Vind vreugde in jou heilige diens
1 Hulle het “met vreugde” teruggekeer. Die Bybelverslag vertel hoe die 70 dissipels gevoel het toe hulle ná ’n uitgebreide predikingsveldtog aan Jesus kom rapporteer het. Hulle het ’n innerlike vreugde ervaar omdat hulle God se wil gedoen het (Luk. 10:17). Wat kan jou help om ’n soortgelyke vreugde in heilige diens te vind?
2 ’n Positiewe gesindheid: Jy het die godgegewe voorreg om mense van Jehovah se grootse voorneme te vertel. Deur jou predikingswerk kan jy help om mense te bevry van hierdie wêreld se verdorwe gebruike en die boeie van valse godsdiens. Jy kan mense die hoop bied van lewe in ’n wêreld vry van die onenigheid wat ons vandag omring. Dink hoe bly dit Jehovah maak wanneer jy die saadjies van waarheid met welslae in ’n ontvanklike hart plant. Wees positief wanneer jy bid vir God se gees om in jou die vrug van vreugde voort te bring terwyl jy die bediening met jou hele hart ondersteun.
3 Praktiese opleiding: Die onderrigsessie wat Jesus met die 70 dissipels gehou het, is al met ’n hedendaagse Diensvergadering vergelyk. Hy het hulle opgelei sodat hulle hulle bediening doeltreffend kon uitvoer (Luk. 10:1-16). Vandag leer die Diensvergadering jou hoe om mense te nader, om gesprekke aan te knoop en om Bybelstudies te begin en te hou. As jy jou toelê en jou vermoë as ’n verkondiger verbeter, sal jy vind dat enige gevoelens van ongemak of onvermoë wat jy moontlik gehad het, sal afneem en deur vertroue en vreugde vervang sal word.
4 Hou jou gedagtes gerig op die toekoms: Ondanks die lyding wat Jesus verduur het, het hy vreugde gevind in sy heilige diens. Waarom? Omdat hy sy oog stip gevestig gehou het op die seëninge en voorregte wat vir hom voorgelê het (Heb. 12:2). Jy kan dieselfde doen deur jou verstand en hart gevestig te hou op Jehovah se naam en op die toekomstige seëninge in God se nuwe wêreld. Dit sal groter vreugde en sin aan jou bediening verleen.
5 Om heilige diens aan Jehovah te lewer, is die grootste voorreg wat jy vandag kan hê. Mag jy dus sê: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen.”—Ps. 40:8, NW.