Niemand kan twee here dien nie
“Niemand kan twee here as slaaf dien nie. . . . Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie.”—MATT. 6:24.
1-3. (a) Watter finansiële probleme het baie mense vandag, en hoe probeer sommige dit oplos? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Waaroor is ouers wat van hulle gesin af wegtrek, besorg wanneer dit kom by hoe hulle hulle kinders gaan grootmaak?
“JAMES, my man, het elke dag uitgeput van die werk af huis toe gekom, maar sy inkomste kon nouliks meer as ons daaglikse behoeftes dek”, verduidelik Marilyn.a “Ek wou hom help en ek wou hê dat ons vir ons seun, Jimmy, van die luukshede moes koop wat sy skoolmaats gehad het.” Marilyn wou ook hulle uitgebreide familie help en vir die toekoms spaar. Baie van haar vriende het na ander lande getrek om meer geld te verdien. Maar toe sy dit self oorweeg het, het sy gemengde gevoelens gehad. Waarom?
2 Marilyn was bang om haar kosbare gesin en hulle bestendige geestelike roetine agter te laat. Sy het nogtans geredeneer dat ander ’n tyd lank na die buiteland gegaan het en dat dit lyk asof hulle gesinne geestelik staande bly. Maar sy het gewonder hoe sy Jimmy sou grootmaak terwyl sy in ’n ander land is. Sou sy haar seun met welslae oor die Internet “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” kon grootmaak?—Ef. 6:4.
3 Marilyn het leiding gesoek. Haar man wou nie hê dat sy moet gaan nie, hoewel hy gesê het dat hy haar nie sou keer nie. Van die ouer manne en ander in die gemeente het haar afgeraai, maar ’n hele paar susters het haar aangespoor om na die buiteland te gaan. “As jy lief is vir jou gesin, sal jy gaan”, het hulle vir haar gesê. “Jy kan Jehovah nog steeds dien.” Ondanks haar bedenkinge het Marilyn vir James en Jimmy totsiens gesê en vertrek om in die buiteland te gaan werk. “Ek sal nie lank weg wees nie”, het sy belowe.
GESINSVERANTWOORDELIKHEDE EN BYBELBEGINSELS
4. Waarom emigreer baie, maar wie sorg dikwels vir hulle kinders?
4 Jehovah wil nie hê dat sy knegte in volslae armoede moet lewe nie, en emigrasie is een van die oudste oplossings vir armoede (Ps. 37:25; Spr. 30:8). Die aartsvader Jakob het sy seuns na Egipte gestuur om kos te gaan koop, sodat die familie nie van honger sou omkom nie (Gen. 42:1, 2).b Die meeste mense wat vandag emigreer, verlaat nie hulle tuistes omdat hulle honger ly nie. Maar hulle gaan dalk gebuk onder ’n knellende skuldlas. Ander wil bloot hulle gesin se lewenstandaard verhoog. Om hulle doelwitte te bereik in ’n ekonomie wat agteruitgaan, woon baie nie by hulle onmiddellike familie nie, hetsy hulle in hulle eie land of in die buiteland woon. Dikwels laat hulle hulle minderjarige kinders in die sorg van een ouer, ’n ouer broer of suster, grootouers, ander familielede of vriende. Hoewel dit vir emigrante pynlik is om ’n huweliksmaat of kinders agter te laat, voel baie wat na die buiteland gaan, dat hulle geen keuse het nie.
5, 6. (a) Wat het Jesus ander oor geluk en veiligheid geleer? (b) Vir watter materiële dinge het Jesus sy volgelinge leer bid? (c) Hoe seën Jehovah ons?
5 In Jesus se dag was baie mense ook arm en minder bevoorreg, en hulle het dalk gevoel dat hulle gelukkiger en meer gerus sou gewees het as hulle maar net meer geld gehad het (Mark. 14:7). Maar Jesus wou nie hê dat mense hulle hoop op rykdom moes stel nie. Hy wou hê dat hulle moet vertrou op die Bron van blywende rykdom—Jehovah. Jesus het in sy Bergpredikasie verduidelik dat ware geluk en veiligheid nie van materiële dinge of ons eie pogings afhang nie, maar van ons vriendskap met ons hemelse Vader.
6 In sy modelgebed het Jesus ons geleer om nie vir finansiële sekuriteit te bid nie, maar vir ons daaglikse behoeftes, “ons brood vir hierdie dag”. Hy het uitdruklik vir sy toehoorders gesê: “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar . . . Gaar eerder vir julle skatte in die hemel op” (Matt. 6:9, 11, 19, 20). Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah ons sal seën, soos hy belowe het. God se seën is nie net ’n teken van sy goedkeuring nie; dit is ’n waarborg dat hy ons alles sal gee wat ons werklik nodig het. Trouens, die enigste manier om ware geluk en veiligheid te bekom, is om op ons liefdevolle Vader te vertrou eerder as op geld.—Lees Matteus 6:24, 25, 31-34.
7. (a) Aan wie het Jehovah die verantwoordelikheid gegee om kinders groot te maak? (b) Waarom moet albei ouers by hulle kinders betrokke wees?
7 Om ‘eers God se regverdigheid te soek’, behels dat ons gesinsverantwoordelikhede beskou soos Jehovah dit beskou. Die Wet van Moses bevat ’n beginsel wat ook op Christene van toepassing is: Ouers moet self aan hulle kinders geestelike opleiding voorsien. (Lees Deuteronomium 6:6, 7.) God het hierdie verantwoordelikheid aan die ouers gegee, nie aan die grootouers of enigiemand anders nie. Koning Salomo het gesê: “Luister, my seun, na die dissipline van jou vader, en moenie die wet van jou moeder verlaat nie” (Spr. 1:8). Jehovah het bedoel dat albei ouers fisies teenwoordig moet wees sodat hulle al twee aan hulle kinders leiding en onderrigting kan voorsien (Spr. 31:10, 27, 28). Baie van die dinge wat kinders by hulle ouers leer, veral aangaande geestelike dinge, leer hulle wanneer hulle hoor hoe hulle ouers daagliks oor Jehovah praat en wanneer hulle hulle ouers se voorbeeld waarneem.
ONVOORSIENE GEVOLGE
8, 9. (a) Watter veranderinge vind dikwels plaas wanneer ’n ouer ver van die gesin af woon? (b)Watter emosionele en sedelike skade kan die skeiding veroorsaak?
8 Voordat emigrante na die buiteland trek, probeer hulle die risiko’s en opofferings opweeg, maar min kan al die gevolge daarvan vooruitsien om hulle gesin agter te laat (Spr. 22:3).c Kort nadat Marilyn na die buiteland getrek het, het sy die knaende pyn van verlange na haar gesin begin ondervind. Dit was ook die geval met haar man en seun. Die jong Jimmy het haar heeltyd gevra: “Waarom het Mamma weggegaan?” En terwyl die maande wat Marilyn beplan het om weg te wees, jare geword het, het sy ontstellende veranderinge in haar gesin opgemerk. Jimmy het teruggetrokke geraak en het emosioneel vervreemd van haar begin raak. Sy vertel hartseer: “Sy liefde vir my het verdwyn.”
9 Wanneer ouers en kinders nie as ’n gesin saamwoon nie, kan hulle emosionele en sedelike skade ly.d Hoe jonger die kinders is en hoe langer die skeiding is, hoe groter sal die skade wees. Marilyn het aan Jimmy verduidelik dat sy die opofferings wat sy maak, ter wille van hom maak. Maar vir Jimmy het dit gevoel asof sy ma hom verlaat het. Aan die begin het hy haar vir haar afwesigheid verwyt. Maar later, wanneer sy kom kuier het, het hy haar vir haar teenwoordigheid verwyt. Soos algemeen is onder kinders wat agtergelaat word, het Jimmy gevoel dat sy haar reg op sy gehoorsaamheid en liefde verbeur het.—Lees Spreuke 29:15.
10. (a) Watter uitwerking kan dit op kinders hê as ouers hulle geskenke pleks van hulle tyd en aandag gee? (b) Wat ontbreek wanneer ’n ouer sy of haar kinders uit die buiteland probeer grootmaak?
10 Hoewel Marilyn vir haar afwesigheid probeer vergoed het deur geld en geskenke te stuur, het sy gesien dat sy haar seun van haar vervreem en hom onbewustelik leer om materiële dinge voor geestelike dinge en familieverhoudings te stel (Spr. 22:6). “Moenie terugkom nie”, het Jimmy vir haar gesê. “Hou net aan om geskenke te stuur.” Marilyn het begin besef dat sy nie haar seun deur middel van briewe, telefoonoproepe of video-oproepe kon grootmaak nie. Sy verduidelik: “Jy kan jou kind nie oor die Internet omhels of hom ’n nagsoentjie gee nie.”
11. (a) Watter uitwerking het dit op ’n huwelik wanneer ’n egpaar weens sekulêre werk ver van mekaar af woon? (b) Wat het een suster laat besef dat sy na haar gesin moet terugkeer?
11 Marilyn se verhouding met Jehovah en met haar man, James, het ook agteruitgegaan. Sy kon net een dag ’n week of minder met haar Christenbroers en -susters assosieer en velddiens doen. Daarbenewens moes sy haar werkgewer se seksuele toenadering weerstaan. Aangesien nie Marilyn of James ’n maat se ondersteuning gehad het wanneer hulle voor probleme te staan gekom het nie, het albei van hulle emosioneel betrokke geraak by ander en byna voor geslagsonsedelikheid geswig. Marilyn het besef dat sy en haar man, hoewel hulle nie egbreek gepleeg het nie, nie die Bybel se raad kon volg om in mekaar se emosionele en seksuele behoeftes te voorsien terwyl hulle ver van mekaar af gewoon het nie. Hulle kon nie spontaan vir mekaar iets sê, mekaar ’n betekenisvolle kykie of glimlag gee, die ander se hand liefdevol aanraak, mekaar innig omhels, intieme “liefdesblyke” betoon of die huweliksplig nakom nie (Hoogl. 1:2; 1 Kor. 7:3, 5). En hulle kon Jehovah nie saam met hulle seun aanbid nie. “Toe ek by ’n streekbyeenkoms geleer het dat gereelde gesinsaanbidding noodsaaklik is sodat ons Jehovah se groot dag kan oorleef, het ek besef dat ek huis toe moet gaan”, vertel Marilyn. “Ek moes my geestelike en gesinslewe begin herbou.”
GOEIE RAAD—SLEGTE RAAD
12. Watter skriftuurlike raad kan aan diegene gegee word wat ver van hulle gesin af woon?
12 Marilyn se besluit om terug te keer huis toe, het verskillende reaksies by mense uitgelok. Die ouer manne in haar gemeente in die buiteland het haar vir haar geloof en moed geprys. Maar party ander wat ook ver van hulle maat en gesin af gewoon het, het nie. In plaas daarvan om haar goeie voorbeeld te volg, het hulle haar probeer ontmoedig. “Jy sal kort voor lank terug wees”, het hulle gesê. “Hoe gaan julle die pot aan die kook hou as jy huis toe gaan?” Eerder as om sulke ontmoedigende kommentare te maak, moet mede-Christene “die jong vroue tot besinning . . . bring, om hulle mans lief te hê, om hulle kinders lief te hê, om . . . werkers by die huis [te wees]”, oftewel na hulle eie gesin om te sien, “sodat die woord van God nie gesmaad sal word nie”.—Lees Titus 2:3-5.
13, 14. Waarom verg dit geloof om Jehovah bo jou familie se verwagtinge te stel? Lig toe.
13 Baie emigrante het grootgeword in kulture wat tradisies en ’n persoon se plig teenoor familie, veral teenoor ouers, bo alle ander dinge stel. Dit verg werklik geloof van ’n Christen wat Jehovah wil behaag om nie gewilde gebruike te volg of in ooreenstemming met die wense van die familie op te tree nie.
14 Beskou die voorbeeld van Carin: “Toe my seun, Don, gebore is, het ek en my man in die buiteland gewerk, en ek het kort tevore die Bybel begin studeer. Almal in my familie het verwag dat ek Don terug huis toe sou stuur om deur my ouers grootgemaak te word totdat ons finansieel stabiel was.” Toe Carin daarop aangedring het om Don self groot te maak, het haar familielede, insluitende haar man, gesê dat sy lui is en vir haar gelag. “Om eerlik te wees, ek het destyds nie heeltemal verstaan wat daarmee fout was om Don ’n paar jaar by my ouers te laat bly nie”, sê Carin. “Maar ek het geweet dat Jehovah die verantwoordelikheid om ons seun groot te maak aan ons—sy ouers—toevertrou het.” Toe Carin weer swanger geraak het, het haar ongelowige man daarop aangedring dat sy ’n aborsie ondergaan. Die goeie besluit wat Carin vroeër geneem het, het haar geloof versterk, en sy het weer haar standpunt vir Jehovah ingeneem. Nou is sy, haar man en haar kinders bly dat hulle almal bymekaargebly het. As Carin een of albei van haar kinders weggestuur het om deur ander grootgemaak te word, kon dinge baie anders afgeloop het.
15, 16. (a) Beskryf een suster se ondervinding as ’n kind wat agtergelaat is. (b) Waarom het sy besluit om haar dogter self groot te maak?
15 ’n Getuie met die naam Vicky vertel: “Ek het ’n paar jaar by my ouma gebly, terwyl my jonger suster by my ouers gebly het. Teen die tyd dat ek weer by my ouers gaan bly het, het my gevoelens teenoor hulle verander. My suster kon vryelik met hulle praat, hulle omhels en sy het ’n hegte verhouding met hulle geniet. Ek het nie na aan my ouers gevoel nie, en selfs as volwassene het ek dit moeilik gevind om vir hulle te wys hoe ek werklik voel. Ek en my suster het ons ouers verseker dat ons vir hulle sal sorg wanneer hulle oud word. Maar ek sal dit hoofsaaklik uit ’n pligsgevoel doen, terwyl my suster dit meer uit liefde sal doen.
16 “Nou wil my ma hê dat ek my dogter na haar toe moet stuur sodat sy haar kan grootmaak, net soos sy my na haar ma gestuur het. Ek het haar aanbod taktvol van die hand gewys”, sê Vicky. “Ek en my man wil ons kind self in Jehovah se weë grootmaak. En ek wil nie my toekomstige verhouding met my dogter skade aandoen nie.” Vicky het gesien dat ’n mens net suksesvol kan wees as jy Jehovah en sy beginsels bo finansiële doelwitte en jou familie se verwagtinge stel. Jesus het uitdruklik gesê: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie”; ons kan nie God en Rykdom as slawe dien nie.—Matt. 6:24; Eks. 23:2.
JEHOVAH LAAT ONS POGINGS “SLAAG”
17, 18. (a) Waarom kan ons sê dat Christene altyd ’n keuse het? (b) Watter vrae sal ons in die volgende artikel bespreek?
17 Ons Vader, Jehovah, het hom daartoe verbind om ons te help om die dinge te bekom wat ons werklik nodig het indien ons die Koninkryk en sy regverdigheid eerste in ons lewe stel (Matt. 6:33). Ware Christene het dus altyd ’n keuse. Jehovah belowe dat hy ’n “uitweg” sal gee sonder dat ons Bybelbeginsels hoef prys te gee, ongeag voor watter uitdagings ons te staan kom. (Lees 1 Korintiërs 10:13.) Wanneer ons “vol verlange”, oftewel vol afwagting, op Jehovah wag, wanneer ons ons ‘op hom verlaat’ deur vir sy wysheid en leiding te bid en deur sy gebooie en beginsels te gehoorsaam, ‘sal hy [ten behoewe van ons] optree’ (Ps. 37:5, 7). Hy sal ons opregte pogings om hom alleen as die een ware Heer te dien, daadwerklik seën. As ons hom eerste stel, sal hy ons in ons lewe “laat slaag”.—Vergelyk Genesis 39:3.
18 Wat kan gedoen word om die skade te help herstel wat deur ’n skeiding veroorsaak is? Watter praktiese stappe kan ons doen sodat ons vir ons gesinne kan sorg sonder dat ons ver van hulle af woon? En hoe kan ons ander liefdevol aanspoor om die regte besluite in hierdie verband te neem? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.
a Van die name is verander.
b Elke keer dat Jakob se seuns na Egipte gereis het, was hulle moontlik nie langer as drie weke van hulle gesinne af weg nie. Toe Jakob en sy seuns later na Egipte getrek het, het hulle hulle vrouens en kinders saam met hulle geneem.—Gen. 46:6, 7.
c Sien “Immigrasie—Drome en die werklikheid” in die Ontwaak! van Februarie 2013.
d Volgens verslae uit verskeie lande is die feit dat ’n ouer hulle maat of kinders agterlaat om in die buiteland te gaan werk, een van die faktore wat vir party gesinne tot ernstige probleme gelei het. Dit sluit ontrouheid deur een of albei maats in, asook homoseksualiteit of bloedskande, en onder kinders ’n toename in gedrags- en akademiese probleme, aggressie, angstigheid, depressie en selfmoordneigings.