Ek het God se beskouing van bloed aanvaar
’n Dokter vertel sy verhaal
EK WAS besig om die resultate van ’n nadoodse ondersoek vir ’n groep dokters in die hospitaalouditorium op te som. Die pasiënt wat gesterf het, het ’n kwaadaardige gewas gehad, en ek het gesê: “Ons kan die gevolgtrekking maak dat die regstreekse oorsaak van hierdie pasiënt se dood hemolise [die vernietiging van rooibloedselle] en akute nierversaking was, wat deur ’n groot bloedoortapping veroorsaak is.”
’n Professor het opgestaan en woedend geskreeu: “Sê jy dat ons die verkeerde bloed vir die oortapping gebruik het?” Ek het geantwoord: “Dit is nie wat ek bedoel het nie.” Ek het vir hulle skyfies van klein deeltjies van die pasiënt se nier gewys en bygevoeg: “Ons kan sien dat talle rooibloedselle in die nier afgebreek is, en daarom weet ons dat dit akute nierversaking veroorsaak het.”a Die atmosfeer het gespanne geword en my mond was droog. Al was ek ’n jong dokter en hy ’n professor, het ek gevoel dat ek nie kon toegee nie.
Toe hierdie insident plaasgevind het, was ek nog nie een van Jehovah se Getuies nie. Ek is in 1943 in Sendai, ’n stad in die noorde van Japan, gebore. Aangesien my pa ’n patoloog en ’n psigiater was, het ek besluit om geneeskunde te studeer. In 1970, in my tweede jaar as mediese student, is ek met ’n jong vrou genaamd Masoeko getroud.
My studie van patologie
Masoeko het gewerk om ons te help onderhou terwyl ek my studies voltooi het. Die mediese wetenskap het my gefassineer. En die wonderlike manier waarop die menseliggaam gemaak is, het my met ontsag vervul! Nogtans het ek nooit aan die bestaan van ’n Skepper gedink nie. Ek het gedink dat mediese navorsing my lewe betekenis kon gee. Nadat ek ’n dokter geword het, het ek dus besluit om my mediese studies voort te sit deur patologie—die studie van die aard, oorsake en gevolge van siektes—te bestudeer.
Terwyl ek nadoodse ondersoeke gedoen het op pasiënte wat aan kanker gesterf het, het ek aan die doeltreffendheid van bloedoortappings begin twyfel. Pasiënte met gevorderde kanker kan as gevolg van bloeding bloedarmoedig wees. Omdat chemoterapie bloedarmoede vererger, skryf dokters dikwels bloedoortappings voor. Maar ek het begin vermoed dat bloedoortappings eenvoudig die kanker sou laat versprei. Hoe dit ook al sy, vandag is dit bekend dat bloedoortappings die immuunstelsel onderdruk, wat die moontlikheid kan vergroot dat gewasse weer sal groei en wat die oorlewingsyfer van kankerpasiënte kan verlaag.b
In 1975 het ek die geval teëgekom wat aan die begin genoem is. Die professor het die pasiënt behandel en was ’n spesialis op die gebied van hematologie. Dit is dus geen wonder dat hy woedend was toe hy my hoor sê dat ’n bloedoortapping die dood van die pasiënt veroorsaak het nie! Maar ek het my aanbieding voortgesit, en hy het geleidelik bedaar.
Geen siekte of dood nie
Ongeveer dieselfde tyd het ’n bejaarde dame wat een van Jehovah se Getuies was, my vrou besoek. Sy het die woord “Jehovah” in haar aanbieding gebruik, en my vrou het gevra wat dit beteken. Die Getuie het geantwoord: “Jehovah is die naam van die ware God.” Masoeko lees die Bybel al vandat sy ’n kind is, maar die Bybel wat sy gebruik het, het God se naam met “HERE” vervang. Nou het sy besef dat God ’n persoon met ’n naam is!
Masoeko het onmiddellik begin om die Bybel saam met die bejaarde Getuie te studeer. Toe ek omtrent 1:00 vm. van die hospitaal af gekom het, het my vrou opgewonde vir my gesê: “Die Bybel sê dat siekte en die dood weggeneem gaan word!” Ek het geantwoord: “Dit sal wonderlik wees!” Sy het verder gesê: “Die nuwe wêreld is so naby; ek wil nie hê jy moet jou tyd mors nie.” Omdat dit vir my geklink het asof sy nie meer wou hê dat ek ’n dokter moes wees nie, het ek kwaad geword, en ons verhouding het effens gespanne geword.
My vrou het egter nie moed opgegee met my nie. Sy het biddend na gepaste tekste gesoek en dit vir my gewys. Veral die woorde in Prediker 2:22, 23 het my hart geraak: “Wat kry ’n mens vir al sy harde werk en vir die strewe van sy hart waarmee hy hard werk onder die son? . . . Gedurende die nag gaan sy hart eenvoudig nie lê nie. Ook dit is blote nietigheid.” Dit was van toepassing op wat ek besig was om te doen—om my dag en nag aan die mediese wetenskap te wy sonder om ware bevrediging te vind.
Een Sondagoggend in Julie 1975, nadat my vrou na die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gegaan het, het ek skielik besluit om ook te gaan. My vrou was baie verbaas om my daar te sien, en die Getuies het my hartlik verwelkom. Van toe af het ek elke Sondag die vergadering bygewoon. Omtrent ’n maand later het ’n Getuie ’n Bybelstudie met my begin hou. Drie maande nadat Jehovah se Getuies my vrou die eerste keer besoek het, is sy gedoop.
Ek aanvaar God se beskouing van bloed
Ek het gou geleer dat die Bybel vir Christene sê om ‘hulle van bloed te onthou’ (Handelinge 15:28, 29; Genesis 9:4). Aangesien ek reeds aan die doeltreffendheid van bloedoortappings getwyfel het, was dit nie vir my moeilik om God se beskouing van bloed te aanvaar nie.c Ek het gedink: ‘As daar ’n Skepper is en dít is wat hy sê, dan moet dit reg wees.’
Ek het ook geleer dat Adamitiese sonde die oorsaak van siekte en die dood is (Romeine 5:12). Destyds het ek navorsing oor arteriosklerose gedoen. Namate ons ouer word, verhard en vernou ons slagare, wat aanleiding gee tot onder meer hartkwaal, serebrovaskulêre siektes en niersiekte. Dit het sin gemaak dat ons oorgeërfde onvolmaaktheid die oorsaak is. Hierna het my ywer vir die geneeskunde begin afneem. Net Jehovah God kan siekte en die dood wegneem!
In Maart 1976, sewe maande nadat ek met my Bybelstudie begin het, het ek opgehou om aan die universiteitshospitaal te studeer. Ek was bang dat ek nooit weer as ’n dokter sou kon werk nie, maar ek het by ’n ander hospitaal werk gekry. In Mei 1976 is ek gedoop. Ek het besluit dat die beste manier waarop ek my lewe kon gebruik, sou wees om as ’n voltydse evangeliedienaar, of pionier, te dien, wat ek toe in Julie 1977 begin doen het.
Ek verdedig God se beskouing van bloed
In November 1979 het ek en Masoeko na ’n gemeente in Tsjiba-prefektuur verhuis waar daar meer predikers nodig was. Ek het ’n deeltydse pos by ’n hospitaal gekry. Die eerste dag by die werk het ’n groep chirurge om my kom staan. Hulle het my bly vra: “Wat sal jy, as een van Jehovah se Getuies, doen as ’n pasiënt ingebring word wat ’n bloedoortapping nodig het?”
Ek het beleefd verduidelik dat ek sou bly by wat God oor bloed sê. Ek het verduidelik dat daar middels is wat ’n mens in die plek van bloedoortappings kan gebruik en dat ek my bes sal doen om my pasiënte te help. Nadat ons omtrent ’n uur lank gepraat het, het die hoof van chirurgie geantwoord: “Ek verstaan. Maar as ’n pasiënt ingebring word wat baie bloed verloor het, sal óns die situasie hanteer.” Die hoof van chirurgie was bekend daarvoor dat hy ’n moeilike mens is, maar ná daardie bespreking het ons ’n goeie verhouding gehad, en hy het altyd my oortuiging gerespekteer.
My respek vir bloed word op die proef gestel
Terwyl ons in Tsjiba gedien het, was Jehovah se Getuies in Japan besig om vir hulle ’n nuwe hoofkwartier in Ebina te bou. Ek en my vrou het een keer per week daarheen gery om om te sien na die gesondheid van die Getuievrywilligers wat hierdie fasiliteit, wat Bethel genoem word, gebou het. Ná ’n paar maande is ons genooi om voltyds by Bethel in Ebina te dien. Ons het dus in Maart 1981 in die tydelike geboue ingetrek waar meer as 500 vrywillige werkers gehuisves is. In die oggend het ek gehelp om die bad en toilette op die bouperseel skoon te maak en in die middag het ek mediese ondersoeke gedoen.
Een van my pasiënte was Ilma Iszlaub, wat in 1949 as ’n sendeling van Australië na Japan gekom het. Sy het leukemie gehad, en haar dokters het vir haar gesê dat sy net ’n paar maande het om te lewe. Ilma het geweier om bloedoortappings te aanvaar om haar lewe te verleng en het besluit om na Bethel terug te keer om haar oorblywende dae daar deur te bring. Destyds was medisyne wat die vervaardiging van rooibloedselle stimuleer, soos eritropoiëtien, nog nie beskikbaar nie. Gevolglik was haar hemoglobien soms net 3 of 4 gram! (Normaal is 12 tot 15). Maar ek het gedoen wat ek kon om haar te behandel. Ilma het aangehou om haar onwrikbare geloof in God se Woord te toon tot en met haar dood in Januarie 1988—sowat sewe jaar later!
Deur die jare heen het ’n aantal van die vrywilligers by Japan se takkantoor van Jehovah se Getuies operasies nodig gehad. Dit is prysenswaardig dat dokters by nabygeleë hospitale hulle samewerking gegee het deur sonder bloed te opereer. Ek is al dikwels in die operasiesaal ingenooi om die prosedures waar te neem, en soms het ek selfs met die operasie gehelp. Ek is dankbaar teenoor daardie dokters wat Jehovah se Getuies se standpunt oor bloed respekteer. Terwyl ek saam met hulle gewerk het, het ek baie geleenthede gehad om hulle van my oortuiging te vertel. Een van die dokters het onlangs ’n gedoopte Getuie geword.
Dit is interessant dat dokters se pogings om Jehovah se Getuies sonder bloed te behandel betekenisvolle bydraes tot die geneeskunde gelewer het. Bloedlose chirurgie het bewys gelewer van die voordele wat dit inhou om bloedoortappings te vermy. Studies toon dat die pasiënte vinniger en met minder probleme ná ’n operasie herstel.
Ek leer nog steeds by die grootste Geneesheer
Ek probeer tred hou met die jongste ontwikkelinge in die geneeskunde. Maar ek leer ook aanhoudend by Jehovah, die grootste Geneesheer. Hy sien nie net wat op die oppervlak is nie, maar sien ons elkeen as ’n hele persoon (1 Samuel 16:7). As ’n dokter probeer ek altyd die hele persoon behandel en konsentreer ek nie net op die pasiënt se siekte nie. Dit stel my in staat om ’n pasiënt van beter mediese sorg te voorsien.
Ek dien nog by Bethel, en om ander te help om van Jehovah te leer—insluitende sy beskouing van bloed—is nog steeds een van my grootste vreugdes in die lewe. My bede is dat die grootste Geneesheer, Jehovah God, binnekort ’n einde aan alle siekte en die dood sal maak.—Soos vertel deur Jasoesji Aizawa.
[Voetnote]
a Volgens die handboek Modern Blood Banking and Transfusion Practices deur dr. Denise M. Harmening kan “vertraagde hemolitiese oortappingsreaksie [voorkom] by ’n pasiënt wat voorheen deur ’n oortapping, swangerskap of oorplanting gesensitiseer is”. In sulke gevalle kan die teenliggaampies wat ’n pasiënt ongunstig op ’n oortapping laat reageer, “nie opgespoor word met standaardtoetse wat voor ’n oortapping gedoen word nie”. Volgens Dailey’s Notes on Blood kan dit tot hemolise “aanleiding gee, selfs wanneer net ’n klein hoeveelheid onverenigbare . . . bloed toegedien word. Wanneer nierversaking wel plaasvind, word die pasiënt stadigaan vergiftig omdat die niere nie onsuiwerhede uit die bloed kan verwyder nie.”
b Die Journal of Clinical Oncology, Augustus 1988, het gesê: “Pasiënte wat perioperatiewe bloedoortappings ontvang, het ’n baie slegter prognose as pasiënte wat kankeroperasies ondergaan sonder perioperatiewe oortappings.”
c Sien die brosjure Hoe kan bloed jou lewe red?, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir meer inligting oor wat die Bybel omtrent bloed leer.
[Lokteks op bladsy 14]
“Ek het verduidelik dat daar middels is wat ’n mens in die plek van bloedoortappings kan gebruik en dat ek my bes sal doen om my pasiënte te help”
[Lokteks op bladsy 15]
“Bloedlose chirurgie het bewys gelewer van die voordele wat dit inhou om bloedoortappings te vermy”
[Prente op bladsy 15]
Bo: Ek hou ’n Bybeltoespraak
Regs: Saam met my vrou, Masoeko, vandag