodig gehad. Ek, Gerri en Doris het ’n familiebespreking gehou. Doris, wat al 35 jaar lank as ’n sendeling in Brasilië gedien het, het besluit om terug te keer en na hulle om te sien. Waarom moet twee sendelinge die veld verlaat, het sy gesê, as een die werk kan doen? Nadat ons ouers gesterf het, het Doris in Chattanooga aangebly, waar sy nog steeds as ’n spesiale pionier dien.
Ek is in 1995 met prostaatkanker gediagnoseer en moes na die Verenigde State terugkeer. Ons het in Goldsboro, Noord-Carolina, gaan woon, want dit was omtrent halfpad tussen my familie in Tennessee en Gerri s’n in Pennsilvanië. My kanker is nou in remissie, en ons dien in ’n gemeente in Goldsboro as verswakte spesiale pioniers.
As ek terugkyk oor 65 jaar in die voltydse diens, is ek innig dankbaar dat Jehovah my en Gerri geseën het omdat ons aanpassings gemaak het om hom te dien. Hoe waar is die woorde van Dawid tog: “Met iemand wat lojaal is, sal [Jehovah] lojaal handel”!—2 Sam. 22:26.
[Prente op bladsy 3]
My pa en broer Nichols het vir my ’n goeie voorbeeld gestel
[Prente op bladsy 4]
Saam met Gerri, gereed vir Gilead, 1952
[Prente op bladsy 5]
Nadat ons Gilead bygewoon het, is ons na die Suide gestuur om reisende werk te doen
[Prent op bladsy 6]
Reisende opsieners en hulle vrouens maak gereed om ’n geïntegreerde streekbyeenkoms by te woon, 1966
[Prent op bladsy 7]
Sendingdiens in Guyana was ’n vreugde