Abraham en Sara—Jy kan hulle geloof navolg!
HY WORD “die vader [genoem] van almal wat geloof het” (Romeine 4:11). Sy geliefde vrou het ook daardie eienskap besit (Hebreërs 11:11). Hulle was die godvresende aartsvader Abraham en sy godvrugtige vrou, Sara. Waarom is hulle sulke goeie voorbeelde van geloof? Wat was van die beproewinge wat hulle verduur het? En van watter waarde is hulle verhaal vir ons?
Abraham het geloof geopenbaar toe God hom beveel het om sy tuiste te verlaat. Jehovah het gesê: “Trek weg uit jou land en van jou familielede en van die huis van jou vader af na die land wat ek jou sal wys” (Genesis 12:1). Die getroue aartsvader het die opdrag gehoorsaam, want daar word vir ons gesê: “Deur geloof was Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam deur weg te trek na ’n plek wat hy bestem was om as erfenis te ontvang; en hy het weggetrek, hoewel hy nie geweet het waarheen hy gaan nie” (Hebreërs 11:8). Dink aan wat dit behels het.
Abraham het in Ur gewoon, in wat nou suidelike Irak is. Ur was ’n florerende Mesopotamiese sentrum wat handel gedryf het met lande van die Persiese Golf en heel moontlik die Indusvallei. Sir Leonard Woolley, wat aan die hoof was van die stelselmatige opgrawing van Ur, noem dat die meeste huise in Abraham se tyd van bakstene gebou was, met gepleisterde en afgewitte mure. Byvoorbeeld, die huis van een welvarende stadsbewoner was ’n tweeverdiepinggebou met ’n geplaveide binnehof. Op die grondverdieping het die huisknegte en gaste gebly. Op die eerste verdieping was daar ’n houtbalkon reg rondom, wat toegang verleen het tot vertrekke wat slegs vir die gesin se gebruik was. Hierdie wonings, met hulle 10 tot 20 vertrekke, was “redelik ruim en het ’n goeie, gemaklike en, volgens Oosterse standaarde, luukse lewe moontlik gemaak”, sê Woolley. Dit was “by uitstek die huise van ’n beskaafde volk en het aan die behoeftes voldoen van ’n hoogs ontwikkelde stadslewe”. As Abraham en Sara so ’n huis verlaat het met die vooruitsig om in tente te gaan woon, het hulle groot opofferinge gemaak om gehoorsaam aan Jehovah te wees.
Abraham en sy familie het eers getrek na Haran, ’n stad in noordelike Mesopotamië, en daarna na Kanaän. Dit was ’n afstand van ongeveer 1 600 kilometer—’n baie groot afstand vir ’n bejaarde egpaar! Toe Abraham uit Haran getrek het, was hy 75 jaar oud, en Sara 65.—Genesis 12:4.
Hoe het Sara dalk gevoel toe Abraham haar vertel het dat hulle Ur gaan verlaat? Sy was moontlik bekommerd oor die feit dat sy die veiligheid van ’n gerieflike huis moes verlaat, na die een of ander vreemde en potensieel gevaarlike land moes trek en ’n laer lewenstandaard moes aanvaar. Sara was nietemin onderdanig en het Abraham as haar “heer” beskou (1 Petrus 3:5, 6). Party geleerdes meen dat dit ’n aanduiding van Sara se “gebruiklike eerbiedige gesindheid en optrede teenoor hom” was, ’n bewys van “haar algemene denke en gevoelens”. Maar Sara het bowenal op Jehovah vertrou. Haar onderdanigheid en geloof voorsien ’n goeie voorbeeld vir getroude Christenvroue.
Daar word weliswaar nie van ons verwag om ons huis te verlaat om God te gehoorsaam nie, hoewel party voltydse evangeliedienaars hulle geboorteland verlaat het om die goeie nuus in ’n ander land te verkondig. Maar ongeag waar ons God dien, solank ons geestelike dinge eerste in ons lewe stel, sal hy in ons behoeftes voorsien.—Matteus 6:25-33.
Nie Sara of Abraham was spyt oor hulle besluit nie. “As hulle werklik bly dink het aan die plek waaruit hulle weggetrek het, [sou hulle] die geleentheid gehad het om terug te keer”, sê die apostel Paulus. Maar hulle het nie teruggekeer nie. Vol vertroue dat Jehovah “die beloner word van dié wat hom ernstig soek”, het hulle geloof in sy beloftes gestel. Ons moet ook, as ons wil aanhou om Jehovah met heelhartige toegewydheid te dien.—Hebreërs 11:6, 15, 16.
Geestelike en materiële rykdom
Nadat Abraham Kanaän bereik het, het God vir hom gesê: “Aan jou saad gaan ek hierdie land gee.” Abraham het in reaksie hierop ’n altaar vir Jehovah gebou en “die naam van Jehovah begin aanroep” (Genesis 12:7, 8). Jehovah het Abraham ryk laat word, en daar was ’n groot getal mense in sy kamp. Aangesien Abraham eenkeer 318 geoefende manne bymekaargeroep het, slawe wat in sy huis gebore is, is daar al beweer dat “sy hele groep uit ver oor die duisend moes bestaan het”. Mense het hom, om watter rede ook al, as “’n owerste van God” beskou.—Genesis 13:2; 14:14; 23:6.
Abraham het die leiding in aanbidding geneem en sy huisgenote geleer om “Jehovah se weg [te] hou om regverdigheid en reg te doen” (Genesis 18:19). Hedendaagse Christengesinshoofde kan bemoediging put uit die voorbeeld van Abraham, wat daarin geslaag het om sy huisgenote te leer om op Jehovah te vertrou en regverdig op te tree. Dit is derhalwe nie verbasend nie dat Sara se Egiptiese diensmeisie Hagar, sowel as die aartsvader se oudste kneg en Abraham se seun Isak op Jehovah God vertrou het.—Genesis 16:5, 13; 24:10-14; 25:21.
Abraham streef vrede na
Gebeure in Abraham se lewe toon dat hy ’n godvrugtige persoonlikheid gehad het. Abraham het nie toegelaat dat ’n rusie tussen sy herders en dié van sy broerskind Lot voortduur nie, maar het voorgestel dat hulle hulle kampe skei en het die jonger man Lot genooi om te kies watter land hy wou hê. Abraham was ’n vredemaker.—Genesis 13:5-13.
As ons ooit die keuse het om óf op ons regte aan te dring óf toegewings te maak om die vrede te bewaar, kan ons in gedagte hou dat Jehovah nie toegelaat het dat Abraham swaarkry omdat hy bedagsaam teenoor Lot opgetree het nie. Inteendeel, God het daarna beloof om aan Abraham en sy saad die hele land te gee—alles wat Abraham in elke rigting kon sien (Genesis 13:14-17). “Gelukkig is die vredeliewendes [“vredemakers”, voetnoot in NW]”, het Jesus gesê, “want hulle sal ‘kinders van God’ genoem word.”—Matteus 5:9.
Wie sou Abraham se erfgenaam wees?
Ondanks beloftes van ’n saad het Sara onvrugbaar gebly. Abraham het God oor die saak genader. Sou sy kneg Eliëser alles erf wat hy besit? Nee, want Jehovah het gesê: “Hierdie man sal jou nie as erfgenaam opvolg nie, maar een wat uit jou liggaam sal voortkom, sal jou as erfgenaam opvolg.”—Genesis 15:1-4.
Nog steeds was daar geen kind nie, en die 75-jarige Sara het moed opgegee dat sy swanger sou raak. Daarom het sy vir Abraham gesê: “Jehovah het my daarvan uitgesluit om kinders te baar. Hou asseblief gemeenskap met my diensmeisie. Miskien sal ek van haar kinders kry.” Abraham het Hagar toe as ’n byvrou geneem, gemeenskap met haar gehad, en sy het swanger geraak. Toe Hagar besef dat sy swanger is, het sy haar meesteres begin verag. Sara het bitterlik gekla by Abraham en Hagar verneder, sodat die diensmeisie gevlug het.—Genesis 16:1-6.
Abraham en Sara het gedoen wat hulle gedink het goed was, in ooreenstemming met die aanvaarde gebruik van hulle dag. Maar dit was nie die manier waarop Jehovah Abraham se saad sou voortbring nie nie. Dalk is sekere optredes volgens ons kultuur onder sekere omstandighede aanvaarbaar, maar dit beteken nie noodwendig dat Jehovah dit goedkeur nie. Sy beskouing van ons situasie kan heeltemal anders wees. Daarom moet ons God se leiding probeer verkry en bid dat hy ons wys wat hy wil hê ons moet doen.—Psalm 25:4, 5; 143:8, 10.
Niks is “te buitengewoon vir Jehovah” nie
Na verloop van tyd het Hagar ’n seun met die naam Ismael vir Abraham gebaar. Maar hy was nie die beloofde Saad nie. Sara self moes geboorte gee aan daardie erfgenaam, al was sy reeds oud.—Genesis 17:15, 16.
Toe God dit duidelik gestel het dat Sara vir haar man ’n seun sou baar, “het Abraham op sy gesig geval en begin lag en in sy hart gesê: ‘Sal daar vir ’n man wat honderd jaar oud is, ’n kind gebore word, en sal Sara, ja, sal ’n vrou wat negentig jaar oud is, geboorte gee?’” (Genesis 17:17). ’n Engel het die boodskap binne hoorafstand van Sara herhaal, en sy het “by haarself begin lag”. Maar niks is “te buitengewoon vir Jehovah” nie. Ons kan vol vertroue wees dat hy enigiets kan doen wat hy hom voorneem.—Genesis 18:12-14.
“Deur geloof het . . . Sara self krag ontvang om saad te ontvang, selfs toe sy verby die ouderdomsgrens was, aangesien sy hom wat beloof het, getrou geag het” (Hebreërs 11:11). Na verloop van tyd het Sara geboorte gegee aan Isak, wie se naam “Lag” beteken.
Volkome vertroue in God se beloftes
Jehovah het Isak as die langverwagte erfgenaam geïdentifiseer (Genesis 21:12). Daarom was Abraham seker verstom toe God hom vra om sy seun te offer. Tog het Abraham gegronde redes gehad om volkome op God te vertrou. Was Jehovah nie in staat om Isak uit die dood op te wek nie? (Hebreërs 11:17-19). Het God dan nie sy mag bewys deur die voortplantingsvermoëns van Abraham en Sara wonderdadig te herstel sodat Isak se geboorte in die eerste plek kon plaasvind nie? Oortuig van God se vermoë om Sy beloftes te vervul, was Abraham bereid om te gehoorsaam. Hy is weliswaar gekeer toe hy sy seun wou doodmaak (Genesis 22:1-14). Maar die rol wat Abraham in dié verband gespeel het, help ons om te sien hoe moeilik dit ongetwyfeld vir Jehovah God was om ‘sy enigverwekte Seun te gee, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê’.—Johannes 3:16; Matteus 20:28.
Weens geloof in God het Abraham besef dat die erfgenaam van Jehovah se beloftes nie met ’n valse aanbidder van die land Kanaän kon trou nie. Hoe kon ’n godvresende ouer dit goedkeur dat sy kind met iemand trou wat Jehovah nie dien nie? Gevolglik het Abraham ’n geskikte vrou vir Isak gesoek onder sy familielede in Mesopotamië, wat meer as 800 kilometer van hulle af gewoon het. God het daardie poging geseën deur aan te dui dat Rebekka die vrou was wat hy gekies het om Isak se bruid en ’n voorouer van die Messias te word. Ja, Jehovah het “Abraham in alles geseën”.—Genesis 24:1-67; Matteus 1:1, 2.
Seëninge vir al die nasies
Abraham en Sara was voorbeeldig in die manier waarop hulle toetse verduur en geloof in God se beloftes beoefen het. Die vervulling van hierdie beloftes hou verband met die mensdom se ewige vooruitsigte, want Jehovah het Abraham verseker: “Deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën omdat jy na my stem geluister het.”—Genesis 22:18.
Abraham en Sara was natuurlik onvolmaak, net soos ons. Maar wanneer dit vir hulle duidelik geword het wat God se wil is, het hulle onmiddellik daarvolgens opgetree—ongeag watter opofferinge hulle moes maak. Abraham word dus onthou as “Jehovah se vriend” en Sara as ’n ‘heilige vrou wat op God gehoop het’ (Jakobus 2:23; 1 Petrus 3:5). As ons daarna streef om die geloof van Abraham en Sara na te volg, kan ons ook ’n kosbare, intieme verhouding met God geniet. Ons kan ook baat vind by Jehovah se wonderlike beloftes aan Abraham.—Genesis 17:7.
[Prent op bladsy 26]
Weens hulle geloof het Jehovah Abraham en Sara ’n seun gegee toe hulle al oud was
[Prent op bladsy 28]
Abraham se voorbeeld help ons besef wat dit vir Jehovah beteken het om sy enigverwekte Seun te laat sterf