Kan daar werklik ’n regverdige oorlog wees?
DIE Christendom het deur die eeue heen al baie oor die konsep van die “regverdige oorlog” gepraat. Die tydskrif Time het verlede jaar ’n lys van ses basiese vereistes gepubliseer waaraan teoloë meen ’n oorlog moet voldoen om as “regverdig” beskou te kan word. Die geskiedenis bevestig dat nie een van die oorloë wat deur die Christendom ondersteun is aan hierdie vereistes voldoen het nie.
Maar Armageddon, die oorlog wat God belowe het om oor hierdie verdorwe stelsel van dinge te bring, voldoen aan al ses van die teoloë se vereistes.
“Dit moet om ’n ‘regverdige rede’ gevoer word, soos uit selfverdediging of om boosheid te oorwin.” Armageddon sal alle dele van die bose wêreld vernietig waarvan Satan die Duiwel die god is. Daar kan derhalwe van God se ‘Getroue en Waaragtige’ Krygsman by Armageddon, Christus Jesus, gesê word dat ‘Hy in geregtigheid oordeel en oorlog voer’.—Openbaring 19:11; 2 Korinthiërs 4:4.
“Dit moet deur ’n ‘bekwame gesag’ verklaar en aangevoer word.” Armageddon word onmiskenbaar geïdentifiseer as “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”—sy oorlog. Wie kan ’n bekwamer gesag wees as die Skepper van die heelal self?—Openbaring 16:14; sien ook 11:17, 18; vergelyk Jesaja 36:10.
“Dit moet ’n ‘laaste uitweg’ wees as vreedsame pogings misluk het.” Die Skepper het die mensdom nou al duisende jare lank aangemoedig—selfs by hulle gepleit—om hulle ‘met God te versoen’ en om ‘die HERE met vrees te dien’. Omdat die mens hom 6000 jaar lank egter glad nie aan God se vredesinisiatiewe en waarskuwings gesteur het nie, het hy die Skepper met geen ander keuse gelaat as om oorlog te voer nie.—2 Korinthiërs 5:20; Psalm 2:2, 10-12.
“Dit moet ten minste ’n ‘kans’ op sukses hê.” Beskou die teenpartye. Aan die een kant is die versamelde magte van die nasies van hierdie wêreld met al hulle arsenale vol ontsagwekkende wapentuig. Aan die ander kant is die Skepper van die heelal. Een van sy kleiner skeppingswerke, die son, is ’n ontsaglike vuuroond van termonukleêre ontploffings wat so kragtig is dat, al sou die nasies al hulle kernwapens in ’n enkele reuseontploffing laat afgaan, daardie ontploffing soos die sissende geluid van ’n enkele vuurhoutjie sal wees in vergelyking met die son. Jehovah het al die geweldige kragte van die skepping tot sy beskikking om te verseker dat sy oorlog gewisse welslae sal behaal.—Jesaja 40:15; 54:17.
“Dit moet aan die vereistes van ‘proporsionaliteit’ voldoen—die goeie wat bereik word, sal die skade wat aangerig word, oortref.” Dink aan ’n toekoms sonder God se oorlog van Armageddon. Die mensdom is daarop uit om homself te vernietig. Hoe lank sal dit die mens neem, as hy aan homself oorgelaat word, om hierdie planeet te ruïneer en uit te sterf as die laaste van al die spesies wat hy uitgeroei het? Sal dit ’n enkele middag van kernslagting wees? of ’n paar dekades van wêreldwye besoedeling? Hoe dit ook al sy, die mensdom is verlore as God nie in menseaangeleenthede ingryp nie. Beskou daarenteen die goeie dinge wat Armageddon beloof om te bereik—’n vreedsame toekoms vir godvrugtige mense op hierdie planeet met geen besoedeling, geen oorlog, geen armoede, geen siekte of selfs die dood nie. God belowe: “Kyk, Ek maak alles nuut.”—Openbaring 21:3-5.
“Dit moet ‘onderskeidend’ wees en waar moontlik voorkom dat niestrydendes iets oorkom.” Armageddon sal ’n selektiewe oorlog wees. “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.”—Psalm 37:9.
Almal wat hierdie waarlik regverdige oorlog graag wil oorleef, moet deur persoonlike studie van God se Woord leer op watter grondslag hulle die ‘HERE kan verwag’.