Bybelboek nommer 24—Jeremia
Skrywer: Jeremia
Waar geskryf: Juda en Egipte
Geskrif voltooi: 580 v.G.J.
Beskrewe tydperk: 647–580 v.G.J.
1. Wanneer en deur wie is Jeremia aangestel?
DIE profeet Jeremia het gedurende gevaarlike en onstuimige tye gelewe. Jehovah het hom in die jaar 647 v.G.J., die 13de jaar van godvresende koning Josia van Juda se regering, aangestel. Tydens herstelwerk aan die huis van Jehovah is die boek van die Wet van Jehovah gevind en aan die koning voorgelees. Hy het hom daarop toegelê om dit toe te pas, maar hy kon die afval tot afgodery hoogstens tydelik stuit. Josia se grootvader Manasse, wat 55 jaar lank regeer het, en sy vader Amon, wat na ’n regering van net 2 jaar vermoor is, het albei goddeloos gehandel. Hulle het die volk in onrein fuiwery en gruwelike rites aangemoedig, sodat hulle daaraan gewoond geraak het om wierook aan die “hemelkoningin” en menseoffers aan demongode te offer. Manasse het Jerusalem met onskuldige bloed gevul.—Jer. 1:2; 44:19; 2 Kon. 21:6, 16, 19-23; 23:26, 27.
2. Wat was Jeremia se taak, en watter veelbewoë jare het sy profetering gedek?
2 Jeremia het nie ’n maklike taak gehad nie. Hy moes as Jehovah se profeet dien deur die verwoesting van Juda en Jerusalem, die verbranding van die luisterryke tempel van Jehovah en die gevangenskap van sy volk te voorspel—byna ongelooflike katastrofes! Hy moes 40 jaar in Jerusalem bly profeteer, dwarsdeur die regerings van slegte konings Joahas, Jojakim, Jojagin (Gonja) en Sedekia (Jer. 1:2, 3). Later moes hy in Egipte profeteer oor die afgoderye van die Joodse vlugtelinge aldaar. Sy boek is in 580 v.G.J. voltooi. Die tyd wat deur Jeremia gedek word, is derhalwe ’n veelbewoë tydperk van 67 jaar.—52:31.
3. (a) Hoe is die kanonisiteit en egtheid van die boek Jeremia in Hebreeuse tye bewys? (b) Watter verdere getuienis hiervan word in die Christelike Griekse Geskrifte aangetref?
3 Die naam van die profeet en van sy boek is in Hebreeus Jir·mejahʹ of Jir·mejaʹhoe, wat moontlik “Jehovah verhoog; of, Jehovah maak los [waarskynlik uit die moederskoot]” beteken. Die boek kom in al die katalogusse van die Hebreeuse Geskrifte voor en sy kanonisiteit word algemeen aanvaar. Die dramatiese vervulling van ’n aantal van die profesieë reeds tydens Jeremia se lewe staaf die egtheid daarvan ten volle. Boonop word Jeremia etlike kere by name in die Christelike Griekse Geskrifte genoem (Matt. 2:17, 18; 16:14; 27:9). Dat Jesus die boek Jeremia bestudeer het, blyk uit die feit dat hy die woorde van Jeremia 7:11 met dié van Jesaja 56:7 gekombineer het toe hy die tempel gereinig het (Mark. 11:17; Luk. 19:46). As gevolg van Jesus se vrymoedigheid en moed het party mense selfs gedink dat hy Jeremia is (Matt. 16:13, 14). In Hebreërs 8:8-12 en 10:16, 17 verwys Paulus na Jeremia se profesie oor ’n nuwe verbond (Jer. 31:31-34). Paulus haal Jeremia 9:24 aan waar hy sê: “Die wat roem, moet in die Here roem” (1 Kor. 1:31). In Openbaring 18:21 is daar ’n selfs kragtiger toepassing van Jeremia se illustrasie (Jer. 51:63, 64) oor Babel (Babilon) se val.
4. Hoe staaf die argeologie die verslag?
4 Argeologiese vondste staaf ook die verslag in Jeremia. ’n Babiloniese kroniek vertel byvoorbeeld van Nebukadnesar (Nebukadresar) se verowering van Jerusalem in 617 v.G.J., toe hy die koning (Jojagin) gevange geneem en een van sy keuse (Sedekia) aangestel het.—24:1; 29:1, 2; 37:1.a
5. (a) Wat is oor Jeremia self bekend? (b) Wat kan oor sy skryfstyl gesê word?
5 Ons het ’n vollediger biografie van Jeremia as van enige van die ander ou profete, met die uitsondering van Moses. Jeremia onthul baie oor homself, sy gevoelens en sy emosies, wat dui op onverskrokke vrymoedigheid en moed, gepaard met nederigheid en teergevoeligheid. Hy was nie net ’n profeet nie, maar ook ’n priester, ’n samesteller van die Skrif en ’n akkurate geskiedskrywer. Van geboorte was hy die seun van priester Hilkia van Anatot, ’n priesterstad in die gebied noord van Jerusalem, “in die land Benjamin” (1:1). Jeremia se skryfstyl is duidelik, direk en maklik verstaanbaar. Die boek is vol illustrasies en aanskoulike beeldspraak en bestaan uit prosa sowel as poësie.
INHOUD VAN JEREMIA
6. Hoe is die inhoud van die profesie gerangskik?
6 Die materiaal is nie chronologies gerangskik nie maar volgens die onderwerpe. Die tyd en omringende omstandighede verander dus baie in die verslag. Ten slotte word die verwoesting van Jerusalem en Juda in naakte besonderhede in hoofstuk 52 beskryf. Dit toon nie net die vervulling van ’n groot deel van die profesie nie, maar verskaf ook die agtergrond vir die volgende boek, Klaagliedere.
7. Hoe het Jeremia ’n profeet geword, en hoe stel Jehovah hom gerus?
7 Jehovah stel Jeremia aan (1:1-19). Word Jeremia aangestel omdat hy ’n profeet wou wees of omdat hy uit ’n priesterlike familie kom? Jehovah self verduidelik: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ’n profeet vir die nasies gemaak.” Dit is ’n toewysing van Jehovah. Is Jeremia bereid om te gaan? In nederigheid voer hy die verskoning aan: “Ek is jonk.” Jehovah stel hom gerus: “Hiermee lê Ek my woorde in jou mond. Kyk, Ek stel jou vandag aan oor die nasies en oor die koninkryke om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, om te bou en te plant.” Jeremia moenie bang wees nie. “Hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red.”—1:5, 6, 9, 10, 19.
8. (a) Waarin was Jerusalem ontrou? (b) Hoe sal Jehovah onheil bring?
8 Jerusalem, ’n ontroue vrou (2:1–6:30). Watter boodskap bring die woord van Jehovah aan Jeremia? Jerusalem het haar eerste liefde vergeet. Sy het Jehovah, die Fontein van lewende waters, verlaat en met vreemde gode gehoereer. Van ’n uitgesoekte rooi wingerdstok het sy verander in “wilde lote van ’n vreemde wingerdstok” (2:21). Haar some is bebloed met die siele van die arm onskuldiges. Selfs die prostituut Israel is regverdiger as Juda. God doen ’n beroep op hierdie afvallige seuns om terug te keer, want hy is hulle eggenoot-eienaar. Maar hulle was soos ’n verraderlike vrou. Hulle mag terugkeer as hulle hulle walglike dinge wegdoen en hulle harte besny. “Steek óp die banier na Sion toe”, want Jehovah sal ’n onheil vanuit die noorde bring (4:6). Ineenstorting op ineenstorting! Soos ’n leeu wat uit sy bos kom, soos ’n gloeiende wind deur die woestyn, met strydwaens soos ’n stormwind, so sal Jehovah se teregsteller kom.
9. (a) Watter woord het Jeremia vir wederstrewige Jerusalem? (b) Van watter nut is hulle vredesuitroepe?
9 Gaan swerf deur Jerusalem. Wat sien jy? Net oortredings en ontrouheid! Die volk het Jehovah verloën, en Sy woord in Jeremia se mond moet ’n vuur word om hulle soos stukke hout te verteer. Net soos hulle Jehovah verlaat het om ’n vreemde god te dien, sal Hy hulle vreemdes in ’n vreemde land laat dien. Wederstrewiges! Hulle het oë, maar kan nie sien nie en ore, maar kan nie hoor nie. Hoe verskriklik! Profete en priesters profeteer vals, “en my volk wil dit graag so hê”, sê Jehovah (5:31). Onheil nader vanuit die noorde en tog maak hulle, “van hul kleinste tot hul grootste . . . almal onregverdige wins”. Hulle sê: “Vrede, vrede!—terwyl daar geen vrede is nie” (6:13, 14). Die verwoester sal egter skielik kom. Jehovah het Jeremia ’n metaaltoetser onder hulle gemaak, maar daar is niks behalwe metaalskuim en verworpe silwer nie. Hulle is deur en deur sleg.
10. Waarom moet Jerusalem dieselfde lot hê as Silo en Efraim?
10 Waarskuwing dat die tempel geen beskerming is nie (7:1–10:25). Die woord van Jehovah kom tot Jeremia en hy moet ’n bekendmaking in die tempelpoort doen. Luister na hom terwyl hy diegene toeroep wat inkom: ‘Julle roem oor die tempel van Jehovah, maar wat doen julle? Julle verdruk die wees en weduwee, vergiet onskuldige bloed, loop agter ander gode aan, steel, moor, pleeg owerspel, sweer vals en bring offers aan Baäl! Skynheiliges! Julle het Jehovah se huis “’n rowerspelonk” gemaak. Onthou wat Jehovah aan Silo gedoen het. Hy sal dieselfde aan jou huis doen, o Juda, en hy sal jou uitwerp net soos hy Efraim (Israel) in die noorde uitgewerp het.’—Jer. 7:4-11, vgl. NW; 1 Sam. 2:12-14; 3:11-14; 4:12-22.
11. Waarom help dit nie meer om vir Juda te bid nie?
11 Dit help nie meer om vir Juda te bid nie. Die volk maak dan glad koeke om aan die “hemelkoningin” te offer! Waarlik, “dit is die nasie wat na die stem van die HERE hulle God nie geluister het nie en die tugtiging nie aangeneem het nie; die opregtheid het verdwyn” (Jer. 7:18, 28). Juda het verfoeisels in Jehovah se huis geplaas en het haar seuns en dogters op die hoogtes van Tofet in die dal van Hinnom verbrand. Kyk! Dit sal “Moorddal” genoem word, en hulle lyke sal voedsel vir die voëls en die diere word (7:32). Daar moet ’n einde kom aan vreugde en vrolikheid in Juda en Jerusalem.
12. In plaas van vrede, wat sal Juda en haar aangenome gode oorval?
12 Hulle het gehoop op vrede en genesing, maar kyk, verskrikking! Hulle wederstrewigheid sal tot verstrooiing, uitwissing en geweeklaag lei. ‘Jehovah is die lewende God en die Koning tot onbepaalde tyd.’ Die gode wat nie die hemele en die aarde gemaak het nie, het geen gees in hulle nie. Hulle is nietigheid en ’n werk vir spotterny, en hulle sal vergaan (10:10-15, vgl. NW). Jehovah sal die bewoners van die aarde uitslinger. Luister! ’n Groot geraas uit die land van die noorde wat die stede van Juda sal verwoes. Die profeet erken: ‘Die aardse mens is nie in staat om sy weg te rig nie’, en hy bid om getugtig te word sodat hy nie tot niet gemaak word nie.—10:23.
13. Waarom word Jeremia verbied om vir Juda te bid, en hoe versterk Jehovah Jeremia in ’n uur van gevaar?
13 Die verbondsverbrekers vervloek (11:1–12:17). Juda het die woorde van sy verbond met Jehovah nie gehou nie. Die volk roep tevergeefs om hulp. Jeremia moet nie vir Juda bid nie, want Jehovah ‘het ’n vuur aangesteek’ teen die eens weelderige olyfboom (11:16). Wanneer Jeremia se medeburgers van Anatot saamsweer om hom uit die weg te ruim, wend die profeet hom tot Jehovah om krag en hulp. Jehovah beloof wraak op Anatot. Jeremia vra: ‘Waarom is die weg van die goddelose voorspoedig?’ Jehovah verseker hom: ‘Ek sal die ongehoorsame nasie uitruk en tot niet maak.’—12:1, 17.
14. (a) Deur watter illustrasies maak Jehovah dit bekend dat Jerusalem onverbeterlik is en dat die oordeel oor haar onveranderlik is? (b) Wat het die eet van Jehovah se woorde vir Jeremia tot gevolg?
14 Jerusalem, onverbeterlik en tot ondergang gedoem (13:1–15:21). Jeremia vertel hoe Jehovah hom beveel het om ’n linnegord om sy heupe te bind en dit dan in ’n klipskeur by die Eufraat weg te steek. Toe Jeremia dit kom opgrawe, was dit bederf. “Dit was waardeloos.” So het Jehovah sy vaste voorneme geïllustreer om “die hoogmoed van Juda en dié van Jerusalem, wat so groot is”, te verderf (13:7, 9). Hy sal hulle in hulle dronkenskap teen mekaar slaan, soos groot kruike vol wyn. “Kan ’n Kusiet sy vel verander of ’n luiperd sy vlekke?” (13:23). Net so is Jerusalem onverbeterlik. Jeremia moenie vir hierdie mense bid nie. Al sou Moses en Samuel voor Jehovah verskyn om vir hulle tussenbeide te tree, sou hy nie luister nie, want hy het besluit om Jerusalem te vernietig. Jehovah versterk Jeremia teen sy smaders. Jeremia vind en eet Jehovah se woorde, wat tot ‘groot vreugde en vrolikheid van hart’ lei (15:16). Dit is nie die tyd vir ydele geskerts nie maar om op Jehovah te vertrou, wat belowe het om Jeremia ’n versterkte kopermuur teen die volk te maak.
15. (a) Hoe ernstig is die tye, en deur watter bevel beklemtoon Jehovah dit? (b) Hoe sal die volk Jehovah se naam leer ken, en waarom mislei hulle sonde hom nie?
15 Jehovah sal vissers en jagters stuur (16:1–17:27). Met die oog op die dreigende verwoesting beveel Jehovah Jeremia: “Jy mag vir jou geen vrou neem nie, en jy mag geen seuns of dogters hê in hierdie plek nie” (16:2). Dit is nie die tyd om saam met die volk te rou of fees te vier nie, want Jehovah staan op die punt om hulle uit die land te slinger. Dan belowe Jehovah ook om ‘vissers te stuur om hulle te vang en jagters om hulle te jag’, en wanneer hy al hierdie dinge doen, ‘sal hulle moet weet dat sy naam Jehovah is’ (16:16, 21). Die sonde van Juda is met ’n ystergriffel, ja, met ’n diamantpunt op die harte van die volk gegraveer. “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit”, maar Jehovah kan die hart deursoek. Niemand kan hom mislei nie. Die afvalliges het Jehovah, “die fontein van lewende water, verlaat” (17:9, 13). As Juda nie die Sabbatdag heilig nie, sal Jehovah haar poorte en torings met vuur verteer.
16. Wat illustreer Jehovah deur die pottebakker en sy kleivoorwerpe?
16 Die pottebakker en die klei (18:1–19:15). Jehovah beveel Jeremia om na die huis van die pottebakker toe te gaan. Daar sien hy hoe die pottebakker ’n mislukte kleivoorwerp neem en na sy goeddunke ’n ander voorwerp daarvan maak. Jehovah sê dan dat hy die Pottebakker vir die huis van Israel is, met die mag om af te breek of op te bou. Vervolgens sê hy Jeremia aan om ’n pottebakkerskruik na die dal van Hinnom te neem en daar onheil van Jehovah te verkondig omdat die volk die plek met onskuldige bloed gevul het deur hulle seuns met vuur te verbrand as volledige brandoffers aan Baäl. Jeremia moet dan die kruik breek as simbool van Jehovah se verbreking van Jerusalem en die volk van Juda.
17. Watter moeilike ondervinding het Jeremia, maar lê dit hom die swye op?
17 Hy gooi nie tou op onder vervolging nie (20:1-18). Jeremia se moedige prediking irriteer die hoofopsigter van die tempel, Pashur, en hy sit Jeremia ’n nag lank in die blok. By sy vrylating voorspel Jeremia Pashur se gevangenskap en dood in Babel. Bedroef oor die spot en smaad wat hy moet verduur, oorweeg Jeremia dit om tou op te gooi. Hy kan egter nie stilbly nie. Die woord van Jehovah word ‘in sy hart soos ’n brandende vuur, opgesluit in sy gebeente’, sodat hy hom gedronge voel om te spreek. Hoewel hy sy geboortedag vervloek, roep hy uit: “Sing tot eer van die HERE, prys die HERE! Want Hy het die siel van die behoeftige uit die hand van die kwaaddoeners verlos.”—20:9, 13.
18. Waarvan verwittig Jeremia Sedekia?
18 Jehovah se verontwaardiging teen die regeerders (21:1–22:30). In antwoord op ’n vraag van Sedekia verwittig Jeremia hom van Jehovah se toorn teen die stad: Die koning van Babel sal dit beleër, en dit sal deur die pes, swaard, hongersnood en vuur vernietig word. Sallum (Joahas) sal in ballingskap sterf, Jojakim sal ’n eselsbegrafnis hê en sy seun Gonja (Jojagin) sal uit Juda weggeslinger word en in Babel sterf.
19. Wat profeteer Jeremia oor “’n regverdige Spruit”, en wat word deur die twee mandjies vye geïllustreer?
19 Hoop op “’n regverdige Spruit” (23:1–24:10). Jehovah belowe dat ware herders die valse herders sal vervang en dat “’n regverdige Spruit” uit die geslag van Dawid sal kom, ’n koning wat waarlik ‘verstandig sal regeer en handel en reg en geregtigheid sal doen in die land’. Sy naam? ‘Hy sal genoem word: Jehovah is ons geregtigheid.’ Hy sal die verstrooide oorblyfsel bymekaarmaak (23:5, 6). As die profete deel van Jehovah se intieme groep uitgemaak het, sou hulle die volk laat hoor het en hulle van hulle slegte weg laat terugkeer het. In plaas daarvan, sê Jehovah, ‘verlei hulle my volk met hulle leuens’ (23:22, 32, vgl. NW). Kyk, “daar was twee mandjies met vye”. Jeremia gebruik die goeie en die slegte vye as ’n illustrasie van ’n getroue oorblyfsel wat in God se guns na hulle land terugkeer en van ’n ander klas wat tot ’n rampspoedige einde kom.—24:1, 5, 8-10.
20. Hoe gebruik Jehovah Babel as sy kneg, maar wat sal Babel se lot wees?
20 Jehovah se geskil met die nasies (25:1-38). Hierdie hoofstuk is ’n opsomming van oordele wat in meer besonderhede in hoofstukke 45-49 voorkom. In drie parallelle profesieë spreek Jehovah nou onheil oor al die nasies op die aarde uit. Eers word Nebukadnesar geïdentifiseer as Jehovah se kneg om Juda en die omringende nasies te verwoes, “en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien”. Dan sal dit Babel se beurt wees, en dié sal “ewige wildernisse” word.—25:1-14.
21. Wie moet uit die beker van Jehovah se grimmigheid drink? Met watter gevolg?
21 Die tweede profesie is die visioen van die beker van die wyn van Jehovah se grimmigheid. Jeremia moet hierdie beker na die nasies neem en hulle moet “drink en waggel en rasend word” weens Jehovah se vernietiging wat oor hulle kom. Eers na Jerusalem en Juda! Dan na Egipte, terug na Filistea, oor na Edom, op na Tirus, na lande naby en ver, en na “al die koninkryke van die aarde wat op die aardbodem is. En die koning van Sesag sal ná hulle drink.” Hulle sal ‘drink en braak en val’. Nie een sal gespaar bly nie.—25:15-29.
22. In watter groot onheil sal Jehovah se toorngloed tot uiting kom?
22 In die derde profesie bereik Jeremia groot digterlike hoogtes. “Die HERE sal brul uit die hoogte . . . teen al die inwoners van die aarde.” ’n Rumoer, onheil, ’n groot storm! “En die wat deur die HERE verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde.” Geen geweeklaag, geen begrafnisse nie. Hulle sal soos mis op die grond wees. Die valse herders sal geslag word, tesame met die aansienlikes van hulle kudde. Daar is vir hulle geen ontkoming nie. Luister na hulle gehuil! Jehovah self ‘verwoes hulle weivelde weens sy toorngloed’.—25:30-38.
23. (a) Watter sameswering word teen Jeremia gesmee, wat is sy verdediging, en watter presedente word aangevoer om hom vry te spreek? (b) Hoe beeld Jeremia die komende Babiloniese ballingskap uit, en watter profesie oor Hananja word vervul?
23 Jeremia geregverdig (26:1–28:17). Die regeerders en volk sweer saam om Jeremia dood te maak. Jeremia verdedig homself. Dit is die woord van Jehovah wat hy gespreek het. As hulle hom doodmaak, sal hulle ’n onskuldige man doodmaak. Die uitspraak: onskuldig. Die oudstes voer die presedente van die profete Miga en Uria aan wanneer hulle Jeremia se geval bespreek. Jehovah beveel Jeremia vervolgens om bande en jukke te maak, dit op sy nek te sit en dit dan na die omliggende nasies te stuur as simbole dat hulle die koning van Babel drie geslagte van regeerders moet dien. Hananja, een van die valse profete, staan Jeremia teë. Hy verklaar dat die juk van Babel binne twee jaar verbreek sal word en beeld dit uit deur die houtjuk te breek. Jehovah onderstreep sy profesie deur Jeremia ysterjukke te laat maak en hom te laat voorspel dat Hananja daardie jaar gaan sterf. Hananja sterf.
24. (a) Watter boodskap stuur Jeremia aan die ballinge in Babel? (b) Met wie sal Jehovah ’n nuwe verbond sluit, en hoe sal dit grootser wees as die vorige verbond?
24 Troos vir die bannelinge in Babel (29:1–31:40). Jeremia skryf aan die bannelinge wat saam met Jegonja (Jojagin) na Babel geneem is: Vestig julle daar, want daar kom ’n tydperk van 70 jaar van ballingskap voor Jehovah julle terugbring. Jehovah beveel Jeremia om oor hulle terugkeer in ’n boek te skryf: Jehovah sal hulle juk verbreek, en hulle sal beslis Jehovah “hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek [Jehovah] vir hulle sal verwek” (30:9). Ragel moet haar stem bedwing van geween, want haar kinders sal beslis “uit die land van die vyand terugkom” (31:16). En nou doen Jehovah ’n gerusstellende verklaring! Hy sal ’n nuwe verbond met die huis van Juda en van Israel sluit. Dit sal baie grootser wees as die verbond wat hulle verbreek het! Jehovah sal sy wet diep in hulle binneste, op hulle harte, skryf. “En Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.” Almal, van die kleinste tot die grootste, sal Jehovah ken, en hy sal hulle oortreding vergewe (31:31-34). Hulle stad sal herbou word as iets heiligs vir Jehovah.
25. Hoe word die sekerheid van Israel se herstel beklemtoon, en watter tyding bring die woord van Jehovah?
25 Jehovah se verbond met Dawid is seker (32:1–34:22). Gedurende Nebukadnesar se finale beleëring van Jerusalem word Jeremia in hegtenis gehou. As teken dat Jehovah Israel gewis sal herstel, koop Jeremia egter ’n stuk grond in Anatot en bêre hy die koopbrief in ’n erdepot. Die woord van Jehovah bring nou goeie nuus: Juda en Jerusalem sal hulle weer verheug, en Jehovah sal sy verbond met Dawid vervul. Maar jy, o Sedekia, wees gewaarsku dat die koning van Babel hierdie stad met vuur sal verbrand en dat jy in gevangenskap na Babel sal gaan. Wee die slawe-eienaars wat ooreengekom het om hulle slawe vry te stel, maar wat hulle verbond verbreek het!
26. Watter belofte doen Jehovah aan die Regabiete, en waarom?
26 Jehovah se belofte aan Regab (35:1-19). In die dae van koning Jojakim stuur Jehovah Jeremia na die Regabiete. By die eerste nadering van die Babiloniërs het hulle skuiling in Jerusalem kom soek. Jeremia bied hulle wyn aan om te drink. Hulle weier dit as gevolg van hulle voorvader Jonadab se bevel, wat meer as 250 jaar tevore gegee is. Inderdaad ’n treffende teenstelling met die ontroue handelwyse van Juda! Jehovah belowe hulle: “Daar sal vir Jonadab, die seun van Regab, nooit ’n man ontbreek wat altyd voor my aangesig sal staan nie.”—35:19.
27. Waarom moet die profesieë van Jeremia oorgeskryf word?
27 Jeremia skryf die boek oor (36:1-32). Jehovah beveel Jeremia om al die woorde van sy profesieë tot dusver neer te skryf. Jeremia dikteer dit aan Barug, wat dit dan op ’n vasdag in die huis van Jehovah voorlees. Koning Jojakim laat die rol haal, en telkens wanneer hy ’n deel daarvan hoor, skeur hy dit woedend stukkend en gooi hy dit in die vuur. Hy beveel dat Jeremia en Barug in hegtenis geneem word, maar Jehovah verberg hulle en sê Jeremia aan om ’n duplikaatrol te skryf.
28. (a) Watter profesieë spreek Jeremia voortdurend uit? (b) Hoe vorm Ebed-Meleg se handelwyse ’n teenstelling met dié van die vorste?
28 Jerusalem se laaste dae (37:1–39:18). Die verslag gaan terug na die regering van Sedekia. Die koning vra Jeremia om ten behoewe van Juda tot Jehovah te bid. Die profeet weier en sê dat Jerusalem se ondergang seker is. Jeremia probeer om na Anatot te gaan, maar hy word as ’n oorloper gevang, geslaan en dae lank opgesluit. Sedekia laat hom dan haal. Is daar ’n woord van Jehovah? Daar is beslis! “U sal in die hand van die koning van Babel oorgelewer word”! (37:17). Woedend oor Jeremia se voortdurende onheilsprofesieë gooi die vorste hom in ’n modderput. Ebed-Meleg, die Kusiet (Ethiopiër), ’n hofdienaar in die koning se huis, doen vriendelik vir hom ’n goeie woordjie sodat Jeremia van ’n stadige dood gered word, maar hy word steeds in die Voorhof van die Wag aangehou. Weer laat Sedekia Jeremia voor hom verskyn en word dan vertel: ‘Gee u oor aan die koning van Babel of maak u klaar vir gevangenskap en die vernietiging van Jerusalem!’—38:17, 18.
29. Watter onheil tref Jerusalem nou, maar hoe vaar Jeremia en Ebed-Meleg?
29 Die beleg van Jerusalem duur 18 maande, en dan word daar in die 11de jaar van Sedekia in die stad ingebreek. Die koning vlug met sy leër, maar word ingehaal. Sy seuns en die edeles word voor sy oë gedood, en hy word permanent verblind en in kettings na Babel geneem. Die stad word verbrand en in puin gelê, en almal behalwe ’n paar armes word in ballingskap na Babel weggevoer. Op Nebukadnesar se bevel word Jeremia uit die voorhof vrygelaat. Voor sy vrylating vertel hy Ebed-Meleg van Jehovah se belofte om hom te red ‘omdat hy op Jehovah vertrou het’.—39:18.
30. Hoe versuim die oorblywende mense om ag te slaan op Jeremia se raad, en watter oordeel van ondergang maak Jeremia in Egipte bekend?
30 Finale gebeure by Mispa en in Egipte (40:1–44:30). Jeremia bly in Mispa by Gedalja, wat deur die Babiloniërs as goewerneur aangestel is oor die oorblywende mense. Na twee maande word Gedalja vermoor. Die volk vra Jeremia se raad, en hy dra God se woord aan hulle oor: ‘Jehovah sal julle nie uit hierdie land uitruk nie. Wees nie bang vir die koning van Babel nie. Maar as julle na Egipte aftrek, sal julle sterf!’ Hulle trek wel af na Egipte en neem Jeremia en Barug saam met hulle. By Tagpanhes in Egipte maak Jeremia Jehovah se verdoemende oordeel bekend: Die koning van Babel sal sy troon in Egipte oprig. Dit is vir Israel nutteloos om die gode van Egipte te aanbid en om offers aan die “hemelkoningin” te hervat. Het hulle vergeet hoe Jehovah Jerusalem weens sy afgodery verwoes het? Jehovah sal onheil oor hulle bring in Egipteland, en hulle sal nie na Juda terugkeer nie. As ’n teken gee Jehovah Farao Hofra in die hand van sy vyande.
31. Watter versekering word Barug gegee?
31 Barug se lot (45:1-5). Barug is bekommerd wanneer hy Jeremia se herhaalde onheilsprofesieë hoor. Hy word aangesê om eers aan Jehovah se opbou- en afbreekwerk te dink pleks van vir homself ‘groot dinge te soek’ (45:5). Hy sal deur al die onheil gespaar bly.
32. Teen wie sal die “swaard van die HERE” kom?
32 Jehovah se swaard teen die nasies (46:1–49:39). Jeremia vertel van Babel se oorwinnings oor Egipte by Karkemis en ander plekke. Hoewel die nasies uitgewis sal word, sal Jakob bly, dog nie ongestraf nie. Die “swaard van die HERE” sal teen die Filistyne kom, teen trotse Moab en spoggende Ammon, teen Edom en Damaskus, Kedar en Hasor (47:6). Die boog van Elam sal verbreek word.
33. (a) Wat sal met die goue beker, Babel, gebeur? (b) Hoe moet God se volk derhalwe optree?
33 Jehovah se swaard teen Babel (50:1–51:64). Jehovah spreek met betrekking tot Babel: Vertel dit onder die nasies. Verberg niks. Babel is gevange geneem en sy gode is beskaamd gemaak. Vlug uit hom. Hierdie smidshamer wat die nasies van die hele aarde verbrysel het, is self verbreek. “o Vermetele”, die verdrukker van gevange Israel en Juda, weet dat Jehovah van die leërskare hulle Verlosser is. Babel sal ’n houplek van tjankende diere word. ‘Soos God Sodom en Gomorra omgekeer het, sal geen mensekind daar vertoef nie’ (50:31, 40). Babel was ’n goue beker in Jehovah se hand om die nasies dronk te maak, maar skielik het hy geval, sodat hy self stukkend is. Huil oor hom. Jehovah het die gees van die konings van die Meders opgewek om hom in die verderf te bring. Die sterk manne van Babel het opgehou veg. Hulle het soos vroue geword. Die dogter van Babel sal vasgetrap word soos ’n dorsvloer. Hulle moet “’n ewige slaap . . . slaap en nie wakker word nie”. Die see het opgerys en Babel met ’n menigte golwe bedek. “Gaan uit hom uit, my volk, en red elkeen sy lewe van die toorngloed van die HERE!” (51:39, 45). Luister na die geskreeu, na die groot verbreking van Babel! Babel se oorlogswapens moet verpletter word, want Jehovah is ’n God van vergelding. Hy sal gewis vergeld.
34. Watter teken illustreer Babel se val?
34 Jeremia beveel Seraja: ‘Gaan na Babel en lees hierdie woorde van die profesie teen Babel hardop. Maak dan ’n klip aan die boek vas en gooi dit binne-in die Eufraat. “En sê: So sal Babel sink en nie weer opkom nie weens die onheil wat Ek oor hom bring.”’—51:61-64.
35. Watter verslag volg nou?
35 Verslag van Jerusalem se val (52:1-34). Hierdie verslag is feitlik presies dieselfde as die een wat vroeër in 2 Konings 24:18-20; 25:1-21, 27-30 gedek is.
WAAROM NUTTIG
36. (a) Watter voorbeeld van moedige ywer het ons in Jeremia? (b) In watter opsigte is Barug, die Regabiete en Ebed-Meleg ook goeie voorbeelde vir ons?
36 Hierdie geïnspireerde profesie is in alle opsigte opbouend en nuttig. Kyk na die moedige voorbeeld van die profeet self. Hy het onbevrees ’n ongewilde boodskap aan ’n goddelose volk verkondig. Hy het omgang met die goddelose verag. Hy het die dringendheid van Jehovah se boodskap besef en hom van ganser harte aan Jehovah se werk gewy en nooit tou opgegooi nie. God se woord was soos ’n vuur in sy gebeente, en dit was vreugde en vrolikheid vir sy hart (Jer. 15:16-20; 20:8-13). Mag ons altyd so ywerig wees vir die woord van Jehovah! Laat ons ook God se knegte lojaal ondersteun, soos Barug Jeremia ondersteun het. Die opregte gehoorsaamheid van die Regabiete is ook ’n uitstekende voorbeeld vir ons, asook Ebed-Meleg se vriendelike konsiderasie teenoor die vervolgde profeet.—36:8-19, 32; 35:1-19; 38:7-13; 39:15-18.
37. Hoe versterk ’n bespreking van Jeremia geloof in Jehovah se vermoë om te profeteer?
37 Die woord van Jehovah wat tot Jeremia gekom het, is met verbasende akkuraatheid vervul. Dit versterk beslis geloof in Jehovah se vermoë om te profeteer. Beskou byvoorbeeld die vervulling van profesieë wat Jeremia self nog gesien het, soos die gevangeneming van Sedekia en die vernietiging van Jerusalem (21:3-10; 39:6-9), koning Sallum (Joahas) se onttroning en dood in gevangenskap (Jer. 22:11, 12; 2 Kon. 23:30-34; 2 Kron. 36:1-4), die wegvoering van koning Gonja (Jojagin) in ballingskap na Babel (Jer. 22:24-27; 2 Kon. 24:15, 16), en die valse profeet Hananja se dood binne ’n jaar (Jer. 28:16, 17). Al hierdie profesieë, en nog ander, is vervul net soos Jehovah voorspel het. Latere profete en knegte van Jehovah het Jeremia se profesie ook gesaghebbend en nuttig gevind. Daniël het byvoorbeeld in die geskrifte van Jeremia opgemerk dat Jerusalem se verwoesting 70 jaar sou duur, en Esra het die aandag gevestig op die vervulling van Jeremia se woorde aan die einde van die 70 jaar.—Dan. 9:2; 2 Kron. 36:20, 21; Esra 1:1; Jer. 25:11, 12; 29:10.
38. (a) Watter verbond, waarvan Jesus ook gepraat het, word in Jeremia se profesie beklemtoon? (b) Watter Koninkrykshoop word bekend gemaak?
38 By die geleentheid toe hy die viering van die Here se Aandmaal met sy dissipels ingestel het, het Jesus gewys op die vervulling van Jeremia se profesie oor die nuwe verbond. Hy het dus gepraat van “die nuwe [verbond] in my bloed”, waardeur hulle sondes vergewe en hulle as Jehovah se geestelike nasie byeengebring is (Luk. 22:20, vgl. NW; Jer. 31:31-34). Die geesverwektes wat in die nuwe verbond gebring word, is diegene met wie Christus ’n verbond vir ’n Koninkryk sluit om saam met hom in die hemele te regeer (Luk. 22:29; Openb. 5:9, 10; 20:6). Jeremia se profesie praat ’n hele paar keer van hierdie Koninkryk. Te midde van al die veroordelings van ontroue Jerusalem het Jeremia op hierdie straal van hoop gewys: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ’n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.” Ja, ’n koning wat ‘Jehovah is ons geregtigheid’ genoem word.—Jer. 23:5, 6.
39. Waarvan gee die terugkeer van ’n oorblyfsel uit Babel, soos deur Jeremia voorspel, ons die versekering?
39 Weer eens praat Jeremia van ’n herstel: “Hulle sal die HERE hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek” (30:9). Ten slotte vertel hy van die goeie woord wat Jehovah oor Israel en Juda gespreek het, naamlik dat Jehovah “in dié dae en in dié tyd . . . vir Dawid ’n Spruit van geregtigheid [sal] laat uitspruit” om sy saad te vermenigvuldig en sodat daar ’n “seun sal wees wat regeer op sy troon” (33:15, 21). Net so seker as wat ’n oorblyfsel uit Babel teruggekeer het, sal die Koninkryk van hierdie regverdige “Spruit” geregtigheid en regverdigheid in die hele aarde laat geskied.—Luk. 1:32.
[Voetnoot]
a Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 326, 480.