Die Bybelse beskouing
Veroordeel God die gebruik van alkohol?
‘VERGEET van crack, heroïen, LSD en dagga—alkohol is steeds die grootste euwel waarmee die samelewing moet worstel. Alkohol veroorsaak veel meer sterfgevalle en sosiale ondergang as alle ander dwelms saam.’ Hierdie gedagtes is twee jaar gelede in Kanada by die 31ste driejaarlikse byeenkoms van die World’s Woman’s Christian Temperance Union uitgespreek.
Sulke afgevaardigdes sien dat die wêreldwye toename van alkoholgebruik ’n skrikwekkende aantal mense hulle gesondheid en lewe, asook miljoene rande wat nasionale regerings jaarliks sal bestee om alkoholisme te beveg, kan kos. Talle welmenende mense beywer hulle daarvoor dat alle sterk drank verbied word, omdat hulle oortuig is daarvan dat God alle gebruik daarvan veroordeel. Maar ondersteun die Bybel hierdie beskouing?
Die gebruik van wyn in die Bybel
God het sy gehoorsame volk lank gelede belowe: “Dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos” (Spreuke 3:10). Ja, hy is die Een wat vir ons die wingerdstok gegee het en selfs klein gisorganismes voorsien het wat die druif bedek wanneer wynmaaktyd nader kom.
Die proses om ’n goeie wyn te produseer is gedeeltelik deur God se profeet Jesaja verduidelik. In ’n voorskou van die seëninge van die toekomstige nuwe wêreld van geregtigheid het Jesaja geskryf: “Jehovah van die leërskare sal . . . vir al die volke . . . ’n feesmaal [berei] van wyn wat op die droesem bewaar is . . . van gesuiwerde wyn wat op die droesem bewaar is” (Jesaja 25:6, NW). Ervare wynmakers weet dat wyn “wat op die droesem bewaar is” en gedurende fermentasie lank onversteurd gelaat word homself geleidelik suiwer en die boeket sowel as die aroma verbeter.
Genot en gesondheidsvoordele?
God het die genot asook die gesondheidsvoordele van wyn geskets. Sy profeet Jotam het gepraat van “mos . . . wat God en die mense vrolik maak” (Rigters 9:13). Koning Salomo het geskryf dat ‘hy sy liggaam met wyn kan verkwik’ (Prediker 2:3). En in die welbekende verslag van die bruilofsfees in Kana het Jesus in sy eerste wonderwerk ’n groot hoeveelheid water in “die beste wyn” verander, tot die vreugde van die bruilofsgaste.—Johannes 2:6, 7, 10, The New English Bible.
Jesus se erkenning van wyn se medisinale gebruik is duidelik in sy illustrasie van die barmhartige Samaritaan. Die barmhartige Samaritaan het ’n beseerde man se wonde verbind en “olie en wyn” daarop gegooi (Lukas 10:30-34). Die apostel Paulus se wenk dat die jong Timotheüs ‘’n bietjie wyn ter wille van sy maag en sy herhaalde ongesteldhede moet gebruik’ stem mooi ooreen met die hedendaagse erkenning van wyn se dieetkundige en medisinale waarde.—1 Timotheüs 5:23.
Dr. Salvatore P. Lucia, ’n voormalige professor aan die Universiteit van Kalifornië se mediese fakulteit, het in sy boek Wine and Your Well-Being gesê dat “wyn nie net die oudste dieetkundige alkoholiese drank [is] nie maar die belangrikste medisinale middel wat deur die mens se hele geskiedenis heen gebruik is”. En navorsingsdieetkundige Janet McDonald het gesê dat dit lyk asof wyn wat in matige hoeveelhede gedrink word doeltreffend is as ’n ligte kalmeermiddel en aptytwekker, en dat dit blykbaar help om minerale in voedsel wat geëet is te verteer en te absorbeer.
Matigheid en selfbeheersing is nodig
Maar ten spyte van sulke gunstige verwysings na wyn en sterk drank in die Bybel en sekulêre geneeskunde het alkoholmisbruik ontsettende ellende oor ’n groot deel van die mensdom gebring. Maak dit God verantwoordelik vir al die tragedies wat deur alkoholmisbruik veroorsaak is? Inteendeel, in sy Woord, die Bybel, het hy omvattende riglyne oor die gebruik en misbruik van wyn gegee.
Beskou byvoorbeeld die volgende sterk waarskuwing teen die misbruik van hierdie gawe: “Wees nie onder die wynsuipers nie, onder dié wat vraatsugtige vleiseters is nie” (NW). Dit beteken sekerlik nie dat slegs vegetariese geheelonthouers vir God welgevallig is nie, en die teks veroordeel ook nie diegene wat ’n bietjie wyn drink of vleis matig eet nie. Die Bybel se waarskuwing is eerder teen oormatige eet en drink. Dit blyk uit die feit dat ’n ander spreuk verklaar: “By wie is ‘Ag!’; by wie is ‘Wee my!’; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë? By die wat láát opbly by die wyn.”—Spreuke 23:20, 29, 30.
Die Bybelskrywers Petrus en Paulus het matigheid aangeraai deur die vroeë Christene te vermaan om “dronkenskap” te vermy en nie “dronk [te] word van wyn nie”. Hierdie vermaning moes ernstig opgeneem word, want, soos die apostel gewaarsku het: ‘Dronkaards sal nie die koninkryk van God beërwe nie.’ Mense wat uit gewoonte drank misbruik, het met ander woorde nie God se goedkeuring nie en sal nie die ewige lewe beërwe nie.—1 Petrus 4:3; Efesiërs 5:18; 1 Korinthiërs 6:9, 10.
Mense wat hulleself nie kan beheers wanneer hulle alkohol gebruik nie, moet hulle dus geheel en al daarvan onthou. (Vergelyk Mattheüs 5:29, 30.) Buiten fisiese agteruitgang kan ’n toenemende afhanklikheid van alkohol ernstige geestelike skade veroorsaak. Daarom vermaan God ons wyslik teen die oormatige gebruik van alkoholiese drank.
In teenstelling met die standpunt van die prohibisionis vereis die Bybel nie, of meld dit nie eens, dat alle mense hulle heeltemal van wyn of sterk drank moet onthou nie (Deuteronomium 14:26). Die psalmis sê van Jehovah: “Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voortkom, en dat wyn die mens se hart kan bly maak.” God het inderdaad wyn vir ’n goeie en eerbare doel voorsien, wanneer dit matig gebruik word.—Psalm 104:14, 15.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
L’ Absinthe by Edgar Degas, 1877—E.R.L./Sipa Icono