’n Piepklein reus
DIE son is ’n reus in ons sonnestelsel. Dit is so groot dat 1 300 000 aardes daarin kan pas. Maar vergelyk die son met sommige van die superreussterre in ons galaksie en dit lyk skielik voorwaar piepklein.
Stel jou byvoorbeeld voor dat daar superreussterre was waar ons son is. Sommige is so kolossaal dat hulle die hele wentelbaan van die aarde sou verswelg. Ons sou binne-in die ster wees! Die ster genaamd Betelgeuse sou byna tot by Jupiter strek. En as die ster Mu Cephei gesit het waar die son is, sou dit Saturnus verswelg—hoewel Saturnus so ver weg is dat dit vier jaar geduur het voordat die Voyager 2-ruimtetuig dit van die Aarde af bereik het teen ’n snelheid wat ongeveer 20 keer vinniger is as wat ’n koeël trek.
Ons sterrestelsel, die Melkweg, is al ’n reusespiraalgalaksie genoem. Dit is baie gepas. Die absolute reusagtigheid van hierdie groot gloeiende vuurwiel met meer as 100 000 000 000 sterre, wat majestueus in die swartheid van die ruimte wentel, gaan die mens se verstand te bowe. As ons aan die een kant van ons sterrestelsel kon staan en ’n ligbundel na die teenoorgestelde kant kon stuur, sou dit meer as 100 000 jaar duur voordat daardie lig die sterrestelsel oorsteek, selfs al stuur daardie straal teen ’n geweldige snelheid op sy doelwit af: 300 000 kilometer elke sekonde. Met ander woorde, die Melkweg het ’n deursnee van 100 000 ligjare.
Tog is ons aangrensende spiraalgalaksie, Andromeda, meer as twee keer so groot as ons s’n en bevat dit moontlik sowat 600 000 000 000 sterre. Astronome het boonop ’n reusegalaksie ontdek wat hulle Markarian 348 noem. Dit het ’n deursnee van 1 300 000 ligjare en is ongeveer 13 keer groter as ons Melkwegstelsel!
Selfs die kolossale Markarian 348 sal klein lyk teen die galaksie wat onlangs ontdek is by die middelpunt van ’n galaksieswerm wat Abell 2 029 genoem word. Wetenskaplikes meen dat dit die grootste galaksie is wat hulle nog gesien het. Dit is meer as 60 keer groter as ons eie galaksie. Dit is sowat 6 000 000 ligjare in deursnee en het ’n verstommende swerm van 100 000 000 000 000 sterre. Volgens ’n berig in The New York Times is dit ook een van die helderste galaksies wat ooit waargeneem is. En dit is nie die chaotiese produk van lukrake kragte nie. “Dit is ’n georganiseerde massa lig en energie”, het een van sy ontdekkers gesê. “Dit is ’n baie groot, georganiseerde galaksie.”
Ons brein kan glad nie die omvang van hierdie groepe sterre of die geweldige afstande wat daarby betrokke is, verstaan nie. Wat dan van die skeppende, organiserende krag agter alles? “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam” (Jesaja 40:26). As die skepping ontsagwekkend is, hoeveel ontsagwekkender is die Skepper tog nie!
[Foto-erkenning op bladsy 24]
U.S. Naval Observatory photo