Pasop vir die bedoelings van die hart
“Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat”, sê die Bybel (Jer. 17:9). Wanneer ons hart iets vurig begeer, vind ons dan nie redes om die bedoelings van ons hart uit te voer nie?
Die Skrif waarsku ons: “Uit die hart kom daar . . . goddelose redenasies, moorde, egbreuk, hoererye, diefstalle, valse getuienisse, lasteringe” (Matt. 15:19). Ons figuurlike hart kan ons mislei en ons beweeg om ’n handelswyse wat in stryd met God se wil is, te regverdig. En ons besef moontlik nie eers wat gebeur het totdat ons onverstandig opgetree het nie. Wat kan ons help om die bedoelings van ons hart te identifiseer voordat ons ’n verkeerde weg inslaan?
IDENTIFISEER JOU BEDOELINGS—HOE?
Lees die Bybel elke dag en peins oor wat dit sê.
“Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees”, het die apostel Paulus geskryf. God se boodskap in die Bybel “kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei” (Heb. 4:12). Wanneer ons ons sien in die lig van wat die Skrif sê, kan dit inderdaad ’n kragtige hulpmiddel wees om die bedoelings van die hart te identifiseer. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons God se Woord elke dag lees en peins oor wat dit sê en sodoende Jehovah se gedagtes en beskouings ons eie maak!
As ons skriftuurlike raad aanvaar en Bybelbeginsels toepas, sal dit ’n uitwerking hê op ons gewete—die innerlike stem wat “getuig” (Rom. 9:1). Die stem van ons gewete kan voorkom dat ons ’n verkeerde weg regverdig. Daarbenewens bevat die Bybel voorbeelde wat “as ’n waarskuwing vir ons” kan dien (1 Kor. 10:11). As ons daaruit leer, kan dit voorkom dat ons ’n misstap begaan. Wat moet elkeen van ons doen?
Vra God in gebed om jou te help om die bedoelings van jou hart te identifiseer.
Jehovah is “’n ondersoeker van die hart” (1 Kron. 29:17). Hy “is groter as ons hart en weet alles” (1 Joh. 3:20). God kan nie om die bos gelei word nie. As ons ons kwellinge, gevoelens en begeertes openlik in gebed meld, kan Jehovah ons help om die bedoelings van ons hart te onderskei. Ons kan God selfs vra om ‘in ons ’n suiwer hart te skep’ (Ps. 51:10). Die voorsiening van gebed moet dus nie oor die hoof gesien word wanneer ons die neigings van ons hart wil identifiseer nie.
Skenk aandag gedurende Christelike vergaderinge.
As ons aandag skenk aan wat by Christelike vergaderinge aangebied word, kan dit ons help om ons innerlike mens—ons hart—eerlik te ondersoek. Ons kry miskien nie nuwe inligting by elke vergadering nie, maar as ons daar is, kry ons ’n beter begrip van Bybelbeginsels sowel as waardevolle herinneringe wat ons help om die bedoelings van die hart te ontleed. Die kommentare van ons broers en susters is ook waardevol om ons innerlike mens te verbeter (Spr. 27:17). As ons ons afsonder in plaas daarvan om gereeld met ons mede-Christene by vergaderinge te assosieer, kan dit vir ons skadelik wees. Dit kan daartoe lei dat ons ons “eie selfsugtige verlange soek” (Spr. 18:1). Dit is dus verstandig om ons af te vra: ‘Is dit my gewoonte om al die vergaderinge by te woon en daarby baat te vind?’—Heb. 10:24, 25.
WAARHEEN SAL ONS HART ONS LEI?
Ons verraderlike hart kan ons in baie aspekte van die lewe mislei. Kom ons ondersoek vier hiervan: Die najaging van materiële dinge, die gebruik van alkohol, ons keuse van vriende en wat ons vir ontspanning doen.
Die najaging van materiële dinge.
Dit is net natuurlik om ons fisiese behoeftes te wil bevredig. Maar Jesus het ’n waarskuwende voorbeeld gegee om te toon dat ons nie te veel waarde aan materiële dinge moet heg nie. In een van sy illustrasies nooi Jesus ons om te kyk na die geval van ’n ryk man wie se voorraadskure vol was. Hy het dus nie meer plek gehad om die opbrengs van nog ’n goeie oes te berg nie. Die man was van plan om sy voorraadskure af te breek en groteres te bou. Hy het geredeneer: “Daar sal ek al my graan en al my goeie dinge versamel; en ek sal vir my siel sê: ‘Siel, jy het talle goeie dinge wat vir baie jare weggesit is; ontspan, eet, drink, wees vrolik.’” Maar hierdie ryk man het nie ’n onvermydelike feit in ag geneem nie: Sy lewe kon daardie einste nag eindig.—Luk. 12:16-20.
Wanneer ons ouer word, kan ons so behep daarmee raak om voorsiening te maak vir materiële sekuriteit op ons oudag dat ons dit begin regverdig om op vergaderingaande oortyd te werk of om ons Christelike verantwoordelikhede op die een of ander manier te verwaarloos. Moet ons nie teen so ’n neiging waak nie? Of ons is dalk jonk en besef dat daar nie ’n beter loopbaan as die voltydse diens is nie. Maar stel ons dit dalk uit om te begin pionier en redeneer ons dat ons eers finansiële sekuriteit moet verkry? Moet ons nie nou ons bes doen om ryk teenoor God te wees nie? Wie weet of ons môre nog sal lewe?
Die gebruik van alkohol.
“Moenie onder die wynsuipers wees . . . nie”, sê Spreuke 23:20. As ’n persoon ’n sterk begeerte na alkohol het, sal hy dalk gereelde drinkery regverdig. Hy sê miskien dat hy drink om te ontspan, nie om dronk te word nie. As ons alkohol nodig het om te ontspan, is dit moontlik tyd om die neiging van ons hart eerlik te ondersoek.
Ons keuse van vriende.
Dit is natuurlik onvermydelik om ’n mate van kontak met ongelowiges te hê—soos by die skool, by die werk en wanneer ons aan die bediening deelneem. Maar dit is iets heeltemal anders om met hulle te assosieer, of ’n intieme vriendskap met hulle aan te kweek. Regverdig ons hierdie assosiasie deur te sê dat hulle talle goeie eienskappe het? “Moenie mislei word nie”, waarsku die Bybel. “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Kor. 15:33). Net soos ’n bietjie besoedeling skoon water kan besmet, kan vriendskap met persone wat nie godvrugtige toegewydheid beoefen nie, ons geestelikheid besmet en ons wêreldse beskouings, kleredrag, spraak en gedrag laat aanneem.
Wat ons vir ontspanning doen.
Die moderne tegnologie stel allerhande soorte vermaak geredelik beskikbaar, en baie hiervan is twyfelagtig of ongepas vir ’n Christen. ‘Laat elke soort onreinheid nie eens onder julle genoem word nie,’ het Paulus geskryf (Ef. 5:3). Sê nou ons hart wil na iets onreins kyk of luister? Ons redeneer dalk dat almal ’n bietjie ontspanning nodig het en dat die manier waarop ’n mens dit kry, ’n persoonlike saak is. Maar laat ons Paulus se raad ter harte neem en glad nie na onreinheid kyk of luister nie.
ONS KAN VERANDERINGE AANBRING
As ons toegegee het aan die neigings van ’n verraderlike hart en daaraan gewoond geraak het om verkeerde gedrag te regverdig, kan ons veranderinge aanbring (Ef. 4:22-24). Beskou twee hedendaagse voorbeelde.
Miguela moes sy denke oor materiële dinge verander. Hy sê: “Ek, my vrou en my seun kom van ’n land waar mense dink dat dit baie belangrik is om die jongste en die beste tegnologie en geriewe te verkry. Op ’n stadium het ek my daarop toegelê om soveel moontlik uit die wêreld te kry en gedink dat ek dit kan doen sonder om materialisties te word. Ek het gou besef dat die najaging van materiële dinge nooit end kry nie. Ek het tot Jehovah gebid oor my beskouings en die bedoelings van my hart. Ek het vir hom gesê dat ons as ’n gesin hom heelhartig wil dien. Ons het besluit om ons lewe te vereenvoudig en het getrek na waar daar hulp nodig is. Kort voor lank kon ons pionier. Ons het besef dat ons nie baie materiële dinge nodig het om ’n sinvolle en gelukkige lewe te lei nie.”
Lee se ondervinding toon hoe ’n eerlike selfondersoek hom gehelp het om slegte omgang die rug toe te keer. “As gevolg van my werk”, sê Lee, “het ek gereeld met buitelandse verskaffers geassosieer. Ek het geweet dat die mense by hierdie vergaderinge te veel sou drink, maar dit was vir my opwindend om dit by te woon. Ek het my dikwels amper dronk gedrink, maar het later spyt gevoel daaroor. Ek moes my hart eerlik ondersoek. Die raad van God se Woord en die ouer manne se wenke het my help besef dat ek in werklikheid assosieer met mense wat nie lief is vir Jehovah nie. Nou doen ek sover moontlik my sake oor die telefoon en beperk ek my kontak met verskaffers tot ’n minimum.”
Ons moet eerlik wees met onsself en die bedoelings van ons hart identifiseer. Wanneer ons dit doen, moet ons Jehovah se hulp in gebed vra en in gedagte hou dat ‘hy die geheime van die hart ken’ (Ps. 44:21). God het ook sy Woord voorsien, wat vir ons as ’n spieël kan dien (Jak. 1:22-25). Die herinneringe en raad wat ons deur middel van Christelike publikasies en by ons vergaderinge ontvang, is ook waardevol! Danksy hierdie voorsienings kan ons ons hart bewaak en in die weë van regverdigheid bly wandel.
a Van die name is verander.