Jehovah, die God van kommunikasie
“Hoor asseblief, en ek sal praat.”—JOB 42:4.
1-3. (a) Hoe weet ons dat God se gedagtes en taal ver verhewe bo dié van mense is? (b) Wat sal ons in hierdie artikel leer?
JEHOVAH wou hê dat ander ook lewe en geluk moet geniet, en daarom het hy engele en later mense geskep (Psalm 36:9; 1 Timoteus 1:11). Die apostel Johannes het die eerste persoon wat Jehovah geskep het, “die Woord” genoem (Johannes 1:1; Openbaring 3:14). Jehovah het met hierdie persoon, Jesus, gekommunikeer en sy gedagtes en gevoelens teenoor hom uitgespreek (Johannes 1:14, 17; Kolossense 1:15). Die apostel Paulus sê dat die engele ook kommunikeer en ’n taal het, ’n taal wat baie anders is as die taal wat mense gebruik.—1 Korintiërs 13:1.
2 Jehovah weet alles omtrent die miljarde engele en mense wat hy geskep het. Hy kan tegelykertyd na die gebede van miljoene mense luister, en hy verstaan hulle, ongeag in watter taal hulle bid. Terwyl Jehovah na al hierdie gebede luister, kommunikeer hy ook met die engele en rig hy hulle. Om dit te kan doen, moet Jehovah se gedagtes en taal ver verhewe wees bo die gedagtes en taal van mense. (Lees Jesaja 55:8, 9.) Wanneer hy met mense kommunikeer, vereenvoudig hy dus sy boodskap sodat ons dit kan verstaan.
3 In hierdie artikel sal ons leer hoe Jehovah op ’n duidelike wyse met mense kommunikeer. Ons sal ook sien hoe hy die manier waarop hy kommunikeer, verander na gelang van die omstandighede.
GOD KOMMUNIKEER MET MENSE
4. (a) Watter taal het Jehovah gebruik om met Moses, Samuel en Dawid te kommunikeer? (b) Wat bevat die Bybel?
4 Toe Jehovah in die tuin van Eden met die eerste man, Adam, gekommunikeer het, het Hy waarskynlik ’n eertydse vorm van Hebreeus gebruik. Later het Jehovah sy gedagtes aan Hebreeussprekende Bybelskrywers soos Moses, Samuel en Dawid bekendgemaak. Hulle het God se gedagtes in hulle eie woorde en in hulle eie skryfstyl neergeskryf. Hulle het woorde neergeskryf wat Jehovah direk gespreek het, asook die geskiedenis van God se handelinge met sy volk. Die Bybel bevat byvoorbeeld verslae van hierdie volk se geloof en liefde vir God asook van hulle foute en ontrouheid. Al hierdie inligting is tot ons voordeel geskryf.—Romeine 15:4.
Bybelskrywers het woorde neergeskryf wat Jehovah direk gespreek het, asook die geskiedenis van God se handelinge met sy volk
5. Is Hebreeus die enigste taal wat God gebruik het om met mense te kommunikeer? Verduidelik.
5 Jehovah het nie net in Hebreeus met mense gekommunikeer nie. Teen die tyd dat die Israeliete uit Babilon bevry is, het sommige van hulle Aramees gepraat. Dit is moontlik waarom Daniël, Jeremia en Esra dele van die Bybel in Aramees geskryf het.a—Sien voetnoot.
6. Waarom is die Hebreeuse Geskrifte in Grieks vertaal?
6 Aleksander die Grote het later groot dele van die wêreld verower, en gewone Grieks, of Koine, het die hooftaal in baie lande geword. Baie Jode het Grieks begin praat, en die Hebreeuse Geskrifte is uiteindelik in Grieks vertaal. Hierdie vertaling word die Septuagint genoem. Dit was die eerste vertaling van die Bybel en een van die belangrikstes. Deskundiges meen dat die Septuagint deur 72 vertalers vertaal is.b (Sien voetnoot.) Party het woord vir woord uit die Hebreeuse Geskrifte vertaal, en ander het nie. Nogtans het Griekssprekende Jode en Christene geglo dat die Septuagint God se Woord is.
7. Watter taal het Jesus gebruik om sy dissipels te leer?
7 Toe Jesus op die aarde was, het hy waarskynlik Hebreeus gepraat (Johannes 19:20; 20:16; Handelinge 26:14). Hy het dalk ook ’n paar Aramese uitdrukkings gebruik wat destyds bekend was. Maar hy kon ook die ou Hebreeuse taal praat van Moses en die profete, wie se geskrifte elke week by die sinagoges gelees is (Lukas 4:17-19; 24:44, 45; Handelinge 15:21). En al het mense in Jesus se tyd Grieks en Latyn gepraat, sê die Bybel nie of Jesus ook daardie tale gepraat het nie.
8, 9. Waarom het baie Christene Grieks gepraat, en wat toon dit omtrent Jehovah?
8 Jesus se eerste volgelinge het Hebreeus gepraat, maar ná sy dood het sy dissipels ander tale gepraat. (Lees Handelinge 6:1.) Toe die goeie nuus versprei het, het meer Christene Grieks gepraat as Hebreeus. Omdat Grieks die algemene taal was, was die boeke Matteus, Markus, Lukas en Johannes in Grieks beskikbaar.c (Sien voetnoot.) En die briewe van die apostel Paulus en ander Bybelboeke is in Grieks geskryf.
9 Dit is interessant dat skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte dikwels die Septuagint gebruik het wanneer hulle uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal het. Soms het daardie aanhalings effens verskil van die oorspronklike Hebreeuse bewoording. So het die werk van onvolmaakte vertalers deel geword van die Bybel wat ons vandag het. Dit toon dat Jehovah nie dink dat een taal of kultuur beter is as ’n ander nie.—Lees Handelinge 10:34.
God verwag nie van ons om ’n spesifieke taal te praat om hom of sy voornemens te leer ken nie
10. Wat het ons geleer uit die wyse waarop Jehovah met mense kommunikeer?
10 Ons het gesien dat omstandighede bepaal hoe Jehovah met mense kommunikeer. Hy verwag nie van ons om ’n spesifieke taal te praat om hom of sy voornemens te leer ken nie. (Lees Sagaria 8:23; Openbaring 7:9, 10.) Ons het ook geleer dat Jehovah die Bybelskrywers geïnspireer het, maar dat hy hulle toegelaat het om sy gedagtes in hulle eie woorde neer te skryf.
GOD HET SY BOODSKAP BEWAAR
11. Waarom is die feit dat mense verskillende tale praat, nie vir Jehovah ’n probleem nie?
11 Mense praat talle verskillende tale, maar dit is nie vir Jehovah ’n probleem nie. Hoe weet ons dit? Die Bybel bevat ’n paar van Jesus se woorde in die oorspronklike taal wat hy gebruik het (Matteus 27:46; Markus 5:41; 7:34; 14:36). Maar Jehovah het toegesien dat Jesus se boodskap in Grieks geskryf of vertaal word, en later is dit ook in ander tale vertaal. En omdat die Jode en die Christene dikwels afskrifte van God se Woord gemaak het, is God se boodskap bewaar. Hierdie afskrifte is toe in baie ander tale vertaal. Ongeveer 400 jaar ná Christus het Johannes Chrysostomus gesê dat Jesus se leringe in die tale van die Siriërs, Egiptenaars, Indiërs, Perse, Etiopiërs en baie ander volke vertaal is.
12. Watter aanvalle was daar teen die Bybel?
12 Deur die geskiedenis heen was daar baie aanvalle teen die Bybel en diegene wat dit vertaal en versprei het. Ongeveer 300 jaar ná Jesus se geboorte het die Romeinse keiser Diokletianus beveel dat alle eksemplare van die Bybel vernietig moet word. Sowat 1 200 jaar later het William Tyndale die Bybel in Engels begin vertaal. Hy het gesê dat hy, as God hom lank genoeg sou laat lewe, seker sou maak dat selfs ’n seun wat op ’n plaas werk, meer van die Bybel sou weet as ’n priester. Tyndale moes weens vervolging uit Engeland na Europa vlug om sy Bybel te vertaal en te druk. Al het die geestelikes al die Bybels waarop hulle hulle hande kon lê, probeer verbrand, was baie eksemplare reeds in omloop. Tyndale is later verwurg en op die brandstapel verbrand. Maar sy vertaling het behoue gebly ondanks aanvalle van die geestelikes, en ’n vertaling wat die King James Version genoem word, is hieruit vertaal.—Lees 2 Timoteus 2:9.
13. Wat het ’n studie van ou Bybelmanuskripte aan die lig gebring?
13 In party van die oudste eksemplare van die Bybel is daar wel klein foute, en daar is ook geringe verskille tussen eksemplare. Maar Bybelkenners het duisende manuskripte, dele van manuskripte en ou Bybelvertalings noukeurig bestudeer. Nadat hulle hierdie dokumente met mekaar vergelyk het, het hulle gevind dat daar net ’n paar verse is wat verskil, en hierdie verskille is gering. Maar die Bybel se boodskap het nie verander nie. Sulke studies oortuig opregte Bybelstudente daarvan dat die Bybel wat hulle vandag het, Jehovah se geïnspireerde Woord is.—Jesaja 40:8.d (Sien voetnoot.)
14. Hoe vryelik is die Bybel vandag beskikbaar?
14 Ondanks al die aanvalle teen die Bybel is dit al in meer as 2 800 tale vertaal. Dit is meer as enige ander boek wat vandag beskikbaar is. Al glo baie mense nie aan God nie, is sy Woord steeds die boek met die grootste verspreiding in die geskiedenis. Party Bybelvertalings is dalk nie maklik om te lees of baie akkuraat nie, maar byna alle vertalings dra die eenvoudige boodskap van hoop en die ewige lewe oor.
’N NUWE BYBELVERTALING WAS NODIG
15. (a) Hoe het ons Bybellektuur sedert 1919 verander? (b) Waarom word ons lektuur eers in Engels geskryf?
15 In 1919 is ’n klein groepie Bybelstudente as die “getroue en verstandige slaaf” aangestel. Destyds het die getroue slaaf meestal in Engels met God se volk gekommunikeer (Matteus 24:45). Maar vandag word Bybellektuur in meer as 700 tale voorsien. Net soos Grieks in die verlede algemeen gebruik is, word Engels vandag in die sakewêreld en opvoeding gebruik en is dit algemeen bekend. Ons lektuur word dus eers in Engels geskryf en dan in ander tale vertaal.
16, 17. (a) Wat het God se volk nodig gehad? (b) Hoe is daar in hierdie behoefte voorsien? (c) Wat was broer Knorr se begeerte?
16 Al ons lektuur is op die Bybel gebaseer. God se volk het eers die King James Version gebruik, wat in 1611 voltooi is. Maar die taal was verouderd en moeilik om te verstaan. God se naam is net ’n paar keer gebruik, al het ou manuskripte dit duisende kere gebruik. Hierdie vertaling het ook vertaalfoute en ekstra verse gehad wat nie in die oudste manuskripte was nie. Ander Engelse Bybelvertalings het soortgelyke probleme opgelewer.
17 Dit is duidelik dat God se volk ’n Bybelvertaling nodig gehad het wat akkuraat is en maklik is om te verstaan. Die Nuwe Wêreld-Bybelvertaalkomitee is dus gevorm, en die broers op hierdie komitee het van 1950 tot 1960 dele van die Bybel vrygestel. Die eerste van ses bundels is op 2 Augustus 1950 by ’n streekbyeenkoms vrygestel. Broer Knorr het by daardie byeenkoms gesê dat God se volk ’n moderne Bybelvertaling nodig het wat akkuraat is en maklik is om te verstaan en hulle sou help om ’n beter begrip van die waarheid te verkry. Hulle het ’n vertaling nodig gehad wat net so maklik was om te lees en te verstaan as die oorspronklike geskrifte van Christus se dissipels. Dit was broer Knorr se begeerte dat die Nuwe Wêreld-vertaling miljoene mense moet help om Jehovah te leer ken.
18. Wat is gedoen om Bybelvertaling makliker te maak?
18 Teen 1963 het broer Knorr se begeerte ’n werklikheid geword. Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte is uitgegee in Duits, Frans, Italiaans, Nederlands, Portugees en Spaans. In 1989 het die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies ’n nuwe departement by die wêreldhoofkwartier gevorm om Bybelvertalers te help. En in 2005 is toestemming gegee om die Bybel te vertaal in tale waarin Die Wagtoring reeds beskikbaar was. Gevolglik is die Nuwe Wêreld-vertaling nou, in sy geheel of gedeeltelik, in meer as 130 tale beskikbaar.
19. Watter belangrike gebeurtenis het in 2013 plaasgevind, en wat sal ons in die volgende artikel leer?
19 Die Engelse taal het verander sedert die eerste uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling vrygestel is, en daarom was dit nodig om die bewoording by te werk. Op die naweek van 5 en 6 Oktober 2013 is die 129ste jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië gehou. ’n Gehoor van 1 413 676 in 31 lande het dit bygewoon of deur middel van videoverbinding daarna gekyk. ’n Lid van die Bestuursliggaam het aangekondig dat ’n hersiene Nuwe Wêreld-vertaling in Engels vrygestel is. Die gehoor was baie opgewonde, en baie het gehuil toe hulle hulle eie eksemplaar van hierdie nuwe vertaling ontvang het. Toe die sprekers verse uit die hersiene Bybel lees, was dit vir almal duidelik dat die hersiene uitgawe makliker is om te lees en te verstaan. In die volgende artikel sal ons meer leer oor hierdie hersiene Bybel en hoe dit in ander tale vertaal word.
a Esra 4:8–6:18, 7:12-26; Jeremia 10:11 en Daniël 2:4b–7:28 is oorspronklik in Aramees geskryf.
b Septuagint beteken “Sewentig”. Dit wil voorkom of die vertaling sowat 300 jaar voor Christus begin het en 150 jaar later voltooi is. Hierdie vertaling is vandag nog belangrik omdat dit deskundiges help om moeilike Hebreeuse woorde of hele verse te verstaan.
c Party meen dat Matteus sy boek in Hebreeus geskryf het en dat dit toe in Grieks vertaal is, moontlik deur Matteus self.
d Sien Aanhangsel A3 in die hersiene New World Translation; ook ’n Boek vir alle mense, bladsy 7-9, “Hoe het die boek behoue gebly?”