Wat sal tot ’n einde kom wanneer God se Koninkryk kom?
“Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 JOH. 2:17.
1, 2. (a) Hoe kan hierdie stelsel van dinge vergelyk word met ’n misdadiger wat doodgemaak gaan word? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Hoe sal mense voel nadat hierdie goddelose wêreld vernietig is?
STEL jou die toneel voor. ’n Gevaarlike misdadiger loop in die tronk se gang af en die wagte wat saam met hom loop, roep uit: “Sy laaste treë!” Waarom sê hulle dit? Hy is op pad om doodgemaak te word omdat hy die doodstraf gekry het. Al lewe hy nog, is hy so goed as dood.a
2 In sekere opsigte is hierdie stelsel van dinge soos daardie misdadiger wat die doodstraf gekry het. Hierdie goddelose wêreld is reeds veroordeel en gaan binnekort vernietig word. Die Bybel sê: “Die wêreld gaan verby” (1 Joh. 2:17). Hierdie stelsel se einde sal beslis kom. En tog is daar ’n belangrike verskil tussen hierdie wêreld se einde en daardie misdadiger se doodsvonnis. Tot op die laaste maak sommige mense dalk beswaar teen die vonnis en hoop hulle dat die teregstelling uitgestel sal word. Maar hierdie wêreld se vonnis is bepaal deur die volmaakte Regter, Jehovah (Deut. 32:4). Die wêreld se vernietiging sal nie uitgestel word nie. Nadat hierdie wêreld vernietig is, sal almal in die hemel en op die aarde weet dat Jehovah se oordeel reg en regverdig was. Almal sal baie verlig wees!
3. Watter vier probleme sal deur God se Koninkryk verwyder word?
3 Watter dinge sal tot ’n einde kom wanneer “die wêreld” vernietig gaan word? Baie slegte dinge wat vandag deel van die lewe is, sal iets van die verlede wees. Dit is ’n belangrike deel van die “goeie nuus van die koninkryk” (Matt. 24:14). Kom ons kyk na die dinge wat tot ’n einde sal kom wanneer God se Koninkryk kom. Ons sal vier probleme bespreek: goddelose mense, korrupte organisasies, verkeerde dade en slegte toestande. Met elke probleem sal ons kyk (1) hoe dit ons lewe raak, (2) wat Jehovah daaromtrent sal doen en (3) hoe hy dit met goeie dinge sal vervang.
GODDELOSE MENSE
4. Watter uitwerking het goddelose mense nou op ons?
4 Watter uitwerking het goddelose mense nou op ons? Nadat die apostel Paulus voorspel het “dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom”, is hy geïnspireer om te skryf: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger” (2 Tim. 3:1-5, 13). Het jy al gesien hoe hierdie woorde vervul word? Baie van ons was al slagoffers van goddelose mense soos gewelddadige boelies, rassiste en wrede misdadigers. Party van hulle probeer nie eers om hulle goddelose dade weg te steek nie. Ander gee voor dat hulle mense help, maar hulle is in werklikheid goddeloos. Al was ons nog nooit self ’n slagoffer van misdaad nie, het goddelose mense nog steeds ’n uitwerking op ons. Dit maak ons siek as ons hoor hoe sleg kinders, bejaardes en mense wat hulleself nie kan beskerm nie, behandel word. Goddelose mense tree onmenslik, dierlik of selfs demonies op (Jak. 3:15). Gelukkig gee Jehovah se Woord ons hoop.
5. (a) Watter geleentheid het goddelose mense nog? (b) Wat sal met goddelose mense gebeur as hulle weier om te verander?
5 Wat sal Jehovah doen? Jehovah gee goddelose mense nou die geleentheid om te verander (Jes. 55:7). Dit is die goddelose wêreld wat veroordeel is, nie die mense nie. Maar wat van dié wat weier om te verander en wat aanhou om die goddelose wêreld te ondersteun? Jehovah belowe om al die goddelose mense te vernietig. (Lees Psalm 37:10.) Die goddeloses dink dalk dat niks met hulle sal gebeur nie. Baie steek weg wat hulle doen, en dit lyk dalk of hulle daarmee wegkom (Job 21:7, 9). Maar die Bybel sê vir ons: “[God se] oë is op die weë van die mens, en hy sien al sy voetstappe. Daar is geen duisternis of diep skaduwee waarin dié wat skadelike dinge beoefen, hulle kan versteek nie” (Job 34:21, 22). Ons kan nie vir Jehovah wegkruip nie. Niemand kan Jehovah mislei nie. Hy kan alles sien wat slegte mense doen. Ná Armageddon sal ons dalk na die goddeloses soek, maar ons sal hulle nie kry nie. Hulle sal weg wees—vir ewig!—Ps. 37:12-15.
6. Wie sal op die aarde oorbly nadat die goddeloses vernietig is, en waarom is dit goeie nuus?
6 Wie sal op die aarde oorbly nadat die goddeloses vernietig is? Jehovah maak hierdie pragtige belofte: “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.” Later in dieselfde psalm lees ons: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (Ps. 37:11, 29). Wie is “die sagmoediges” en “die regverdiges”? Die sagmoediges is dié wat nederig Jehovah se leiding en onderrigting aanvaar; die regverdiges is dié wat daarvan hou om te doen wat reg is in Jehovah se oë. Vandag is daar baie meer goddelose mense as regverdiges. Maar in die nuwe wêreld sal die sagmoediges en die regverdiges nie in die minderheid of die meerderheid wees nie; hulle sal die enigste mense op die aarde wees. As sulke mense op die aarde woon, sal die aarde ’n paradys wees!
KORRUPTE ORGANISASIES
7. Watter uitwerking het korrupte organisasies vandag op ons?
7 Watter uitwerking het korrupte organisasies vandag op ons? Dit is nie net mense wat slegte dinge doen nie. Baie organisasies is ook goddeloos. Byvoorbeeld, kerke lei miljoene mense om die bos. Hulle sê dat ons nie die Bybel kan vertrou nie, hulle verdraai die waarheid oor wie God werklik is, hulle mislei mense oor die toekoms van die mensdom en die aarde en nog baie ander dinge. Of wat van regerings wat oorlog en rassegeweld aanhits, wat arm en onskuldige mense onderdruk, wat partydig is en ryk word deur middel van omkopery? En wat van gierige maatskappye wat roekeloos die omgewing besoedel, natuurlike hulpbronne vernietig en mense uitbuit sodat ’n paar skatryk kan word, terwyl miljoene mense in armoede lewe? Korrupte organisasies is verantwoordelik vir baie van die lyding in die wêreld.
8. Wat sal volgens die Bybel met organisasies gebeur wat vir baie mense stabiel lyk?
8 Wat gaan Jehovah doen? Die groot verdrukking gaan begin wanneer die politieke stelsel die kerke aanval wat in die Bybel Babilon die Grote genoem word (Op. 17:1, 2, 16; 18:1-4). Die kerke sal heeltemal vernietig word. Wat dan van al die ander korrupte organisasies? In die Bybel word hulle beskryf as berge en eilande wat vir mense rotsvas lyk. (Lees Openbaring 6:14.) God se Woord voorspel dat die regerings en al die ander organisasies wat nie God se Koninkryk ondersteun nie, vernietig sal word. Dit sal die hoogtepunt van die groot verdrukking wees (Jer. 25:31-33). Daarna sal daar geen korrupte organisasies meer wees nie!
9. Waarom kan ons seker wees dat die nuwe aarde goed georganiseerd sal wees?
9 Waardeur sal korrupte organisasies vervang word? Sal daar ná Armageddon enige organisasies op die aarde wees? Die Bybel sê: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon” (2 Pet. 3:13). Die vorige hemele en aarde, die korrupte organisasies en al die mense onder hulle beheer, sal iets van die verlede wees. Waarmee sal hulle vervang word? “Nuwe hemele en ’n nuwe aarde.” Die nuwe hemele verwys na ’n nuwe regering, of die Koninkryk, wat bestaan uit Jesus Christus en sy 144 000 medeheersers. Die nuwe aarde verwys na diegene waaroor God se Koninkryk sal regeer. Die Koninkryksregering sal Jehovah God, wat ’n God van orde is, volmaak navolg (1 Kor. 14:33). Die “nuwe aarde” sal goed georganiseerd wees. Regverdige manne sal die leiding neem (Ps. 45:16). Hulle sal deur Christus en sy 144 000 medeheersers gerig word. Stel jou voor hoe dit sal wees as al die korrupte organisasies vervang word met ’n enkele, verenigde organisasie wat nooit korrup sal word nie!
VERKEERDE DADE
10. Watter verkeerde dade is algemeen in jou omgewing, en watter uitwerking het dit op jou en jou gesin?
10 Watter uitwerking het verkeerde dade op ons? Ons lewe in ’n goddelose wêreld wat vol onsedelikheid, oneerlikheid en geweld is. Ouers moet hard werk om hulle kinders teen sulke slegte invloede te beskerm. Die vermaaklikheidswêreld laat slegte dinge al hoe aanlokliker lyk en hulle maak ’n bespotting van Jehovah se standaarde van reg en verkeerd (Jes. 5:20). Maar ware Christene werk hard om hulle verhouding met Jehovah te beskerm in ’n wêreld wat nie God se standaarde respekteer nie.
11. Wat leer ons uit die oordeel wat Jehovah oor Sodom en Gomorra uitgespreek het?
11 Wat gaan Jehovah omtrent verkeerde dade doen? Dink net aan wat hy met Sodom en Gomorra gedoen het. (Lees 2 Petrus 2:6-8.) Dit was baie moeilik vir die regverdige man Lot en sy gesin om in sulke omstandighede te lewe. Jehovah het die hele streek vernietig om ’n einde aan goddeloosheid te maak. Maar hy het ook “vir goddelose mense ’n voorbeeld van toekomstige dinge gegee”. Net soos Jehovah onsedelike mense in die verlede vernietig het, sal hy ook goddeloosheid in ons tyd tot ’n einde bring.
12. Wat wil jy graag in die nuwe wêreld doen?
12 Waarmee sal verkeerde dade vervang word? Ons sal besig wees met goeie dinge in die paradys. Dink net hoe ons dit sal geniet om die aarde in ’n paradys te omskep en huise vir ons en ons geliefdes te bou. Ons gaan ook miljoene uit die dode verwelkom en hulle oor Jehovah leer en wat hy vir die mensdom gedoen het (Jes. 65:21, 22; Hand. 24:15). Ons sal besig wees met dinge wat ons gelukkig sal maak en Jehovah sal loof!
SLEGTE TOESTANDE
13. Watter slegte toestande is veroorsaak deur Satan en Adam en Eva se opstand?
13 Watter uitwerking het slegte toestande nou op ons? Goddelose mense, korrupte organisasies en verkeerde dade maak die lewe op die aarde baie moeilik. Ons almal word geraak deur oorloë, armoede, rassisme, siekte en die dood. Hierdie slegte toestande het begin toe Satan en Adam en Eva teen Jehovah in opstand gekom het. Ons almal ly as gevolg hiervan.
14. Wat gaan Jehovah omtrent slegte toestande doen? Gee ’n voorbeeld.
14 Wat gaan Jehovah omtrent slegte toestande doen? Jehovah belowe om ’n einde aan oorloë te maak. (Lees Psalm 46:8, 9.) Daar sal geen siekte meer wees nie (Jes. 33:24). En die dood sal daar nie meer wees nie! (Jes. 25:8). Hy sal ’n einde maak aan armoede (Ps. 72:12-16). Hy sal ook al die ander slegte toestande verwyder wat die lewe ondraaglik maak. Hy sal selfs die slegte invloed van Satan en sy demone wegneem!—Ef. 2:2.
15. Wat sal ná Armageddon vir ewig weg wees?
15 Kan jy jou ’n wêreld sonder oorlog, siekte of die dood voorstel? Dink net, daar sal geen soldate of wapens meer wees nie! Geen dokters, hospitale, verpleegsters of mediese fondse; geen lykshuise, begrafnisondernemers of begraafplase nie! As daar geen misdadigers is nie, sal ons nie alarms, die polisie, en miskien nie eers sleutels of slotte nodig hê nie! Ons sal ons nooit weer oor hierdie dinge hoef te bekommer nie.
16, 17. (a) Watter verligting sal dié wat Armageddon oorleef, ervaar? Gee voorbeelde. (b) Wat moet ons doen om die vernietiging van die goddelose wêreld te oorleef?
16 Hoe sal die lewe sonder probleme wees? Dit is moeilik om jou dit voor te stel. Ons lewe al so lank in die wêreld dat ons nie eers besef hoe swaar ons regtig kry nie. Dit is soos mense wat naby ’n spoorlyn bly en nie meer die geraas van die trein hoor nie, of iemand wat naby ’n ashoop bly en wat gewoond raak aan die reuk. Watter verligting sal dit tog wees as al hierdie negatiewe dinge iets van die verlede is!
17 Waarmee sal al die angs en spanning vervang word? Psalm 37:11 sê: “Hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.” Voel jy nie baie bly hieroor nie? Jehovah wil hê ons moet gelukkig wees. Doen alles in jou vermoë om in hierdie stresvolle laaste dae na aan Jehovah en sy organisasie te bly! Jou hoop vir die toekoms is kosbaar. Peins hieroor. Dit moet vir jou ’n werklikheid wees en jy moet almal daarvan vertel! (1 Tim. 4:15, 16; 1 Pet. 3:15). Dan sal jy nie saam met hierdie goddelose wêreld vernietig word nie, maar vir ewig kan lewe en gelukkig wees!
a Dit was jare gelede ’n algemene gebruik in party tronke in die Verenigde State.