Waarom traktate vandag so nuttig in ons bediening is
1 In Die Wagtoring van 1 Januarie 1991, bladsy 30, was daar ’n ondervinding met die titel “Hy het ’n traktaat langs die spoor gevind”. Dit het vertel van die ploegbaas van ’n spoorlyninstandhoudingspan wat een van ons traktate gevind het wat onder ’n spoorstaaf vasgesteek het. Hy het die traktaat onmiddellik gelees en toe vir sy skoonseun gesê: “Vandag het ek die waarheid gevind!” Albei mans het nog lektuur bestel en dit bestudeer. Meer as honderd van hulle nakomelinge is nou in die waarheid bedrywig. Dit toon wat die gevolg kan wees wanneer net een traktaat gelees word.
2 Gebruik geleenthede: Die broers gebruik oral geleenthede om traktate te versprei. Een jong Getuie het gemerk dat haar onderwyseres hartseer was omdat haar skoonma gesterf het. Die jong suster het vir haar onderwyseres ’n bemoedigende brief geskryf en die traktaat Watter hoop vir afgestorwe dierbares? bygevoeg. Die onderwyseres het ’n dankiesêbriefie geskryf en toe met ons jong suster gesels. Nou neem hierdie onderwyseres gereeld die tydskrifte by haar.
3 ’n Paar verkondigers wat getuieniswerk gedoen het in ’n straat wat na ’n begraafplaas lei, het gesien hoe mense grafte afwit. Die verkondigers het die geleentheid gebruik om vir hulle traktate aan te bied. Die volgende dag was ’n vakansiedag waarop baie mense die begraafplaas besoek, en die verkondigers het toe besluit om by die ingang van die begraafplaas te staan en traktate aan te bied. Oor die vyfhonderd traktate is versprei, en net drie mense wou nie ’n traktaat neem nie. Verkondigers het die volgende jaar teruggegaan en meer as duisend traktate versprei, met net ses wat nie ’n traktaat wou neem nie. ’n Hele paar mense het hulle innige waardering uitgespreek. Een man het die traktaat gelees toe hy die begraafplaas verlaat het, en hy het kort daarna teruggekeer om met die suster te praat wat dit vir hom gegee het. Hy het gesê: “Daar is iemand wat ek wil hê hierdie boodskap moet lees. Kan ek nog een kry?”
4 Traktate is ’n gerieflike grootte en dit is maklik om hulle saam met ons te dra waar ons ook al gaan. Wanneer ons informele gesprekke met ander voer, of hulle nou vreemdelinge of kennisse is, moet ons probeer om ’n kort stelling te maak wat tot ’n bespreking kan lei van een van die agt traktate wat nou tot ons beskikking is. Ons kan dit doen terwyl ons met bure gesels, terwyl ons inkopies doen of vir ’n afspraak wag, terwyl ons familielede besoek of in baie ander situasies.
5 Waarom doeltreffend: Die kleurvolle traktate is treffend. Hulle is kort. Huisbewoners en diegene wat ons in informele situasies ontmoet, is nie oorweldig nie en voel nie dat hulle baie sal moet lees nie. Tog is die boodskap boeiend en leersaam. Die leser kry ’n deeglike skriftuurlike verduideliking van die gedagte wat in die traktaat bepreek word. Nadat een jong man die traktaat Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld ontvang het en dit met hom bespreek is, het hy gesê: “Ek het nog nooit sulke bemoedigende inligting oor die wêreldsituasie gehoor nie!”
6 Ons moet hierdie traktate by elke gepaste geleentheid gebruik. Baie verkondigers het gevind dat hulle nuttig is om gesprekke in die huis-tot-huis-werk mee te begin. Talle studies wat nou gehou word, is met ’n traktaat begin. Op bladsy 4 van hierdie nommer van Ons Koninkryksbediening is daar ’n paar praktiese wenke oor hoe om traktate met welslae te gebruik. Ja, traktate is klein, maar nuttige instrumente vir ons bediening.