Die Bybel se beskouing
“Die waarheid sal julle vrymaak”—Hoe?
MILJOENE mense dink dat hulle vry is, maar in werklikheid is hulle nie. Byvoorbeeld, baie is slawe van bygelowe. Ander is bang vir die dooies en probeer hulle met duur offerandes paai. Dan is daar weer ander wat ’n oordrewe vrees vir die dood het omdat hulle nie seker is wat met ’n persoon gebeur wanneer hy sterf nie. Kan mense bevry word van hierdie verstandelike, emosionele en selfs finansiële laste? Ja! Jesus Christus se woorde hierbo toon dat die sleutel tot vryheid die waarheid is. Maar watter waarheid? Waarheid oor die algemeen of ’n spesifieke soort waarheid?
Jesus het ’n duidelike antwoord voorsien. “As julle in my woord bly”, het hy gesê, “sal [julle] die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31, 32). Jesus se “woord”, sy leringe, word in die Bybel gevind.
Toe Jesus gesê het “die waarheid sal julle vrymaak”, het hy hoofsaaklik verwys na vryheid van sonde en die dood. Maar as ons die waarheid van God se Woord ken, bevry dit ons ook van dinge soos bygelowigheid, vrees vir die dooies en ’n oordrewe vrees vir die dood. Hoe?
1. Bevry van bygelowigheid. Baie glo dat sekere voorwerpe of nommers op onheil dui. Ander weier om belangrike besluite te neem sonder om eers ’n goeie voorteken te soek of ’n horoskoop of geestemedium te raadpleeg.
Hoe Bybelwaarheid mense vrymaak: In Bybeltye het party onder God se eie volk bygelowig geword en selfs “die Geluksgod” en “die god van die Noodlot” begin aanbid! Hoe het Jehovah God dit beskou? “Julle het bly doen wat sleg was in my oë”, het hy gesê (Jesaja 65:11, 12). Dit is ook hoe God gevoel het oor mense wat geestemediums vir leiding in die lewe geraadpleeg het. Die Bybel sê dat ‘elkeen wat ’n geestemedium raadpleeg, vir Jehovah verfoeilik is’.—Deuteronomium 18:11, 12.
Bygelowe en geestemediums is gevaarlik omdat dit “sette [is] van die Duiwel”, die een wat Jesus “die vader van die leuen” genoem het (Efesiërs 6:11; Johannes 8:44). Sal jy ’n leuenaar raadpleeg as jy leiding in verband met ’n belangrike saak soek? Natuurlik nie! Dit is dus wys om enigiets te vermy wat met “die vader van die leuen” verband hou.
Die sleutel tot goeie besluite in die lewe is wysheid wat gegrond is op juiste kennis van Bybelbeginsels en God se voorneme vir die mensdom. “Jehovah gee wysheid; uit sy mond kom kennis en onderskeidingsvermoë”, sê Spreuke 2:6.
2. Bevry van vrees vir die dooies. Baie mense glo dat die “geeste” van dooie voorouers ’n invloed op hulle lewe kan hê. Hulle glo dat hierdie “geeste” met verskeie offerandes gepaai moet word sodat hulle nie kwaad word nie. Gevolglik maak party mense baie skuld om vir offerandes en oordadige seremonies te betaal.
Hoe Bybelwaarheid mense vrymaak: Die Bybel openbaar die waarheid omtrent die toestand van die dooies. Jesus het byvoorbeeld gesê dat die dooies “slaap” (Johannes 11:11, 14). Wat het hy bedoel? Die antwoord word gevind in Prediker 9:5: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks.” Ja, dit is asof die dooies in ’n diep slaap is. Om die waarheid te sê, hulle het ophou bestaan en kan ons dus nie help of kwaad aandoen nie.
Party mense beweer egter dat hulle al met die dooies gekommunikeer het. Hoe is dit moontlik? Die Bybel voorsien weer eens die antwoord. Dit vertel ons dat ’n aantal engele vroeg in die mensegeskiedenis teen God in opstand gekom het (2 Petrus 2:4). Hierdie bose geeste, wat demone genoem word, probeer die mensdom mislei (1 Timoteus 4:1). Een manier waarop hulle dit doen, is deur hulle as die dooies voor te doen en sodoende die leuen te bevorder dat die dooies in ’n ander vorm of op ’n ander plek voortleef.
3. Bevry van ’n oordrewe vrees vir die dood. Die dood is werklik ’n vyand, net soos die Bybel sê (1 Korintiërs 15:26). Daarom is ons tereg bang vir die dood en probeer ons dit vermy. Nogtans hoef ons nie ’n oordrewe vrees vir die dood te hê nie.
Hoe Bybelwaarheid mense vrymaak: Die Bybel openbaar nie net die waarheid omtrent die toestand van die dooies nie, maar toon ook dat dit God se voorneme is om die dooies deur middel van ’n opstanding op te wek. “Die uur kom”, het Jesus gesê, “waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy [Christus se] stem sal hoor en sal uitkom.”—Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.
In watter vorm sal hulle “uitkom”? Jesus het ons ’n voorskou gegee toe hy ’n aantal mense uit die dood opgewek het. In elke geval het die persoon teruggekeer as ’n mens—as die persoon wat hy of sy voorheen was (Markus 5:35-42; Lukas 7:11-17; Johannes 11:43, 44). Hierdie feit stem ooreen met die betekenis van die woord “opstanding”. Toe God met sy bejaarde kneg Daniël gepraat het, het hy gesê: “Jy sal rus [of in die dood slaap], maar jy sal opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae” (Daniël 12:13). Hoe moes hierdie woorde Daniël tog vertroos het en hom in staat gestel het om die dood met moed en waardigheid tegemoet te gaan!
Jesus se opdrag het ingesluit dat hy ‘’n vrylating verkondig aan die gevangenes’, oftewel diegene wat deur valse leringe gevange gehou is (Lukas 4:18). Aangesien sy leringe in die Bybel gevind word, maak dit mense steeds elke dag vry. Dit is ons opregte begeerte dat Bybelwaarheid jou eens en vir altyd sal vrymaak.
HET JY AL GEWONDER?
Hoe bevry Bybelwaarheid ons van
● bygelowigheid?—Jesaja 8:19, 20; 65:11, 12.
● vrees vir die dooies?—Prediker 9:5; Johannes 11:11, 14.
● vrees vir die dood?—Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.
[Lokteks op bladsy 11]
Bybelwaarheid bevry mense van bygelowigheid, vrees vir die dooies en ’n oordrewe vrees vir die dood