Bloedoortappings—Hoe veilig?
Voordat ’n denkende mens hom aan enige ernstige mediese prosedure onderwerp, sal hy eers vasstel wat die moontlike voordele en gevare is. Wat van bloedoortappings? Dit is tans ’n vername behandelingsmetode in die geneeskunde. Baie geneeshere wat opreg belangstel in hulle pasiënte sal moontlik sonder veel aarseling bloed gee. Dit is al die gawe van die lewe genoem.
Miljoene het al bloed geskenk of dit aanvaar. Gedurende 1986-87 het Kanada 1,3 miljoen skenkers in ’n bevolking van 25 miljoen gehad. “[In] die jongste jaar waarvoor syfers beskikbaar is, is tussen 12 miljoen en 14 miljoen eenhede bloed in oortappings in die Verenigde State alleen gebruik.”—The New York Times, 18 Februarie 1990.
“Bloed het nog altyd ’n ‘magiese’ eienskap besit”, merk dr. Louise J. Keating op. “Gedurende die eerste 46 jaar het sowel geneeshere as die publiek gedink dat die bloedvoorraad veiliger is as wat dit werklik was” (Cleveland Clinic Journal of Medicine, Mei 1989). Wat was die situasie toe, en wat is dit nou?
Selfs 30 jaar gelede is patoloë en bloedbankpersoneel meegedeel: “Bloed is dinamiet! Dit kan baie goeie resultate behaal of groot skade aanrig. Daar is net soveel sterfgevalle weens bloedoortappings as weens eternarkose of appendiks-uitsnydings. Daar is glo ongeveer een sterfgeval uit 1 000 tot 3 000 of moontlik 5 000 oortappings. In die Londen-omgewing is een sterfgeval aangemeld vir elke 13 000 bottels bloed wat oorgetap is.”—New York State Journal of Medicine, 15 Januarie 1960.
Is die gevare sedertdien uitgeskakel sodat oortappings nou veilig is? Om die waarheid te sê, honderdduisende ondervind elke jaar ongunstige reaksies op bloed, en baie sterf. In die lig van die voorgaande kommentare dink jy moontlik dadelik aan bloedgedrae siektes. Beskou, voordat ons hierdie aspek ondersoek, sommige gevare wat minder bekend is.
BLOED EN ONS IMMUNITEIT
Vroeg in die 20ste eeu het wetenskaplikes die mens se begrip van die verbasende kompleksiteit van bloed vergroot. Hulle het vasgestel dat daar verskillende bloedgroepe is. By oortappings is dit kritiek om seker te maak dat ’n skenker se bloed en ’n pasiënt se bloed verenigbaar is. As iemand met bloed van groep A bloed van groep B ontvang, kan hy ’n ernstige hemolitiese reaksie ondervind. Dit kan baie van sy rooi selle vernietig en gou sy dood veroorsaak. Hoewel bloedgroepering en kruistoetsing nou standaardprosedure is, kom foute tog voor. Mense sterf elke jaar weens hemolitiese reaksies.
Die feite toon dat die kwessie van onverenigbaarheid baie meer behels as die betreklik min bloedgroepe wat hospitale met mekaar probeer verenig. Waarom? Wel, dr. Douglas H. Posey jr. skryf in sy artikel “Bloedoortapping: gebruike, misbruike en gevare”: “Bykans 30 jaar gelede het Sampson ’n bloedoortapping as ’n betreklik gevaarlike prosedure beskryf . . . [Sedertdien] is ten minste 400 bykomende antigene in rooi selle geïdentifiseer en gekarakteriseer. Dit ly geen twyfel dat die getal voortdurend sal styg nie, want die membraan van die rooi sel is geweldig kompleks.”—Journal of the National Medical Association, Julie 1989.
Wetenskaplikes bestudeer nou die uitwerking wat oorgetapte bloed op die liggaam se verdediging- of immuunstelsel het. Wat kan dit vir jou of ’n familielid beteken wat ’n operasie moet ondergaan?
Wanneer dokters ’n hart, ’n lewer of ’n ander orgaan oorplant, kan die ontvanger se immuunstelsel die vreemde weefsel aanvoel en dit verwerp. En tog is ’n oortapping ’n weefseloorplanting. Selfs bloed waarop “deeglike” kruistoetse uitgevoer is, kan die immuunstelsel onderdruk. By ’n konferensie van patoloë is die punt gestel dat honderde mediese verslae “bloedoortappings met immunologiese reaksies verbind het”.—“Saak teen oortappings word groter”, Medical World News, 11 Desember 1989.
’n Belangrike taak van jou immuunstelsel is om kwaadaardige selle (kankerselle) op te spoor en te vernietig. Kan onderdrukte immuniteit tot kanker en die dood lei? Let op twee verslae.
Die tydskrif Cancer (15 Februarie 1987) het die resultate verstrek van ’n studie wat in Nederland onderneem is: “By die pasiënte met kolonkanker is daar gemerk dat ’n oortapping ’n betekenisvolle nadelige uitwerking op langtermynoorlewing het. In hierdie groep was daar, in sy geheel geneem, ’n kumulatiewe oorlewingsyfer ná 5 jaar van 48% vir pasiënte wat bloed ontvang het en 74% vir dié wat nie oortappings ontvang het nie.” Geneeshere aan die Universiteit van Suid-Kalifornië het ’n opvolgstudie gemaak van honderd pasiënte wat kankerchirurgie ondergaan het. “Die syfer vir die terugkering van alle kankers van die larinks was 14% vir diegene wat nie bloed ontvang het nie en 65% vir diegene wat wel bloed ontvang het. Wat die terugkering van kanker van die mondholte, farinks en neus of sinus betref, was die syfer 31% sonder oortappings en 71% met oortappings.”—Annals of Otology, Rhinology & Laryngology, Maart 1989.
Wat toon sulke syfers aangaande oortappings? In sy artikel “Bloedoortappings en chirurgie vir kanker” het dr. John S. Spratt die gevolgtrekking gemaak: “Die kankerchirurg sal moontlik ’n bloedlose chirurg moet word.”—The American Journal of Surgery, September 1986.
’n Ander vername taak van jou immuunstelsel is om infeksie af te weer. Dit is dus te begrype dat sommige studies toon dat pasiënte wat bloed ontvang vatbaarder is vir infeksie. Dr. P. I. Tartter het ’n studie van kolorektale chirurgie gemaak. Van die pasiënte wat oortappings ontvang het, het 25 persent infeksie opgedoen, vergeleke met 4 persent van dié wat nie oortappings ontvang het nie. Hy berig: “Bloedoortappings was betrokke by infeksieuse komplikasies wanneer [die bloed] pre-, intra-, of postoperatief toegedien is . . . Die gevaar van postoperatiewe infeksie het progressief toegeneem na gelang van die aantal eenhede bloed wat gegee is” (The British Journal of Surgery, Augustus 1988). Diegene wat in 1989 ’n vergadering van die American Association of Blood Banks bygewoon het, het die volgende verneem: Terwyl 23 persent van diegene wat tydens heupvervangingchirurgie skenkerbloed ontvang het infeksies opgedoen het, het dié wat geen bloed ontvang het geen infeksies gehad nie.
Dr. John A. Collins het aangaande hierdie uitwerking van bloedoortappings geskryf: “Dit sal inderdaad ironies wees as dit later blyk dat ’n ‘behandeling’ wat, volgens al die bewyse, selde indien ooit iets nuttigs tot stand bring juis een van die grootste probleme van hierdie pasiënte vererger.”—World Journal of Surgery, Februarie 1987.
SIEKTEVRY OF GEVAARVOL?
Bloedgedrae siekte kwel pligsgetroue geneeshere en baie pasiënte. Watter siekte? Om die waarheid te sê, kan jy dit nie tot net een beperk nie; daar is inderdaad baie.
Na ’n bespreking van die bekender siektes meld Techniques of Blood Transfusion (1982) “ander besmetlike siektes wat met oortappings verband hou”, soos sifilis, sitomegalovirus-infeksie en malaria. Dan sê dit: “Daar is ook melding gemaak van verskeie ander siektes wat deur bloedoortappings oorgedra word, waaronder infeksies wat deur die herpesvirus veroorsaak word, infektiewe mononukleose (Epstein-Barrvirus), toksoplasmose, tripanosomiase [slaapsiekte en Chagas-siekte], leishmaniase, brucellose [maltakoors], tifus, filariase, masels, salmonellose en Colorado-bosluiskoors.
Die lys van sulke siektes word in werklikheid al hoe langer. Jy het moontlik al opskrifte gelees soos: “Lyme-siekte van ’n oortapping? Dit is onwaarskynlik, maar kenners is versigtig.” Hoe veilig is die bloed van iemand wat positief toets vir Lyme-siekte? ’n Paneel gesondheidsbeamptes is gevra of hulle sulke bloed sal aanvaar. “Hulle het almal nee gesê, hoewel geeneen aan die hand gedoen het dat bloed van sulke skenkers weggedoen word nie.” Hoe moet die publiek voel oor gebergde bloed wat kenners self nie sal aanvaar nie?—The New York Times, 18 Julie 1989.
’n Tweede rede tot kommer is dat bloed wat in een land ingesamel word waar ’n sekere siekte algemeen voorkom ver daarvandaan gebruik kan word, waar nòg die publiek, nòg die geneeshere op hulle hoede is vir die gevaar. Aangesien baie meer mense vandag reis en daar ook ’n groot toename van vlugtelinge en immigrante is, word die gevaar al hoe groter dat ’n vreemde siekte in ’n bloedproduk kan wees.
Boonop het ’n spesialis in besmetlike siektes gewaarsku: “Die bloedvoorraad sal moontlik getoets moet word om die oordraging te voorkom van verskeie siektes wat nie voorheen as besmetlik beskou is nie, soos leukemie, limfoom en demensie [of Alzheimer-siekte].”—Transfusion Medicine Reviews, Januarie 1989.
Hoe ysingwekkend hierdie gevare ook al is, ander boesem selfs groter vrees in.
DIE VIGS-PANDEMIE
“Vigs het dokters en pasiënte se beskouing van bloed vir ewig verander. En dit is nie ’n slegte idee nie, het die dokters gesê wat by die National Institutes of Health vir ’n konferensie oor bloedoortappings vergader het.”—Washington Post, 5 Julie 1988.
Die Vigs-pandemie (Vigs is ’n akroniem vir verworwe immuniteitsgebreksindroom) het mense maar alte bewus gemaak van die gevaar dat besmetlike siektes deur bloed opgedoen kan word. Miljoene is nou besmet. Die verspreiding daarvan is buite beheer. En die sterftesyfer weens die siekte is feitlik 100 persent.
Vigs word veroorsaak deur die menslike immuungebreksvirus (HIV), wat deur bloed versprei kan word. Die moderne plaag Vigs het in 1981 kop uitgesteek. Net die volgende jaar het gesondheidskenners uitgevind dat die virus waarskynlik deur bloedprodukte oorgedra kan word. Daar word nou erken dat die bloedbedryf stadig gereageer het, selfs nadat toetse beskikbaar was om bloed te identifiseer wat HIV-teenliggaampies bevat. Die toetsing van skenkerbloed het uiteindelik in 1985 begina, maar selfs toe is dit nie toegepas op bloedprodukte wat reeds in voorraad was nie.
Daarna is die publiek verseker: ‘Die bloedvoorraad is nou veilig.’ Later het dit egter aan die lig gekom dat Vigs ’n gevaarlike “vensterperiode” het. Nadat ’n persoon besmet is, kan dit maande duur voordat hy teenliggaampies vervaardig wat opgespoor kan word. Terwyl hy onbewus daarvan is dat hy die virus dra, kan hy bloed skenk wat negatief sal toets. Dit het al gebeur. Mense het Vigs gekry nadat hulle sulke bloed in ’n oortapping ontvang het!
Die situasie het selfs somberder geword. The New England Journal of Medicine (1 Junie 1989) het berig gelewer oor “Stil HIV-infeksies”. Daar is vasgestel dat mense die Vigs-virus jare lank kan dra sonder dat dit deur die jongste indirekte toetse opgespoor kan word. Sommige wys graag daarop dat hierdie gevalle seldsaam is, maar dit bewys nogtans “dat die gevaar dat Vigs via bloed en sy komponente oorgedra kan word, nie heeltemal buite rekening gelaat kan word nie” (Patient Care, 30 November 1989). Die verontrustende gevolgtrekking: ’n Negatiewe toets kan nie beskou word as ’n bewys dat bloed veilig is nie. Hoeveel mense sal nog Vigs van bloed kry?
DIE VOLGENDE SKOEN? OF SKOENE?
Talle woonstelbewoners het al die plof gehoor van een skoen wat die vloer bokant hulle tref; dan wag hulle moontlik in spanning op die tweede skoen. In die bloeddilemma weet niemand hoeveel dodelike skoene nog sal val nie.
Die Vigs-virus is HIV genoem, maar sommige kenners noem dit nou HIV-1. Waarom? Omdat hulle ’n ander soort Vigs-virus (HIV-2) ontdek het. Dit kan Vigs-simptome veroorsaak en kom in sommige gebiede algemeen voor. Boonop word dit “nie altyd opgespoor deur die Vigs-toetse wat nou hier gebruik word nie”, berig The New York Times (27 Junie 1989). “Die nuwe bevindinge . . . maak dit moeiliker vir bloedbanke om seker te wees dat ’n skenking veilig is.”
Of wat van virusse wat verwant is aan die Vigs-virus? ’n Presidensiële kommissie (VSA) het gesê dat een so ’n virus “vermoedelik volwasse T-sel-leukemie/limfoom en ’n ernstige neurologiese siekte veroorsaak”. Hierdie virus word reeds in bloedskenkers aangetref en kan deur bloed versprei word. Mense het ’n reg om te wonder: ‘Hoe doeltreffend is die bloedbank se toetse om sulke ander virusse op te spoor?’
In werklikheid sal die tyd alleen leer hoeveel bloedgedrae virusse in die bloedvoorraad skuil. “Die onbekende kan meer sorg baar as die bekende”, skryf dr. Harold T. Meryman. “Oordraagbare virusse waarvan die inkubasietye baie jare kan duur, sal moeilik met oortappings verbind en nog moeiliker opgespoor kan word. Die HTLV-groep is sekerlik net die eerste hiervan wat nou na vore tree” (Transfusion Medicine Reviews, Julie 1989). “Asof die Vigs-epidemie nie genoeg ellende veroorsaak het nie, . . . het ’n aantal nuut vermelde of beskrewe gevare van oortappings in die tagtigerjare die aandag getrek. Dit verg nie veel verbeelding om te voorspel dat ander ernstige virussiektes bestaan en deur homoloë oortappings oorgedra word nie.”—Limiting Homologous Exposure: Alternative Strategies, 1989.
Soveel “skoene” het al geval dat die Centers for Disease Control in Amerika “universele voorsorgmaatreëls” aanbeveel. Met ander woorde, ‘gesondheidswerkers moet van die veronderstelling uitgaan dat alle pasiënte besmet kan word met HIV en ander bloedgedrae patogene’. Gesondheidswerkers en lede van die publiek neem tereg hulle beskouing van bloed opnuut in oënskou.
[Voetnoot]
a Ons kan nie aanvaar dat alle bloed nou getoets word nie. Daar word byvoorbeeld berig dat ongeveer 80 persent van Brasilië se bloedbanke aan die begin van 1989 nie onder die staat se beheer was nie, en hulle het ook nie vir Vigs getoets nie.
[Venster op bladsy 8]
“Ongeveer 1 uit 100 oortappings gaan gepaard met koors, kouekoors of urtikaria [netelroos]. . . . Ongeveer 1 uit 6 000 oortappings van rooi selle het ’n hemolitiese oortappingsreaksie tot gevolg. Dit is ’n ernstige immunologiese reaksie wat plotseling of ’n paar dae na die oortapping kan voorkom; dit kan lei tot akute [nier]versaking, skok, intravaskulêre stolling en selfs die dood.”—Konferensie van Amerika se National Institutes of Health (NIH), 1988.
[Venster op bladsy 9]
Deense wetenskaplike Niels Jerne het die Nobelprys vir Geneeskunde van 1984 gedeel. Toe hy gevra is waarom hy ’n bloedoortapping geweier het, het hy gesê: “’n Mens se bloed is soos sy vingerafdrukke—daar is nie twee soorte bloed wat presies eenders is nie.”
[Venster op bladsy 10]
BLOED, VERWOESTE LEWERS EN . . .
“Dit is ironies dat bloedgedrae Vigs . . . nog nooit so ’n groot bedreiging soos ander siektes—byvoorbeeld hepatitis—was nie”, het die Washington Post verduidelik.
Ja, ’n ontsaglike aantal mense het al baie siek geword en gesterf aan hierdie hepatitis, waarvoor daar geen spesifieke behandeling is nie. Volgens U.S.News & World Report (1 Mei 1989), kry ongeveer 5 persent van diegene wat in die Verenigde State bloed ontvang hepatitis—175 000 mense per jaar. Ongeveer die helfte word chroniese draers, en ten minste 1 uit 5 kry lewersirrose of -kanker. Volgens skatting sterf 4 000. Stel jou die opskrifte voor wat ’n mens sal lees as ’n makrostraler neerstort en almal aan boord sterf. Maar 4 000 sterfgevalle kom daarop neer dat ’n vol makrostraler elke maand neerstort!
Geneeshere weet al lank dat ’n ligter hepatitis (hepatitis A) deur besoedelde kos of water versprei word. Toe het hulle agtergekom dat ’n ernstiger vorm deur bloed versprei word, en daar was nie ’n manier om die bloed daarvoor te toets nie. Uiteindelik het briljante wetenskaplikes uitgevind hoe om “spore” van hierdie virus (hepatitis B) op te spoor. Vroeg in die sewentigerjare is bloed in sommige lande getoets. Dit het gelyk of die bloedvoorraad veilig en die toekoms vir bloed rooskleurig is! Of was dit?
Dit was weldra duidelik dat duisende mense wat getoetste bloed ontvang het steeds hepatitis gekry het. Baie het na ’n aftakelende siekte verneem dat hulle lewer verwoes is. Maar waarom het dit gebeur as die bloed getoets is? Die bloed het ’n ander virus bevat, wat nie-A/nie-B-hepatitis (NANB) genoem word. ’n Dekade lank was dit ’n groot probleem by oortappings—tussen 8 en 17 persent van diegene wat in Israel, Italië, Japan, Spanje, Swede en die Verenigde State oortappings ontvang het, het dit opgedoen.
Toe volg opskrifte soos: “Raaiselagtige nie-A/nie-B-hepatitisvirus oplaas geïsoleer”; “Koors in die bloed word gebreek.” Die boodskap was weer eens: ‘Die ontwykende agens is gevind!’ In April 1989 is die publiek meegedeel dat ’n toets beskikbaar is vir NANB, wat nou hepatitis C genoem word.
Jy wonder moontlik of die medici te gou bly geword het. Trouens, Italiaanse navorsers het nog ’n hepatitisvirus, ’n mutant, gemeld, wat moontlik vir ’n derde van die gevalle verantwoordelik is. “Sommige gesaghebbendes”, sê die Harvard Medical School Health Letter (November 1989), “is bekommerd dat A, B, C en D nie die hele alfabet van hepatitisvirusse is nie; nog ander kan te voorskyn kom.” The New York Times (13 Februarie 1990) het gesê: “Deskundiges het ’n sterk vermoede dat ander virusse hepatitis kan veroorsaak; wanneer hulle ontdek word, sal hulle hepatitis E, ensovoorts genoem word.”
Staan bloedbanke voor nog lang soektogte na toetse om bloed veilig te maak? ’n Direkteur van die Amerikaanse Rooi Kruis het hierdie verontrustende kommentaar gelewer aangaande die kosteprobleem: “Ons kan nie aanhou om die een toets na die ander by te voeg vir elke besmetlike agens wat moontlik versprei kan word nie.”—Medical World News, 8 Mei 1989.
Selfs die toets vir hepatitis B is feilbaar; baie kry dit nog van bloed. Sal mense boonop tevrede wees met die aangekondigde toets vir hepatitis C? The Journal of the American Medical Association (5 Januarie 1990) het getoon dat ’n jaar kan verloop voor die teenliggaampies van die siekte deur die toets opgespoor kan word. Intussen kan mense wat van die bloed ontvang het se lewer verwoes word—en hulle kan sterf.
[Venster/Prent op bladsy 11]
Chagas-siekte lig toe hoe bloed siekte na mense op ander plekke oordra. “The Medical Post” (16 Januarie 1990) berig dat ‘10-12 miljoen mense in Latyns-Amerika chronies besmet is’. Dit is al “een van die belangrikste oortappingsgevare in Suid-Amerika” genoem. ’n “Moordinsek” byt ’n slapende slagoffer in die gesig, suig sy bloed en laat ontlasting in die wond agter. Die slagoffer kan jare lank Chagas-siekte hê (en intussen moontlik bloed skenk) voordat hy dodelike komplikasies van die hart ontwikkel.
Waarom moet mense op ander kontinente hulle daaroor bekommer? In “The New York Times” (23 Mei 1989) het dr. L. K. Altman verslag gedoen oor pasiënte wat Chagas-siekte na oortappings opgedoen het, waarvan een gesterf het. Altman het geskryf: “Addisionele gevalle het moontlik verborge gebly omdat [dokters hier] nie bekend is met Chagas-siekte nie, en hulle besef ook nie dat dit deur oortappings versprei kan word nie.” Ja, bloed kan ’n middel wees waardeur siektes wyd en syd versprei word.
[Venster op bladsy 12]
Dr. Knud Lund-Olesen het geskryf: “Aangesien . . . sommige mense in hoërisiko-groepe aanbied om bloed te skenk omdat hulle dan outomaties vir Vigs getoets word, meen ek daar is rede om huiwerig te wees om ’n bloedoortapping te aanvaar. Jehovah se Getuies weier dit al baie jare. Het hulle die toekoms vooruitgesien?”—“Ugeskrift for Læger” (Weekblad vir dokters), 26 September 1988.
[Prent op bladsy 9]
Die pous het ’n skietaanval oorleef. Nadat hy die hospitaal verlaat het, is hy weer vir twee maande opgeneem en het hy “baie lyding” verduur. Waarom? ’n Potensieel dodelike sitomegalovirus-infeksie weens die bloed wat hy ontvang het
[Erkenning]
UPI/Bettmann Newsphotos
[Prent op bladsy 12]
Vigs-virus
[Erkenning]
CDC, Atlanta, Ga.