Die waarheid oor Armageddon
“Demoongeeste . . . gaan uit na die konings van die hele wêreld . . . , en hulle het hulle versamel op die plek wat in Hebreeus Harmagedon genoem word.” (Ons kursiveer.)—OPENBARING 16:14, 16, New Revised Standard Version.
ARMAGEDDON, wat soms as “Harmagedon” weergegee word, is die naam van ’n plek. Maar dit was blykbaar nooit ’n letterlike plek op aarde nie.
Wat is dus die ware betekenis van die woord “Armageddon”? Waarom word dit so dikwels met ’n gebeurtenis, soos ’n oorlog, geassosieer?
Versamel op die plek wat Armageddon genoem word
Die oorspronklike Hebreeuse woord Har–Magedon beteken letterlik “die berg Megiddo”. Hoewel so ’n berg nooit letterlik bestaan het nie, bestaan daar wel ’n plek wat Megiddo genoem word. Dit is geleë op ’n strategiese kruispad in die noordweste van die gebied waar die eertydse nasie Israel gewoon het. Talle beslissende veldslae het naby hierdie plek plaasgevind. Mense het die naam Megiddo dus met oorlog begin assosieer.a
Maar die ware betekenis van Megiddo hou nie verband met watter stryde daar gevoer is nie, maar eerder met die rede waarom dit gevoer is. Megiddo was deel van die Beloofde Land wat Jehovah God aan die Israeliete gegee het (Eksodus 33:1; Josua 12:7, 21). Hy het daardie volk belowe dat hy hulle teen aanvallers sal verdedig, en dit is presies wat hy gedoen het (Deuteronomium 6:18, 19). Dit was byvoorbeeld by Megiddo dat Jehovah die Israeliete wonderdadig verdedig het teen die invallende magte van die Kanaänitiese koning Jabin en sy leërhoof Sisera.—Rigters 4:14-16.
Die woord “Har–Magedon”, of “Armageddon”, het dus groot simboliese betekenis. Dit word geassosieer met ’n konfrontasie waarin twee sterk magte bots.
Die profesie in Openbaring maak melding van ’n tyd in die nabye toekoms wanneer Satan en die demone menseregerings gaan manipuleer om hulle leërs te versamel en sodoende God se belange op uittartende wyse te bedreig. Die aanval sal die dood van miljoene mense tot gevolg hê wanneer God die aanvallers verslaan.—Openbaring 19:11-18.
Waarom sou God, wat volgens die Bybel “barmhartig [is], wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid”, soveel mense om die lewe bring? (Nehemia 9:17). Om God se optrede te verstaan, moet ons drie vrae beantwoord: (1) Wie begin die oorlog? (2) Waarom raak God daarby betrokke? (3) Watter blywende uitwerking sal hierdie konfrontasie hê op die aarde en die mense wat daarop woon?
1. WIE BEGIN DIE OORLOG?
Die oorlog van Armageddon is nie ’n daad van aggressie deur God nie. Inteendeel, God sal goeie mense verdedig teen diegene wat hulle andersins sou uitwis. Die aanvallers in hierdie konflik is “die konings van die hele bewoonde aarde”, die wêreldleiers. Wat is die rede vir die aanval? Omdat Satan, wat ’n meestermanipuleerder is, regerings- en militêre magte op slinkse wyse sal beïnvloed om ’n volskaalse aanval op aanbidders van Jehovah God te doen.—Openbaring 16:13, 14; 19:17, 18.
Met al die klem wat vandag in party lande op vryheid van spraak en godsdiensvryheid geplaas word, klink dit dalk verregaande dat regerings sterk teen enige godsdiensbeweging sal optree of hulle selfs sal probeer uitwis. Nietemin het sulke aanvalle in die 20ste eeu plaasgevind en vind dit nou nog plaas.b Maar daar is ten minste twee groot verskille tussen vorige aanvalle en die een wat met Armageddon sal gepaardgaan. Eerstens, die aanval sal wêreldwyd wees. Tweedens, die omvang van Jehovah God se reaksie sal ongeëwenaard wees (Jeremia 25:32, 33). Die Bybel beskryf die konfrontasie as “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”.
2. WAAROM RAAK GOD DAARBY BETROKKE?
Jehovah beveel diegene wat hom aanbid om vreedsaam te wees en om hulle vyande lief te hê (Miga 4:1-3; Matteus 5:43, 44; 26:52). Hulle sal dus nie die wapen opneem om hulle te verdedig wanneer hierdie boosaardige aanval plaasvind nie. As God nie ingryp om sy volk te red nie, sal hulle uitgewis word. Jehovah God se naam, of reputasie, sal dus op die spel wees. As die aanvallers dit sou regkry om Sy volk uit te wis, sou dit Jehovah liefdeloos, onregverdig of magteloos laat lyk. Dit kan nooit gebeur nie!—Psalm 37:28, 29.
God wil niemand vernietig nie, en daarom gee hy voldoende waarskuwing van wat hy gaan doen (2 Petrus 3:9). Deur middel van verslae wat in die Bybel opgeteken is, herinner hy almal dat hy in die verlede afgereken het met dié wat sy volk aangeval het (2 Konings 19:35). Die Bybel waarsku ook dat Jehovah in die toekoms, wanneer Satan en sy menslike agente God se volk aanval, weer eens tussenbeide sal tree en ’n teenaanval sal doen. Trouens, God se Woord het lank gelede voorspel dat Jehovah die goddeloses sal vernietig (Spreuke 2:21, 22; 2 Tessalonisense 1:6-9). Dan sal die aanvallers ongetwyfeld besef dat hulle ’n stryd met die Almagtige self aangeknoop het.—Esegiël 38:21-23.
3. WATTER BLYWENDE UITWERKING SAL HIERDIE KONFRONTASIE HÊ?
Die oorlog van Armageddon lei tot die redding van miljoene lewens. Trouens, dit lei ’n tydperk van vrede op aarde in.—Openbaring 21:3, 4.
Die boek Openbaring maak melding van ’n ongetelde “groot menigte” wat hierdie konflik sal oorleef (Openbaring 7:9, 14). Onder God se leiding sal hulle help om die paradystoestande wat Jehovah oorspronklik in gedagte gehad het, op die aarde te herstel.
Weet ons wanneer hierdie aanval op God se volk sal plaasvind?
[Voetnote]
a Dit is nie ongewoon dat ’n plek met oorlog geassosieer word nie. Byvoorbeeld, die Japannese stad Hirosjima, wat deur ’n kernbom verwoes is, is nou ’n simbool van die bedreiging van kernoorlog.
b Die Nazi-slagting is ’n voorbeeld van een regering se poging om godsdiens- en etniese groepe uit te wis. Gedurende die Sowjetera is godsdiensgroepe in die USSR kwaai onderdruk. Sien die artikel “’n Vreedsame groep verdedig hulle goeie naam” in Die Wagtoring van 1 Mei 2011, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 6]
Jehovah God het sy volk in die verlede verdedig
[Prent op bladsy 7]
Tydens die oorlog van Armageddon sal Jehovah sy volk weer verdedig