Jehovah versamel sy volk en rus hulle toe vir die werk
Met verloop van die eeue het die afval deur die hele aarde versprei. Die baie kerkdenominasies het sekere Bybelse leerstellings gehad, maar het hoofsaaklik mensetradisies en talle gebruike van heidense oorsprong gevolg. Verwagtinge in verband met die wederkoms van Christus is merendeels op die agtergrond gestoot.—Vergelyk Mattheüs 13:24-30, 37-43.
Maar Jesus het sy volgelinge beveel om te waak met die oog op sy wederkoms! Een groep wat dit gedoen het, was in Allegheny, Pennsilvanië, V.S.A. In die vroeë 1870’s het Charles Taze Russell en ’n paar van sy vriende begin met ’n deeglike, buite-kerklike studie van die Bybel in verband met die wederkoms van Christus. Hulle het ook na Bybelse waarheid in verband met ander basiese leerstellings begin soek. Dit was die begin van die hedendaagse bedrywighede van Jehovah se Getuies.—Mattheüs 24:42.
Hierdie groep het tot die besef gekom dat die Drie-eenheidsleer onbybels is, maar dat Jehovah alleen die almagtige God en Skepper is, dat Jesus Christus Sy eerste skepping en eniggebore Seun is, en dat die heilige gees nie ’n persoon is nie, maar God se onsigbare werkende krag. Hierdie groep het ingesien dat die siel nie onsterflik is nie, maar sterflik, dat die hoop vir die dode ’n opstanding is en dat die straf vir onberouvolle goddeloosheid nie ewige pyniging is nie, maar vernietiging.
Daar is begryp dat Jesus se opoffering van sy lewe as losprys vir die mensdom ’n grondleerstelling van die Bybel is. Eers sal 144 000 mans en vroue, wat van die eerste eeu af tot in ons dag gekies is, van die aarde vrygekoop word sodat hulle mede-erfgename saam met Christus in die hemelse Koninkryk kan wees. Dan sal duisendmiljoene lede van die mensdom, waarvan die meeste uit die dood opgewek sal word, deur middel van Jesus se losprys menslike volmaaktheid bereik met die vooruitsig om vir ewig op aarde onder daardie Koninkryksheerskappy te lewe.
Russell en sy metgeselle het ook agtergekom dat Christus onsigbaar, in die gees, teenwoordig sou wees. Die Heidense Tye, waartydens God se soewereiniteit nie deur enige regering op aarde verteenwoordig is nie, sou in 1914 eindig. Dan sou God se Koninkryk in die hemel opgerig word. Hierdie leerstellings word vandag met Jehovah se Getuies geassosieer.
Russell en sy vriende het hierdie waarhede wyd en syd deur middel van toesprake en die gedrukte woord aangekondig. In Julie 1879 het Russell begin om Zion’s Watch Tower (nou bekend as Die Wagtoring) uit te gee. Hy het besluit dat die predikingswerk van die Bybelstudente geheel en al van vrywillige bydraes sou afhang en dat geen kollektes gehou sou word nie. Die boodskap sou boonop deur die onbesoldigde, vrywillige werk van die gelowiges versprei word. Russell het self bygedra uit die middele wat hy tot op daardie tydstip as sakeman vergaar het.
Die Bybelstudente het byeengekom in klasse, soos hulle gemeentes destyds genoem is. Hulle het tot drie keer per week vergader, vir toesprake, Bybelstudie en getuienisvergaderinge. Hulle het gereeld verantwoordelike manne tot ouderlinge verkies om oor die geestelike bedrywighede van elke klas toesig te hou.
In 1884 is Zion’s Watch Tower Tract Society in Pennsilvanië gestig as ’n korporasie sonder winsoogmerk. ’n President van die korporasie sou jaarliks verkies word. Dit het ’n wetlike instrument verskaf om die Bybelopvoedkundige werk te bevorder en was nie gebonde aan die lewe van enige mens nie. Charles T. Russell is tot president verkies, en sy kantoor is as die hoofkwartier beskou.
Kragtige pogings is aangewend om die werk na ander lande uit te brei. In die vroeë 1880’s het dit Kanada en Engeland bereik. In 1891 het Russell ’n reis na Europa en die Midde-Ooste onderneem om te kyk wat gedoen kan word om die waarheid aldaar te versprei. Vroeg in hierdie eeu is takkantore van die Genootskap in Brittanje, Duitsland en Australië geopen.
In 1909 is die hoofkwartier van die Wagtoringgenootskap na Brooklyn, New York, verskuif om die predikingswerk doeltreffender na alle dele van die wêreld uit te brei. Dit het nodig geword om ’n tweede korporasie kragtens die wet van die staat New York te stig, en dit is vandag bekend as die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. In 1914 is die International Bible Students Association in Londen, Engeland, gestig om die bedrywighede van die Bybelstudente in die Britse Statebond te bevorder. Daar is tans sowat 70 wetlike korporasies en verenigings in baie lande rondom die wêreld wat die doelstellings van die Wagtoringgenootskap bevorder. Almal is filantropies en word deur vrywillige bydraes en vrywilligerwerkers ondersteun.
In 1916 is Charles Taze Russell oorlede, en Joseph Franklin Rutherford het hom as president van die Wagtoringgenootskap opgevolg. Gedurende die laaste jare van die Eerste Wêreldoorlog is die Bybelstudente swaar beproef deur vervolging, wat ’n hoogtepunt bereik het in die wederregtelike gevangesetting van agt broers wat verantwoordelike posisies by die Genootskap se hoofkwartier in Amerika beklee het. Die werk van die Bybelstudente was oënskynlik in gevaar. Maar in 1919 is hierdie broers vrygelaat en heeltemal vrygespreek, en toe is daar met ’n groot uitbreiding van die predikingswerk begin.
Die verenigde liggaam van gesalfde Christen-Bybelstudente het aangehou om, deur die Genootskap se hoofkwartier, geestelike voedsel op tyd te verskaf aan almal wat aan die organisasie verbonde was. Net soos die gemeente van gesalfde Christene in die eerste eeu gesamentlik “die getroue en verstandige dienskneg” uitgemaak het wat deur Jesus gemeld is, net so maak die gesalfde, toegewyde Bybelstudente wat hulle besig hou met die Koninkrykswerk vandag “die getroue en verstandige dienskneg”-klas uit. Met Jesus se koms om die gemeente te ondersoek, het hy gevind dat hierdie klas voedsel aan die diensvolk verskaf; daarop het hy hom oor al sy besittings aangestel.—Mattheüs 24:45-47; Lukas 12:42.
Kort na die Eerste Wêreldoorlog is daar duidelik verstaan dat God se Koninkryk onder Christus Jesus in 1914 in die hemel opgerig is. Jesus se woorde kon dus nou ten volle vervul word: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Joseph F. Rutherford het die inisiatief geneem om hierdie Koninkryksboodskap aan selfs meer mense bekend te maak.—Mattheüs 24:14.
Die Genootskap het derhalwe besluit om sy eie drukwerk te doen met die hulp van vrywilligerwerkers wat toegewyde manne was. Die doel was om te verseker dat Bybellektuur altyd teen die laagste koste moontlik gelewer word. Alle Bybelstudente is aangespoor om gereeld die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Radio-uitsendings van Bybeltoesprake is in ’n aantal lande gebruik.
Voor 1918 het die Bybelstudente gemeen dat hulle doel met die prediking was om die oorblywende lede van die uitverkorenes, die wat saam met Christus Jesus in die hemel sou wees, in te samel en om die wêreld teen God se komende oordeel te waarsku. Weinig aandag is geskenk aan die insameling van diegene wat deur die einde van die teenswoordige bose stelsel heen behoue sou bly en op die aarde sou lewe. Toe, van 1918 af, is die toespraak “Daar lewe nou miljoene wat nooit sal sterf nie!” in baie dele van die wêreld gehou.
In 1923 het ’n studie van Jesus se gelykenis van die skape en die bokke in Mattheüs 25:31-46 getoon dat regverdige mense wat voor Armageddon lewe maar wat nie eendag in die hemelse Koninkryk gaan wees nie ook God se goedkeuring sal verkry en Armageddon sal oorlewe. In 1935 het verdere studie aan die lig gebring dat hierdie sagmoedige mense identies is aan die groot, ongetelde menigte wat in Openbaring 7:9-17 beskryf word. Hulle sou uit alle nasies versamel word en sou die vooruitsig hê om die Groot Verdrukking te oorlewe en die ewige lewe op aarde te ontvang. Hierdie begrip het die predikingswerk ’n groot stoot gegee.—Johannes 10:16.
In 1931 het die Bybelstudente die naam Jehovah se Getuies aangeneem. Voor daardie tyd was hulle bekend as die Bybelstudente, Internasionale Bybelstudente, Millennial Dawn-mense en Wagtoring-mense. Hulle is selfs Russelliete en Rutherfordiete genoem. Nie een van hierdie name het hulle behoorlik geïdentifiseer nie. Ofskoon die naam Christen, wat in die eerste eeu deur goddelike bestiering aan Jesus se dissipels gegee is, beslis toepaslik was, is dit ook gebruik deur talle groepe wat valse leerstellings aangehang het. Daar moes ’n naam wees wat Christus se ware volgelinge in ons dag onmiskenbaar sou identifiseer, om hulle te onderskei van die miljoene sogenaamde Christene.
’n Ondersoek van die Skrif het duidelik getoon dat, net soos Jehovah sy volk Israel sy getuies genoem het, sy volk aan die voleinding van die stelsel, wat hulle daarop toelê om sy naam en voorneme bekend te maak, ook tereg Jehovah se Getuies genoem moet word. Hierdie naam onderskei Jehovah se ware Christenaanbidders van alle ander wat vandag bely dat hulle Christene is.—Psalm 83:18, KJ; Jesaja 43:10-12.
In 1942, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, is Joseph F. Rutherford oorlede, en Nathan H. Knorr het hom as president van die Wagtoringgenootskap opgevolg. Dit het nou duidelik geword dat die profesieë onteenseglik aandui dat daar ’n na-oorlogse tydperk van relatiewe vrede en vryheid sou wees wat ’n groot uitbreiding van die predikingswerk vóór die einde van hierdie stelsel moontlik sou maak. In Februarie 1943 is die Wagtoring-Bybelskool Gilead gestig om voltydse bedienaars vir buitelandse sendingwerk op te lei. Later daardie jaar is ’n spesiale opleidingsprogram in die bediening by die weeklikse vergaderingrooster van Jehovah se Getuies gevoeg.
In 1950 het die Genootskap begin met die publikasie van gedeeltes van die New World Translation of the Holy Scriptures, ’n Bybelvertaling in moderne Engels uit die oorspronklike tale. Hierdie noukeurig vertaalde, maklik verstaanbare Bybel, wat teen lae koste op die Genootskap se drukperse gedruk word, was en is steeds ’n groot hulp in die predikingswerk. Tot op hede is meer as 40 miljoen eksemplare in 11 tale gepubliseer.
Teen die einde van 1985 het meer as driemiljoen van Jehovah se Getuies in oor die 200 lande en eilande aan die predikingswerk deelgeneem. By die herdenking van Christus se dood, die vergadering met die hoogste bywoning van enige vergadering wat gedurende 1985 in hulle 49 716 gemeentes gehou is, was daar altesaam 7 792 109 persone aanwesig.
Dat God werklik Jehovah se Getuies gebruik, blyk uit hulle volgehoue bedrywigheid in sy diens, uit hulle wêreldwye eenheid, uit hulle ywerige verdediging van Jehovah se naam en verkondiging van sy Koninkryk, uit hulle rein morele standaarde, uit hulle aanvaarding van die hele Bybel as God se onfeilbare Woord en uit die feit dat hulle vry is van bygeloof en spiritisme.
Die volgende hoofstukke toon hoe jy baat kan vind by hierdie herstel van die ware aanbidding van God.
• Watter basiese Bybelleerstellings het die Bybelstudente van kerkdenominasies onderskei?
• Watter organisatoriese ontwikkelings het die Bybelstudente tot 1918 ondervind?
• Hoe kan daar gesê word dat die groep gesalfde Bybelstudente “die getroue en verstandige dienskneg” van Mattheüs 24:45-47 uitmaak?
• Watter begrip van God se voorneme het die predikingswerk ’n groot stoot gegee?
• Aan watter doel beantwoord die naam Jehovah se Getuies?
• Wat bewys dat God werklik Jehovah se Getuies gebruik?
[Prente op bladsy 8]
C. T. Russell in 1879
Nommer van Julie 1879
Vroeë groep Bybelstudente, Pittsburgh, Pa.
[Prente op bladsy 9]
Hoofkwartier, 1889-1909, Pittsburgh, Pa.
Hoofkantoor, 1909-1918, Brooklyn, N.Y.
Hoofkwartier-woongebou, 1909-1926, Brooklyn, N.Y.
[Prente op bladsy 10]
Wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, Brooklyn, New York, V.S.A.
Links bo: Kantoorkompleks
Regs bo: Woongeboue
Links onder: Drukkery
Regs onder: Versendingsgebou
[Prente op bladsy 11]
Radio-uitsending deur J. F. Rutherford
Wagtoringgenootskap se eerste rotasiepers, deur vrywilligers bedien
New World Translation, nou in 11 tale beskikbaar