Wedergeboorte
Definisie: Wedergeboorte behels waterdoop (‘gebore uit water’) en verwekking deur God se gees (‘gebore uit Gees’), waardeur ’n persoon ’n seun van God word met die vooruitsig om ’n aandeel in die Koninkryk van God te hê (Joh. 3:3-5). Jesus het hierdie ondervinding gehad, en so ook die 144 000 wat saam met hom erfgename van die hemelse Koninkryk is.
Waarom moet sommige Christene “weer gebore” word?
God het hom voorgeneem om ’n beperkte getal getroue mense saam met Jesus Christus in die hemelse Koninkryk te laat regeer
Luk. 12:32: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.”
Openb. 14:1-3: “Ek het gesien, en kyk, die Lam [Jesus Christus] staan op die berg Sion, en saam met hom honderd-vier-en-veertigduisend . . . wat van die aarde vrygekoop is.” (Kyk bladsye 199, 200, onder “Hemel”.)
Mense kan nie met liggame van vlees en bloed hemel toe gaan nie
1 Kor. 15:50: “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.”
Joh. 3:6: “Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.”
Slegs persone wat “weer gebore” is en sodoende God se seuns geword het, kan ’n aandeel in die hemelse Koninkryk hê
Joh. 1:12, 13: “Almal wat Hom [Jesus Christus] aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is.” (“Almal wat Hom aangeneem het”, beteken nie alle mense wat in Christus glo nie. Let op wie daar bedoel word, soos aangedui deur vers 11 [“sy eie mense”, die Jode]. Dieselfde voorreg is aan ander lede van die mensdom gebied, maar slegs aan ’n “klein kuddetjie”.)
Rom. 8:16, 17: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”
1 Pet. 1:3, 4: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons.”
Wat gaan hulle in die hemel doen?
Openb. 20:6: “Hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”
1 Kor. 6:2: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie?”
Kan iemand wat nie “weer gebore” is nie gered word?
Openb. 7:9, 10, 17: “Ná hierdie dinge [nadat die apostel Johannes die getal gehoor het van diegene wat “weer gebore” sou word, diegene wat die geestelike Israel sou uitmaak en saam met Christus in die hemel sou wees; vergelyk Romeine 2:28, 29 en Galasiërs 3:26-29] het ek gesien, en kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ’n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam! . . . Die Lam [Jesus Christus] wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei.”
Nadat dit talle voorchristelike geloofshelde gemeld het, sê Hebreërs 11:39, 40: “Alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.” (Wie word hier met “ons” bedoel? Hebreërs 3:1 toon dat hulle die “deelgenote van die hemelse roeping” is. Die voorchristelike persone wat geloof gehad het, moet dan ’n hoop hê om elders as in die hemel volmaakte lewe te geniet.)
Ps. 37:29: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”
Openb. 21:3, 4: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”
Is dit moontlik dat iemand God se gees kan hê sonder dat hy “weer gebore” is?
Aangaande Johannes die Doper het Jehovah se engel gesê: “Hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af” (Luk. 1:15). En Jesus het later gesê: “Onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy [Waarom? Omdat Johannes nie in die hemele sal wees nie en dus nie nodig gehad het om “weer gebore” te word nie]. Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe [toe Jesus dit gesê het] word die koninkryk van die hemele bestorm.”—Matt. 11:11, 12.
Die gees van Jehovah het oor Dawid “vaardig geword” en in hom ‘gespreek’ (1 Sam. 16:13; 2 Sam. 23:2), maar die Bybel sê nêrens dat hy “weer gebore” is nie. Dit was nie vir hom nodig om “weer gebore” te word nie, want soos Handelinge 2:34 sê: “Dawid het nie in die hemele opgevaar nie.”
Wat identifiseer persone wat vandag God se gees het?
Kyk bladsye 145, 146, onder “Gees”.
As iemand sê—
‘Ek is weer gebore’
Jy kan antwoord: ‘Dit beteken dat u verwag om eendag saam met Christus in die hemel te wees, nie waar nie? . . . Het u al ooit gewonder wat diegene wat hemel toe gaan daar sal doen?’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Hulle sal konings en priesters wees wat saam met Christus regeer (Openb. 20:6; 5:9, 10, vgl. NW, NAV). Jesus het gesê dat hulle net ’n “klein kuddetjie” sou wees (Luk. 12:32).’ (2) ‘As hulle konings is, moet daar ook onderdane wees oor wie hulle gaan regeer. Wie sal dit wees? . . . Hier is ’n paar gedagtes wat ek baie interessant gevind het toe dit onder my aandag gebring is (Ps. 37:11, 29; Spr. 2:21, 22).’
‘Is jy weer gebore?’
Jy kan antwoord: ‘Ek vind dat mense nie altyd dieselfde bedoel wanneer hulle van “wedergeboorte” praat nie. Kan u vir my sê wat u daarmee bedoel?’
Of jy kan sê: ‘U wil weet of ek Jesus as my Saligmaker aangeneem het en die heilige gees ontvang het, nie waar nie? Ek kan u verseker dat die antwoord Ja is; anders sou ek nie hier met u oor Jesus gepraat het nie.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Maar wanneer ek aan die heilige gees dink, vind ek dat bewys van daardie gees ongelukkig ontbreek by baie wat bely dat hulle Christene is (Gal. 5:22).’ (2) ‘Sal u daarvan hou om op hierdie aarde te lewe as almal daardie godvrugtige eienskappe openbaar? (Ps. 37:10, 11).’
’n Ander moontlikheid: ‘As u daarmee bedoel: “Het ek Christus as my Saligmaker aangeneem?” is die antwoord Ja. Al Jehovah se Getuies het dit gedoen. Maar vir ons behels wedergeboorte veel meer.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Toe Jesus gepraat het oor wedergeboorte, het hy gesê dat dit nodig was om in die Koninkryk van God in te gaan, dit wil sê, om ’n deel van God se Koninkryk, sy hemelse regering, te wees (Joh. 3:5).’ (2) ‘Die Bybel toon ook dat baie mense wat God se wil doen hier op aarde as gelukkige onderdane van daardie Koninkryk sal lewe (Matt. 6:10; Ps. 37:29).’
Nog ’n wenk: Lede van die hemelse klas kan antwoord: ‘Ja, ek is. Maar die Bybel maan ons almal om nie te seker van ons posisie te wees nie. Ons moet onsself voortdurend ondersoek om seker te maak dat ons werklik doen wat God en Christus van ons vereis (1 Kor. 10:12).’ Dan kan hulle byvoeg: ‘Watter verantwoordelikheid het Jesus aan sy ware dissipels opgedra? (Matt. 28:19, 20; 1 Kor. 9:16).’