Hoofstuk 14
Hoe „nuwe hemele en ’n nuwe aarde” begin
1. (a) Wat word dikwels in die Bybel bedoel met die woord „hemel(e)”? (b) Wat word in sommige gedeeltes met „aarde” bedoel?
BAIE mense dink aan die buitenste ruimte, die maan en die sterre, wanneer daar van die hemel gepraat word. Die Bybel verbind „hemel” ook met heerskappy (Handelinge 7:49). Soms gebruik dit die uitdrukking „die hemel(e)” om God self as Universele Soewerein aan te dui (Daniël 4:26; Mattheüs 4:17). Selfs menseregerings word „hemele” genoem, omdat hulle ’n posisie oor hulle onderdane beklee (2 Petrus 3:7). Net so sien „aarde” dikwels op die planeet, maar dit kan ook op die mensegemeenskap betrekking hê (Genesis 11:1; Psalm 96:1). Hierdie besef kan jou help om die betekenis van die boeiende profesieë in verband met „nuwe hemele en ’n nuwe aarde” te verstaan. Sommige van hierdie beloftes het ’n aanvanklike vervulling in die dae van eertydse Israel gehad.
‚JUIG OOR WAT EK SKEP’
2. Waarom het Jehovah toegelaat dat Israel in ballingskap weggevoer word, maar wat het hy voorspel?
2 Die nasie van Israel was in ’n verbondsverhouding met God en het plegtig ingestem om hom te gehoorsaam. Maar hulle het ontrou geword. As gevolg daarvan het Jehovah bekend gemaak dat hy sy beskerming gaan onttrek en gaan toelaat dat Jerusalem verwoes en die volk in ballingskap na Babilon weggevoer word (Jesaja 1:2-4; 39:5-7). Maar in sy genade het hy ook die herstel van ’n berouvolle oorblyfsel voorspel.—Jesaja 43:14, 15; 48:20.
3. Wat het die belofte in Jesaja 65:17 beteken?
3 Weens die sekerheid daarvan het Jehovah van die toekomstige herstel gepraat asof dit reeds plaasvind. Hy het gesê: „Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees” (Jesaja 65:17, 18). Dit sou vir daardie berouvolle Israeliete bevryding beteken.
4. (a) Wanneer het die voorspelde bevryding gekom? (b) Wat was die „nuwe hemele” en die „nuwe aarde” destyds?
4 Hoewel so iets uit ’n menslike standpunt onmoontlik gelyk het, is die magtige Babilon in 539 v.G.J. deur die Meders en Perse verower. Die Jode het onder ’n nuwe regering, „nuwe hemele”, gekom. Kores die Grote het ’n vername rol in daardie „nuwe hemele” vervul. Hoewel Kores nie ’n Joodse proseliet geword het nie, het hy erken dat Jehovah hom toegelaat het om gesag uit te oefen en dat Jehovah hom opdrag gegee het om die tempel in Jerusalem te laat herbou. (2 Kronieke 36:23; kyk Jesaja 44:28.) Nadat hulle in 537 v.G.J. na Jerusalem teruggekeer het, het goewerneur Serubbabel en hoëpriester Jesua ook prominent in daardie goewermentele „nuwe hemele” gedien, en die herstelde Joodse oorblyfsel was „’n nuwe aarde”, ’n gereinigde gemeenskap wat ware aanbidding in die land herstel het.—Esra 5:1, 2.
5, 6. (a) Wat sou bewys dat hulle waarlik ’n veranderde volk was? (b) Hoe het hulle reaksie op Jehovah se teregwysing verskil van dié voor die ballingskap?
5 As bewys dat hulle in verstand sowel as hart ’n veranderde volk was, moes hulle die belange van ware aanbidding eerste in hulle lewe stel, waarlik Jehovah se soewereiniteit eerbiedig en na sy profete luister. Een van die eerste dinge wat hulle dus gedoen het toe hulle in Juda aangekom het, was om „die altaar van die God van Israel” te bou en offers te bring.—Esra 3:1-6.
6 Toe die bouwerk aan die tempel weens materialistiese neigings en mensevrees onderbreek is, het Jehovah die volk deur middel van sy profete tereggewys, en hulle het gehoor gegee (Haggai 1:2, 7, 8, 12; 2:4, 5). Later, toe die volk op hulle ernstige skending van die Wet in verband met huwelike gewys is, het hulle hulle weë verander (Esra 10:10-12). In plaas daarvan dat hulle, figuurlik gesproke, oë gehad het wat nie sien nie en ore wat doof was vir God se woord, het hulle geestelike genesing ondervind en hulle vermoëns in harmonie met Jehovah se wil gebruik. (Vergelyk Jesaja 6:9, 10 met Jes 35:5, 6.) Gevolglik het God hulle voorspoedig gemaak in ooreenstemming met die beloftes wat in Jesaja 65:20-25 opgeteken is.
7. Hoe weet ons dat daar ’n verdere vervulling van Jesaja se profesie sou wees?
7 Maar was dit die volledige vervulling van die profesie aangaande „nuwe hemele en ’n nuwe aarde”? Beslis nie. Die Christenapostel Petrus het gesê dat eerste-eeuse Christene met afwagting na ’n verdere vervulling uitgesien het (2 Petrus 3:13). Wat hulle verwag het, is nou besig om voor ons oë te ontvou. In watter opsig? In verband met gebeure wat betrekking het op die troonsbestyging van die Grotere Kores, die verheerlikte Jesus Christus.
8. (a) Wanneer het Jehovah hierdie „nuwe hemele” geskep, en hoe vergelyk dit met die profesie se eerste vervulling? (b) Hoe het die ledetal van die „nuwe hemele” geleidelik aangegroei?
8 Soos ons reeds gesien het, was dit in 1914 dat Jehovah God aan sy Seun die mag gegee het om te midde van sy vyande te begin heers. Die langverwagte „nuwe hemele” het toe in aansyn gekom. Daardie gebeurtenis was baie wonderliker as die gebeure wat met die bevryding van eertydse Israel gepaard gegaan het (Psalm 110:2; Daniël 7:13, 14). Die regering wat in 1914 voortgebring is, regeer uit die hemel self, en God het dit mag gegee oor die hele aarde. Hierdie regering is later vergroot met die opstanding van Christus se geesgesalfde volgelinge (wat reeds gesterf het) sodat hulle in die hemel saam met hulle Heer konings en priesters kon wees. Namate ander lede van daardie Koninkryksklas hulle aardse lewe afgelê het, is hulle ook gevoeg by die groeiende ledetal van die „nuwe hemele” (1 Thessalonicense 4:14-17; Openbaring 14:13). Die oorgrote meerderheid van Christus se mede-erfgename is nou aktief in daardie hemelse Koninkryk. Die geesverwekte Christene wat op hierdie manier met Christus verenig is, maak die Nuwe Jerusalem uit waarvan Jehovah gesê het: „Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees.”—Jesaja 65:18.
9. Watter rede „om bly te wees” het Jehovah in 1919 hier op aarde teweeggebring?
9 Dit is nie alleen in die hemele nie maar ook op die aarde dat Jehovah iets geskep het om oor „bly te wees”. ’n Oorblyfsel van die Koninkrykserfgename is nog hier op die aarde. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het die geestelikes van die Christendom van die oorlogswaansin gebruik gemaak om valse beskuldigings teen hierdie Bybelstudente in te bring en dit te bewerk dat lede van die Bestuursliggaam lang tronkvonnisse opgelê word. Maar in 1919 is hulle vrygelaat en aldus in werklikheid bevry van gevangenskap wat deur Babilon die Grote aangestig is. Met die ondersteuning van Jehovah se gees het hulle hulle opnuut georganiseer as ’n volk wat uitsluitlik aan ware aanbidding en die belange van God se Koninkryk toegewy is.
10. (a) Hoe was die verwagtinge van hierdie geestelike Israeliete anders as dié van die gerepatrieerde Jode in 537 v.G.J.? (b) Watter werk het Jehovah vir hulle gegee om te doen? (c) Hoe het hy hulle ryklik geseën terwyl hulle nog op aarde is, en hoe beskryf die gemelde tekste die toestande wat hulle geniet?
10 Hulle verwagtinge was egter anders as dié van die Jode wat in 537 v.G.J. na hulle vaderland teruggekeer het. Die lede van geestelike Israel het uitgesien na ’n erfenis wat vir hulle „in die hemele bewaar is” (1 Petrus 1:3-5). Maar voor hulle daardie erfenis kon ontvang, het Jehovah vir hulle werk gehad. Hieroor het hy profeties gesê: „Ek het my woorde in jou mond gelê en in die skaduwee van my hand jou verberg; om die hemel te plant en die aarde te grond en aan Sion te sê: My volk is jy!” (Jesaja 51:16). Hy het sy „woorde”, sy boodskap, in die mond van sy knegte gelê sodat hulle dit aardwyd kon verkondig. Met vertroue het hulle begin vertel dat God „die hemel” so stewig geplant het dat nòg mense nòg demone dit kan uitruk. Die manier waarop Jehovah met die verteenwoordigers van hemelse Sion gehandel het, het hulle duidelik as sy volk geïdentifiseer. In teenstelling met die geestelik en moreel vervalle toestand van die wêreld het die „land” wat deur geestelike Israel bewoon word, hulle terrein van werksaamheid, ’n plek geword waar geestelike waardes en bedrywighede gedy. Dit is ’n geestelike paradys! (Jesaja 32:1-4; 35:1-7; 65:13, 14; Psalm 85:2, 9-14 85:1, 8-13, NW). Maar wat van die „nuwe aarde” wat in Jesaja 65:17 voorspel is?
VOORBEREIDING VIR DIE „NUWE AARDE”
11. (a) Veral van wanneer af het Jehovah begin om toekomstige lede van die „nuwe aarde” in te samel? (b) Deur watter mense wat eertydse Babilon verlaat het, is hulle afgeskadu?
11 Veral van 1935 af het Jehovah die lede van geestelike Israel laat sien dat die tyd aangebreek het vir die insameling van ’n groot menigte mense wat verwag om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. In vergelyking met die „klein kuddetjie” Koninkrykserfgename het hulle inderdaad ’n groot menigte geword (Openbaring 7:9, 10). Hulle is ook in die geestelike paradys ingebring. Hulle is afgeskadu deur die nie-Israeliete wat Babilon in 537 v.G.J. saam met die Jode verlaat het, sowel as die wat agterna gekom het (Esra 2:58, 64, 65; 8:17, 20). Hierdie hele groot menigte hedendaagse getuies van Jehovah wat aardse verwagtinge koester, is toekomstige lede van die „nuwe aarde”.
12. Hoe word mense nou voorberei sodat hulle ’n geskikte fondament van die „nuwe aarde” kan wees?
12 Diegene wat die groot verdrukking oorleef en die vooruitsig op volmaakte menselewe het, sal inderdaad die fondament van daardie „nuwe aarde” uitmaak, aangesien hulle die eerste lede daarvan sal wees. Dit is belangrik dat die fondament sterk moet wees. Daarom word hulle nou reeds deeglik onderrig in Jehovah se weë. Hulle word gehelp om ’n grondige begrip te verkry van die geskil oor universele soewereiniteit. Hulle leer hoe noodsaaklik dit is om ‚met hulle hele hart op Jehovah te vertrou en nie op hulle eie insig te steun nie’ (Spreuke 3:5, 6). Hulle het die geleentheid om te toon dat hulle ywerige en lojale ondersteuners van God se Koninkryk is deur nou ten volle aan die verkondiging van „hierdie evangelie van die koninkryk” deel te neem (Mattheüs 24:14). Hulle ondervind self wat dit beteken om deel uit te maak van ’n aardwye gemeenskap waarin mense van alle nasies en tale en rasse in liefdevolle broederskap saamwerk (Johannes 13:35; Handelinge 10:34, 35). Lê jy jou persoonlik daarop toe om ten volle by hierdie onderrigtingsprogram baat te vind? Daar wag wonderlike dinge op almal wat dit doen.
DIE „NUWE AARDE” WORD ’N WERKLIKHEID
13. Hoe sal die komende „nuwe aarde” ’n veel luisterryker vervulling van Jehovah se belofte wees as wat in 537 v.G.J. plaasgevind het?
13 Die finale, volledige vervulling van Jehovah se belofte om „’n nuwe aarde” tot stand te bring, sal veel luisterryker wees as wat destyds in 537 v.G.J. plaasgevind het. Nie alleen sal diegene wat die „nuwe aarde” uitmaak mense wees wat van Babilon die Grote bevry is nie, maar daardie hele wêreldryk van valse godsdiens sal vir ewig vernietig wees (Openbaring 18:21). Hierdie regverdige mensegemeenskap—die „nuwe aarde”—sal nie omring wees deur nasies wat Jehovah smaad en sy knegte vervolg, soos tydens die eerste vervulling van Jesaja se profesie die geval was nie. Alle menseregerings sal, weens hulle weiering om hulle aan Jehovah se soewereiniteit te onderwerp, verbrysel wees, en die huidige, goddelose mensegemeenskap sal geheel en al van die aarde af uitgeroei wees (Daniël 2:44; Spreuke 2:21, 22). Wanneer God se regverdige Nuwe Orde begin, sal daar op die planeet Aarde slegs mense wees wat Jehovah eer en hulle in sy weë verlustig.—Psalm 37:4, 9.
14. (a) Wanneer sal 2 Petrus 3:13 en Openbaring 21:1 vervul word? (b) Wat sal anders wees omtrent die omstandighede waarin die „nuwe aarde” dan funksioneer? (c) Wie sal ’n deel van die „nuwe aarde” word?
14 Dit is van daardie heuglike tyd dat die apostel Petrus in sy tweede geïnspireerde brief geskryf het (2 Petrus 3:13). Die apostel Johannes het op dieselfde opwindende vooruitsig gewys toe hy besonderhede verstrek het van die openbaring wat aan hom gegee is. Hy het gesê: „Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie” (Openbaring 21:1). Wanneer die groot verdrukking verby is en Satan en sy demone in die afgrond is, sal ’n nuwe tydvak begin. Die slegte invloed van Satan en sy demone sal tot die verlede behoort. Sy hele stelsel sal vernietig wees. Die „nuwe hemel” sal dan Jehovah se liefdevolle voorneme met sy skepsele volbring sonder enige inmenging deur regerings wat Jehovah se soewereiniteit ignoreer. Daardie „nuwe hemel” sal regeer oor ’n waarlik „nuwe aarde” wat bestaan uit die „groot menigte” aan wie God die kosbare vooruitsig van eindelose lewe in ’n aardwye paradys van skoonheid, oorvloed, geluk en vrede gee. Wanneer God se bestemde tyd aanbreek om die mensedode op te wek, sal hulle ook die geleentheid hê om ’n deel te word van daardie „nuwe aarde” waarin geregtigheid sal woon.—Openbaring 20:12, 13.
15. Waarom is die belofte in Openbaring 21:3, 4 vir jou belangrik?
15 Die apostel Johannes het die volgende aankondiging uit die hemel gehoor in verband met die dinge wat God vir die mensdom in gedagte het: „Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:3, 4). Hoe verfrissend sal die lewe tog nie wees nie!
16. Watter toekomsverwagtinge word in ons harte gewek deur die beloftes in (a) Jesaja 11:6-9? (b) Jesaja 35:1-7? (c) Jesaja 65:20-25? (d) Wie maak hierdie verruklike vooruitsigte vir ons moontlik?
16 Die toestande wat in Eden bestaan het en die wonderwerke wat deur Jesus verrig is, bied wonderlike voorskouings van hoe die lewe in daardie „nuwe aarde” sal wees. Bowendien sal aspekte van die profesieë in Jesaja 11:6-9 en Jes 35:1-7 en Jes 65:20-25 dan letterlik vervul word, tot groot seën van die gehoorsame mensdom. Hoe verkwikkend sal dit tog nie wees wanneer mense onmisbare geestelike gesondheid en voorspoed tesame met fisiese en verstandelike volmaaktheid sal kan geniet op ’n aarde wat in elke opsig ’n paradys geword het nie! Met so ’n wonderlike vooruitsig vir die toekoms, hoe kan ons anders as om ons stemme te verhef in dankbaarheid teenoor Jehovah, die Groot Skepper van al hierdie dinge!