Die waarheid oor die siel maak saak
“Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—JOHANNES 8:32.
1. Waarom is dit belangrik om ons oortuigings aangaande die siel en die dood te ondersoek?
O PVATTINGS aangaande die dood en die hiernamaals word grootliks gevorm deur ’n mens se godsdienstige en kulturele agtergrond. Soos ons gesien het, wissel dit van die oortuiging dat die siel eers ná baie hergeboortes sy finale doel bereik tot die idee dat ’n enkele leeftyd ’n mens se finale lot bepaal. Gevolglik is een persoon dalk daarvan oortuig dat hy uiteindelik by sy dood met die hoogste werklikheid verenig sal word, ’n ander dat hy Nirwana sal bereik en nog iemand anders dat hy die hemelse beloning sal verkry. Wat ís die waarheid? Aangesien ons oortuigings ons gesindhede, dade en besluite beïnvloed, moet ons dan nie besorg wees om die antwoord op hierdie vraag te kry nie?
2, 3. (a) Waarom kan ons ons vertroue stel in wat die Bybel oor die siel sê? (b) Wat is die waarheid oor die siel, soos dit in die Bybel opgeteken is?
2 Die oudste boek ter wêreld, die Bybel, voer die mensegeskiedenis terug tot die skepping van die eerste mensesiel. Die leringe daarin is vry van filosofieë en mensetradisies. Die Bybel stel die waarheid oor die siel duidelik: Jou siel is jy, die dooies bestaan geheel en al nie meer nie en diegene in God se geheue sal op sy vasgestelde tyd opgewek word. Wat kan dit vir jou beteken as jy dit weet?
3 “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak”, het Jesus Christus vir sy volgelinge gesê (Johannes 8:32). Ja, die waarheid bevry ons. Maar waarvan sal die waarheid oor die siel ons vrymaak?
Vryheid van vrees en wanhoop
4, 5. (a) Watter vrees word verdryf as ons die waarheid oor die siel ken? (b) Hoe het die opstandingshoop ’n tiener moed gegee wat terminaal siek was?
4 “Die meeste mense vrees die dood en probeer om nie daaraan te dink nie”, sê The World Book Encyclopedia. “Die woord ‘dood’ word byna glad nie meer in die Weste genoem nie”, sê ’n geskiedkundige. En in party kulture word sulke eufemismes soos “heengegaan” en “ontslaap” oor die algemeen gebruik om iemand se dood te beskryf. Hierdie vrees vir die dood is eintlik ’n vrees vir die onbekende, aangesien die dood vir die meeste mense iets geheimsinnigs is. Die kennis van die waarheid oor wat met ons gebeur wanneer ons sterf, bevry ons van hierdie vrees.
5 Beskou byvoorbeeld die gemoedstoestand van die 15-jarige Michaelyn. Sy het leukemie gehad en ’n tragiese dood het vir haar voorgelê. Haar ma Paula sê: “Michaelyn het gesê dat sy nie omgee om te sterf nie, want sy het geweet dat die dood net tydelik is. Ons het baie oor God se nuwe wêreld gepraat, asook oor almal wat die opstanding daarin gaan kry. Michaelyn het groot geloof in Jehovah God en die opstanding gehad—sonder ’n greintjie twyfel.” Die opstandingshoop het hierdie moedige jong meisie bevry van ’n oorweldigende vrees vir die dood.
6, 7. Van watter wanhoop bevry die waarheid oor die siel ons? Lig dit toe.
6 Watter uitwerking het die waarheid op Michaelyn se ouers gehad? “Ons dogtertjie se dood was die pynlikste ervaring wat ons nog deurgemaak het”, sê haar pa Jeff. “Maar ons vertrou volkome op Jehovah se belofte van die opstanding, en ons sien daarna uit om eendag ons dierbare Michaelyn weer te omhels. Wat ’n hereniging sal dit tog nie wees nie!”
7 Ja, die waarheid oor die siel bevry ’n mens van die wanhoop wat die dood van ’n geliefde kan meebring. Niks kan natuurlik die pyn en verdriet geheel en al wegneem wat veroorsaak word wanneer ’n geliefde sterf nie. Maar die opstandingshoop temper die droefheid en maak dit baie makliker om die pyn te verduur.
8, 9. Van watter vrees bevry die waarheid oor die toestand van die dood ons?
8 Die skriftuurlike waarheid oor die toestand van die dooies bevry ons ook van die vrees vir die dooies. Baie wat vantevore slawe van bygelowige rituele in verband met die dooies was, het sedertdien hierdie waarheid geleer en is nou nie meer bekommerd oor vloeke, voortekens, gelukbringers en afgode nie, en hulle bring ook nie meer duur offers om hulle voorouers te paai en te keer dat hulle terugkom om by die lewendes te spook nie. Trouens, aangesien die dooies ‘glad niks weet nie’, is sulke gebruike vrugteloos.—Prediker 9:5.
9 Die waarheid oor die siel, wat in die Bybel gevind word, bevry ons inderdaad en is betroubaar. Maar kyk ook na ’n unieke vooruitsig wat die Bybel aan jou voorhou.
[Lokteks op bladsy 29]
Die waarheid oor die siel bevry jou van die vrees vir die dood, die vrees vir die dooies, wanhoop weens die dood van ’n geliefde