Toenemende gegriefdheid oor belasting?
“As ek swoeg, word dit van my af weggeneem.”—’n Babiloniese spreekwoord, omstreeks 2300 v.G.J.
“In hierdie wêreld is ’n mens van net twee dinge seker: die dood en belasting.”—Die Amerikaanse staatsman Benjamin Franklin, 1789.
REUBEN is ’n verkoopsman. Elke jaar verdwyn amper ’n derde van sy swaar verdiende inkomste weens belasting. “Ek sien nie waarheen al hierdie geld gaan nie”, kla hy. “Met so baie staatsbesnoeiings is daar nou minder dienste as ooit tevore.”
Of ons nou daarvan hou of nie, belasting is deel van die lewe. Die skrywer Charles Adams sê: “Regerings belas inkomste al van die begin van die beskawing af op baie maniere.” Belasting veroorsaak dikwels gegriefdheid en het soms opstande aangeblaas. Die Britte van die ou tyd het teen die Romeine geveg, want hulle het gesê: “Hoeveel beter is dit tog om te sneuwel as om met hoofbelasting saam te leef!” In Frankryk het haat vir die gabel, ’n belasting op sout, tot die uitbreek van die Franse Revolusie bygedra, waartydens belastinggaarders onthoof is. Opstande as gevolg van belasting het ook ’n rol in die Verenigde State se onafhanklikheidsoorlog teen Engeland gespeel.
Dit is derhalwe nie verbasend dat gegriefdheid oor belasting vandag nog smeul nie. Deskundiges sê dat belastingstelsels in ontwikkelende lande dikwels “ondoeltreffend” en “onregverdig” is. Volgens een navorser was daar ’n arm Afrikaland met “meer as 300 plaaslike belastings, wat selfs met die bekwaamste personeel nie geadministreer kon word nie. Behoorlike invorderings- en beheerstelsels bestaan nie of word nie toegepas nie, . . . en dit skep geleenthede vir misbruik.” Volgens BBC News het plaaslike amptenare in een Asiatiese land “dosyne . . . onwettige heffings opgelê—van ’n heffing op die kweek van piesangs tot belasting op die slag van varke—om die plaaslike skatkis aan te vul of om hulle eie sakke vol te maak”.
Die gaping tussen die rykes en die armes stook die vure van gegriefdheid. Die VN-publikasie Africa Recovery sê: “Een van die talle ekonomiese verskille tussen ontwikkelde en ontwikkelende lande is dat ontwikkelde lande boere subsidieer terwyl ontwikkelende lande boere belas. . . . Studies wat deur die Wêreldbank gedoen is, toon dat Amerikaanse subsidies alleen die jaarlikse inkomste wat Wes-Afrika weens die uitvoer van katoen verkry, met [R1,84 miljard] per jaar verminder.” Derhalwe sal boere in ontwikkelende lande moontlik gegrief voel wanneer hulle regering hulle reeds karige inkomste belas. ’n Boer in een Asiatiese land sê: “Elke keer wanneer [staatsamptenare] hiernatoe gekom het, het ons geweet dat hulle geld gaan vra.”
Daar was onlangs soortgelyke gegriefdheid in Suid-Afrika toe die regering grondbelasting aan boere opgelê het. Die boere het gedreig om regstappe te doen. Die belasting “sal bankrotskap onder boere en erger werkloosheid onder plaaswerkers veroorsaak”, het ’n woordvoerder vir die boere beweer. Soms veroorsaak gegriefdheid oor belasting nog steeds geweld. BBC News berig: “Twee [Asiatiese] boere is verlede jaar dood toe die polisie ’n dorpie bestorm het waar kleinboere teen die buitensporige belasting betoog het.”
Dit is egter nie net die armes wat nie belasting wil betaal nie. ’n Opname in Suid-Afrika het getoon dat talle ryk belastingbetalers “nie bereid is om bykomende belasting te betaal nie—al beteken dit ook dat die regering nie die dienste wat vir hulle belangrik is, sal kan verbeter nie”. Wêreldberoemde mense in die musiek-, rolprent-, sport- en politieke wêreld het in die kollig gekom weens belastingontduiking. Die boek The Decline (and Fall?) of the Income Tax sê: “Ongelukkig was ons hoogste staatsamptenare, ons presidente, ook glad nie goeie rolmodelle om Jan Alleman aan te spoor om die belastingwet te gehoorsaam nie.”
Dalk voel jy eweneens dat belasting te hoog, onregverdig en oorweldigend is. Hoe moet jy dan die betaling van belasting beskou? Het belasting werklik enige nut? Waarom is belastingstelsels dikwels so ingewikkeld en skynbaar onregverdig? Die volgende artikels sal hierdie vrae ondersoek.
[Prent op bladsy 4]
In ontwikkelende lande dra die armes soms ’n onregverdige deel van die belastinglas
[Erkenning]
Godo-Foto