Jehovah is lief vir mense wat “met volharding vrug dra”
“Wat dié op die goeie grond betref, dit is hulle wat . . . met volharding vrug dra.” — LUK. 8:15.
1, 2. (a) Hoekom is dit aanmoedigend om te hoor dat ons broers en susters aanhou preek in gebiede waar min mense na hulle wil luister? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Wat het Jesus oor die predikingswerk in sy “tuisgebied” gesê? (Sien voetnoot.)
SERGIO EN OLINDA is ’n pionierpaartjie in hulle 80’s wat in die Verenigde State bly. Dit raak vir hulle al hoe moeiliker om te loop omdat hulle bene baie seer word. Nogtans is dit al baie jare lank hulle gewoonte om elke oggend na dieselfde besige deel van die dorp te stap. Hulle staan elke dag op dieselfde plek naby die busstop, en teen sewe-uur is hulle reg om Bybellektuur aan te bied vir die mense wat verbyloop. Die meeste mense ignoreer hulle, maar die paartjie bly op hulle plekkie staan, en hulle glimlag vir almal wat verbygaan. Hulle bly daar tot twaalf-uur, en dan begin hulle stadig huis toe stap. En die volgende oggend sewe-uur is hulle weer terug op hulle plek. Hierdie getroue paartjie verkondig die Koninkryksboodskap elke oggend, ses dae ’n week, jaar in en jaar uit.
2 Daar is baie getroue broers en susters regoor die wêreld wat, net soos Sergio en Olinda, jare lank in hulle tuisgebied preek, al luister min mense na hulle. As jy ook onder sulke omstandighede preek, wil ons jou opreg prys vir jou volharding.a Jou getroue diens aan Jehovah is vir almal ’n aanmoediging — selfs vir ervare broers en susters. Luister na wat party kringopsieners al gesê het: “Wanneer ek saam met sulke getroue broers en susters velddiens doen, gee hulle voorbeeld my weer nuwe krag.” “Hulle getroue voorbeeld spoor my aan om te volhard en om moedig te wees in my eie bediening.” “Hulle voorbeeld maak my hart baie bly.”
3. Watter drie vrae gaan ons bespreek, en hoekom?
3 Jesus het aan ons almal die opdrag gegee om die predikingswerk te doen. Om ons te help om meer vasbeslote te wees om dit te doen, gaan ons drie vrae bespreek: Hoekom voel ons partykeer dalk moedeloos? Hoe kan ons vrug dra? Wat sal ons help om met volharding vrug te dra?
HOEKOM VOEL ONS DALK MOEDELOOS?
4. (a) Hoe het Paulus gevoel oor die feit dat die meeste Jode nie wou luister nie? (b) Hoekom het Paulus so gevoel?
4 As jy al ooit moedeloos geraak het omdat die meeste mense in jou gebied nie wil luister nie, verstaan jy seker hoe die apostel Paulus gevoel het. Hy het omtrent 30 jaar lank gepreek en baie mense in daardie tyd gehelp om dissipels van Christus te word (Hand. 14:21; 2 Kor. 3:2, 3). Maar hy kon die meeste van die Jode nie oorreed om ware aanbidders te word nie. Baie van hulle het geweier om na Paulus te luister, en party het hom selfs vervolg (Hand. 14:19; 17:1, 4, 5, 13). Hoe het Paulus hieroor gevoel? Hy het erken: “Ek vertel die waarheid in Christus . . . dat ek groot droefheid en onophoudelike pyn in my hart het” (Rom. 9:1-3). Hoekom het Paulus so gevoel? Hy was lief vir die predikingswerk. Hy het vir die Jode gepreek omdat hy baie vir hulle omgegee het. Daarom het dit Paulus baie hartseer gemaak om te sien dat hulle God se genade verwerp.
5. (a) Wat motiveer ons om vir ons naaste te preek? (b) Hoekom is dit normaal om partykeer moedeloos te voel?
5 Net soos Paulus, preek ons vir mense omdat ons vir hulle omgee (Matt. 22:39; 1 Kor. 11:1). Ons weet dat Jehovah diegene seën wat besluit om hom te dien. Wanneer ons aan die mense in ons gebied dink, sê ons dalk: ‘As ons hulle maar net kan help om te sien dat hulle ’n beter lewe kan hê!’ Daarom hou ons aan om hulle te help om die waarheid omtrent Jehovah en sy voorneme vir die mensdom te leer. Eintlik sê ons vir die mense vir wie ons preek: ‘Ons het vir jou ’n pragtige geskenk gebring. Sal jy dit asseblief aanvaar?’ Maar wanneer mense weier om ons geskenk te aanvaar, is dit normaal om “pyn in [ons] hart” te voel. As ons so voel, beteken dit nie dat ons te min geloof het nie. Dit wys eerder dat ons lief is vir die predikingswerk. Daarom hou ons aan om te volhard, al voel ons partykeer moedeloos. Die meeste van ons sal met Elena saamstem, wat al meer as 25 jaar lank pionier. Sy sê: “Die predikingswerk is vir my moeilik, maar daar is geen ander werk wat ek eerder wil doen nie.”
HOE KAN ONS VRUG DRA?
6. Watter vraag gaan ons bespreek, en hoe gaan ons dit beantwoord?
6 Hoe kan ons daarvan seker wees dat ons vrug sal dra in ons bediening, maak nie saak waar ons preek nie? Om hierdie belangrike vraag te beantwoord, gaan ons na twee van Jesus se illustrasies kyk waarin hy beklemtoon dat ons moet “vrug dra” (Matt. 13:23). Die eerste een gaan oor ’n wingerdstok.
7. (a) Wie word deur “die landbouer”, “die wingerdstok” en “die lote” voorgestel? (b) Watter vraag wil ons beantwoord?
7 Lees Johannes 15:1-5, 8. Let op wat Jesus vir sy apostels gesê het: “My Vader word hierin verheerlik, dat julle veel vrug bly dra en toon dat julle my dissipels is.” Jesus het gesê dat Jehovah “die landbouer” is, dat hy self “die ware wingerdstok” is en dat sy dissipels “die lote” is.b Maar wat is die vrug wat Christus se volgelinge moet dra? In hierdie illustrasie het Jesus nie uitdruklik gesê wat die vrug is nie, maar hy het ’n belangrike detail genoem wat ons help om die antwoord te kry.
8. (a) Hoekom kan die vrug in hierdie illustrasie nie na nuwe dissipels verwys nie? (b) Wat is kenmerkend van enigiets wat Jehovah van ons vra?
8 Toe Jesus van sy Vader gepraat het, het hy gesê: “Elke loot in my wat nie vrug dra nie, neem hy weg.” Met ander woorde, Jehovah beskou ons as sy knegte net as ons vrug dra (Matt. 13:23; 21:43). Daarom kan ons uit hierdie illustrasie aflei dat die vrug wat elke Christen moet dra, nie verwys na die nuwe dissipels wat ons dalk die voorreg het om te maak nie (Matt. 28:19). Anders sou dit beteken dat getroue Getuies wat dit nie regkry om dissipels te maak nie omdat hulle in ’n gebied preek waar min mense wil luister, soos die lote in Jesus se illustrasie is wat nie vrug dra nie. Maar dit kan nie waar wees nie! Hoekom nie? Want ons kan mense nie dwing om dissipels te word nie. Jehovah is ’n liefdevolle God, en daarom sal hy nooit van sy knegte verwag om iets te doen wat hulle nie kan doen nie. Ons sal altyd enigiets wat Jehovah van ons vra, kan doen. — Deut. 30:11-14.
9. (a) Watter werk moet ons doen sodat ons vrug kan dra? (b) Watter illustrasie gaan ons nou bespreek, en hoekom?
9 Maar wat is die vrug wat ons moet dra? Dit is duidelik dat die vrug na ’n werk moet verwys wat elkeen van ons sal kan doen. Wat is hierdie werk wat ons moet doen sodat ons “vrug kan dra”? Ons moet die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig (Matt. 24:14).c Jesus se illustrasie van die saaier help ons om hierdie punt te verstaan. Kom ons kyk nou na hierdie tweede illustrasie.
10. (a) Wat word deur die saad en die grond in hierdie illustrasie voorgestel? (b) Watter vrug dra ’n koringplant?
10 Lees Lukas 8:5-8, 11-15. In die illustrasie van die saaier is die saad “die woord van God”, of die boodskap oor die Koninkryk. Die grond stel ’n persoon se hart voor. Die saad wat op die goeie grond geval het, het wortelgeskiet, klein blaartjies gemaak en tot ’n plant gegroei. Toe het hierdie plant “honderdvoudig vrug” gedra. As dit ’n koringplant was, watter soort vrug sou dit dra? Sou dit klein koringplantjies wees? Nee, die vrug wat dit dra is nuwe saad, wat uiteindelik weer tot koringplante kan groei. In hierdie illustrasie het een saad gelei tot ’n oes van ’n honderd saadjies. Hoe kan hierdie aspek van die illustrasie op ons bediening toegepas word?
11. (a) Hoe is die illustrasie van die saaier op ons bediening van toepassing? (b) Hoe bring ons nuwe Koninkryksaad voort?
11 Ons kan dit dalk so verduidelik: Jare gelede het Getuies of ons ouers vir ons die nuus oor die Koninkryk vertel. Hulle was baie bly toe hulle sien dat ons ’n goeie hart het en die boodskap oor die Koninkryk aanvaar. Net soos die saad in Jesus se illustrasie in die goeie grond begin groei het, het die saad van die boodskap in ons hart begin wortelskiet. Mettertyd het die boodskap oor die Koninkryk gegroei totdat dit, soos ’n koringplant, gereed was om vrug te dra. En net soos die vrug wat ’n koringplant dra nie nuwe plantjies is nie, maar nuwe saad, is die vrug wat ons dra nie nuwe dissipels nie, maar nuwe Koninkryksaad.d Hoe bring ons nuwe Koninkryksaad voort? Elke keer wanneer ons die boodskap oor die Koninkryk op die een of ander manier verkondig, is dit asof ons die saad versprei wat in ons hart geplant was (Luk. 6:45; 8:1). Hierdie illustrasie leer ons dat solank ons aanhou om die boodskap oor die Koninkryk te verkondig, ons “met volharding vrug dra”.
12. (a) Wat kan ons leer uit Jesus se illustrasies van die wingerdstok en die saaier? (b) Hoe laat hierdie les jou voel?
12 Wat kan ons leer uit Jesus se illustrasies van die wingerdstok en die saaier? Ons leer dat om vrug te dra nie daarvan afhang of die mense in ons gebied na ons luister nie. Dit hang eerder daarvan af of ons getrou bly. Paulus het van dieselfde waarheid gepraat toe hy gesê het: “Elkeen sal sy eie beloning volgens sy eie arbeid ontvang” (1 Kor. 3:8). Die beloning is volgens die arbeid, of die werk, en nie volgens die resultate van daardie werk nie. Matilda, wat al 20 jaar lank pionier, sê: “Dit maak my baie bly om te weet dat Jehovah ons beloon vir wat ons doen.”
HOE KAN ONS DAARIN VOLHARD OM VRUG TE DRA?
13, 14. Hoekom was Paulus, volgens Romeine 10:1, 2, geduldig met diegene wat negatief op die Koninkryksboodskap gereageer het?
13 Wat sal ons help om aan te hou om met volharding vrug te dra? Soos ons gesien het, het die Jode se negatiewe reaksie op die Koninkryksboodskap Paulus moedeloos laat voel. Maar nogtans was hy geduldig met hulle. Kom ons kyk wat hy verder in sy brief aan die Christene in Rome gesê het oor sy gevoelens teenoor hierdie Jode: “Die welwillendheid van my hart en my smeking tot God vir hulle is inderdaad met die oog op hulle redding. Want ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het; maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie” (Rom. 10:1, 2). Hoe het Paulus die redes beklemtoon waarom hy aangehou het om te preek?
14 Eerstens het Paulus gesê dat hy deur “die welwillendheid van [sy] hart” gemotiveer is. Dit was sy hartsbegeerte dat die Jode gered moes word (Rom. 11:13, 14). Tweedens het Paulus sy “smeking tot God vir hulle” genoem. Hy het God gesmeek om individuele Jode te help om die boodskap oor die Koninkryk te aanvaar. Derdens het Paulus gesê dat “hulle ’n ywer vir God het”. Hy het die goeie in mense gesien. Hy het geweet dat mense wat ywerig is, ook soos hy gehelp kan word om ywerige navolgers van Christus te word.
15. Hoe kan ons Paulus navolg? Gee voorbeelde.
15 Hoe kan ons Paulus navolg? Eerstens moet dit ons hartsbegeerte wees om mense te vind wat dalk “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het. Tweedens smeek ons Jehovah in gebed om opregtes se hart oop te maak sodat hulle na die boodskap sal luister (Hand. 13:48; 16:14). Silvana, wat al amper 30 jaar lank pionier, sê: “Voordat ek na ’n huis in my gebied gaan, vra ek Jehovah in gebed om my ’n positiewe gesindheid te gee.” Ons bid ook tot God dat die engele ons sal help om mense te vind wat ’n goeie hart het en wat wil luister (Matt. 10:11-13; Op. 14:6). Robert, wat al meer as 30 jaar lank pionier, sê: “Dit is opwindend om saam met die engele te werk, want by elke huis weet hulle wat in die lewe van die mense aangaan.” Derdens probeer ons om die goeie in mense te sien, dat hulle aanbidders van Jehovah kan word. Carl, ’n ouer man wat meer as 50 jaar gelede gedoop is, sê: “Ek soek na enigiets wat sal wys dat ’n persoon ’n goeie hart het. Dalk ’n vriendelike glimlag of ’n opregte vraag.” Ons kan, net soos Paulus, ook met volharding vrug dra.
‘MOENIE JOU HAND LAAT RUS NIE’
16, 17. (a) Wat kan ons uit Prediker 11:6 leer? (b) Gebruik ’n voorbeeld om te wys watter uitwerking ons saaiwerk kan hê op diegene wat sien wat ons doen.
16 Al lyk dit of ons Koninkryksboodskap nie mense se hart bereik nie, moet ons nooit vergeet watter uitwerking ons saaiwerk op hulle kan hê nie. (Lees Prediker 11:6.) Baie mense luister dalk nie na ons nie, maar hulle sien wel wat ons doen. Hulle sien ons netjiese klere, ons goeie gedrag en ons vriendelike glimlag. Mettertyd kan ons goeie gedrag hulle help om te sien dat hulle negatiewe beskouing van ons dalk verkeerd is. Sergio en Olinda, wat aan die begin van die artikel genoem is, het hierdie soort verandering gesien.
17 Sergio sê: “As gevolg van siekte kon ons vir ’n ruk lank nie op ons plek naby die busstop wees nie. Toe ons weer teruggaan, het die mense gevra: ‘Wat het gebeur? Ons het julle gemis.’” Olinda glimlag en sê: “Die busbestuurders het vir ons gewaai en party het uitgeroep: ‘Mooi so!’ Hulle het selfs vir tydskrifte gevra.” En Sergio en Olinda was baie verbaas toe ’n man by hulle lektuurtrollie stop, vir hulle ’n bos blomme gee en dankie sê vir die werk wat hulle doen.
18. Hoekom is jy vasbeslote om “met volharding vrug [te] dra”?
18 Ja, solank as wat ons Koninkryksaad saai en nie ons ‘hand laat rus’ nie, help ons met die belangrike werk om “’n getuienis vir al die nasies” te gee (Matt. 24:14). Maar ons grootste vreugde is die feit dat ons Jehovah se hart bly maak, want hy is lief vir mense wat “met volharding vrug dra”!
a Selfs Jesus het erken dat dit ’n uitdaging was om in sy “tuisgebied” te preek. Hierdie feit is deur al vier die Evangelieskrywers opgeteken. — Matt. 13:57; Mark. 6:4; Luk. 4:24; Joh. 4:44.
b Hoewel die lote in hierdie illustrasie na persone verwys wat hemel toe gaan, bevat dit lesse wat al God se knegte kan help.
c “Vrug dra” kan ook daarna verwys dat ons die vrug van die gees aankweek. Maar in hierdie artikel en die volgende een gaan ons kyk na “die vrug van die lippe”, of om oor God se Koninkryk te preek. — Gal. 5:22, 23; Heb. 13:15.
d Jesus het die saai- en oeswerk ook ’n paar keer gebruik om te illustreer hoe ons dissipels maak. — Matt. 9:37; Joh. 4:35-38.