Hoofstuk 42
’n Nuwe hemel en ’n nuwe aarde
1. Wat beskryf Johannes wanneer die engel hom na die begin van die Duisendjarige Heerskappy terugneem?
HIERDIE glorieryke visioen ontvou hom verder wanneer die engel Johannes na die begin van die Duisendjarige Heerskappy terugneem. Wat beskryf hy? “En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien; want die vorige hemel en die vorige aarde het verbygegaan, en die see is daar nie meer nie” (Openbaring 21:1). ’n Fassinerende panorama word sigbaar!
2. (a) Hoe is Jesaja se profesie oor nuwe hemele en ’n nuwe aarde in 537 v.G.J. ten opsigte van die herstelde Jode vervul? (b) Hoe weet ons dat daar ’n verdere toepassing van Jesaja se profesie sal wees, en hoe word hierdie belofte vervul?
2 Honderde jare voor Johannes se dag het Jehovah vir Jesaja gesê: “Want kyk, ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde; en die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie” (Jesaja 65:17; 66:22). Hierdie profesie is aanvanklik vervul toe getroue Jode in 537 v.G.J. ná hulle 70 jaar lange ballingskap in Babilon na Jerusalem teruggekeer het. Tydens hierdie herstelling het hulle ’n gereinigde gemeenskap, “’n nuwe aarde”, onder ’n nuwe regeringstelsel, “nuwe hemele”, gevorm. Maar die apostel Petrus het op ’n verdere toepassing van die profesie gewys en gesê: “Maar daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13). Johannes toon nou dat hierdie belofte gedurende die dag van die Here vervul word. “Die vorige hemel en die vorige aarde”, Satan se georganiseerde stelsel van dinge met sy regeringstruktuur onder die invloed van Satan en sy demone, sal verbygaan. Die onstuimige “see” van goddelose, opstandige mense sal ophou bestaan. In die plek daarvan sal daar “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde” wees—’n nuwe aardse gemeenskap onder ’n nuwe regering, God se Koninkryk.—Vergelyk Openbaring 20:11.
3. (a) Wat beskryf Johannes, en wat is Nuwe Jerusalem? (b) Hoe ‘daal Nuwe Jerusalem uit die hemel neer’?
3 Johannes sê verder: “Ek het ook die heilige stad, Nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerdaal, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is” (Openbaring 21:2). Nuwe Jerusalem is die bruid van Christus, saamgestel uit die gesalfde Christene wat tot die dood getrou bly en wat opgewek word om saam met die verheerlikte Jesus konings en priesters te word (Openbaring 3:12; 20:6). Net soos aardse Jerusalem in eertydse Israel die regeringsetel geword het, maak die luisterryke Nuwe Jerusalem en haar Bruidegom die regering van die nuwe stelsel van dinge uit. Dit is die nuwe hemel. Die ‘bruid daal uit die hemel neer’, nie letterlik nie, maar in die sin dat sy haar aandag op die aarde rig. Die Lam se bruid sal sy lojale helper wees in die bestuur van ’n regverdige regering oor die hele mensdom. Inderdaad ’n seën vir die nuwe aarde!
4. Watter belofte maak God wat soortgelyk is aan sy belofte aan die pas gevormde nasie Israel?
4 Johannes sê verder vir ons: “Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk! Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees’” (Openbaring 21:3). Toe Jehovah die Wetsverbond met die destyds nuwe nasie Israel gesluit het, het hy beloof: “Ek sal beslis my tabernakel in julle midde plaas, en my siel sal julle nie verafsku nie. En ek sal inderdaad in julle midde wandel en bewys dat ek julle God is, en julle sal my volk wees” (Levitikus 26:11, 12). Jehovah maak nou ’n soortgelyke belofte aan getroue mense. Gedurende die duisendjarige Oordeelsdag sal hulle vir hom ’n baie spesiale volk word.
5. (a) Hoe sal God gedurende die Duisendjarige Heerskappy by die mensdom woon? (b) Hoe sal God ná die Duisendjarige Heerskappy onder die mensdom woon?
5 Gedurende die Duisendjarige Heerskappy sal Jehovah in ’n tydelike reëling onder die mensdom “woon”, verteenwoordig deur sy koninklike Seun, Jesus Christus. Maar aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy, wanneer Jesus die Koninkryk aan sy Vader oorgee, sal geen koninklike verteenwoordiger of bemiddelaar nodig wees nie. Jehovah sal in geestelike sin permanent en regstreeks by “sy volke” woon. (Vergelyk Johannes 4:23, 24.) Wat ’n verhewe voorreg vir die herstelde mensdom!
6, 7. (a) Watter wonderlike beloftes maak Johannes bekend, en wie sal die seëninge geniet? (b) Hoe beskryf Jesaja ’n geestelike sowel as ’n fisiese paradys?
6 Johannes sê verder: “En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Ons word weer eens aan vroeëre geïnspireerde beloftes herinner. Jesaja het ook uitgesien na die tyd wanneer die dood en verdriet nie meer daar sal wees nie en droefheid deur verheuging vervang sal word (Jesaja 25:8; 35:10; 51:11; 65:19). Johannes bevestig nou dat hierdie beloftes gedurende die duisendjarige Oordeelsdag op ’n wonderlike wyse in vervulling sal gaan. Eers sal die groot menigte die seëninge geniet. “Die Lam, wat in die middel van die troon is”, sal voortgaan om hulle herder te wees en “sal hulle na fonteine van waters van die lewe lei. En God sal elke traan van hulle oë afvee” (Openbaring 7:9, 17). Maar uiteindelik sal almal wat opgewek word en geloof in Jehovah se voorsienings beoefen, saam met hulle daar wees en ’n geestelike sowel as ’n fisiese paradys geniet.
7 “Dan”, sê Jesaja, “sal die oë van die blindes geopen word, en die ore van die dowes sal ontsluit word.” Ja, “dan sal die kreupele net soos ’n takbok klim, en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep” (Jesaja 35:5, 6). In daardie tyd sal hulle ook “beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. Hulle sal nie bou sodat iemand anders dit bewoon nie; hulle sal nie plant sodat iemand anders dit eet nie. Want die dae van my volk sal wees soos die dae van ’n boom; en die werk van hulle eie hande sal my uitverkorenes ten volle benut” (Jesaja 65:21, 22). Hulle sal dus nie van die aarde weggeneem word nie.
8. Wat sê Jehovah self oor die betroubaarheid van hierdie wonderlike beloftes?
8 Watter aangrypende toekomsbeelde vul ons gedagtes wanneer ons oor hierdie beloftes peins! Wonderlike voorsienings wag op die getroue mensdom onder die hemel se liefdevolle regering. Is sulke beloftes te goed om te glo? Is dit net die drome van ’n ou man in ballingskap op die eiland Patmos? Jehovah antwoord self: “En die Een wat op die troon sit, het gesê: ‘Kyk! Ek maak alles nuut.’ Ook sê hy: ‘Skryf, want hierdie woorde is betroubaar en waaragtig.’ En hy het vir my gesê: ‘Dit het geskied! Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde.’”—Openbaring 21:5, 6a.
9. Waarom kan ons absoluut seker wees dat hierdie toekomstige seëninge verwesenlik sal word?
9 Dit is asof Jehovah self vir die getroue mensdom ’n waarborg, of eiendomsbewys, van hierdie toekomstige seëninge onderteken. Wie sou dit waag om Iemand wat so ’n waarborg gee, in twyfel te trek? Trouens, hierdie beloftes van Jehovah is so seker dat hy praat asof dit reeds vervul is: “Dit het geskied!” Is Jehovah dan nie “die Alfa en die Omega . . . , die Een wat is en wat was en wat kom, die Almagtige” nie? (Openbaring 1:8). Hy is inderdaad! Hy sê self: “Ek is die eerste en ek is die laaste, en buiten my is daar geen God nie” (Jesaja 44:6). As sodanig kan hy profesieë inspireer en dit in elke besonderheid vervul. Hoe geloofversterkend is dit tog! Hy beloof dus: “Kyk! Ek maak alles nuut”! Pleks van te twyfel of hierdie wonders werklik sal gebeur, moet ons ons liewer afvra: ‘Wat moet ek persoonlik doen om sulke seëninge te beërf?’
“Water” vir dié wat dors is
10. Watter “water” bied Jehovah aan, en wat beeld dit af?
10 Dit is Jehovah self wat sê: “Aan elkeen wat dors is, sal ek uit die fontein van die water van die lewe gee, verniet” (Openbaring 21:6b). Om hierdie dors te les, moet ’n persoon bewus wees van sy geestelike behoefte en bereid wees om “die water” te aanvaar wat Jehovah voorsien (Jesaja 55:1; Matteus 5:3). Watter “water”? Jesus self het hierdie vraag beantwoord toe hy vir ’n vrou langs ’n put in Samaria getuig het. Hy het vir haar gesê: “Wie ook al van die water drink wat ek hom sal gee, sal nóóit dors word nie, maar die water wat ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein van water word wat opborrel om die ewige lewe te gee.” Hierdie “fontein van die water van die lewe” vloei van God af deur Christus as Sy voorsiening om die mensdom tot volmaakte lewe te herstel. Soos die Samaritaanse vrou moet ons inderdaad gretig wees om met diep teue uit hierdie fontein te drink! En soos daardie vrou moet ons bereid wees om alledaagse belange te laat vaar en liewer die goeie nuus aan ander te verkondig!—Johannes 4:14, 15, 28, 29.
Die oorwinnaars
11. Watter belofte maak Jehovah, en op wie is die woorde ten eerste van toepassing?
11 Dié wat van hierdie verkwikkende “water” drink, moet ook oorwin, soos Jehovah vervolgens sê: “Elkeen wat oorwin, sal hierdie dinge beërf, en ek sal sy God wees en hy sal my seun wees” (Openbaring 21:7). Hierdie belofte is soortgelyk aan die beloftes in die boodskappe aan die sewe gemeentes; gevolglik moet hierdie woorde ten eerste op gesalfde dissipels van toepassing wees (Openbaring 2:7, 11, 17, 26-28; 3:5, 12, 21). Christus se geestelike broers het deur die eeue heen gretig uitgesien na die voorreg om deel van Nuwe Jerusalem te wees. As hulle oorwin, soos Jesus oorwin het, sal hulle verwagtinge verwesenlik word.—Johannes 16:33.
12. Hoe sal Jehovah se belofte in Openbaring 21:7 ten opsigte van die groot menigte vervul word?
12 Die groot menigte uit alle nasies sien ook uit na hierdie belofte. Ook hulle moet oorwin deur God lojaal te dien totdat hulle uit die groot verdrukking kom. Dan sal hulle hulle aardse erfenis binnegaan, ‘die koninkryk wat van die grondlegging van die wêreld af vir hulle berei is’ (Matteus 25:34). Hulle en ander aardse skape van die Here wat die toets aan die einde van die duisend jaar deurstaan, word “heiliges” genoem (Openbaring 20:9). As lede van sy universele organisasie sal hulle ’n heilige vader-en-kind-verhouding met hulle Skepper, Jehovah God, geniet.—Jesaja 66:22; Johannes 20:31; Romeine 8:21.
13, 14. Watter gebruike moet ons vasbeslote wees om te vermy as ons God se wonderlike beloftes wil beërf, en waarom?
13 Hoe belangrik is dit tog, met die oog op hierdie wonderlike vooruitsig, dat Jehovah se Getuies nou rein bly van die besoedelende dinge van Satan se wêreld! Ons moet sterk, beslis en vasbeslote wees dat die Duiwel ons nooit sal laat sink tot die vlak van dié wat Jehovah self hier beskryf nie: “Maar wat die lafaards betref en dié sonder geloof en dié wat walglik is in hulle vuilheid en moordenaars en hoereerders en dié wat spiritisme beoefen en afgodedienaars en al die leuenaars, hulle deel sal wees in die poel wat met vuur en swael brand. Dit beteken die tweede dood” (Openbaring 21:8). Ja, die toekomstige erfgenaam moet die gebruike vermy wat hierdie ou stelsel van dinge besoedel het. Hy moet oorwin deur getrou te bly ten spyte van alle druk en versoekings.—Romeine 8:35-39.
14 Hoewel die Christendom beweer dat sy die bruid van Christus is, word sy gekenmerk deur die walglike gebruike wat Johannes hier beskryf. Sy word dus saam met die res van Babilon die Grote vir ewig vernietig (Openbaring 18:8, 21). Enige gesalfdes of lede van die groot menigte wat begin om sulke bose dinge te beoefen, of om dit te bevorder, staar ook ewige vernietiging in die gesig. As hulle daarmee volhou, sal hulle nie die beloftes beërf nie. En in die nuwe aarde sal enigiemand wat probeer om sulke gebruike in te voer, gou vernietig word en die tweede dood ondergaan, sonder die hoop op ’n opstanding.—Jesaja 65:20.
15. Wie is by uitstek oorwinnaars, en met watter visioen word Openbaring tot ’n grootse klimaks gevoer?
15 Die Lam, Jesus Christus, en sy bruid van 144 000, Nuwe Jerusalem, is by uitstek oorwinnaars. Hoe gepas dan dat Openbaring tot ’n grootse klimaks gevoer word met ’n finale, allesoortreffende beskrywing van Nuwe Jerusalem! Johannes beskryf nou sy laaste visioen.
[Prente op bladsy 302]
In die “nuwe aarde”-gemeenskap sal daar vreugdevolle werk en kameraadskap vir almal wees