Hoofstuk 6
Waaksaam gedurende “die voleinding van die wêreld”
1. Waarom moet ons waaksaam bly?
ONS is diep in “die voleinding van die wêreld”, maar ons weet nie “die dag en die uur” waarop die lewensreddende verligtingswerk gaan eindig nie. Dit is waarom Jesus gesê het: “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet . . . nie.”—Mattheüs 24:3; 25:13.
2. Watter teleurstelling moet vermy word?
2 Dit sal voorwaar vir iemand teleurstellend wees as hy te laat by die plek vir ’n huweliksfees opdaag en vind dat die deur gesluit is. Dit is egter wat in die nabye toekoms met die oorgrote meerderheid naamchristene gaan gebeur. Die “Vredevors” het dit met hierdie woorde toegelig: “Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.”—Mattheüs 25:11, 12.
3. (a) Waarvoor het die tyd in 1919 aangebreek? (b) Kon die Christendom se godsdiensbeoefenaars die nodige geestelike olie voorsien?
3 Sedert 1919 is geestelike verligting deur verstandiges met behulp van die “olie” van Jehovah se Woord en heilige gees beskikbaar, maar dwase probeer om geestelike olie te koop by diegene in die valse Christendom wat beweer dat hulle dit verkoop (Mattheüs 25:9). Die godsdiensbeoefenaars van die Christendom het egter nie die regte olie nie. Hulle kon nie verligting oor die teenwoordigheid van Jesus Christus as die hemelse Bruidegom voorsien nie. Hulle verwag om dadelik hemel toe te gaan en hom te ontmoet wanneer hulle sterf, sonder dat hulle deelgeneem het aan die verligtingswerk gedurende hierdie “voleinding van die wêreld”.
4. Wat het diegene wat deur die dwase maagde afgebeeld is, tot dusver versuim om te doen, en waarom?
4 Daar was andersyds diegene wat soos geestelike maagde ’n reserwe van die “olie” van die heilige gees en God se Woord gehad het vir die na-oorlogse werk van wêreldwye verligting ten opsigte van “die koninkryk” (Mattheüs 24:14). Diegene wat in Jesus se gelykenis as dwase maagde uitgebeeld is, het nie deel daaraan deur die lig op hierdie goeie nuus van internasionale belang te laat skyn nie. Hulle het nie die “olie” van God se insiggewende Woord en sy heilige gees gehad nie, en die Bruidegom-Regter by die geestelike tempel het hierdie tekortkoming van hulle bespeur. Hulle hart was nie met die na-oorlogse werk wat dadelik in 1919 aangepak is deur die Christelike maagde wat verstandig was deur die tyd sowel as die werk te onderskei nie.
5. Aan watter werk wat noodsaaklik is om met die Bruidegom-Koning verenig te word, het die dwase maagde geen deel nie?
5 Deur hulle af te skei van diegene wat Jehovah se sigbare organisasie ondersteun, het die dwase versuim om deel te neem aan die wêreldwye Koninkryksgetuieniswerk. Hulle het eindelik “olie” van godsdiensverligting gekry, maar dit was nie die regte soort olie nie. Dit sou nie op die regte tyd vir die regte gebeurtenis verligting verskaf nie. Hulle verkondig gevolglik nie die Koninkryksboodskap en die “dag van die wraak van onse God” nie (Jesaja 61:1-3). Hulle begroet nie die Bruidegom-Koning soos die gesalfde oorblyfsel van die maagdeklas nie.
Die effek van die lamplig teen middernag
6, 7. (a) Wat het in die middeldertigerjare gebeur wat daarop gedui het dat daar genoeg maagde was om die bruidsklas voltallig te maak? (b) Op watter klas wat nou versamel moes word, is die aandag destyds gevestig?
6 Teen die middeldertigerjare het iets betekenisvols plaasgevind. Die ontwikkeling het daarop gedui dat die geestelike bruid van Christus voltallig was, dat daar genoeg geesverwekte dissipels van die Bruidegom op aarde was om sy hemelse bruid voltallig te maak.
7 Destyds, in 1935, is daar begin om die aandag te vestig op ’n ander klas dissipels van Jesus wat met “skape” vergelyk is. Dit was die klas waarop die publiek se aandag gedurende die Eerste Wêreldoorlog gevestig is. Dit was op 24 Februarie 1918 dat ’n toespraak oor die onderwerp “Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterf nie” voor ’n nuuskierige, moontlik skeptiese, gehoor gehou is. By die byeenkoms van Jehovah se Getuies in Washington, D.C., in 1935 is ’n positiewe stap gedoen om hierdie miljoene van Christus se “ander skape” in ’n verenigde “kudde” onder Jesus Christus as die “een herder” te versamel (Johannes 10:16). Die identiteit van hierdie deel van die “ander skape” wat in Openbaring 7:9-17 voorspel is, is bespreek.
8. Onder watter onverwagte verpligting het die verstandige maagde in 1935 gekom?
8 Die verpligting het nou op die oorblyfsel van die “klein kuddetjie” gerus om hierdie “groot menigte” “ander skape” te begin versamel (Lukas 12:32). Dit was omdat die getal verstandige maagde wat nodig was om Jesus se bruid voltallig te maak, nou gevul was. Maar sulke maagde is nie dadelik hemel toe geneem nie. Hulle moet nog toegang tot daardie hemelse feesvertrek verkry wanneer hulle hulle aardse loopbaan voltooi as onkreukbaarheidshandhawende getuies van hulle God, Jehovah. As gevolg van hulle getroue verligtingswerk tot 1935 het hulle ’n spesiale voorreg gekry wat hulle voor die middeldertigerjare nooit verwag het nie.
9. Tot hoeveel het die oorblywende lede van die verstandige maagde tot op hede afgeneem?
9 Meer as ’n halfeeu het sedert 1935 verstryk, en gedurende hierdie jare het die getal verstandige lede van die maagdeklas afgeneem. Die getuieniswerk het andersyds dwarsoor die wêreld uitgebrei, ja, om meer as 200 afsonderlike lande in te sluit. Op die oomblik het die maagdeklas tot om en by 9 000 afgeneem.
Die behulpsame metgeselle van die ligdraers
10. Is die oorblyfsel van die verstandige maagde, in die lig van die ontsaglike omvang van die taak, opgewasse teen die behoefte aan werkers?
10 Die gesalfde oorblyfsel van figuurlike maagde word feitlik uit die prentjie verdring deur die meer as driemiljoen Koninkryksverkondigers in meer as 49 000 gemeentes van Jehovah se Getuies rondom die aardbol. Hoe kon die klein getal van die gesalfde oorblyfsel omsien na die getuieniswerk in die meer as 200 lande waar daardie duisende gemeentes geleë is? Hulle kon nie.
11. (a) Wat het die identifisering van “die getroue en verstandige dienskneg” veroorsaak onder diegene wat bely het dat hulle maagde is? (b) Wat kan die lede van die “slegte dienskneg”-klas nie onderskei nie omdat hulle nie genoeg geestelike verligting het nie?
11 Hulle dien natuurlik Skriftuurlik in die voorspelde posisie van “die getroue en verstandige dienskneg” wat die Bruidegom-Heer getrou bevind het met sy koms na die tempel vir oordeel. Dit was toe dat daar ’n skeiding begin plaasvind het tussen die verstandige maagde en die dwase maagde van die figuurlike maagdeklas. Diegene wat gereken word as “daardie slegte dienskneg”-klas het nie die olie van God se insiggewende Woord en sy heilige gees in hulle kanne om hulle lampe aan te steek nie. Hulle het dus nie genoeg geestelike lig gehad om die “groot menigte” “ander skape” wat reeds sedert 1935 as deel van die “een kudde” versamel word te onderskei nie.—Mattheüs 24:45-51.
12. Wie het die onafskeibare metgeselle van die oorblyfsel van die bruidsklas geword?
12 Sedert die Tweede Wêreldoorlog kan die vervulling van Jesus se profesie oor “die voleinding van die wêreld” grootliks toegeskryf word aan die rol wat die “groot menigte” “ander skape” speel. Die lig van die aangesteekte lampe van die oorblyfsel het die oë van hulle harte verlig, en hulle is gehelp om die lig na ander wat nog in die duisternis van hierdie wêreld is te weerspieël. (Vergelyk Efesiërs 1:18, NW.) Hulle het miljoene bewoners van hierdie aarde gehelp om die teenwoordigheid van die Bruidegom-Koning te onderskei terwyl die dag vir sy huwelik met die volledige bruidsklas nader. Hulle het die onafskeibare metgeselle van die oorblyfsel van die bruidsklas geword.
13, 14. (a) Watter aangename situasie van die metgeselle van die oorblyfsel word figuurlik in Openbaring 7:9, 10 beskryf? (b) Wat was die onmiddellike reaksie op die verduideliking van daardie profesie?
13 Sedert 1935 is die lot van hierdie metgeselle van die oorblyfsel van die bruidsklas ’n vreugdevolle. Hulle verheug hulle nie net oor die wonderlike voorregte wat die oorblyfsel reeds geniet nie, maar ook oor die geseënde voorregte wat die oorblyfsel van die bruidsklas hulle gehelp het om te kry.
14 ’n Wonderlike teks is in 1935 by die byeenkoms te Washington, D.C., aan Jehovah se volk verduidelik, en dit het ’n aangename situasie vir die “groot menigte”, die metgeselle van die gesalfdes, voorspel. Kyk net hoe staan hulle daar “voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande”! Hoor wat hulle met ’n groot stem uitroep sodat die hele publiek dit kan hoor: “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” (Openbaring 7:9, 10). Hulle beoefen reeds geloof in “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”, en deur hom het hulle hulself aan Jehovah God toegewy en hulle laat doop as simbool van daardie toewyding (Johannes 1:29). Altesaam 840 is immers gedoop die dag nadat hulle die verduideliking van Openbaring 7:9-17 op Vrydag, 31 Mei 1935, gehoor het.
15. Hoeveel is sedertdien gedoop, en hoe word hulle in Openbaring 7:14-17 uitgebeeld?
15 Meer as driemiljoen mense het dieselfde gedoen sedert daardie byeenkoms in Washington in 1935. Hulle word gevolglik uitgebeeld as bekleed met wit klere omdat hulle dit gewas het in die reinigende bloed van die Lam. En hulle het die vooruitsig om uit die groot verdrukking te kom wat vir die hele mensdom voorlê omdat hulle goddelike beskerming reg deur daardie verdrukking sal hê (Mattheüs 24:21, 22). Daarom word hulle by die geestelike tempel van Jehovah uitgebeeld waar hulle hom saam met die oorblyfsel van die maagdeklas aanbid.—Openbaring 7:14-17.
16. Aan wie word daar gevolglik hartlike dank betuig vir hulle aandeel in die vervulling van Mattheüs 24:14?
16 Hartlike dank dus aan die internasionale, veeltalige “groot menigte” vir hulle oorweldigende aandeel in die vervulling van die Bruidegom se profesie in Mattheüs 24:14!
“En die deur is gesluit”
17. (a) Wanneer sal die deur tot die huweliksonthaal gesluit word? (b) Wat moet die oorblyfsel van die maagdeklas en hulle “groot menigte” metgeselle nou doen?
17 Ons weet nie presies wanneer die oorblyfsel van die maagdeklas aan die feestelike huweliksplegtighede begin deelneem en wanneer die deur gesluit word nie. Maar dit is ongetwyfeld nader as ooit, en die tyd word min! Dit is dus heel gepas dat Jesus die gelykenis van die maagde afgesluit het met die waarskuwing: “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet . . . nie.”—Mattheüs 25:13.
18. (a) Met wie het die dwase maagde hulle nou geïdentifiseer? (b) Watter deel van Jesus se gelykenis gaan hulle binnekort ondervind?
18 Dit is waarom die dwase maagde onverhoeds betrap gaan word. Deur hulle van die verstandige maagde af te skei, het hulle ’n deel geword van hierdie gedoemde wêreld en skaar hulle hul by al die ander godsdiensbeoefenaars daar buite in die verergerende, aardwye duisternis. Hulle gaan dus oorkom wat die Bruidegom Jesus Christus met hierdie woorde van die gelykenis uitgebeeld het: “Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.”—Mattheüs 25:10-12.
19. Wie beeld die dwase maagde gevolglik af, en waarom word hulle met Babilon die Grote geklassifiseer?
19 Die deur na die fees sal dus nie vir daardie dwase maagde oopgemaak word nie. Hulle is ’n goeie afbeelding van diegene wat gedurende “die voleinding van die wêreld” nie daarin slaag om in “die koninkryk van die hemele” in te gaan nie (Mattheüs 24:3; 25:1). Omdat hulle hulle gekose godsdiensvorm aanhang, soos aangedui deur die feit dat hulle mark toe gegaan het om ander olie te koop, word hulle saam met Babilon die Grote geklassifiseer.
20. (a) Tot wie gaan die dwase maagde hulle wend wanneer hulle sien hoedat die “tien horings” van die “dier” Babilon die Grote begin aanval, en op grond van watter aanspraak? (b) Waarom gaan hulle nietemin vernietig word?
20 Wanneer die simboliese “dier”, waarop die godsdienshoer ry, haar met sy “tien horings” aanval, sal hulle gevolglik haar lot deel (Openbaring 17:16). Wanneer sulke godsdiensbeoefenaars, wat deur die vyf dwase maagde afgebeeld is, sien hoedat die sterk magte van die politieke element begin om Babiloniese godsdiens te verwerp, sal hulle hulle tot die Bruidegom-Koning wend en daarop aanspraak maak dat hulle van “die koninkryk van die hemele”-klas is en waardig is om saam met die verstandige maagde tot die geestelike huweliksonthaal toegelaat te word. Maar skokkend genoeg sal die een wat hulle as “Meneer” aanspreek, die Bruidegom Jesus Christus, weier om hulle te herken as persone wat waardig is om tot die hemelse Koninkryk toegelaat te word. En hulle het geen hoop op die ewige lewe op aarde saam met die “groot menigte” gekoester nie. Daar bly dus niks behalwe vernietiging saam met die wêreldryk van valse godsdiens, Babilon die Grote, vir hierdie dwase godsdiensbeoefenaars oor nie!
21. (a) Watter weg bewandel die verstandige maagde en hulle metgeselle in die lig van daardie verskriklike vooruitsig? (b) Na watter diensvoorregte sien lede van die “groot menigte” uit?
21 Watter verskriklike vooruitsig is dit tog vir hulle! Omdat hulle hiervan bewus is, sal die oorblyfsel en hulle menigte metgeselle voortdurend ag slaan op Jesus se raad om te “waak”. Hulle sal altyd met God se heilige gees gevul wees en die lig onverskrokke tot die eer van Jehovah God en Jesus Christus laat skyn. As beloning word hulle van vreugde verseker! En op lede van die “groot menigte” wag daar vorstelike posisies in die “nuwe aarde”, soos deur die getroude Bruidegom-Koning bepaal.—Jesaja 32:1; vergelyk Psalm 45:17.
22. (a) Watter feit word bevestig deur die vervulling van die gelykenis van die maagde? (b) Wie gaan hulle verbly oor hierdie huwelik van die Bruidegom-Koning en sy maagdelike bruid?
22 Hierdie grotere vervulling van die gelykenis van die tien maagde is gevolglik bevestiging van die feit dat ons in “die voleinding van die wêreld” lewe. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat ons verlig is om hierdie getuienis van die nabyheid van Jesus Christus se huwelik met sy volledige bruidsklas te aanskou! Die hemel sowel as die regverdige “nuwe aarde” sal hulle met onbeskryflike vreugde oor hierdie hemelse huwelik verbly.—Openbaring 19:6-9.