Gestremd—En tog in staat om te bestuur
“EK KAN ’n motor bestuur!” Hierdie woorde beteken dalk nie veel vir jou nie, maar dit het ’n diepgaande uitwerking op my gehad. Die 50-jarige man wat dit gesê het, was voor my op die grond. Aangesien hy as ’n baba polio opgedoen het, het sy bene amper glad nie gegroei nie. Hulle was klein en nutteloos en onder sy liggaam gekruis. Hy het nietemin sterk arms en skouers ontwikkel omdat hy jare lank op sy hande rondbeweeg het. En sy algehele gebrek aan selfbejammering het my skaam laat voel—veral die blye trots in sy stem toe hy gepraat het van sy vermoë om te bestuur.
Jy sien, ek het op 28-jarige ouderdom ook polio opgedoen. Ek was verpletter deur die nuus dat ek nie meer sonder krukke sou kon loop nie. Hierdie man se eenvoudige woorde het my gehelp om my depressie te bowe te kom. Ek het by myself gedink: As hy, wat erger gestremd is as ek, bo sy beproewing kon uitstyg, waarom kan ek dit dan nie ook doen nie? Ek het net daar besluit dat ek ook weer ’n motor gaan bestuur!
Nie heeltemal so maklik nie
Dit was bykans 40 jaar gelede. Om as ’n gestremde ’n motor te bestuur, het destyds moed geverg. My aangepaste motor was nogal ’n gedoente! Daar was ’n kruk wat onder my linkerarmholte gepas het en tot by die koppelpedaal gereik het. Ek het by die koppelaar bygekom deur my linkerskouer vorentoe te beweeg. Die versneller was ’n handbeheerde hefboom van ’n vroeë Model T-Ford en die rem was ook ’n hefboom wat met die hand beheer is. Kan jy jou voorstel hoe ek bestuur het? My skouer het vorentoe en agtertoe beweeg en ek het met my linkerhand gestuur sowel as gerem en met my regterhand gestuur, versnel en handseine gegee! (In Australië ry ons aan die linkerkant van die pad.) Destyds het motors nie flikkerligte gehad nie.
Ek is dankbaar dat daardie dae, toe ons met lomp aanhegsels moes bestuur, tot die verlede behoort. Met outomatiese ratkaste en vingerpuntbeheerde flikkerligte is dit vandag baie makliker om te bestuur. Tegnologiese vooruitgang het dit vir talle gestremdes moontlik gemaak om te bestuur. Van die gebruiklike toestelle word in die venster op bladsy 14 beskryf.
My persoonlike aanbevelings
As jy gestremd is en dit oorweeg om ’n motor te laat aanpas sodat jy kan bestuur, sal ek jou sterk aanraai om ’n deskundige op die gebied te raadpleeg. Hy kan reël dat alle toestelle geïnspekteer word om jou as die bestuurder en ook jou passasiers te beveilig. Vanweë die moontlikheid dat ’n ongeluk kan plaasvind, is dit belangrik dat jy omvattende versekering by ’n erkende versekeringsmaatskappy het.
Oor die algemeen sal dit dalk ’n verstandige voorsorgmaatreël wees om ’n metgesel saam te neem wanneer jy gaan ry. ’n Ou spreuk gee hierdie verstandige raad: “Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te tel” (Prediker 4:9, 10). ’n Metgesel kan van groot hulp wees indien jy in ’n ongeluk beland, jou motor onklaar raak of ’n pap band kry. Party gestremde bestuurders hou ’n sellulêre telefoon in die motor. Hulle kan dus, indien nodig, met groter vertroue alleen rondry.
Dit is ook verstandig dat ’n gestremde bestuurder by ’n paddiensvereniging vir motoriste aansluit sodat hy dag of nag vinnige reaksie op ’n oproep om hulp kan kry. Die jaargeld is gewoonlik gering—’n klein bedraggie om te betaal vir die gemoedsrus wat dit kan bied.
Dit spreek vanself dat ons as gestremde bestuurders ons beperkings moet besef en dienooreenkomstig moet bestuur. Ons hoef nie op ’n aggressiewe manier te bestuur om te bewys dat ons net so goed soos ander kan bestuur nie. Talle gestremde bestuurders het eerder waarskuwings op hulle voertuig wat sê: “Gestremde bestuurder—Versigtig”, of iets met soortgelyke bewoording. Dit is bloot ’n waarskuwing dat die gestremde bestuurder dalk versigtig is en dalk ’n bietjie stadiger ry as ander. Dit beteken nie dat ander uit sy pad moet bly nie. Trouens, ek het gevind dat ’n gestremde nie juis langer neem om remme aan te slaan as ’n bestuurder wat nie gestremd is nie, veral nie sedert die koms van moderne toerusting nie.
Om te bestuur of nie—’n verantwoordelike besluit
As jy gestremd is en ’n motor wil bestuur, moet jy die saak in alle erns benader. Raadpleeg eerstens jou dokter en gesinslede. Jy kan ook vrae oorweeg soos: Is dit nodig dat ek bestuur? Kan ek die moontlikheid hanteer dat ek in ’n ongeluk kan beland? Kan ek enige vrese oorkom wat ek moontlik het? Wat is die voordele? Sal my vermoë om te bestuur dit vir my moontlik maak om weer die arbeidsmark te betree? Sal dit my dalk help om meer betrokke te raak by ander mense?
Dit is ook uiters belangrik om te weet wanneer om op te hou. Die dag kan vir enige bestuurder aanbreek, gestremd of nie, wanneer sy oordeel verswak en sy reflekse traer word en dit noodsaaklik word om so ’n besluit te neem. As daardie tyd vir jou sou aanbreek, moet jy onthou dat jy nie net jouself in ag moet neem nie. Wat van diegene wat jy liefhet—jou gesin en ook jou naaste, jou medemens op die pad? Hou jou beperkte bestuursvermoë dalk ’n werklike gevaar vir hom in?
In sommige lande, soos in my vaderland, Australië, kan ’n gestremde bestuurder wat ouer as 65 is sy bestuurderslisensie slegs vir ’n jaar op ’n keer hernieu—en dit nadat hy eers ’n doktersertifikaat gekry het wat sê dat hy geen mediese probleme het wat sy bestuursvermoë nog verder sal belemmer nie.
My motor en my bediening
In hierdie gejaagde eeu het die motor in sommige lande vir Christene feitlik ’n noodsaaklikheid geword. Motors het hulle gehelp om duisende, moontlik miljoene mense met die goeie nuus van God se Koninkryk te bereik (Matteus 24:14). Dit is veral die geval met invalides, soos ek. My voertuig, wat by my persoonlike behoeftes aangepas is, stel my in staat om ander te vertel van my oortuiging dat daar binnekort ’n nuwe wêreld gaan kom wat vry van ongelukke, siektes en alle liggaamsgebreke sal wees (Jesaja 35:5, 6). Sommige gestremdes is selfs in staat om as voltydse evangeliedienaars te dien.
Een van Jehovah se Getuies in Iowa, VSA, wat aan ’n rolstoel gekluister is, doen dit al jare lank. Sy sê dat haar paneelwa vir haar van groot nut is; ’n mede-Getuie het die spesiale kontroles daarvan ontwerp, soos ’n hyser wat haar tot in die paneelwa lig. Wanneer sy binne is, beweeg sy uit die rolstoel tot in die bestuurdersitplek. Sy sê: “Op hierdie manier is ek in staat om uit te gaan en mense gereeld by hulle huise te besoek, en ek kan gewoonlik ’n hele paar Bybelstudies hou.”
Hoewel ek nie voltyds in die bediening kan werk nie, is my aangepaste motor nietemin in my geval ’n hulpmiddel van onskatbare waarde in die predikingswerk. Ek het jare lank op krukke van deur tot deur gegaan, maar dit het mettertyd ’n nadelige uitwerking op my arms en skouers gehad. Ek moes dus aan ’n minder vermoeiende manier dink. Of ek nou in die dorp of op die platteland werk, ek kies huise met opritte wat my in staat stel om tot naby die deur te ry.
Met my eerste besoek klim ek gewoonlik uit die motor, loop op krukke na die voordeur en verduidelik kortliks die doel van my besoek. As die huisbewoner ’n mate van belangstelling in die boodskap toon, probeer ek ’n vriendskap aanknoop sodat ek met daaropvolgende besoeke die vrymoedigheid sal hê om my teenwoordigheid aan te kondig deur die motor se toeter te blaas—dan is dit hulle beurt om uit te kom na my toe.
Hierdie benadering werk goed. Baie huisbewoners voel alles behalwe verontrief en stem in om ’n paar minute lank saam met my in die motor te sit en gesels, beskerm teen die elemente. Ek het altyd ’n aantal huisbewoners wat my besoek verwelkom en daarna uitsien om ’n opbouende Bybelboodskap te bespreek en die jongste Wagtoring en Ontwaak! te ontvang.
Elke gestremde persoon se situasie is natuurlik anders. Maar om ’n motor te bestuur, sal dalk vir jou dieselfde voordele meebring as wat ek geniet—hernieude selfvertroue, onafhanklikheid, die geleentheid om ander te help en die groot vreugde om te kan sê: “Ek gaan ’n entjie ry!”—Soos vertel deur Cecil W. Bruhn.
[Venster op bladsy 14]
Hoe motors vir die gestremdes aangepas word
DIE meeste gestremde bestuurders gebruik hulle hande om te doen wat hulle voete nie kan doen nie. Een soort handkontrole is veral gerieflik. Dit is ’n hefboom wat netjies onder die stuurwiel pas en by die stuurkolom uitsteek. ’n Staalstang verbind hierdie hefboom met die rempedaal. Om te rem, word die hefboom vorentoe gedruk.
’n Kabel is vanaf hierdie selfde eenheid aan die versneller geanker. Die hefboom kan in twee rigtings beweeg: vorentoe om te rem en opwaarts om te versnel. Dit vereis nie veel krag nie. ’n Besliste voordeel van hierdie tipe handkontrole is dat dit ander glad nie verhinder om die voertuig op die gewone manier te bestuur nie. Daarbenewens kan die eenheid maklik in ander motors aangebring word.
Vir diegene met minder krag in hulle hande is daar ’n gewysigde handkontrole beskikbaar. Dit werk op ’n soortgelyke manier; dit word vorentoe beweeg om te rem, maar afgedruk om te versnel sodat die blote gewig van die hand die versneller aktiveer.
Wat van rolstoele?
Die gestremde bestuurder kom voor nog ’n probleem te staan: Wat moet hy met die rolstoel doen? Talle jonger bestuurders koop ’n tweedeur-koepee sodat hulle die rolstoel in die ruimte agter die bestuurder se sitplek kan laai. Dit verg natuurlik heelwat krag in die arms en skouers. Diegene wat nie sterk genoeg is nie, moet vir ’n vriendelike verbyganger wag om hulle rolstoel in die motor te laai.
Een alternatief is die rolstoelhyser, ’n groot veselglashouer wat op die motor se dak aangebring word. Met die druk van ’n knoppie lig ’n klein motortjie die houer stadig aan die een kant op sodat die rolstoel met katrolle daarin opgetrek kan word. Sodra dit gelaai is, lê die houer weer plat. Een van hierdie hysers wat in Australië beskikbaar is, kan gerieflik met die motor se sigaretaansteker verbind word.
’n Nadeel van die rolstoelhyser is dat dit die motor se windweerstand vergroot, wat die brandstofverbruik met 15 tot 20 persent verhoog. Daarbenewens kan die koste van die toestel self genoeg wees om jou af te skrik. Nogtans beskou baie mense laaitoestelle steeds as die moeite werd vir die onafhanklikheid wat dit hulle bied. Een gestremde vrou het gesê: “Nou kan ek oral gaan sonder dat iemand saam met my is of by my bestemming moet wees om die rolstoel te help aflaai.”
[Prent op bladsy 13]
Ek kan vanuit my motor getuig