Abraham—’n Man van nederigheid
Abraham sit in sy tent en geniet die skadu wat dit teen die skroeiende hitte van die dag bied. Terwyl Abraham na die horison kyk, sien hy drie mans wat die gebied besoek.a Sonder om te huiwer, hardloop hy die besoekers tegemoet en versoek hy hulle om ’n bietjie te rus en sy gasvryheid te geniet. Hy bied aan om hulle “’n stukkie brood” te gee, maar dan reël hy ’n groot maaltyd wat uit varsgebakte brood, botter, melk en smaaklike, sagte vleis bestaan. Deur hierdie maaltyd aan sy besoekers voor te sit, lê Abraham nie net uitsonderlike gasvryheid aan die dag nie, maar ook opregte nederigheid, soos ons sal sien.—Genesis 18:1-8.
WAT IS NEDERIGHEID? Nederigheid is vryheid van trots of verwaandheid. ’n Nederige persoon besef dat almal hom in die een of ander opsig oortref (Filippense 2:3). Hy luister na ander se voorstelle en is bereid om nederige take ten behoewe van hulle te doen.
HOE HET ABRAHAM NEDERIGHEID AAN DIE DAG GELÊ? Abraham het ander met graagte gedien. Soos aan die begin genoem is, het Abraham, toe hy die drie besoekers sien, hom onmiddellik beskikbaar gestel om in hulle behoeftes te voorsien. Sy vrou, Sara, het gou ’n maaltyd begin voorberei. Maar let op wie ook baie van die werk gedoen het: Abraham het die besoekers tegemoetgehardloop, hy het hulle iets aangebied om te eet, hy het na die beeste gehardloop en een gekies om te slag, en hy het al die kos aan die besoekers voorgesit. Hierdie beskeie man het nie alles aan sy knegte oorgelaat nie, maar het daardie nederige take gretig gedoen. Hy het dit nie as benede sy waardigheid beskou om ander te dien nie.
Abraham het geluister na die voorstelle van diegene onder sy gesag. Die Bybel bevat slegs ’n handjie vol gesprekke tussen Abraham en Sara. Tog lees ons twee keer dat Abraham na Sara se idees geluister en dienooreenkomstig opgetree het (Genesis 16:2; 21:8-14). By een van daardie geleenthede het haar voorstel Abraham aanvanklik “baie mishaag”. Maar toe Jehovah met Abraham gepraat het en hom ten gunste van haar idee uitgespreek het, het Abraham nederig toegegee en haar voorstel uitgevoer.
WATTER LESSE LEER ONS HIERUIT? As ons werklik nederig is, sal ons ander met graagte dien. Ons sal vreugde daaruit put om alles in ons vermoë te doen om hulle lewe gemakliker te maak.
Ons kan ook nederigheid aan die dag lê deur die manier waarop ons op ander mense se voorstelle reageer. In plaas daarvan om ’n idee te verwerp bloot omdat ons nie self daaraan gedink het nie, is dit verstandig om ander se insette te verwelkom (Spreuke 15:22). So ’n ontvanklike gesindheid strek veral diegene met ’n mate van gesag tot voordeel. “Ek het gevind dat ’n goeie opsiener ’n omgewing skep waarin mense die vrymoedigheid het om hulle uit te druk”, sê ’n ervare opsiener genaamd John. Hy voeg by: “Dit verg nederigheid om te erken dat iemand onder jou toesig dalk ’n beter manier het om dinge te doen as jy. Maar niemand—nie eens ’n opsiener—het ’n monopolie op goeie idees nie.”
Wanneer ons Abraham navolg deur na ander se voorstelle te luister en deur nederige take ten behoewe van hulle te doen, verkry ons Jehovah se guns. “God staan [immers] die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges.”—1 Petrus 5:5.
[Voetnoot]
a Hoewel Abraham dit aanvanklik dalk nie besef het nie, was hierdie besoekers engeleboodskappers van God.—Hebreërs 13:2.