Hoofstuk 19
Liefde lei tot ’n hegter band van eenheid
TOE Jesus Christus se apostels aan mede-Christene geskryf het, het hulle daarop gewys hoe belangrik dit is dat ’n mens nie net meer juiste kennis moet opdoen nie, maar ook moet toeneem in liefde. Die grondslag hiervoor was die liefde wat God self getoon het en die selfopofferende liefde van Christus, in wie se voetstappe hulle probeer volg het (Joh. 13:34, 35; Ef. 4:15, 16; 5:1, 2; Filip. 1:9; 1 Joh. 4:7-10). Hulle was ’n broederskap, en wanneer hulle mekaar gehelp het, het die bande van liefde selfs hegter geword.
Toe hongersnood ekonomiese ontberinge vir die broers in Judea veroorsaak het, het Christene in Sirië en in Griekeland hulle gehelp deur hulle besittings met hulle te deel (Hand. 11:27-30; Rom. 15:26). Toe sommige vervolg is, het ander Christene diep medelye met hulle gehad en hulle probeer help.—1 Kor. 12:26; Hebr. 13:3.
Alle mense het natuurlik die vermoë om lief te hê, en dit is nie net Christene wat mensliewende dade verrig nie. Maar die mense in die Romeinse wêreld het gesien dat die liefde wat die Christene aan die dag gelê het ’n ander soort liefde was. Tertullianus, wat ’n regsgeleerde in Rome was, het die volgende gesê toe hy mense in die Romeinse wêreld se opmerkings oor die Christene aangehaal het: “‘Kyk’, sê hulle, ‘hoe lief het hulle mekaar . . . en hoe gewillig is hulle om vir mekaar te sterf’” (Apology, XXXIX, 7). John Hurst sê in sy History of the Christian Church (Deel I, bladsy 146) dat die mense in eertydse Carthago en Alexandrië, ten tye van ’n epidemie, die aangetastes verdryf en alles wat enigsins waarde gehad het van die sterwendes se liggame afgestroop het. Daarenteen, sê hy, het Christene op hierdie plekke hulle besittings met mekaar gedeel, die siekes versorg en die dooies begrawe.
Doen Jehovah se Getuies in hedendaagse tye werke wat ook van sulke besorgdheid oor die welsyn van ander getuig? Word dit, indien dit die geval is, deur net ’n paar mense hier en daar gedoen, of word sulke pogings deur die organisasie as geheel aangemoedig en ondersteun?
Liefdevolle hulp in plaaslike gemeentes
Jehovah se Getuies beskou dit as deel van hulle aanbidding om na wese en weduwees in die gemeente asook na enige getroues wat ernstige probleme ondervind om te sien (Jak. 1:27; 2:15-17; 1 Joh. 3:17, 18). Sekulêre regerings maak gewoonlik voorsiening vir hospitale, behuising vir die bejaardes en welsynsreëlings vir werkloses in die gemeenskap, en Jehovah se Getuies ondersteun daardie reëlings deur hulle belasting pligsgetrou te betaal. Maar omdat Jehovah se Getuies weet dat net God se Koninkryk die mensdom se probleme vir ewig kan oplos, wy hulle hulle kragte en hulpmiddele hoofsaaklik daaraan om ander mense van daardie Koninkryk te leer. Dit is ’n lewensbelangrike diens wat deur geen menseregering gelewer word nie.
In die meer as 69 000 gemeentes van Jehovah se Getuies wêreldwyd word daar gewoonlik op ’n persoonlike grondslag voorsien in spesiale behoeftes wat ontstaan weens die hoë ouderdom en gebreke van sekere individue. Soos 1 Timotheüs 5:4, 8 toon, is dit hoofsaaklik die individuele Christen se verantwoordelikheid om vir sy eie huisgesin te sorg. Kinders, kleinkinders of ander naasbestaandes toon Christelike liefde deur die bejaardes en siekes na gelang van hulle behoeftes te help. Die gemeentes van Jehovah se Getuies verswak nie hierdie verantwoordelikheidsin deur gemeentelede se gesinsverpligtinge oor te neem nie. Maar as daar geen naasbestaandes is nie of as diegene wat die verantwoordelikheid het die las eenvoudig nie self kan dra nie, kom ander in die gemeente hulle liefdevol te hulp. Waar nodig, maak die hele gemeente voorsiening vir hulp aan ’n behoeftige broer of suster wat Jehovah al lank getrou dien.—1 Tim. 5:3-10.
Aandag aan hierdie behoeftes word nie aan die toeval oorgelaat nie. Tydens sessies van die Koninkryksbedieningskool, wat die ouere manne al sedert 1959 gereeld bywoon, is daar al dikwels spesiale aandag gegee aan die verantwoordelikheid wat hulle in hierdie verband voor God as herders van die kudde het (Hebr. 13:1, 16). Dit is nie asof hulle voor hierdie tyd onbewus van hierdie behoefte was nie. In 1911 het die Oldham-gemeente in Lancashire, Engeland, byvoorbeeld materiële hulp verleen aan diegene onder hulle wat met ernstige ekonomiese probleme te kampe gehad het. Maar sedertdien het die wêreldwye organisasie gegroei, het al hoe meer lede ernstige probleme begin ervaar en het Jehovah se Getuies in toenemende mate bewus geraak van wat die Bybel toon hulle in sulke situasies moet doen. Veral in die laaste jare is die verantwoordelikheid van elke Christen teenoor diegene onder hulle met spesiale behoeftes—die bejaardes, die siekes, enkelouergesinne en dié met ekonomiese probleme—deur al die gemeentes tydens hulle vergaderinge bespreek.a
Die besorgdheid wat individuele Getuies vir ander toon, strek baie verder as om net te sê: “Word warm, word versadig.” Hulle toon liefdevolle, persoonlike belangstelling (Jak. 2:15, 16). Beskou ’n paar voorbeelde.
Toe ’n jong Sweedse vrou, een van Jehovah se Getuies, in 1986 tydens ’n besoek aan Griekeland breinvliesontsteking opgedoen het, het sy ook ervaar wat dit beteken om Christenbroers en -susters in baie lande te hê. Haar pa in Swede is daarvan in kennis gestel. Hy het onmiddellik met ’n ouere man in die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies in Swede in aanraking gekom, en deur hom, met ’n Getuie in Griekeland. Totdat die jong Getuie drie weke later na Swede kon terugkeer, was haar nuwe vriende in Griekeland pal aan haar sy.
Toe ’n bejaarde Getuie, ’n wewenaar in Wallaceburg, Ontario, Kanada, hulp nodig gehad het, het ’n gesin wat hy geestelik gehelp het insgelyks hulle waardering getoon deur hom ’n deel van die gesin te maak. Toe hulle ’n paar jaar later na Barry’s Bay verhuis het, het hy saam met hulle gegaan. Hy het 19 jaar lank, tot sy dood in 1990, by hulle gewoon en hulle liefdevolle sorg geniet.
In New York-stad het ’n Getuie-egpaar vir ’n bejaarde man gesorg wat vergaderinge by hulle Koninkryksaal bygewoon het, en dít sowat 15 jaar lank tot sy dood in 1986. Toe hy ’n beroerteaanval gehad het, het hulle vir hom inkopies gedoen, huis skoongemaak, gekook en wasgoed gewas. Hulle het hom soos hulle eie pa behandel.
Daar word ook op liefdevolle wyse in ander behoeftes voorsien. ’n Getuie-egpaar in die Verenigde State het hulle huis verkoop en na Montana verhuis om die gemeente daar te help. Maar mettertyd het hulle ernstige gesondheidsprobleme opgedoen, het die broer sy werk verloor en het hulle geld opgeraak. Hoe sou hulle oor die weg kom? Die broer het tot Jehovah om hulp gebid. Hy het net klaar gebid toe ’n mede-Getuie aan die deur klop. Hulle het saam ’n koppie koffie gaan drink. Toe die broer weer by die huis kom, het hy ’n klomp kruideniersware op die kombuiskas gevind. By die kruideniersware was daar ’n koevert met geld en ’n briefie wat gesê het: “Van julle broers en susters wat julle baie liefhet.” Die gemeente het besef dat daar ’n behoefte bestaan, en hulle het almal gehelp om daarin te voorsien. Hy en sy vrou is diep getref deur die gemeente se liefde en kon nie anders as om te huil en Jehovah te dank nie, wie se voorbeeld van liefde sy knegte motiveer.
Die milddadige besorgdheid wat Jehovah se Getuies vir diegene onder hulle toon wat behoeftig raak, het algemeen bekend geword. Bedrieërs het al misbruik daarvan gemaak. Die Getuies moes dus leer om versigtig te wees sonder om hulle begeerte te onderdruk om verdienstelikes te help.
Wanneer oorlog mense behoeftig laat
In baie wêrelddele is mense behoeftig gelaat as gevolg van oorlog. Noodlenigingsorganisasies probeer help, maar dit gebeur dikwels stadig. Jehovah se Getuies meen nie dat die werk wat deur sulke organisasies gedoen word hulle onthef van die verantwoordelikheid wat hulle teenoor hulle Christenbroers in hierdie gebiede het nie. Wanneer hulle weet dat hulle broers behoeftig is, ‘sluit hulle nie hulle hart toe’ vir sulke mense nie, maar doen hulle onmiddellik wat hulle kan om hulle broers te help.—1 Joh. 3:17, 18.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog, en selfs in lande wat weens tekorte moeilike tye beleef het, het Getuies op die platteland wat nog kos gehad het dit met hulle minder bevoorregte broers in die stede gedeel. In Nederland is dit ondanks groot gevaar gedoen, aangesien die Nazi’s streng beperkings ingestel het. Tydens een so ’n noodlenigingsending het Gerrit Böhmermann ’n groep broers gelei wat ’n klomp kos wat met seile bedek was op afleweringsfietse vervoer het. In die stad Alkmaar het hulle skielik op ’n kontrolepunt afgekom. “Al wat ons kon doen, was om ten volle op Jehovah te vertrou”, het Gerrit gesê. Sonder om baie stadiger te ry, het hy vir die offisier geroep: “Wo ist Amsterdam?” (Waar is Amsterdam?) Die offisier het eenkant toe gestaan, vorentoe beduie en geroep: “Geradeaus!” (Reguit aan!) “Danke schön!” (Baie dankie!) het Gerrit geantwoord terwyl al die afleweringsfietse in volle vaart deurgery en ’n verbaasde skare gestaan en toekyk het. By ’n ander geleentheid het Getuies daarin geslaag om ’n hele bootvrag aartappels na hulle broers in Amsterdam te neem.
Selfs in die konsentrasiekampe in Europa het Jehovah se Getuies hierdie gesindheid geopenbaar. Terwyl ’n 17-jarige in ’n kamp naby Amersfoort, in Nederland, gevange gehou is, het hy gewig verloor totdat hy net ’n wandelende geraamte was. Maar hy het in latere jare nooit vergeet hoe ’n Getuie uit ’n ander deel van die kamp, nadat hulle gedwing is om tot middernag in gietende reën oefeninge te doen en toe geen kos gegee is nie, dit reggekry het om by hom uit te kom en hom ’n stuk brood in die hand te druk nie. En in die Mauthausen-konsentrasiekamp in Oostenryk het ’n Getuie, wie se werk vereis het dat hy van een deel van die kamp na ’n ander gaan, dikwels sy lewe gewaag deur kos wat Getuies van hulle skamele rantsoene afgeknyp het na ander Getuies te neem wat selfs minder kos gekry het.
Ná die oorlog het Getuies van Jehovah wat uit die Duitse gevangenisse en konsentrasiekampe gekom het niks anders besit as die gevangenisklere wat hulle aangehad het nie. Baie van dié wat nie in die gevangenis was nie se eiendom is verwoes. In groot dele van Europa was daar ’n tekort aan voedsel, klere en brandstof. Jehovah se Getuies in hierdie lande het gou gemeentelike vergaderinge gereël en begin om ander geestelik te help deur die goeie nuus van God se Koninkryk aan hulle te verkondig. Maar op ander gebiede het hulle self hulp nodig gehad. Baie van hulle was so swak van die honger dat hulle dikwels tydens die vergaderinge flou geword het.
Dit was ’n situasie waarmee die Getuies nog nooit tevore op so ’n groot skaal te kampe gehad het nie. Maar dieselfde maand nog wat die oorlog amptelik in die Stille Oseaangebied geëindig het, het Jehovah se Getuies ’n spesiale byeenkoms in Cleveland, Ohio, gehou, waar hulle bespreek het wat gedoen moes word om noodleniging te verskaf aan hulle Christenbroers in lande wat deur die oorlog verwoes is en hoe dit gedoen kon word. Die opbeurende toespraak “Sy onuitspreeklike gawe”, wat deur F. W. Franz gehou is, het skriftuurlike raad voorsien wat alle aspekte van die situasie gedek het.b
Binne ’n paar weke, die oomblik toe mense weer toegelaat is om in die gebied te reis, was N. H. Knorr, die president van die Wagtoringgenootskap, en M. G. Henschel op pad na Europa om eerstehandse inligting oor die omstandighede in te win. Selfs voor hulle op daardie reis vertrek het, is daar met noodlenigingspogings begin.
Besendings is sommer gou uit Switserland en Swede gestuur. Nog besendings het uit Kanada, die Verenigde State en ander lande gekom. Hoewel daar toe maar net sowat 85 000 Getuies in die lande was wat sulke hulp kon verleen het, het hulle onderneem om kos en klere aan mede-Getuies in België, Bulgarye, China, Denemarke, Duitsland, Engeland, die Filippyne, Finland, Frankryk, Griekeland, Hongarye, Italië, Nederland, Noorweë, Oostenryk, Pole, Roemenië en Tsjeggo-Slowakye te stuur. Dit was nie net iets eenmaligs nie. Daar is twee en ’n half jaar lank noodlenigingsvoorrade aan hierdie broers gestuur. Tussen Januarie 1946 en Augustus 1948 het hulle 479 114 kilogram klere, 124 110 paar skoene en 326 081 kilogram voedsel as geskenke aan mede-Getuies gestuur. Geen van die finansiële bydraes is gebruik om administratiewe onkoste te dek nie. Onbetaalde vrywilligers het die sorteer- en pakwerk gedoen. Alle finansiële bydraes is gebruik om die mense te help vir wie dit bedoel was.
Die behoefte aan noodleniging vir vlugtelinge en ander wat deur oorlog behoeftig gelaat is, het natuurlik nie in die veertigerjare opgehou nie. Sedert 1945 was daar al honderde oorloë. En Jehovah se Getuies het deurentyd dieselfde liefdevolle besorgdheid getoon. Dit is gedurende en ná die Biafraanse oorlog in Nigerië, van 1967 tot 1970, getoon. Soortgelyke bystand is gedurende die tagtigerjare in Mosambiek verleen.
In Liberië was daar ook hongersnood as gevolg van die oorlog wat in 1989 uitgebreek het. Toe die mense begin vlug het, het honderde vlugtelinge in die Wagtoringsentrum in Monrovia ingestroom. Al die kos wat beskikbaar was, asook die water uit die put, is met Getuies en nie-Getuies gedeel. Die oomblik toe die omstandighede dit toegelaat het, het daar nog noodlenigingsvoorrade van Getuies in Sierra Leone en Côte d’Ivoire in Wes-Afrika, Nederland en Italië in Europa, en die Verenigde State af gekom.
In 1990, nadat oorlog in Libanon dele van Beiroet laat lyk het asof dit deur ’n aardbewing getref is, het ouere manne onder Jehovah se Getuies insgelyks ’n noodlenigingskomitee gestig om die nodige hulp aan die broers te verleen. Dit was nie nodig om vir vrywilligers te vra nie; elke dag was daar sommer baie wat hulle hulp aangebied het.
Gedurende ’n tydperk van groot politieke en ekonomiese omwentelinge in Europa het Jehovah se Getuies in Hongarye, Joego-Slawië, Oostenryk en Tsjeggo-Slowakye in 1990 meer as 70 ton lewensmiddele aan hulle Christenbroers in Roemenië gestuur.
Daarna is nog noodlenigingswerk in Oos-Europa gedoen. Die Bestuursliggaam het die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Denemarke gevra om bystand aan behoeftige Getuies in die Oekraïne te verleen. Gemeentes is daarvan in kennis gestel en wou graag help. Op 18 Desember 1991 het vyf vragmotors en twee kleiner afleweringsvoertuie wat deur Getuievrywilligers bestuur is met 22 ton voorrade in Lviv aangekom—’n blyk van liefdevolle besorgdheid vir hulle Christenbroers. Toe, in 1992, het daar nog besendings van die Getuies in Oostenryk af gekom—meer as 100 ton kos en klere. Die Getuies in Nederland het ook voorrade gestuur—eers 26 ton kos, toe ’n konvooi van 11 vragmotors vol klere en daarna nog kos om die voortslepende tekort aan te vul. Dié wat die voorrade ontvang het, was dankbaar teenoor God en het hom gevra om hulle te help om die voorsienings verstandig te gebruik. Hulle het saam gebid voor en na hulle die vragmotors afgelaai het. Ander groot hoeveelhede noodlenigingsvoorrade is deur Getuies in Finland, Italië, Swede en Switserland gestuur. Ten tye van al hierdie noodlenigingspogings het beroeringe in die republieke wat vroeër Joego-Slawië uitgemaak het ook daar ’n behoefte laat ontstaan. Kos, klere en medisyne is ook na daardie gebied gestuur. Intussen het die Getuies in daardie stede hulle huise oopgestel vir diegene wie se huise vernietig is.
Soms woon diegene wat dringend hulp nodig het in afgeleë gebiede en is hulle situasie nie algemeen bekend nie. Dit was die geval met 35 gesinne van Jehovah se Getuies in Guatemala. Hulle dorpies is deur strydende faksies binnegeval. Toe hulle eindelik in 1989 kon terugkeer, het hulle hulp nodig gehad om hulle huise te herbou. Om die regeringshulp aan gerepatrieerdes aan te vul, het die Wagtoringgenootskap se takkantoor ’n noodkomitee gestig om hierdie Getuiegesinne te help, en sowat 500 ander Getuies uit 50 gemeentes het aangebied om met die herbouery te gaan help.
Daar is ook ander situasies wat mense sonder hulle eie toedoen in ellende dompel. Aardbewings, orkane en oorstromings kom dikwels voor. Na berig word, tref gemiddeld 25 groot rampe die wêreld jaarliks.
Natuurrampe
Wanneer ernstige noodtoestande weens rampe Jehovah se Getuies tref, word daar onmiddellik stappe gedoen om die nodige bystand te verleen. Plaaslike ouere manne het al geleer dat hulle, wanneer hulle voor sulke situasies te staan kom, alles in hulle vermoë moet doen om met elkeen in die gemeente in aanraking te kom. Die Wagtoringgenootskap se takkantoor wat toesig hou oor die Koninkrykswerk in daardie gebied stel onmiddellik vas wat die situasie is en rapporteer dan aan die wêreldhoofkwartier. Waar daar meer hulp nodig is as wat plaaslik gegee kan word, word sorgvuldig gekoördineerde reëlings getref, soms selfs op ’n internasionale skaal. Die doel is nie om diegene wat deur die rampe getref is se lewenstandaard te verbeter nie, maar om hulle te help om die lewensbenodigdhede te kry wat hulle vroeër gehad het.
’n Blote televisieberig oor die ramp is genoeg om talle Getuies te beweeg om die ouere manne wat die leiding in die gebied neem te bel en hulle hulp aan te bied of om geld of materiaal te skenk. Ander stuur fondse aan die takkantoor of aan die wêreldhoofkwartier sodat dit vir noodleniging gebruik kan word. Hulle weet dat hulp nodig is, en hulle wil graag help. Waar ’n noodsituasie ernstiger afmetings aanneem, sal die Wagtoringgenootskap soms die broers in ’n spesifieke gebied daarvan in kennis stel sodat hulle na gelang van hulle vermoë kan help. ’n Noodlenigingskomitee word gestig om sake in die rampgebied te koördineer.
Toe die grootste gedeelte van Managua, Nicaragua, in Desember 1972 deur ’n kragtige aardbewing verwoes is, het die opsieners van die gemeentes van Jehovah se Getuies in daardie gebied byvoorbeeld binne ’n kwessie van ure bymekaargekom om hulle pogings te koördineer. Daar is dadelik vasgestel hoe dit met elke Getuie in die stad gaan. Noodlenigingsvoorrade het daardie selfde dag nog van nabygeleë gemeentes af begin aankom, en kort daarna van Costa Rica, Honduras en El Salvador af. Veertien noodvoorraadverspreidingspunte is in die buitewyke van Managua opgerig. Geld en voorrade wat van Getuies in baie wêrelddele af gekom het, is via die Wagtoringgenootskap se internasionale hoofkwartier na Nicaragua gestuur. Kos en ander voorrade (onder andere kerse, vuurhoutjies en seep) is volgens die grootte van elke huishouding uitgedeel, sodat elke gesin voorraad vir sewe dae ontvang het. Toe die noodleniging sy hoogtepunt bereik het, is sowat 5 000 mense—Getuies, hulle gesinne en familielede by wie hulle gebly het—van kos voorsien. Die noodleniging het tien maande geduur. Toe staatsinstansies en die Rooi Kruis sien wat gedoen word, het hulle ook kos, tente en ander voorrade beskikbaar gestel.
Toe vulkaniese uitbarstings in 1986 sowat 10 000 mense gedwing het om die eiland Izoe-Osjima naby die kus van Japan te ontruim, het Jehovah se Getuies die bote waarop die haweloses was, ingewag en naarstig na hulle geestelike broers gesoek. Een van die haweloses het gesê: “Ons het self nie eers geweet waarheen ons gaan toe ons uit Osjima weg is nie.” Alles het so vinnig gebeur. “Maar toe ons van die skip afklim, het ons ’n teken gesien met die woorde: ‘Jehovah se Getuies.’ . . . Trane het in my vrou se oë opgewel, want sy was oorstelp van verligting dat ons broers ons daar by die pier kom ontmoet het.” Nadat mense wat die Getuies voorheen vyandiggesind was, gesien het hoe die hawelose Getuies nie net by hulle aankoms nie, maar ook daarna bygestaan is, het selfs hulle gesê: “Dit was ’n goeie besluit om in daardie geloof te bly.”
Die Getuies doen alles in hulle vermoë om so gou moontlik hulp in rampgebiede te gaan verleen. Toe Peru in 1970 deur een van die verwoestendste aardbewings in sy geskiedenis getref is, is noodlenigingsfondse onmiddellik van die wêreldhoofkwartier in New York af gestuur, en ’n rukkie daarna 15 ton klere. Maar selfs voordat daardie besending daar aangekom het, het Getuies met ’n konvooi voertuie wat noodlenigingsvoorrade vervoer het in die gebied aangekom waar stede en dorpies verwoes is, en dít slegs enkele ure nadat die paaie oopgestel is. In die daaropvolgende dae en weke het hulle stelselmatig die nodige materiële sowel as geestelike hulp aan die verskillende groepe hoog bo in die Andesgebergte verskaf. En in 1980, toe dele van Italië die aand van 23 November deur ’n ernstige aardbewing geskud is, het die eerste vragmotor met voorrade wat die Getuies gestuur het die volgende dag reeds in die rampgebied aangekom. Hulle het onmiddellik hulle eie kombuis opgerig, van waar kos wat die susters gekook het daagliks uitgedeel is. ’n Ooggetuie van sulke noodlenigingspogings op een Karibiese eiland het gesê: “Die Getuies het vinniger as die regering gewerk.” Dit is dalk soms die geval, maar Jehovah se Getuies waardeer beslis die hulp van amptenare wat hulle pogings steun om sulke rampgebiede vinnig te bereik.
Toe daar in 1990 ’n hongersnood in Angola was, het die Getuies daar kos en klere dringend nodig gekry. Maar dit kon probleme inhou om hulle te bereik, omdat die werk van Jehovah se Getuies reeds baie jare in daardie land verbied was. Nogtans het hulle Christenbroers in Suid-Afrika ’n vragmotor met 25 ton noodlenigingsvoorrade gelaai. Onderweg het hulle na Angola se konsulaat gegaan en toestemming verkry om die grens oor te steek. Om die broers te kon bereik, moes hulle deur 30 militêre padversperrings gaan, en op een plek moes hulle ’n rivier wat besig was om af te kom op die tydelike struktuur oorsteek wat in die plek van ’n opgeblaasde brug opgerig is. Die hele besending is ten spyte van al hierdie hindernisse veilig afgelewer.
Wanneer ’n ramp ’n gebied tref, word daar meer gedoen as om net noodlenigingsvoorrade na die gebied te stuur. Toe ontploffings en ’n brand in 1984 ’n gebied in ’n voorstad van Mexikostad verwoes het, het die Getuies gou opgedaag om te help. Maar baie van die Getuies in daardie gebied is vermis, met die gevolg dat die ouere manne gereël het dat die gebied stelselmatig deursoek word om almal op te spoor. Sommige het na ander gebiede gegaan. Die ouere manne het nietemin aangehou totdat hulle almal opgespoor het. Die nodige hulp is verleen. In die geval van ’n suster wat haar man en ’n seun verloor het, het hulle ook die begrafnisreëlings getref en toe die suster en haar oorblywende kinders ten volle materieel en geestelik ondersteun.
Dikwels is baie meer as net mediese voorrade, ’n paar maaltye en ’n bietjie klere nodig. In 1989 het ’n storm die huise van 117 Getuies in Guadeloupe verwoes en nog 300 huise erg beskadig. Jehovah se Getuies in Martinique het hulle gou te hulp gekom; daarna het die Getuies in Frankryk meer as 100 metrieke ton boumateriaal as geskenk aan hulle gestuur. Toe ’n Getuie op die eiland St. Croix wat haar huis verloor het vir haar werkmaats vertel het dat mede-Getuies uit Puerto Rico op pad was om te kom help, het hulle gesê: “Hulle sal niks vir jou doen nie. Jy is swart, nie Spaans soos hulle nie.” Hoe verbaas was daardie werkmaats tog toe sy kort daarna ’n splinternuwe huis gehad het! Ná ’n aardbewing in 1991 in Costa Rica het plaaslike Getuies en internasionale vrywilligers saamgespan om mede-Getuies in die rampgebied te help. Hulle het 31 huise en 5 Koninkryksale herbou en ander herstel sonder om enigiets in ruil daarvoor te verwag. Ooggetuies het gesê: ‘Ander groepe praat oor liefde; julle betoon dit.’
Die doeltreffendheid waarmee Jehovah se Getuies hulle noodlenigingspogings uitvoer, het omstanders al dikwels verbaas. In 1986 het ’n oewerwal van die Yuba-rivier in Kalifornië, VSA, gebreek en het die vloedwater tienduisende mense gedwing om hulle huise te verlaat. Christen- ouere manne in die gebied het met die hoofkwartier in New York in verbinding getree, en ’n noodlenigingskomitee is gestig. Die oomblik toe die water begin sak het, het honderde vrywilligers aan die werk gespring. Nog voordat sekulêre noodlenigingsinstansies op dreef kon kom, is daar met herstelwerk aan die Getuies se huise begin. Waarom kon hulle so vinnig aan die werk spring?
’n Sleutelfaktor was die Getuies se bereidwilligheid om onmiddellik sonder betaling te gaan help, asook die feit dat hulle die nodige boumateriaal geskenk het. Nog ’n faktor was hulle ondervinding ten opsigte van organisasie en gekoördineerde samewerking, wat gereeld nodig is om hulle byeenkomste te laat vlot en wanneer hulle Koninkryksale bou. ’n Ander noodsaaklike faktor is dat hulle goed nagedink het oor wat die Bybel bedoel wanneer dit sê: ‘Julle moet mekaar vurig liefhê.’—1 Pet. 4:8.
Die bydraes wat gemaak word om in sulke behoeftes te voorsien, kom dikwels van mense wat self baie min het. Soos die briewe wat daarmee saamgestuur word dikwels sê: ‘Die geskenkie is klein, maar ons het diep medelye met ons susters en broers.’ ‘Ek wens dit kon meer wees, maar ek wil graag deel wat ek deur Jehovah se toelating het.’ Soos die eerste-eeuse Christene in Macedonië, smeek hulle opreg vir die voorreg om ’n aandeel daarin te hê om lewensnoodsaaklikhede aan diegene te voorsien wat behoeftig geraak het (2 Kor. 8:1-4). Toe meer as 200 000 Koreane in 1984 weens oorstromings dakloos gelaat is, het Jehovah se Getuies in die Republiek van Korea so milddadig voorsien dat die takkantoor hulle moes laat weet dat geen verdere hulp nodig was nie.
Ooggetuies kan maklik sien dat iets meer as ’n verantwoordelikheidsin of ’n algemene gevoel van medemenslikheid die Getuies tot optrede aanspoor. Hulle het hulle Christenbroers- en susters waarlik lief.
Jehovah se Getuies voorsien nie net in die fisiese behoeftes van hulle broers in rampgebiede nie, maar skenk ook spesiale aandag aan hulle broers se geestelike behoeftes. Daar word so gou moontlik reëlings getref om gemeentelike vergaderinge te hervat. In Griekeland is daar byvoorbeeld in 1986 ’n groot tent buite die stad Kalamata opgeslaan om as Koninkryksaal gebruik te word en kleiner tente op verskillende ander plekke vir die middeweekse Gemeentelike Boekstudies. Nadat daar in 1985 in die fisiese behoeftes van die oorlewendes van die verwoestende modderstorting in Armero, Colombia, voorsien is, is die oorblywende fondse insgelyks gebruik om nuwe Koninkryksale vir drie gemeentes in die gebied op te rig.
Selfs terwyl sulke rekonstruksiewerk aan die gang is, hou Jehovah se Getuies aan om ander te vertroos met die bevredigende antwoorde wat God se Woord gee op hulle vrae oor die doel van die lewe, die rede vir rampe en die dood en watter toekomshoop daar is.
Die Getuies se noodlenigingspogings is nie bedoel om in die fisiese behoeftes van almal in die rampgebied te voorsien nie. In ooreenstemming met Galasiërs 6:10 is dit hoofsaaklik bedoel vir “die huisgenote van die geloof”. Terselfdertyd help hulle ook graag ander in die mate wat hulle kan. Hulle het dit byvoorbeeld gedoen toe hulle aardbewingslagoffers in Italië van kos voorsien het. Toe hulle die slagoffers van oorstromings en storms in die Verenigde State gehelp het, het hulle ook die huise van Getuies se radelose bure skoongemaak en herstel. Wanneer hulle gevra word waarom hulle bereid is om sulke goedhartige dade vir vreemdelinge te doen, antwoord hulle eenvoudig dat hulle hulle naaste liefhet (Matt. 22:39). Ná die verwoestende orkaan in Suid-Florida, VSA, in 1992, was die Getuies se goed georganiseerde noodlenigingsprogram só bekend dat ’n paar sakeondernemings en persone wat nie Getuies was nie en noemenswaardige bydraes tot die noodlenigingsvoorrade wou maak dit aan die Getuies gegee het. Hulle het geweet dat dit nie net op ’n hoop gelos sou word of gebruik sou word om wins te maak nie, maar dat die orkaanslagoffers waarlik daarby baat sal vind, of hulle nou Getuies is of nie. Hulle bereidwilligheid om nie-Getuies ten tye van rampe te help, is so baie in Davao del Norte in die Filippyne waardeer dat stadsamptenare ’n resolusie te dien effekte aangeneem het.
Maar nie almal het ware Christene lief nie. Hulle is dikwels die teiken van wrede vervolging. Ook wanneer dit gebeur, gee mede-Christene hulle liefdevolle steun.
Wanneer Getuies wreed vervolg word
Die apostel Paulus het die Christengemeente met die menseliggaam vergelyk en gesê: “Die lede [moet] gelyke sorg vir mekaar . . . dra. En as een lid ly, ly al die lede saam (1 Kor. 12:25, 26). Dit is hoe Jehovah se Getuies reageer wanneer hulle hoor dat hulle Christenbroers vervolg word.
Gedurende die Nazi-tydperk in Duitsland het die regering Jehovah se Getuies wreed onderdruk. Destyds was daar net sowat 20 000 Getuies in Duitsland, ’n taamlik klein groepie wat deur Hitler verag is. Verenigde optrede was nodig. Op 7 Oktober 1934 het elke gemeente van Jehovah se Getuies in Duitsland in die geheim bymekaargekom, saam gebid en ’n brief aan die regering gestuur waarin hulle verklaar het dat hulle vasbeslote is om Jehovah te bly dien. Daarna het baie van dié wat daar teenwoordig was vreesloos uitgegaan om vir hulle bure van Jehovah se naam en Koninkryk te vertel. Daardie selfde dag het Jehovah se Getuies oor die res van die aarde as gemeentes bymekaargekom en, nadat hulle saam gebid het, kabelgramme ter ondersteuning van hulle Christenbroers aan die Hitlerregering gestuur.
Nadat die vervolging wat die geestelikes in Griekeland teen Jehovah se Getuies aangestig het in 1948 blootgelê is, het die president van Griekeland en verskeie ministers derduisende briewe van Jehovah se Getuies ten behoewe van hulle Christenbroers ontvang. Dit het uit die Filippyne, Australië, Noord- en Suid-Amerika en ander gebiede gekom.
Toe die Ontwaak! in 1961 getoon het hoe inkwisitoriale metodes teen die Getuies in Spanje gebruik word, is die owerheid daar onder protesbriewe toegegooi. Amptenare was geskok om uit te vind dat mense in alle wêrelddele presies geweet het wat hulle doen, en hoewel die vervolging voortgeduur het, het sommige polisiemanne die Getuies gevolglik meer menslik behandel. Ook in verskeie Afrikalande het amptenare van Getuies in baie ander wêrelddele gehoor toe die Getuies uitgevind het dat hulle Christenbroers en -susters in daardie lande wreed behandel word.
As die regering nie gunstig reageer nie, word die vervolgde Getuies nie vergeet nie. Omdat sommige regerings baie jare met hulle godsdiensvervolging volgehou het, het hulle herhaaldelik ’n vloedgolf van versoekskrifte en protesbriewe ontvang. Dit was die geval in Argentinië. In 1959 het die sekretaris van die Departement van Buitelandse en Godsdienssake by een geleentheid een van ons broers na ’n vertrek geneem waar daar verskeie boekrakke vol briewe was wat uit alle wêrelddele ingestroom het. Hy was verbaas dat selfs iemand in die afgeleë Fidji ’n brief sou skryf en vir godsdiensvryheid in Argentinië sou vra.
In sommige gevalle is die Getuies groter vryheid gegee wanneer heersers besef het dat mense oor die hele wêreld geweet het wat hulle doen en dat daar baie was wat werklik omgegee het. Dit was in 1963 die geval in Liberië. Regeringsoldate het byeenkomsgangers in Gbarnga baie wreed behandel. Die president van Liberië is toegegooi onder briewe wat uit alle wêrelddele gestuur is, en die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake het tussenbeide getree omdat ’n Amerikaanse burger een van die slagoffers was. President Tubman het eindelik ’n telegram aan die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier gestuur waarin hy hom bereid verklaar het om ’n afvaardiging van Jehovah se Getuies te woord te staan sodat hulle sake kan bespreek. Twee van die afgevaardigdes—Milton Henschel en John Charuk—was self in Gbarnga. Mnr. Tubman het erken dat wat gebeur het “’n skande” is en het gesê: “Ek is jammer dat dit gebeur het.”
Ná daardie onderhoud is ’n Presidensiële Bevel uitgevaardig wat “alle mense dwarsdeur die land” in kennis gestel het “dat Jehovah se Getuies die reg en die voorreg van vrye toegang tot enige deel van die land het om hulle sendingwerk en godsdienstige aanbidding voort te sit sonder dat enigiemand hulle steur. Hulle persoon asook eiendom sal kragtens die wet beskerm word, en hulle sal die reg hê om God vryelik volgens die stem van hulle gewete te aanbid, terwyl hulle terselfdertyd die Republiek se wette gehoorsaam deur respek vir die landsvlag te toon deur op aandag te staan wanneer dit tydens seremonies gehys of gestryk word.” Maar daar is nie van hulle vereis om die vlag te salueer nie, wat ’n skending van hulle Christelike gewete sou wees.
Maar tot in 1992 is daar nog nie so ’n amptelike verklaring in Malawi gedoen nie, hoewel die Getuies daar nie meer so gewelddadig behandel word nie. Jehovah se Getuies in Malawi was al die slagoffers van die gewelddadigste godsdiensvervolging in die geskiedenis van Afrika. Een so ’n vlaag van vervolging het die land in 1967 getref; ’n ander het in die vroeë sewentigerjare begin. Tienduisende briewe ten behoewe van hulle is uit alle dele van die wêreld geskryf. Telefoonoproepe is gedoen. Kabelgramme is gestuur. Talle vooraanstaandes in die wêreld het hulle weens humanitêre redes daarteen uitgespreek.
Die vervolging was so wreed dat sowat 19 000 Getuies van Jehovah en hulle kinders in 1972 oor die grens na Zambië gevlug het. Die nabygeleë gemeentes van die Getuies in Zambië het gou kos en komberse vir hulle broers bymekaargemaak. Geld en voorrade wat deur Jehovah se Getuies dwarsdeur die wêreld geskenk is, het na Wagtoringtakkantore gestroom en is deur die hoofkwartier in New York na die vlugtelinge gekanaliseer. Daar is oorgenoeg ontvang om in al die behoeftes van die vlugtelinge in die kamp by Sinda Misale te voorsien. Toe die nuus deur die kamp versprei het dat vragmotors met kos, klere en seile vir skuiling daar aangekom het, kon die Malawiese broers nie help om van vreugde te huil oor hierdie liefdeblyk van hulle Christenbroers nie.
Wanneer enige Getuies gevange gehou word, laat hulle mede-Getuies hulle nie in die steek nie, selfs nie eers wanneer dit persoonlike gevaar inhou nie. Tydens die verbod in Argentinië, toe ’n groep Getuies 45 uur aangehou is, is vier ander Getuies wat vir hulle kos en klere gebring het self opgesluit. In 1989 het die vrou van ’n kringopsiener in Burundi probeer om vir haar Christenbroers kos na die gevangenis te neem toe sy van hulle verknorsing gehoor het. Maar sy is self gearresteer en twee weke as gyselaar aangehou omdat die polisie haar man in die hande probeer kry het.
Benewens wat hulle op al hierdie maniere kan doen om te help, word Jehovah se Getuies ook deur liefde vir hulle Christenbroers beweeg om hulle in gebed aan God op te dra. Hulle bid nie dat God oorloë en voedseltekorte onmiddellik moet laat ophou nie, want Jesus Christus het voorspel dat sulke dinge in ons tyd sou gebeur (Matt. 24:7). Hulle bid ook nie dat God alle vervolging sal verhoed nie, omdat die Bybel duidelik sê dat ware Christene vervolg sal word (Joh. 15:20; 2 Tim. 3:12). Maar hulle smeek wel opreg dat hulle Christenbroers en -susters versterk moet word om ten spyte van watter probleme hulle ook al ondervind standvastig in die geloof te kan bly. (Vergelyk Kolossense 4:12.) Hulle lojaliteit, wat van hulle geestelike krag getuig, lewer oorvloedige bewys dat sulke gebede verhoor is.
[Voetnote]
a Sien Die Wagtoring, 1 Desember 1980, bladsye 20-6 (Engelse uitgawe, 15 September 1980); 15 Oktober 1986, bladsye 10-21; 1 Junie 1987, bladsye 4-18; 15 Julie 1988, bladsye 21-3; 1 Maart 1990, bladsye 20-2.
b Sien Die Wagtoring, 15 April 1946, bladsye 115-23 (Engelse uitgawe, 1 Desember 1945).
[Lokteks op bladsy 305]
Aandag aan gevalle waar ’n spesiale behoefte bestaan, word nie aan die toeval oorgelaat nie
[Lokteks op bladsy 307]
Hulp wat uit liefdevolle, persoonlike belangstelling spruit
[Lokteks op bladsy 308]
Daar word voorsien in die groot behoeftes aan noodleniging
[Lokteks op bladsy 312]
’n Stelselmatige soektog om elke Getuie in die rampgebied op te spoor
[Lokteks op bladsy 315]
Ook nie-Getuies ontvang hulp
[Lokteks op bladsy 317]
Vreugdetrane oor die liefde wat hulle Christenbroers aan die dag lê
[Venster op bladsy 309]
“Julle het mekaar waarlik lief”
Nadat een Christensuster se bure gesien het hoe Getuievrywilligers in die oorloggeteisterde Libanon haar erg beskadigde huis heeltemal herstel het, kon hulle nie anders as om te vra nie: “Waar kom hierdie liefde vandaan? Watter soort mense is julle?” En ’n Moslemvrou wat toegekyk het terwyl die huis van ’n Getuie skoongemaak en herstel is, het gesê: “Julle het mekaar waarlik lief. Julle het die regte geloof.”
[Venster op bladsy 316]
Ware broers en susters
Die “Arkansas Gazette” het die volgende oor Kubaanse Getuievlugtelinge in Fort Chaffee, Arkansas, gesê: “Hulle was die heel eerstes wat in nuwe huise hervestig is, omdat hulle Amerikaanse ‘broers en susters’—mede-Getuies van Jehovah—hulle kom soek het. . . . Wanneer Getuies hulle geestelike eweknieë in enige land ‘broers en susters’ noem, bedoel hulle dit werklik.”—Nommer van 19 April 1981.
[Prente op bladsy 306]
Ná die Tweede Wêreldoorlog het hulle kos en klere aan behoeftige mede-Getuies in 18 lande gestuur
Verenigde State
Switserland
[Prent op bladsy 310]
In 1990 het Getuies in nabygeleë lande saamgespan om medegelowiges in Roemenië te help
[Prente op bladsy 311]
Getuies wat ’n aardbewing in Peru oorleef het, het hulle eie noodsentrums gebou en mekaar gehelp
Noodlenigingsvoorrade wat deur ander Getuies gebring is (onder), was onder die eerstes wat die gebied bereik het
[Prente op bladsy 313]
Noodlenigingspogings behels dikwels dat boumateriaal en vrywilligers voorsien word om mede-Getuies hulle huise te help herbou
Guatemala
Panama
Mexiko
[Prent op bladsy 314]
Die Getuies se noodlenigingspogings behels geestelike opbouing. In Kalamata, Griekeland, asook buite die stad, is tente vir vergaderinge gou opgeslaan