Belasting—Die prys vir ’n “beskaafde samelewing”?
“Belasting is wat ons vir ’n beskaafde samelewing betaal.”—Inskripsie op die gebou van die Binnelandse Inkomstediens, Washington, DC.
REGERINGS meen dat belasting ’n noodsaaklike euwel is—die prys vir ’n “beskaafde samelewing”. Of jy met daardie mening saamstem of nie, dit is ’n onbetwisbare feit dat hierdie prys gewoonlik hoog is.
Daar is twee soorte belasting: direkte en indirekte belasting. Inkomstebelasting, maatskappybelasting en eiendomsbelasting is voorbeelde van direkte belasting. In hierdie kategorie veroorsaak inkomstebelasting waarskynlik die meeste gegriefdheid. Dit geld veral in lande waar inkomstebelasting progressief is—hoe meer jy verdien, hoe meer belasting betaal jy. Kritici redeneer dat progressiewe belasting harde werk en sukses penaliseer.
Die OECD Observer, ’n publikasie van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling, herinner ons daaraan dat “diegene wat ’n inkomste verdien”, nie net belasting aan sentrale regerings betaal nie, maar “moontlik ook nog plaaslike, streeks-, provinsiale of staatsinkomstebelasting moet betaal. Dit is die geval in België, Japan, Kanada, Korea, die Nordiese lande, Spanje, Switserland, die Verenigde State en Ysland.”
Indirekte belasting sluit verkoopsbelasting, belasting op drank en sigarette sowel as doeaneregte in. Hierdie belasting is nie so opvallend soos direkte belasting nie, maar kan mense nog steeds ’n ekonomiese knou toedien, veral die armes. In Indië se tydskrif Frontline sê skrywer Jayali Ghosh dat dit ’n mite is dat die middelklas- en ryk belastingbetalers die grootste deel van Indië se belasting betaal. Ghosh sê: “Meer as 95 persent van die totale belasting wat die staatsregerings invorder, bestaan uit indirekte belasting. . . . Die armer mense betaal waarskynlik ’n groter deel van hulle inkomste aan belasting uit as die rykes.” Hoë belasting op artikels vir massaverbruik, soos seep en voedsel, veroorsaak blykbaar hierdie ongelykheid.
Wat doen die regerings dan met al die geld wat hulle invorder?
Hoe die geld gebruik word
Dit kos regerings natuurlik ontsaglik baie om te funksioneer en die nodige dienste te verskaf. Byvoorbeeld, in Frankryk werk 1 uit 4 mense in die openbare sektor. Dit sluit onderwysers, poskantoorwerkers, museum- en hospitaalpersoneel, die polisie en ander regeringswerkers in. Belasting is nodig om hulle salarisse te betaal. Belasting voorsien ook paaie, skole en hospitale en help om vir dienste soos vullisverwydering en posaflewering te betaal.
Die onderhoud van die krygsmag is nog ’n belangrike rede vir belasting. Inkomstebelasting is aanvanklik van welgestelde Britte ingevorder om die oorlog teen die Franse in 1799 te finansier. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Britse regering egter begin vereis dat die werkerstand ook hulle deel van inkomstebelasting betaal. Vandag verg dit nog steeds groot somme geld om ’n land se krygsmag aan die gang te hou, selfs in vredestye. Stockholm se Internasionale Vredesnavorsingsinstituut het geskat dat die wêreld se militêre uitgawes in 2000 ongeveer 5,9 biljoen rand beloop het.
Maatskaplike manipulasie
Belasting word ook gebruik vir “maatskaplike manipulasie”—’n middel om sekere vorme van gedrag aan te moedig of te ontmoedig. Byvoorbeeld, belasting op alkohol is veronderstel om oormatige drinkery te bekamp. In baie lande maak belasting dus ongeveer 35 persent van die kleinhandelprys van bier uit.
Tabak word ook swaar belas. In Suid-Afrika maak belasting 45 tot 50 persent van die koste van ’n pakkie sigarette uit. Maar ’n regering hef sulke belasting nie altyd uit suiwer altruïstiese beweegredes nie. Soos skrywer Kenneth Warner in die tydskrif Foreign Policy sê, is tabak “’n sterk ekonomiese krag wat jaarliks honderdmiljarde dollars in verkope en nog miljarde in belasting lewer”.
Vroeg in die 20ste eeu was daar ’n merkwaardige voorbeeld van “maatskaplike manipulasie”. Amerikaanse wetgewers het probeer verhoed dat ryk familiedinastieë ontstaan. Hoe? Deur boedelbelasting in te stel. Wanneer ’n ryk man sterf, word ’n groot gedeelte van sy opgehoopte rykdom deur belasting verslind. Voorstanders hiervan redeneer dat dié belasting “geldmiddele uit familiale, aristokratiese kanale na burgerlike, demokratiese kanale laat vloei”. Dit is dalk so, maar ryk belastingbetalers het ’n menigte strategieë ontwikkel om die byt uit hierdie belasting te neem.
Belasting word steeds gebruik om verskeie maatskaplike kwessies te bevorder, soos omgewingsbewaring. The Environmental Magazine berig: “Nege Wes-Europese lande het onlangs omgewingsbelastingafwentelings ingestel, hoofsaaklik met die doel om lugbesoedeling te verminder.” Progressiewe inkomstebelasting, wat vroeër genoem is, is nog ’n poging tot maatskaplike manipulasie; die idee is om die gaping tussen die rykes en die armes kleiner te maak. Sommige regerings bied ook belastingverligting aan diegene wat donasies aan liefdadigheidsorganisasies maak of aan egpare wat kinders het.
Waarom so ingewikkeld?
Wanneer ’n nuwe vorm van belasting voorgestel word, probeer wetgewers om elke moontlike skuiwergat toe te stop. Onthou: Ontsaglike somme geld is op die spel. Die gevolg? Belastingwette is dikwels ingewikkeld en baie tegnies. ’n Artikel in die tydskrif Time verduidelik dat baie van die komplikasies met betrekking tot die Amerikaanse belastingwette “te doen het met die definisie van inkomste”, dit wil sê om vas te stel presies wat belasbaar is. Verdere komplikasies word veroorsaak deur die menigte reëls oor “verskillende aftrekkings en vrystellings”. Dit is egter nie net die Verenigde State wat ingewikkelde belastingwette het nie. ’n Onlangse uitgawe van die Verenigde Koninkryk se belastingwetgewing het tien bundels van altesaam 9 521 bladsye gevul.
Die Departement van Belastingsbeleidnavorsing by die Universiteit van Michigan berig: “Amerikaanse belastingbetalers bestee elke jaar meer as driemiljard uur aan hulle inkomstebelastingopgawes. . . . Die tyd en geld wat Amerikaanse belastingbetalers bestee [om belastingopgawes in te vul], beloop elke jaar tot $100 miljard [R740 miljard], of ongeveer 10% van die belasting wat ingevorder word. ’n Groot gedeelte van hierdie koste om die inkomstebelastingwet na te kom, is omdat dit so ongelooflik ingewikkeld is.” Reuben, wat aan die begin van die eerste artikel in hierdie reeks genoem word, sê: “Ek het voorheen my eie belasting probeer doen, maar dit was tydrowend, en ek het dikwels gevoel dat ek meer betaal as wat nodig is. Daarom betaal ek nou ’n rekenmeester om my belasting te doen.”—Sien die venster “Die nakoming van belastingwette”, op bladsy 8.
Betalers, ontwykers en ontduikers
Die meeste mense sal ten minste erken, al is dit teësinnig, dat belasting sekere voordele vir hulle gemeenskap inhou. Die hoof van die Britse Binnelandse Inkomstekantoor het eenkeer verduidelik: “Niemand hou daarvan om inkomstebelasting te betaal nie, maar min mense sal sê dat ons beter af sou wees daarsonder.” Sommige skat dat tot 90 persent van alle belastingpligtiges in die Verenigde State die belastingwette nakom. Een belastingdeskundige erken: “Wanneer belastingwette nie nagekom word nie, is dit in die meeste gevalle omdat die wette en prosedures ingewikkeld is en nie soseer dat belasting opsetlik ontduik word nie.”
Tog vind baie mense maniere om die betaling van sekere belastings te ontwyk. Kyk byvoorbeeld na wat ’n artikel in die U.S.News & World Report oor maatskappybelasting gesê het: “Baie firmas vermy wettiglik ’n groot deel van die belasting wat hulle moet betaal—en soms alles—deur middel van belastingtoegewings en rekenkundige maneuvers.” Die artikel gaan voort en gee ’n voorbeeld van ’n slim set: “’n Amerikaanse korporasie stig ’n maatskappy in ’n buitelandse belastingtoevlugsoord. Dit maak dan die Amerikaanse onderneming ’n filiaal van die buitelandse maatskappy.” Dié maatskappy hoef dan nie Amerikaanse belasting—wat tot 35 persent kan wees—te betaal nie, hoewel die “hoofkwartier moontlik niks meer as ’n liaseerkabinet en ’n posbus is nie”.
Dan is daar blatante belastingontduiking. In een Europese land word belastingontduiking volgens berig as ’n “nasionale sport” beskou. In die Verenigde State het ’n opname getoon dat net 58 persent van mans tussen die ouderdomme van 25 en 29 glo dat dit verkeerd is om nie alle inkomste te verklaar nie. Die samestellers van die opname erken: “Die verslag sê nie veel vir die etiek en sedes van ons gemeenskap nie.” In Mexiko is die vlak van belastingontduiking volgens skatting ongeveer 35 persent.
Maar oor die algemeen erken mense dat belasting nodig is en gee hulle nie om om hulle regmatige deel te betaal nie. Daar steek egter waarheid in die bekende woorde wat aan keiser Tiberius toegeskryf word: “’n Goeie herder moet sy skape skeer, nie afslag nie.” Gestel jy voel dat jy veronreg word deur ’n stelsel wat swaar, onregverdig en te ingewikkeld lyk. Hoe moet jy dan die betaling van belasting beskou?
[Venster op bladsy 7]
Dink voor jy trek!
Belastingstelsels verskil van land tot land. Trouens, plaaslike inkomstebelasting kan in dieselfde land grootliks verskil. Is dit die moeite werd om dit te oorweeg om na ’n plek te trek waar die belasting laer is? Miskien is dit, maar jy moet dink voor jy trek.
’n Artikel in die OECD Observer herinner lesers byvoorbeeld daaraan dat die basiese inkomstebelastingkoers nie al is wat by die saak betrokke is nie. Dit sê: “Die uiteindelike belastingrekening van individuele belastingbetalers weerspieël ook die impak van verskillende aftrekkings.” Sommige lande het byvoorbeeld ’n lae inkomstebelastingkoers. Maar hulle bied “min wanneer dit by basiese verligting, aftrekkings en vrystellings kom”. Dáár kan ’n mens dus op die ou end meer betaal as in lande met hoër belastingkoerse wat meer belastingvrystellings en -aftrekkings bied.
In die Verenigde State oorweeg party mense dit om na state te trek wat nie staatsinkomstebelasting het nie. Maar spaar dit ’n mens noodwendig geld? Nie volgens Kiplinger’s Personal Finance nie, wat sê: “Ons navorsing toon dat etlike van die state sonder inkomstebelasting die verskil uitwis deur middel van hoër koerse wanneer dit by eiendomsbelasting, verkoopsbelasting en ander belastingkategorieë kom.”
[Venster op bladsy 8]
Die nakoming van belastingwette
Vir baie van ons is die betaling van belasting stresvol, ja, ’n ware las. Ontwaak! het dus ’n belastingdeskundige om ’n paar praktiese voorstelle gevra.
“Kry goeie raad. Dit is noodsaaklik omdat die belastingwet ingewikkeld kan wees, en onkunde aangaande die wet word baie selde aanvaar as ’n grondige rede om nie aan die eise daarvan te voldoen nie. Hoewel ’n belastingbetaler dalk dink dat belastingamptenare die vyand is, kan hulle dikwels akkurate en eenvoudige instruksies oor belastingsake gee. Belastingowerhede verkies dat jy jou belastingopgawe die eerste keer reg invul. Hulle wil jou nie vervolg omdat jy die wet nie nakom nie.
“As jou finansies ingewikkeld is, moet jy ’n belastingkonsultant raadpleeg. Maar pasop! Terwyl daar baie belastingkonsultante is wat jou belange op die hart dra, is daar baie wat dit nie doen nie. Vra ’n betroubare vriend of sakekennis om iemand aan te beveel en maak seker dat die konsultant ’n goeie reputasie het.
“Moenie sloer nie. Boetes kan hoog wees as jy jou opgawe laat indien.
“Hou jou papierwerk in goeie orde. Ongeag watter boekhoustelsel jy gebruik, hou dit op datum. Dan sal jy minder werk hoef te doen wanneer jy jou opgawes invul. Jy sal ook in ’n baie beter posisie wees as jou rekeninge geouditeer word.
“Wees eerlik. Jy kom miskien in die versoeking om te kul of om die reëls uit te lê soos dit jou pas. Maar belastingamptenare het talle vernuftige maniere om valse eise te identifiseer. Dit is altyd die beste om eerlik te wees.
“Wees betrokke. As ’n belastingkonsultant verkeerde inligting indien, is dit nog steeds jou verantwoordelikheid. Maak dus seker dat jou verteenwoordiger ooreenkomstig jou wense optree.”
[Prent op bladsy 7]
In baie lande word tabak en alkohol swaar belas
[Prente op bladsy 8, 9]
Belasting betaal vir baie van die dienste wat ons moontlik as vanselfsprekend aanvaar