Bybelboek nommer 23—Jesaja
Skrywer: Jesaja
Waar geskryf: Jerusalem
Geskrif voltooi: Ná 732 v.G.J.
Beskrewe tydperk: ca. 778–ná 732 v.G.J.
1. Wat was die situasie in die Midde-Ooste, en veral in Israel en Juda, in die agtste eeu v.G.J?
DIE dreigende skaduwee van die wrede Assiriese monarg het swaar oor die ander ryke en kleiner koninkryke van die Midde-Ooste gehang. In die hele gebied is daar druk gepraat oor sameswerings en verbonde (Jes. 8:9-13). Afvallige Israel in die noorde sou weldra ’n slagoffer word van hierdie internasionale intrige, terwyl Juda se konings in die suide op onsekere wyse regeer het (2 Kon., hfst. 15-21). Nuwe oorlogswapens is ontwikkel en in gebruik geneem, wat die verskrikking van die tye vererger het (2 Kron. 26:14, 15). Waar kon enigeen beskerming en redding vind? Hoewel die naam van Jehovah op die lippe van die volk en die priesters in die klein koninkrykie van Juda was, het hulle harte ver afgedwaal in ander rigtings, eers na Assirië en toe na Egipte (2 Kon. 16:7; 18:21). Geloof in Jehovah se mag het gekwyn. Waar daar nie openlike afgodery was nie, is ’n skynheilige vorm van aanbidding beoefen, wat gegrond was op formalisme en nie op die ware vrees van God nie.
2. (a) Wie het gehoor gegee aan die oproep om namens Jehovah te spreek, en wanneer? (b) Waarom is hierdie profeet se naam betekenisvol?
2 Wie sou dan namens Jehovah spreek? Wie sou sy reddingsmag bekend maak? “Hier is ek, stuur my”, was die geredelike antwoord. Die spreker was Jesaja, wat reeds vroeër geprofeteer het. Dit was die jaar dat melaatse koning Ussia gesterf het, omstreeks 778 v.G.J. (Jes. 6:1, 8). Die naam Jesaja beteken “Redding van Jehovah”, wat dieselfde beteken, hoewel in omgekeerde volgorde geskryf, as die naam Jesus (“Jehovah is redding”). Van die begin tot die einde beklemtoon Jesaja se profesie hierdie feit, naamlik dat Jehovah redding is.
3. (a) Wat is bekend oor Jesaja? (b) Gedurende watter tydperk het hy geprofeteer, en wie was ander profete uit sy tyd?
3 Jesaja was die seun van Amos (wat nie verwar moet word met die profeet Amos van Juda nie) (1:1). Die Skrif swyg oor sy geboorte en dood, hoewel hy volgens Joodse oorlewering deur goddelose koning Manasse in stukke gesaag is. (Vergelyk Hebreërs 11:37.) Uit sy geskrifte blyk dit dat hy saam met sy vrou, ’n profetes, en ten minste twee seuns met profetiese name in Jerusalem gewoon het (Jes. 7:3; 8:1, 3). Hy het gedurende die tyd van ten minste vier konings van Juda gedien: Ussia, Jotam, Agas en Hiskia; hy het blykbaar omstreeks 778 v.G.J. (toe Ussia gesterf het, of moontlik vroeër) begin en voortgegaan tot ten minste ná 732 v.G.J. (Hiskia se 14de jaar), of nie minder as 46 jaar nie. Hy het ongetwyfeld ook sy profesie teen laasgenoemde jaar neergeskryf gehad (1:1; 6:1; 36:1). Ander profete uit sy tyd was Miga in Juda en, in die noorde, Hosea en Oded.—Miga 1:1; Hos. 1:1; 2 Kron. 28:6-9.
4. Wat dui daarop dat Jesaja die skrywer van die boek was?
4 Jesaja 30:8 bevestig die feit dat Jehovah Jesaja beveel het om profetiese oordele neer te skryf: “Gaan nou in, skryf dit op ’n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in ’n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid.” Die eertydse Joodse rabbi’s het Jesaja as die skrywer erken en die boek as die eerste boek van die groot profete (Jesaja, Jeremia en Esegiël) ingesluit.
5. Wat getuig van die eenheid van die boek Jesaja?
5 Ofskoon sommige beweer het dat die boek se verandering van styl vanaf hoofstuk 40 ’n aanduiding is van ’n ander skrywer, of “Tweede Jesaja”, moet die verandering van onderwerp genoeg wees om dit te verklaar. Daar is baie bewyse dat Jesaja die hele boek wat sy naam dra, geskryf het. Die eenheid van die boek blyk byvoorbeeld uit die uitdrukking “die Heilige van Israel”, wat 12 keer in hoofstukke 1 tot 39 voorkom, en 13 keer in hoofstukke 40 tot 66, altesaam 25 keer; terwyl dit slegs 6 keer in die res van die Hebreeuse Geskrifte voorkom. Die apostel Paulus getuig ook van die eenheid van die boek deur uit alle dele van die profesie aan te haal en die hele werk aan een skrywer, Jesaja, toe te skryf.—Vergelyk Romeine 10:16, 20; 15:12 met Jesaja 53:1; 65:1; 11:1.
6. Hoe lewer die Dooie See-rol van Jesaja oortuigende bewys (a) dat ons Bybels vandag die oorspronklike geïnspireerde geskrif weergee en (b) dat die hele boek deur een Jesaja geskryf is?
6 Dit is interessant dat ou dokumente in 1947 uit die duisternis van grotte in die omgewing van Khirbet Qumran, naby die noordwestelike oewer van die Dooie See, gebring is. Dit was die Dooie See-rolle, wat die profesie van Jesaja ingesluit het. Dit is pragtig geskryf in goed bewaarde pre-Masoretiese Hebreeus en is ongeveer 2 000 jaar oud, aangesien dit uit die laat tweede eeu v.G.J. dateer. Die teks daarvan is dus nagenoeg duisend jaar ouer as die oudste bestaande manuskrip van die Masoretiese teks, waarop moderne vertalings van die Hebreeuse Geskrifte gebaseer is. Daar is enkele geringe variasies in spelling en enkele verskille in grammatikale konstruksie, maar dit verskil nie van die Masoretiese teks wat leerstellings betref nie. Hier is oortuigende bewys dat ons Bybels vandag die oorspronklike geïnspireerde boodskap van Jesaja bevat. Daarbenewens weerlê hierdie ou rolle die kritici se bewerings dat daar twee “Jesajas” was, aangesien hoofstuk 40 op die laaste reël van die geskrifkolom begin wat hoofstuk 39 bevat, en die eerste sin word in die volgende kolom voltooi. Dus was die kopiis klaarblyklik onbewus van enige veronderstelde verandering in skrywer of van enige verdeling in die boek op hierdie plek.a
7. Watter oorvloedige bewyse is daar van Jesaja se egtheid?
7 Daar is oorvloedige bewyse van die egtheid van Jesaja se boek. Met die uitsondering van Moses word geen ander profeet meer kere deur die Christelike Bybelskrywers aangehaal nie. Daar bestaan eweneens ’n oorvloed van geskiedkundige en argeologiese materiaal wat bewys dat dit eg is, soos die geskiedverslae van die Assiriese monarge, met inbegrip van Sanherib se seskantige prisma waarop hy sy eie verslag van die beleëring van Jerusalem geeb (Jes., hfst. 36, 37). Die puinhoop wat eens Babel was, getuig steeds van die vervulling van Jesaja 13:17-22.c Daar was ’n lewende getuienis in elkeen van die duisende Jode wat uit Babel teruggekeer het, bevry deur ’n koning wie se naam, Kores, bykans 200 jaar vroeër deur Jesaja opgeteken is. Heel waarskynlik is Kores later hierdie profetiese geskrif getoon, want toe hy die Joodse oorblyfsel bevry het, het hy gesê dat hy deur Jehovah beveel is om dit te doen.—Jes. 44:28; 45:1; Esra 1:1-3.
8. Hoe word die inspirasie van die boek deur die vervulling van die Messiaanse profesieë bewys?
8 Die Messiaanse profesieë is uitsonderlik in die boek Jesaja. Jesaja is al “die evangelis-profeet” genoem, so talryk is die voorspellings wat deur die gebeure in Jesus se lewe vervul is. Hoofstuk 53, wat lank ’n “verborge hoofstuk” was, nie net vir die Ethiopiese hofdienaar waarvan Handelinge hoofstuk 8 praat nie maar ook vir die Joodse volk as ’n geheel, voorspel die manier waarop Jesus behandel sou word so duidelik dat dit soos ’n ooggetuieverslag is. Die Christelike Griekse Geskrifte berig oor die profetiese vervullings van hierdie merkwaardige hoofstuk van Jesaja, soos die volgende vergelykings toon: v. 1—Johannes 12:37, 38; v. 2—Johannes 19:5-7; v. 3—Markus 9:12; v. 4—Mattheüs 8:16, 17; v. 5—1 Petrus 2:24; v. 6—1 Petrus 2:25; v. 7—Handelinge 8:32, 35; v. 8—Handelinge 8:33; v. 9—Mattheüs 27:57-60; v. 10—Hebreërs 7:27; v. 11—Romeine 5:18; v. 12—Lukas 22:37. Wie anders as God kon die bron van sulke akkurate voorspellings gewees het?
INHOUD VAN JESAJA
9. In watter gedeeltes word die inhoud van Jesaja verdeel?
9 Die eerste ses hoofstukke verstrek die agtergrond in Juda en Jerusalem en vertel van Juda se skuld voor Jehovah en Jesaja se aanstelling. Hoofstukke 7 tot 12 handel oor dreigende vyandelike invalle en die belofte van verligting deur die Vredevors wat deur Jehovah aangestel word. Hoofstukke 13 tot 35 bevat ’n reeks uitsprake teen baie nasies en ’n voorspelling oor redding wat Jehovah sal voorsien. Historiese gebeure gedurende Hiskia se regering word in hoofstukke 36 tot 39 beskryf. Die tema van die oorblywende hoofstukke, 40 tot 66, is die bevryding uit Babel, die terugkeer van die Joodse oorblyfsel en die herstel van Sion.
10. (a) Waarom doen Jesaja ’n beroep op die nasie om sake reg te stel? (b) Wat voorspel hy vir die laaste deel van die dae?
10 Jesaja se boodskap “met betrekking tot Juda en Jerusalem” (1:1–6:13). Sien hom daar, geklee in saklinne en sandale terwyl hy in Jerusalem staan en uitroep: Diktators! Volk! Luister! Julle nasie is van die voetsool af tot die hoof toe siek, en julle het Jehovah vermoei met julle bloedbevlekte hande wat in gebed opgehef is. Kom nou, stel sake reg met hom, dat skarlaken sondes so wit soos sneeu gemaak kan word. In die laaste deel van die dae sal die berg van Jehovah se huis verhef word, en al die nasies sal vir onderrig daarheen toestroom. Hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Jehovah sal verhoog en geheilig word. Maar tans bring Israel en Juda, hoewel hulle as ’n uitgesoekte wingerdstok geplant is, druiwe van wetteloosheid voort. Hulle maak goed sleg en sleg goed, want hulle is wys in hulle eie oë.
11. Tesame met watter gesig ontvang Jesaja sy opdrag?
11 “Ek [het] die Here sien sit op ’n hoë en verhewe troon”, sê Jesaja. Saam met die gesig kom Jehovah se opdrag: “Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur.” Hoe lank? “Totdat die stede verwoes lê.”—6:1, 9, 11.
12. (a) Hoe word Jesaja en sy seuns as profetiese tekens gebruik? (b) Watter uitsonderlike belofte word in Jesaja hoofstuk 9 gegee?
12 Dreigende vyandelike invalle en die belofte van verligting (7:1–12:6). Jehovah gebruik Jesaja en sy seuns as profetiese ‘tekens en sinnebeelde’ om te toon dat Sirië en Israel se bondgenootskap teen Juda eers sal misluk, maar dat Juda later in gevangenskap weggevoer sal word, met net ’n oorblyfsel wat sal terugkeer. ’n Maagd sal swanger word en ’n seun baar. Sy naam? Immanuel (wat “Met ons is God” beteken). Laat die verenigde vyande teen Juda kennis neem! “Gord julle en—stort inmekaar.” Daar sal moeilike tye wees, maar dan sal ’n groot lig oor God se volk skyn. Want ’n kind is vir ons gebore, “en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors”.—7:14; 8:9, 18; 9:5.
13. (a) Watter uiteinde wag op die onbeskaamde Assiriër? (b) Wat sal die gevolg van die heerskappy van die “takkie” van Isai wees?
13 “Wee Assur”, roep Jehovah uit, “die roede van my toorn.” Na God daardie roede teen “’n roekelose [“afvallige”, NW] nasie” gebruik het, sal hy die onbeskaamde Assiriër self vel. Later sal net ’n ‘oorblyfsel terugkom’ (10:5, 6, 21). Kyk nou, ’n loot, ’n takkie uit die stomp van Isai (Dawid se vader)! Hierdie “takkie” sal in geregtigheid regeer, en deur hom sal die hele skepping genot kan smaak, sonder kwaad of verderf, “want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (11:1, 9). Met hom as banier vir die nasies loop ’n grootpad uit Assirië vir die terugkerende oorblyfsel. Daar sal met vreugde water geskep word uit die fonteine van redding en tot Jehovah psalmgesing word.
14. Watter val word vir Babel voorspel?
14 Die bekendmaking van Babel se ondergang (13:1–14:27). Jesaja kyk nou verby die Assiriër se dag tot in Babel se glorietyd. Luister! Die geluid van talle mense, die rumoer van koninkryke, van versamelde nasies! Jehovah monster die oorlogsleër! Dit is ’n donker dag vir Babel. Verbaasde gesigte vlam en harte versmelt. Die genadelose Meders sal Babel, “die sieraad van die koninkryke”, omverwerp. Dit sal “van geslag tot geslag” ’n onbewoonde woesteny en ’n houplek van wilde diere wees (13:19, 20). Die dode in Sjeool word in beroering gebring om die koning van Babel te ontvang. Maaiers word sy bed en wurms sy bedekking. Wat ’n vernedering vir hierdie ‘skynende, die seun van die daeraad’! (14:12, vgl. NW). Hy het daarna gestreef om sy troon te verhoog, maar het ’n uitgeworpe karkas geword, want Jehovah vee Babel met die besem van vernietiging. Geen naam, geen oorblyfsel, geen kroos, geen nakomelinge moet oorbly nie!
15. Oor watter internasionale verwoestinge profeteer Jesaja?
15 Internasionale verwoestinge (14:28–23:18). Jesaja wys nou terug na Filistia langs die Mediterreense See en dan na Moab, suidoos van die Dooie See. In sy profesie steek hy Israel se noordelike grens na Siriese Damaskus oor, gaan hy ver suid na Kus (Ethiopië) en beweeg hy met die Nyl langs tot in Egipte, terwyl God se oordele oral langs die pad verwoesting veroorsaak. Hy vertel dat Assiriese koning Sargon, die voorganger van Sanherib, bevelhebber Tartan teen die Filistynse stad Asdod, wes van Jerusalem, gestuur het. Op hierdie stadium word Jesaja aangesê om sy klere uit te trek en drie jaar lank naak en kaalvoet te loop. So beeld hy op aanskoulike wyse uit hoe nutteloos dit is om op Egipte en Ethiopië te vertrou, wat, “ontbloot aan die agterdele”, deur die Assiriër as gevangenes weggevoer sal word.—20:4.
16. Watter rampe word vir Babel, Edom en Jerusalem se onstuimiges, sowel as vir Sidon en Tirus, gesien?
16 ’n Wag op sy wagtoring sien die val van Babel en sy gode, en hy sien teenspoed vir Edom. Jehovah self spreek Jerusalem se onstuimige inwoners toe wat sê: “Laat ons eet en drink, want môre sterf ons.” ‘Sterf sal julle’, sê Jehovah (22:13, 14). Ook die skepe van Tarsus moet huil, en Sidon sal beskaamd staan, want Jehovah het teen Tirus beraadslaag om “die edeles van die aarde in veragting te bring”.—23:9.
17. Watter oordeel en watter herstel word vir Juda voorspel?
17 Jehovah se oordeel en redding (24:1–27:13). Maar kyk nou na Juda! Jehovah ontvolk die land. Volk en priester, kneg en heer, koper en verkoper—almal moet gaan, want hulle het God se wette oortree en die verbond wat tot onbepaalde tyd duur, verbreek. Maar mettertyd sal hy sy aandag op die gevangenes rig en hulle vergader. Hy is ’n vesting en ’n skuilplek. Hy sal ’n feesmaal in sy berg berei en die dood vir ewig vernietig, terwyl hy die trane van alle aangesigte afvee. “Dit is onse God”, sal daar gesê word. “Dit is [Jehovah]” (25:9, vgl. NW). Juda het ’n stad met redding as mure. Diegene wat op Jehovah vertrou, sal duursame vrede geniet, “want in Jah Jehovah is die Rots van onbepaalde tye”. Maar die goddelose sal “eenvoudig nie regverdigheid leer nie” (26:4, 10, NW). Jehovah sal sy teenstanders verslaan, maar hy sal Jakob herstel.
18, 19. (a) Watter teenstellende weë en vreugdes word vir Efraim en Sion verkondig? (b) In watter hoedanighede sal Jehovah sy volk red en regeer?
18 God se verontwaardiging en seëninge (28:1–35:10). Wee Efraim se dronkaards, wie se “pronksieraad” moet verwelk! Maar Jehovah sal soos “’n sierlike kroon en ’n pragtige krans” vir die oorblyfsel van sy volk word (28:1, 5). Die spoggers van Jerusalem maak egter ’n leuen hulle skuilplek, eerder as die beproefde en kosbare hoeksteen in Sion. ’n Stortvloed sal hulle almal wegwas. Jerusalem se profete slaap en God se boek is vir hulle verseël. Lippe kom nader, maar harte is ver weg. Tog sal die dag aanbreek wanneer die dowes die woorde van die boek sal hoor. Die blindes sal sien en die sagmoediges sal hulle verheug.
19 Wee dié wat hulle toevlug tot Egipte neem! Hierdie hardnekkige volk wil vleiende, bedrieglike visioene hê. Hulle sal afgesny word, maar Jehovah sal ’n oorblyfsel herstel. Hulle sal hulle Grootse Onderrigter sien, en hulle sal hulle beelde weggooi en dit “loutere vullis” noem! (30:22, NW). Jehovah is Jerusalem se ware Verdediger. ’n Koning sal in geregtigheid regeer, saam met sy vorste. Hy sal tot onbepaalde tyd vrede, rus en veiligheid bring. Verraad sal die boodskappers van vrede bitterlik laat ween, maar vir sy eie volk is die Majestueuse, Jehovah, ’n Regter, Wetgewer en Koning, en hy self sal hulle red. Geen inwoner sal dan sê: “Ek is siek” nie.—33:24.
20. Watter verontwaardiging sal teen die nasies ontvlam, maar watter seën wag op die herstelde oorblyfsel?
20 Jehovah se verontwaardiging moet teen die nasies ontvlam. Lyke sal stink en berge sal smelt van bloed. Edom moet verwoes word. Maar vir Jehovah se losgekooptes sal die woestynvlakte bloei, en “die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God”, sal verskyn (35:2). Die blindes, die dowes en die stommes sal genees word, en die Heilige Weg sal vir die losgekooptes van Jehovah geopen word wanneer hulle met vreugde na Sion terugkeer.
21. Watter uittartinge slinger die Assiriër Jerusalem toe?
21 Jehovah dryf Assirië in Hiskia se dag terug (36:1–39:8). Is Jesaja se vermaning om op Jehovah te vertrou prakties? Kan dit die proef deurstaan? In die 14de jaar van Hiskia se regering trek Sanherib van Assirië soos ’n seis deur Palestina en laat hy ’n deel van sy troepe uitdraai om Jerusalem te probeer intimideer. Sy Hebreeussprekende woordvoerder, Rabsake, slinger die volk wat op die stadsmure staan uitdagende vrae toe: ‘Waarop vertrou julle? Egipte? ’n Geknakte rietstok! Jehovah? Daar is geen god wat iemand uit die hand van die koning van Assirië kan red nie!’ (36:4, 6, 18, 20). In gehoorsaamheid aan die koning gee die volk geen antwoord nie.
22. Hoe verhoor Jehovah Hiskia se gebed, en hoe vervul Hy Jesaja se profesie?
22 Hiskia bid dat Jehovah hulle red ter wille van Sy naam, en deur Jesaja antwoord Jehovah dat Hy sy haak in die Assiriër se neus sal sit en hom sal teruglei op die pad wat hy gekom het. ’n Engel slaan 185 000 Assiriërs dood, en Sanherib haas hom terug huis toe, waar sy eie seuns hom later in sy heidense tempel vermoor.
23. (a) By watter geleentheid komponeer Hiskia ’n psalm aan Jehovah? (b) Watter onverstandige ding doen hy, wat aanleiding gee tot watter profesie deur Jesaja?
23 Hiskia word dodelik siek. Jehovah laat egter die skaduwee wat deur die son gegooi word op wonderdadige wyse teruggaan as ’n teken dat Hiskia gesond sal word, en 15 jaar word by Hiskia se lewe gevoeg. Uit dankbaarheid komponeer hy ’n pragtige lofpsalm aan Jehovah. Wanneer die koning van Babel boodskappers stuur om hom ewe skynheilig met sy herstel geluk te wens, is Hiskia onverstandig en wys hy hulle die koninklike skatte. Gevolglik voorspel Jesaja dat alles in Hiskia se huis eendag na Babel weggevoer sal word.
24. (a) Watter vertroostende nuus verkondig Jehovah? (b) Kan die gode van die nasies met Jehovah vergelyk wat grootheid betref, en om watter getuienis vra hy?
24 Jehovah vertroos sy getuies (40:1–44:28). Die eerste woord van hoofstuk 40, “Troos”, beskryf die res van Jesaja baie goed. ’n Stem in die woestyn roep uit: ‘Berei die weg van Jehovah!’ (40:1, 3). Daar is goeie nuus vir Sion. Jehovah laat sy kudde wei en dra die jong lammers aan sy bors. Uit die hoë hemele kyk hy af op die aarde se kring. Waarmee kan hy vergelyk word wat grootheid betref? Hy gee volle krag en dinamiese energie aan die vermoeides en kragteloses wat op hom hoop. Hy verklaar dat die gegote beelde van die nasies wind en nietigheid is. Sy uitverkorene sal soos ’n verbond vir die volke en ’n lig vir die nasies wees om blinde oë te open. Jehovah sê vir Jakob: ‘Ek het jou liefgehad’, en hy roep die sonsopkoms, sonsondergang, noorde en suide toe: ‘Gee! Bring terug my seuns en my dogters’ (43:4, 6). Tydens ’n hofsitting daag hy die gode van die nasies uit om getuies te verskaf om hulle godheid te bewys. Die Israeliete is Jehovah se getuies, sy kneg, wat getuig dat hy God en Bevryder is. Hy belowe Jesurun (“Opregte”, Israel) sy gees en werp dan skande op die makers van beelde wat niks kan sien en niks weet nie. Jehovah is die Verlosser van sy volk; Jerusalem sal weer bewoon en sy tempel herbou word.
25. Wat sal mense deur middel van Jehovah se oordele oor Babel en haar valse gode te wete kom?
25 Wraak op Babel (45:1–48:22). Ter wille van Israel benoem Jehovah Kores om Babel te verslaan. Mense sal moet weet dat Jehovah alleen God is, die Skepper van die hemele, die aarde en die mens daarop. Hy dryf die spot met Babel se gode Bel en Nebo, want net Hy kan die einde van die begin af verkondig. Die maagdelike dogter van Babel sal in die stof sit, onttroon en naak, en die menigte van haar raadgewers sal soos stoppels verbrand word. Jehovah sê vir die ‘ysternekkige, koperhoofdige’ Israelitiese afgodedienaars dat hulle vrede, regverdigheid en voorspoed kan geniet deur na hom te luister, maar ‘daar is geen vrede vir die goddelose nie’.—48:4, 22.
26. Hoe sal Sion vertroos word?
26 Sion vertroos (49:1–59:21). Jehovah gee sy kneg as ’n lig van die nasies en roep uit aan diegene in die duisternis: “Gaan uit!” (49:9). Sion sal vertroos word, en haar woestyn sal soos Eden word, die tuin van Jehovah, wat oorvloei van vreugde, blydskap, danksegging en die klank van liedere. Jehovah sal die hemele in rook laat opgaan, die aarde soos ’n kleed laat verslyt en sy bewoners soos ’n blote muggie laat sterf. Waarom dan die smaad van sterflinge vrees? Die bitter beker wat Jerusalem gedrink het, moet nou na die nasies gaan wat haar vertrap het.
27. Watter goeie nuus word aan Sion verkondig, en wat word oor ‘Jehovah se kneg’ geprofeteer?
27 ‘Ontwaak, o Sion, en staan op uit die stof!’ Sien die boodskapper wat met goeie nuus oor die berge huppel en tot Sion roep: “Jou God het koning geword!” (52:1, 2, 7, NW). Gaan uit die onrein plek en hou julle rein, julle wat in Jehovah se diens is. Die profeet beskryf nou ‘Jehovah se kneg’ (53:11). Hy is ’n man wat verag en vermy is, ’n man wat ons smarte gedra het en tog gehou is vir een wat deur God geslaan is. Hy is vir ons oortredinge deurboor, maar hy het ons deur sy wonde genees. Soos ’n skaap wat na die slagting gelei is, het hy geen geweld gebruik nie en geen bedrog gespreek nie. Hy het sy siel gegee as ’n skuldoffer om die dwalinge van baie mense te dra.
28. Hoe word die komende geseënde toestand van Sion beskryf, en in verband met watter verbond?
28 As eggenoot-eienaar sê Jehovah vir Sion om vreugdevol uit te roep weens haar komende vrugbaarheid. Hoewel sy geteister en deur storms heen en weer geslinger is, sal sy ’n stad met saffierfondamente, robynkantele en poorte van vurig gloeiende stene word. Haar kinders, wat deur Jehovah geleer word, sal oorvloedige vrede geniet, en geen wapen wat teen hulle gesmee word, sal suksesvol wees nie. “o Almal wat dors het!” roep Jehovah uit. As hulle kom, sal hy met hulle sy ‘verbond betreffende die genadebewyse van Dawid’ sluit; hy sal ’n leier en bevelhebber as ’n getuie vir die nasionale groepe gee (55:1-4). God se gedagtes is oneindig hoër as die mens s’n, en sy woord sal gewis sukses behaal. Eunugs wat sy wet hou, ongeag hulle nasionaliteit, sal ’n naam ontvang wat beter is as seuns en dogters. Jehovah se huis sal ’n huis van gebed vir al die volke genoem word.
29. Wat sê Jehovah vir die afgodedienaars, maar watter versekering gee hy sy volk?
29 As die Hoë en Verhewene, wie se naam heilig is, sê Jehovah vir die seksdolle afgodedienaars dat hy nie vir ’n onbepaalde tyd met Israel sal twis nie. Hulle vroom vaste is ’n dekmantel vir goddeloosheid. Die hand van Jehovah is nie te kort om te red of sy oor te swaar om te hoor nie, maar dit is ‘julle ongeregtighede wat ’n skeidsmuur geword het tussen julle en julle God’, sê Jesaja (59:2). Dit is waarom hulle op lig hoop maar in duisternis rondtas. Aan die ander kant waarborg Jehovah se gees, wat op sy getroue verbondsvolk rus, dat sy woord tot alle toekomstige geslagte onwrikbaar in hulle mond sal bly.
30. Hoe versier Jehovah Sion, soos toegelig deur watter nuwe name?
30 Jehovah versier Sion (60:1–64:12). “Staan op, word verlig; want . . . die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op.” In teenstelling hiermee is die aarde in dikke donkerheid gehul (60:1, 2). In daardie tyd sal Sion haar oë opslaan en stralend word, en haar hart sal bewe wanneer sy die vermoë van die nasies sien wat op ’n deinende menigte kamele na haar toe kom. Soos wolke vlieënde duiwe sal hulle na haar toe swerm. Uitlanders sal haar mure bou, konings sal haar dien en haar poorte sal nooit sluit nie. Haar God moet haar sieraad word, en hy sal gou een tot duisend vermenigvuldig en ’n geringe tot ’n magtige nasie. God se kneg roep uit dat Jehovah se gees op hom is en hom gesalf het om hierdie goeie nuus te vertel. Sion kry ’n nuwe naam, ‘My welbehae is in haar’ (Hefsiba), en haar land word genoem ‘Besit as ’n eggenote’ (Beulah) (62:4, voetnoot in NW-naslaanuitgawe). Die bevel gaan uit om die hoofweg na Babel op te vul en ’n banier in Sion op te hef.
31. Wie kom uit Edom, en watter gebed doen God se volk?
31 Uit Bosra in Edom kom iemand in bloedrooi klere. In sy woede het hy mense in ’n wynpers vertrap sodat hulle bloed gespat het. Jehovah se volk is terdeë bewus van hulle onrein toestand en doen ’n aangrypende gebed en sê: ‘o Jehovah, U is ons Vader. Ons is die klei, en U is ons pottebakker. Wees nie uitermate verontwaardig nie, o Jehovah. Ons almal is u volk.’—64:8, 9.
32. Waaroor kan Jehovah se volk hulle verheug, in teenstelling met diegene wat Jehovah verlaat?
32 “Nuwe hemele en ’n nuwe aarde”! (65:1–66:24). Die mense wat Jehovah vir “die geluksgod” en “die godin van die noodlot” verlaat het, sal van honger omkom en tot skande gemaak word (65:11). God se eie knegte sal hulle in ’n oorvloed verheug. Kyk! Jehovah skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde. Watter blydskap en gejuig word in Jerusalem en haar mense aangetref! Huise sal gebou en wingerde geplant word, terwyl die wolf en die lam saam wei. Daar sal geen kwaad of verderf wees nie.
33. Watter vreugde, heerlikheid en bestendigheid word voorspel vir diegene wat Jerusalem liefhet?
33 Die hemele is sy troon en die aarde is sy voetbank. Watter huis kan mense dan vir Jehovah bou? ’n Nasie sal op een dag gebore word, en almal wat Jerusalem liefhet, word genooi om hulle te verheug wanneer Jehovah vrede net soos ’n rivier na haar lei. Jehovah sal soos ’n vuur teen sy vyande kom—stormwind-waens sal sy toorn met loutere woede en vuurvlamme teen alle ongehoorsame vlees vergeld. Boodskappers sal onder al die nasies en na verafgeleë eilande uitgaan om sy heerlikheid te verkondig. Sy nuwe hemele en aarde sal permanent wees. Diegene wat hom dien en hulle nageslag sal eweneens bestendig wees. Dit is òf dit òf die ewige dood.
WAAROM NUTTIG
34. Wat is enkele van die lewendige illustrasies wat krag aan Jesaja se boodskap verleen?
34 Vanuit elke oogpunt beskou, is die profetiese boek Jesaja ’n uiters nuttige gawe van Jehovah God. Dit straal die verhewe gedagtes van God uit (Jes. 55:8-11). Openbare sprekers van Bybelwaarhede kan Jesaja gebruik as ’n skatkamer van lewendige illustrasies wat die spyker met dieselfde krag as Jesus se gelykenisse op die kop slaan. Jesaja prent kragtig by ons die dwaasheid in van die man wat dieselfde boom vir vuurmaakhout en vir die maak van ’n afgodsbeeld gebruik. Hy laat ons die ongemak voel van die man wat op ’n te kort bed lê met ’n te kort kombers, en hy laat ons die diepe gesluimer hoor van die profete wat soos stom honde is wat te lui is om te blaf. As ons, soos Jesaja vermaan, ‘in die boek van Jehovah soek en hardop lees’, kan ons die kragtige boodskap begryp wat Jesaja vir vandag het.—44:14-20; 28:20; 56:10-12; 34:16.
35. Hoe vestig Jesaja die aandag op die Koninkryk onder die Messias, en op die voorloper, Johannes die Doper?
35 Die profesie vestig veral die aandag op God se Koninkryk onder die Messias. Jehovah self is die Opperkoning, en dit is hy wat ons red (33:22). Maar wat van die Messias? Uit die engel se aankondiging aan Maria oor die kind wat gebore sou word, blyk dit dat Jesaja 9:5, 6 vervul sou word deurdat hy die troon van Dawid sou ontvang; “en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Luk. 1:32, 33). Mattheüs 1:22, 23 toon dat Jesus se geboorte uit ’n maagd ’n vervulling van Jesaja 7:14 was en identifiseer hom as “Immanuel”. Ongeveer 30 jaar later het Johannes die Doper begin preek dat ‘die koninkryk van die hemele naby gekom het’. Al vier die Evangelieskrywers het Jesaja 40:3 aangehaal om te toon dat hierdie Johannes die een was wat ‘in die woestyn geroep het’ (Matt. 3:1-3; Mark. 1:2-4; Luk. 3:3-6; Joh. 1:23). By sy doop het Jesus die Messias geword—die Gesalfde van Jehovah, die takkie of wortel van Isai—wat die nasies sou regeer. Hulle moet hulle hoop op hom vestig, ter vervulling van Jesaja 11:1, 10.—Rom. 15:8, 12.
36. Watter betekenisvolle profetiese vervullings identifiseer Messias die Koning duidelik?
36 Kyk hoe gaan Jesaja voort om Messias die Koning te identifiseer! Jesus het sy opdrag voorgelees uit ’n rol van Jesaja om te toon dat hy Jehovah se Gesalfde is, en toe het hy ‘die goeie nuus van die koninkryk van God verkondig, want’, soos hy gesê het, ‘daarvoor is ek gestuur’ (Luk. 4:17-19, 43; Jes. 61:1, 2). Die vier Evangelieverslae is vol besonderhede oor Jesus se aardse bediening en die manier waarop hy gesterf het, soos voorspel in Jesaja hoofstuk 53. Hoewel die Jode die goeie nuus van die Koninkryk gehoor en Jesus se wonderwerke gesien het, het hulle as gevolg van hulle ongelowige harte nie verstaan nie, ter vervulling van Jesaja 6:9, 10; 29:13; en 53:1 (Matt. 13:14, 15; Joh. 12:38-40; Hand. 28:24-27; Rom. 10:16; Matt. 15:7-9; Mark. 7:6, 7). Jesus was ’n steen van struikeling vir hulle, maar hy het die fondamenthoeksteen geword wat Jehovah in Sion gelê het en waarop Hy sy geestelike huis ter vervulling van Jesaja 8:14 en 28:16 bou.—Luk. 20:17; Rom. 9:32, 33; 10:11; 1 Pet. 2:4-10.
37. Hoe het Jesus se apostels Jesaja aangehaal en toegepas?
37 Die apostels van Jesus Christus het voortgegaan om Jesaja se profesie goed te benut deur dit op die bediening toe te pas. Waar Paulus byvoorbeeld toon dat predikers nodig is om geloof te bou, haal hy Jesaja aan: ‘Hoe lieflik is die voete van die wat die goeie nuus van goeie dinge verkondig!’ (Rom. 10:15; Jes. 52:7; sien ook Romeine 10:11, 16, 20, 21.) Ook Petrus haal Jesaja aan om die blywende aard van die goeie nuus te toon: “Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ’n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat [as goeie nuus] aan julle verkondig is.”—1 Pet. 1:24, 25, vgl. NW; Jes. 40:6-8.
38. Watter pragtige Koninkrykstema word in Jesaja geskilder en later deur ander Bybelskrywers opgeneem?
38 Hoe pragtig skilder Jesaja die Koninkrykshoop vir die toekoms tog! Kyk! Dit is die “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” waarin “ ’n koning sal regeer in geregtigheid” en vorste sal heers volgens reg. Wat ’n rede tog vir blydskap en gejuig! (65:17, 18; 32:1, 2). Weer neem Petrus die blye boodskap van Jesaja op: “Maar ons verwag volgens [God se] belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Pet. 3:13). Hierdie wonderlike Koninkrykstema kom tot volle glorie in die laaste hoofstukke van Openbaring.—Jes. 66:22, 23; 25:8; Openb. 21:1-5.
39. Op watter wonderlike hoop wys Jesaja?
39 Hoewel die boek Jesaja vernietigende oordele bevat oor Jehovah se vyande en dié wat huigelagtig bely dat hulle sy knegte is, wys dit dus op verhewe wyse op die wonderlike hoop van die Messias se Koninkryk, waardeur Jehovah se groot naam geheilig sal word. Dit help in groot mate om die wonderlike waarhede van Jehovah se Koninkryk te verklaar en ons harte warm te laat klop in vreugdevolle afwagting van ‘verlossing deur hom’.—Jes. 25:9; 40:28-31.
[Voetnote]
a Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 1221-3.
b Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 957; Dl. 2, bladsye 894-5.
c Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsy 324.