Deel 7
God se voorneme gaan binnekort verwesenlik word
1, 2. Waarom kan ons seker wees dat God gaan optree om goddeloosheid en lyding te beëindig?
1 Hoewel dit uit ’n menslike oogpunt lyk asof God onvolmaaktheid en lyding lank toegelaat het, gaan hy nie toelaat dat slegte toestande vir ewig voortduur nie. Die Bybel sê vir ons dat God hierdie dinge net vir ’n spesifieke tyd toelaat.
2 “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd” (Prediker 3:1, NW). Wanneer God se vasgestelde tyd vir die toelating van goddeloosheid en lyding verstreke is, gaan hy in menseaangeleenthede ingryp. Hy sal goddeloosheid en lyding beëindig en sy oorspronklike voorneme uitvoer om die aarde te vul met ’n volmaakte, gelukkige mensegesin wat in volkome vrede en ekonomiese veiligheid onder Paradystoestande lewe.
God se oordele
3, 4. Hoe beskryf die boek Spreuke die gevolge van God se ingryping?
3 Hier is ’n paar van die talle Bybelprofesieë wat toon wat God se ingryping, dit wil sê die gevolge van sy oordele, binnekort vir die mensdom gaan beteken:
4 “Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.”—Spreuke 2:21, 22.
5, 6. Hoe toon Psalm 37 wat sal gebeur wanneer God ingryp?
5 “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. En nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Psalm 37:9-11.
6 “Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense. Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is ’n toekoms vir die man van vrede. Maar die oortreders word tesame verdelg; die toekoms van die goddelose word afgesny.”—Psalm 37:34, 37, 38.
7. Watter goeie raad gee God se Woord ons?
7 Met die oog op die wonderlike toekoms wat op diegene wag wat die almagtige Skepper se reg erken om oor ons te heers, word ons dus aangespoor: “Laat jou hart my gebooie bewaar; want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder.” Trouens, diegene wat kies om God se wil te doen, sal die ewige lewe verkry! Daarom vermaan God se Woord ons: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”—Spreuke 3:1, 2, 5, 6.
God se heerskappy uit die hemel
8, 9. Waardeur gaan God hierdie aarde reinig?
8 God gaan die aarde reinig deur middel van die allerbeste regering wat die mensdom kan hê. Dit is ’n regering wat hemelse wysheid weerspieël omdat dit onder God se leiding uit die hemel regeer. En daardie hemelse Koninkryk sal alle vorme van menseheerskappy van die aarde af verwyder. Mense sal nooit weer die keuse hê om onafhanklik van God te probeer regeer nie.
9 In hierdie verband sê die profesie in Daniël 2:44: “In die dae van dié konings [die hedendaagse regerings] sal die God van die hemel ’n koninkryk [in die hemel] verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie [die mens sal nooit weer toegelaat word om onafhanklik van God te regeer nie]; dit sal al daardie koninkryke [wat nou bestaan] verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Sien ook Openbaring 19:11-21; 20:4-6.
10. Waarom kan ons seker wees dat daar onder God se hemelse Koninkryk nooit weer verdorwe heerskappy sal wees nie?
10 Die mensdom sal dus nooit weer verdorwe regeringsvorme hê nie, want nadat God hierdie stelsel tot ’n einde gebring het, sal menseheerskappy wat onafhanklik van hom is nooit weer bestaan nie. En die Koninkryk wat uit die hemel gaan heers, sal nie verdorwe word nie, want God is die Insteller en Behouer daarvan. Dit sal eerder tot voordeel van sy menslike onderdane heers. God se wil gaan dan reg rondom die aarde gedoen word soos dit in die hemel gedoen word. Dit is waarom Jesus sy dissipels kon leer om soos volg tot God te bid: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Mattheüs 6:10.
Hoe naby is ons?
11. Waar in die Bybel tref ons profesieë aan wat ons sal help om vas te stel hoe naby ons aan hierdie stelsel se einde is?
11 Hoe naby is ons aan die einde van hierdie onbevredigende stelsel van dinge en die begin van God se nuwe wêreld? Bybelprofesieë gee ons ’n duidelike antwoord. Jesus self het byvoorbeeld dinge voorspel waarvoor ons moet uitkyk sodat ons kan vasstel waar ons ons met betrekking tot, soos die Bybel dit stel, “die voleinding van die wêreld” bevind. Dit is in Mattheüs hoofstukke 24 en 25, Markus 13 en Lukas 21 opgeteken. In 2 Timotheüs hoofstuk 3 het die apostel Paulus ook voorspel dat daar ’n tydperk sou wees wat “die laaste dae” genoem word wanneer verskillende gebeure verder sou bevestig waar ons ons in die tydstroom bevind.
12, 13. Wat het Jesus en Paulus oor die tyd van die einde gesê?
12 Jesus het gesê dat hierdie tydperk met die volgende gebeure sou begin: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke” (Mattheüs 24:7). En hy het ook gewaarsku dat ‘die ongeregtigheid vermeerder sal word’.—Mattheüs 24:12.
13 Die apostel Paulus het voorspel: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het . . . Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.”—2 Timotheüs 3:1-5, 13.
14, 15. Hoe bevestig die gebeure van hierdie 20ste eeu dat ons ons inderdaad in die laaste dae bevind?
14 Vind daardie dinge wat Jesus en Paulus voorspel het in ons tyd plaas? Ja, beslis. Die Eerste Wêreldoorlog was verreweg die ergste oorlog wat tot op daardie tydstip plaasgevind het. Dit was die eerste oorlog waarby die hele wêreld betrokke was en was die keerpunt in die hedendaagse geskiedenis. Voedseltekorte, siekte-epidemies en ander ellendes het met daardie oorlog gepaardgegaan. Die gebeure wat van 1914 af plaasgevind het, was soos Jesus dit gestel het “’n begin van die smarte” (Mattheüs 24:8). Hulle het die voorspelde tydperk ingelei wat “die laaste dae” genoem word, die begin van die laaste geslag wat God se toelating van goddeloosheid en lyding sou ervaar.
15 Jy is waarskynlik bekend met die gebeure van die 20ste eeu. Jy weet watter chaos daar heers. Ongeveer 100 miljoen mense het reeds in oorloë omgekom. Honderdmiljoene ander het weens honger en siekte gesterf. Aardbewings het tallose lewens geëis. Minagting vir lewe en eiendom neem toe. Die vrees vir misdaad het iets alledaags geword. Sedelike standaarde word verontagsaam. Die bevolkingsontploffing skep probleme wat nie opgelos word nie. Besoedeling bederf die gehalte van die lewe en stel dit selfs in gevaar. Ons bevind ons waarlik sedert 1914 in die laaste dae en nader die hoogtepunt van die Bybelprofesieë wat op ons tyd betrekking het.
16. Hoe lank is die laaste dae?
16 Hoe lank sal hierdie laaste dae wees? Jesus het aangaande die tydperk wat in 1914 begin het en waartydens die “begin van die smarte” sou plaasvind, gesê: “Hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Mattheüs 24:8, 34-36). Dit beteken dat al die gebeure wat die laaste dae kenmerk in die leeftyd van een geslag, die geslag van 1914, moet plaasvind. Sommige mense wat in 1914 gelewe het, sal dus nog lewe wanneer hierdie stelsel tot ’n einde kom. Die mense van daardie geslag is nou al baie oud, wat toon dat daar nie meer veel tyd oor is voordat God hierdie huidige stelsel van dinge tot ’n einde bring nie.
17, 18. Watter profesie toon dat ons baie naby aan hierdie wêreld se einde is?
17 Nog ’n profesie wat toon dat die einde van hierdie stelsel baie naby is, is deur die apostel Paulus gegee, wat voorspel het: “Die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle . . . , en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”—1 Thessalonicense 5:2, 3; sien ook Lukas 21:34, 35.
18 Vandag is die Koue Oorlog verby, en ’n internasionale oorlog is dalk nie meer ’n groot bedreiging nie. Die nasies kan gevolglik redeneer dat ’n nuwe wêreldorde nou binne hulle bereik is. Maar wanneer hulle dink dat hulle pogings slaag, sal dit die teenoorgestelde beteken as wat hulle dink, want dit sal die finale teken wees dat God hierdie stelsel spoedig gaan vernietig. Hou in gedagte dat politieke onderhandelings en verdrae geen wesenlike veranderinge in mense teweegbring nie. Dit lei nie daartoe dat mense liefde teenoor mekaar betoon nie. En wêreldleiers bring nie ’n einde aan misdaad nie, en hulle kan ook nie siekte en die dood uit die weg ruim nie. Moet dus nie op enige verwikkelinge ten opsigte van menslike vrede en veiligheid vertrou en dink dat hierdie wêreld sy probleme binnekort gaan oplos nie (Psalm 146:3). So ’n uitroep sal eerder beteken dat die einde van hierdie wêreld op hande is.
Die verkondiging van goeie nuus
19, 20. Watter profesie oor predikingswerk in die laaste dae word nou vervul?
19 Nog ’n profesie wat toon dat ons sedert 1914 in die laaste dae is, is die een wat Jesus gegee het: “Die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word” (Markus 13:10). Of soos Mattheüs 24:14 dit stel: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”
20 Die goeie nuus van hierdie wêreld se einde en van die inkomende Paradysagtige nuwe wêreld onder God se Koninkryk word vandag wêreldwyd op ’n groter skaal as ooit tevore verkondig. Deur wie? Deur miljoene Getuies van Jehovah. Hulle preek in elke land op aarde.
21, 22. Wat toon veral dat Jehovah se Getuies ware Christene is?
21 Benewens die feit dat Jehovah se Getuies oor God se Koninkryk preek, toon hulle gedrag dat hulle Christus se ware volgelinge is, want hy het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” Jehovah se Getuies word dus deur ’n onverbreeklike band van liefde in ’n wêreldwye broederskap verenig.—Johannes 13:35; sien ook Jesaja 2:2–4; Kolossense 3:14; Johannes 15:12-14; 1 Johannes 3:10–12; 4:20, 21; Openbaring 7:9, 10.
22 Jehovah se Getuies glo wat die Bybel sê: ‘God is geen aannemer van die persoon nie, maar in elke nasie is die een wat Hom vrees en geregtigheid doen Hom welgevallig’ (Handelinge 10:34, 35). Hulle beskou hulle mede-Getuies in alle lande, ongeag hulle ras of kleur, as geestelike broers en susters (Mattheüs 23:8). En die feit dat so ’n wêreldwye broederskap wel vandag op aarde bestaan, lewer verdere bewys dat God se voorneme binnekort verwesenlik gaan word.
[Prent op bladsy 26]
God se volmaakte hemelse Koninkryk sal die mensdom se enigste regering in die nuwe wêreld wees