Hoofstuk 8
Oorlewendes uit al die nasies
1. Watter belofte wat aan Abraham gemaak is, toon dat „al die geslagte” van die mensdom God se guns kan verkry?
JEHOVAH stel liefdevol in mense van alle nasies en stamme belang. Hy het dit moontlik gemaak dat al die geslagte van die aarde sy goedkeuring en seën kan geniet. Aan Abram (Abraham), ’n afstammeling van Noag se seun Sem, het Jehovah gesê: „Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Genesis 12:1-3; Handelinge 7:2-4). „Al die geslagte van die aarde”—dit sluit ons vandag in, ongeag in watter nasie ons gebore is of watter taal ons praat.—Psalm 65:3.
2. (a) Watter eienskap wat Abraham gehad het, het ons nodig? (b) Hoe het Abraham getoon dat hy hierdie eienskap besit, soos blyk uit Hebreërs 11:8-10?
2 Die persoon aan wie Jehovah hierdie belofte gemaak het, was ’n man van geloof, net soos ons geloof moet hê as ons die seëninge wil smaak wat God hier beloof het (Jakobus 2:23; Hebreërs 11:6). Abraham se geloof was nie bloot passiewe oortuiging nie, maar het met dade gepaard gegaan. Dit het hom beweeg om uit Mesopotamië te trek na ’n ver land wat hy nog nooit gesien het nie. „Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ’n vreemde land”, aangesien hy hom nie met enige van die stadsryke aldaar verbind het nie. „Want hy het die stad [God se Koninkryk] verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.”—Hebreërs 11:8-10.
3. Watter vuurproef van sy geloof het Abraham in verband met Isak ondergaan?
3 Toe Abraham die ouderdom van 100 jaar bereik het en sy vrou Sara 90 was, het Jehovah hulle wonderdadig met ’n seun, Isak, beloon. In verband met hierdie seun het Abraham ’n vuurproef van sy geloof en gehoorsaamheid aan God ondergaan. Jehovah het Abraham beveel om Isak, wat nou ’n jong man was, na die land Moria te neem en hom daar as brandoffer te offer. Met geloof in God se vermoë om sy seun uit die dood op te wek, het Abraham gehoor gegee (Hebreërs 11:17-19). Isak, wat hom aan sy vader onderwerp het, was alreeds op die altaar vasgebind en Abraham het die mes in sy hand gehad waarmee hy hom sou doodmaak toe Jehovah se engel tussenbei gekom het. Die toets is ver genoeg gevoer om te bewys dat Abraham niks van God sou terughou nie. Daarom het God sy verbond met Abraham bevestig, soos die Bybel sê:
4. Watter ander belangrike belofte het God by daardie geleentheid aangaande mense van al die nasies gemaak?
4 „Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.”—Genesis 22:15-18.
5. (a) Wat is afgeskadu deur Abraham se bereidwilligheid om Isak op te offer? (b) Hoe „vervloek” mense die Grotere Abraham ter vervulling van Genesis 12:3, en met watter gevolg? (c) Hoe kan ons hom „seën”?
5 Wanneer ons besef dat die Grotere Abraham Jehovah is en dat Isak Jesus Christus afgeskadu het, kan ons begin verstaan hoe hierdie gebeure vir ons persoonlik van belang is. Ons toekoms hang in werklikheid van ons optrede teenoor Jehovah God af. Die vooruitsig op die ewige lewe is vir ons moontlik omdat God sy eniggebore Seun as offer vir ons sondes gegee het, soos toegelig deur Abraham se bereidwilligheid om Isak op te offer (Johannes 3:16). Die wat aanhou om Jehovah ‚kwaad toe te wens’, wat hom verag en sy liefdevolle voorneme versmaai, word self vervloek, en dit sal hulle ewige vernietiging beteken. (Vergelyk 1 Samuel 3:12-14, NW; 2:12.) Maar as ons mense met waardering is, sal ons die Grotere Abraham „seën”. Hoe? Deur openlik te erken dat Jehovah die Gewer van alle goeie dinge is, waaronder die onverdiende gawe van lewe deur middel van sy Seun. Ons sal ook vir ander vertel van Jehovah se goedheid en die uitmuntende kenmerke van sy koningskap (Jakobus 1:17; Psalm 145:7-13). So kan ons sorg dat ons in aanmerking kom vir ewige seëninge uit sy hand.
DIE BELOOFDE „SAAD” VAN ABRAHAM
6. (a) Wie is die primêre „saad” van Abraham? (b) Hoe kan ons die seën ontvang wat deur middel van hom moontlik is?
6 As deel van hierdie reëling om die mensdom te seën, het Jehovah ’n regverdige, hemelse regering by sy voorneme ingesluit. Jesus Christus is gebore as ’n nakomeling van Abraham, as sy belangrikste afstammeling, of „saad”, en dit is aan hom wat Jehovah die koningskap gegee het (Galasiërs 3:16; Mattheüs 1:1). Soos blyk uit God se eed aan Abraham is dit dus deur middel van Jesus Christus dat mense uit al die nasies van die aarde geseën sal word. Doen jy wat nodig is om daardie seën te verkry? Toon jou lewensweg byvoorbeeld dat jy besef hoe belangrik die offer van Jesus se lewe vir jou is? Onderwerp jy jou waarlik aan sy gesag as Koning?—Johannes 3:36; Handelinge 4:12.
7. (a) Wie anders maak deel uit van Abraham se „saad”? (b) Hoe weet ons dat nie almal wat God getrou dien hemel toe sal gaan nie?
7 Die apostel Johannes het ’n profetiese gesig van hemelse gebeure ontvang waarin hy ander saam met Jesus Christus op die hemelse berg Sion sien staan het. Hulle maak ook deel uit van Abraham se „saad” of „nageslag”. Soos ons in Openbaring 14:1-5 lees, is hulle „van die aarde vrygekoop” en is hulle getal 144 000 (Galasiërs 3:26-29). Wie is hulle? Die Bybel stel dit baie duidelik dat dit nog nooit God se voorneme was om alle regverdig gesinde mense hemel toe te neem nie (Mattheüs 11:11; Handelinge 2:34; Psalm 37:29). Die wonderlike voorreg om saam met Christus in die Koninkryk van die hemele te wees, is beperk tot ’n „klein kuddetjie” wat duisend jaar lank saam met hom konings en priesters sal wees.—Lukas 12:32; Openbaring 5:9, 10, vergelyk NAV; 20:6.
8. Wanneer is daar met die uitkies van die „klein kuddetjie” begin, en hoe lank duur dit voort?
8 Hoe het die verkiesing van daardie „klein kuddetjie” verloop? Die goedgunstige uitnodiging om deel te hê in daardie hemelse Koninkryk is eers aan natuurlike Israeliete gerig. Maar weens hulle ongeloof het hulle nie die volle 144 000 verskaf nie. Daarom is Samaritane en, later, mense van alle nasies uitgenooi (Handelinge 1:8). Die eerste van Christus se mede-erfgename is by Pinkster van 33 G.J. met heilige gees gesalf. Die uitkies van hierdie groep duur voort totdat 144 000 deur God verseël is as blyk van sy goedkeuring. Daarna word aandag geskenk aan die versameling van persone wat op aarde sal lewe as dankbare onderdane van die hemelse regering.
9. (a) Watter uitdrukkings in die Bybel is op hierdie hemelse klas van toepassing? (b) Wie is deur die natuurlike Israeliete afgeskadu?
9 Die wat saam met Christus erfgename van die hemelse Koninkryk is, word in die Skrif „uitverkorenes” en „heiliges” genoem. Hulle is deur God „gesalf” (2 Timotheüs 2:10; 1 Korinthiërs 6:1, 2; 2 Korinthiërs 1:21). Daar word ook gesamentlik van hulle as die „bruid” van Christus gepraat (Openbaring 21:2, 9; Efesiërs 5:22-32). Uit ander standpunte gesien, word hulle „broeders” van Christus, „mede-erfgename van Christus” en „kinders” van God genoem (Hebreërs 2:10, 11; Romeine 8:15-17; Efesiërs 1:5). Wat ook al hulle nasionaliteit, hulle is, geestelik gesproke, „die Israel van God” (Galasiërs 6:16; Romeine 2:28, 29; 9:6-8). Toe Jehovah sy Wetsverbond met vleeslike Israel beëindig het, het hy ’n nuwe verbond met geestelike Israel gesluit. Maar sy handelinge met vleeslike Israel terwyl hulle onder die Wet was, was ’n skaduwee van toekomstige dinge (Hebreërs 10:1). Wie is dan afgeskadu deur die nasie van vleeslike Israel, wat deur God as sy „eiendom” gekies is? Die feite dui op geestelike Israel, diegene wat deur God gekies is om saam met Christus in die hemel te regeer. (Vergelyk Exodus 19:5, 6 met 1 Petrus 1:3, 4 en 1Pe 2:9.) Saam met Christus maak hulle die instrument uit waardeur seëninge op alle ander gehoorsames onder die mensdom uitgestort sal word. Erkenning van hierdie feit is ’n sleutel tot begrip van die Bybel.
DIEGENE WAT DEUR MIDDEL VAN DIE „SAAD” GESEËN WORD
10. Wie word deur nie-Israelitiese aanbidders van Jehovah afgebeeld?
10 Gedurende die tyd dat God op ’n spesiale grondslag met die nasie van Israel gehandel het, het hy ook liefdevol voorsiening gemaak dat mense wat nie van daardie nasie was nie, maar wie se hart hulle gedring het, saam met die Israeliete aan ware aanbidding kon deelneem. Die Bybel maak pertinent van hulle melding. Het hulle ook hedendaagse teenbeelde? Alte seker. Hulle stel in baie opsigte diegene voor wat nie geestelike Israeliete is nie, maar wat die wonderlike hoop koester om vir ewig as aardse onderdane van God se Koninkryk te lewe. Dit is van hulle wat God gepraat het toe hy vir Abraham gesê het dat mense uit „al die nasies van die aarde” deur middel van sy „nageslag”, of „saad”, geseën sou word.—Genesis 22:18; Deuteronomium 32:43, NW.
11. (a) Watter melding is by die toewyding van Salomo se tempel van hierdie groep gemaak? (b) Hoe sluit „uitlanders” hulle vandag by Jehovah aan, soos Jesaja 56:6, 7 voorspel het?
11 Dit was nog altyd God se voorneme dat die hele mensdom in ware aanbidding verenig moet wees. By die toewyding van die tempel wat deur Salomo in Jerusalem gebou is, het die koning tereg gebid dat Jehovah die gebed van uitlanders sou hoor wat graag aanneemlike aanbidding saam met Israel wou beoefen (2 Kronieke 6:32, 33). En in Jesaja 56:6, 7 het God belowe: „Die uitlanders wat hulle by [Jehovah] aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van [Jehovah] lief te hê deur sy knegte te wees . . . hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; . . . want my huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke.” Ooreenkomstig die gees van hierdie woorde word die hedendaagse „uitlanders” nou uit al die nasies versamel, nie bloot as ongeërgde waarnemers nie, maar as persone wat ‚hulle by Jehovah aansluit’. Hulle doen dit deur hulle lewe aan hom toe te wy, dit deur waterdoop te simboliseer en hom dan te dien op ’n wyse wat blyk gee van hulle liefde vir „die Naam van [Jehovah]” en alles wat dit verteenwoordig.—Mattheüs 28:19.
12. Hoe toon die Mosaïese Wet dat diegene wat hoop om aardse onderdane van God se Koninkryk te wees aan die hoë standaarde moet voldoen wat vir geestelike Israel geld?
12 Van hulle word presies dieselfde getrouheid vereis as van geesgesalfde Christene. Onder die Mosaïese Wet het Jehovah vereis dat die „vreemdeling” wat ware aanbidding aanvaar het, hom aan dieselfde wet onderwerp as wat vir Israel bindend was (Numeri 15:15, 16). Hulle moes mekaar ook nie net duld nie maar eerder opreg liefhê (Levitikus 19:34). Diegene wat deur die vreemdelinge afgebeeld is, probeer eweneens om hulle lewens ten volle na Jehovah se vereistes te skik en om in liefde en eenheid saam met die oorblywende lede van geestelike Israel te dien.—Jesaja 61:5.
13. Watter besonderhede in Jesaja 2:1-4 moet ons ter harte neem as ons tot in die „nuwe aarde” wil oorlewe?
13 Deur middel van sy profeet Jesaja het Jehovah die geesdriftige skare mense uit „al die nasies” beskryf wat vandag na Jehovah se universele huis van aanbidding stroom. Hy het voorspel: „Baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel.” Gevolglik het hulle ‚van hul swaarde pikke gesmee’ en leer hulle, selfs in hierdie wêreld vol tweedrag, nie meer om oorlog te voer nie (Jesaja 2:1-4). Sien jy jouself in daardie vreugdevolle skare? Het jy dieselfde begeerte om van Jehovah se vereistes te leer, om dit in jou lewe toe te pas en om nie meer op oorlogswapens te vertrou nie? God het beloof dat ’n groot menigte wat hierdie weg volg as oorlewendes „uit die groot verdrukking [sal] kom” en sy vreedsame „nuwe aarde” sal beërf.—Openbaring 7:9, 10, 14; Psalm 46:9, 10.