HOOFSTUK VYF
Voed jou kind van kleins af op
1, 2. Tot wie moet ouers hulle om hulp wend om hulle kinders groot te maak?
‘SEUNS is ’n erfdeel van Jehovah’, het ’n waarderende ouer ongeveer 3 000 jaar gelede gesê (Psalm 127:3). Ja, die vreugde van ouerskap is ’n kosbare beloning wat van God af kom, iets wat die meeste getroude mense kan ontvang. Diegene wat kinders het, besef egter gou dat ouerskap nie net vreugde meebring nie, maar ook verantwoordelikhede.
2 Dit is veral vandag ’n ontsaglike taak om kinders groot te maak. Baie het dit nietemin met welslae gedoen, en die geïnspireerde psalmis sê vir ons hoe: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou” (Psalm 127:1). Hoe noukeuriger jy Jehovah se riglyne volg, hoe beter sal jy as ’n ouer word. Die Bybel sê: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie” (Spreuke 3:5). Is jy gewillig om na Jehovah se raad te luister terwyl jy jou 20-jaarprojek aanpak om kinders groot te maak?
AANVAAR DIE BYBEL SE BESKOUING
3. Watter verantwoordelikheid het vaders wat die grootmaak van kinders betref?
3 In baie huise regoor die wêreld beskou mans kinderopvoeding hoofsaaklik as die vrou se taak. Die Woord van God toon weliswaar dat die vader die vernaamste broodwinner is. Maar dit sê ook dat hy verantwoordelikhede in die huis het. Die Bybel sê: “Maak jou werk buitekant reg, en bring dit vir jou op die land in orde; daarna moet jy dan jou huis [“huisgesin”, NW] bou” (Spreuke 24:27). God verwag dat vaders en moeders saam moet werk wat die grootmaak van kinders betref.—Spreuke 1:8, 9.
4. Waarom moet ons nie dink dat seuns beter as meisies is nie?
4 Hoe beskou jy jou kinders? Verslae toon dat “babadogtertjies [in Asië] nie baie welkom is nie”. Vooroordeel teenoor meisies kom glo nog steeds in Latyns-Amerika voor, selfs onder “meer verligte gesinne”. Die waarheid is egter dat meisies nie tweede klas kinders is nie. Jakob, ’n bekende vader in die ou tyd, het al sy nakomelinge, met inbegrip van enige dogters wat tot op daardie stadium gebore is, beskryf as “die kinders wat God uit genade aan [my] geskenk het” (Genesis 33:1-5; 37:35). Jesus het eweneens al “die jong kinders” (seuns en dogters) geseën wat na hom toe gebring is (Matteus 19:13-15). Ons kan daarvan verseker wees dat hy Jehovah se beskouing weerspieël het.—Deuteronomium 16:14.
5. Wat moet ’n egpaar in aanmerking neem wanneer hulle oor die grootte van hulle gesin besluit?
5 Word daar in jou gemeenskap van ’n vrou verwag om aan soveel kinders moontlik geboorte te gee? Hoeveel kinders ’n egpaar het, is heel tereg hulle persoonlike keuse. Maar sê nou ouers het nie die geld om kos, klere en opvoeding aan baie kinders te voorsien nie? Die egpaar moet dit seer seker in ag neem wanneer hulle oor die grootte van hulle gesin besluit. Party egpare wat nie vir al hulle kinders kan sorg nie, skuif die verantwoordelikheid om party van hulle groot te maak op familielede af. Is hierdie gebruik gewens? Nie eintlik nie. En dit onthef die ouers nie van die verpligting teenoor hulle kinders nie. Die Bybel sê: “As iemand vir dié wat syne is, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën” (1 Timoteus 5:8). Verantwoordelike egpare probeer die grootte van hulle “huisgesin” beplan sodat hulle ‘vir dié wat hulle s’n is, kan sorg’. Kan hulle geboortebeperking toepas om dit te doen? Dit is ook ’n persoonlike besluit, en as egpare wel daarop besluit, is die voorbehoedmiddel wat hulle kies ook ’n persoonlike saak. “Elkeen sal sy eie vrag dra” (Galasiërs 6:5). Maar geboortebeperking wat enige vorm van aborsie insluit, is in stryd met Bybelbeginsels. Jehovah God is “die fontein van die lewe” (Psalm 36:10). As ’n mens dus ’n lewe vernietig nadat bevrugting plaasgevind het, sal dit growwe oneerbiedigheid teenoor Jehovah wees, en dit kom op moord neer.—Exodus 21:22, 23, NW; Psalm 139:16, NW; Jeremia 1:5.
VOORSIEN IN JOU KIND SE BEHOEFTES
6. Wanneer moet ’n kind se opleiding begin?
6 Spreuke 22:6 sê: “Lei ’n seun op ooreenkomstig die weg vir hom” (NW). Die opleiding van kinders is nog ’n groot verpligting wat op ouers rus. Maar wanneer moet daardie opleiding begin? Baie vroeg. Die apostel Paulus het gesê dat Timoteus “van kleintyd af” opgelei is (2 Timoteus 3:15). Die Griekse woord wat hier gebruik is, kan na ’n klein babatjie of selfs na ’n ongebore kind verwys (Lukas 1:41, 44; Handelinge 7:18-20). Timoteus het derhalwe opleiding begin ontvang toe hy nog baie klein was—en dit hoort so. Terwyl ’n kind nog baie klein is, is dit die ideale tyd om met sy opleiding te begin. Selfs ’n klein babatjie is weetgierig.
7. (a) Waarom is dit belangrik dat albei ouers ’n hegte verhouding met ’n baba opbou? (b) Watter verhouding het tussen Jehovah en sy enigverwekte Seun bestaan?
7 “Toe ek my baba vir die eerste keer gesien het”, sê een moeder, “het ek hom liefgekry.” Dit gebeur met die meeste moeders. Daardie wonderlike band tussen moeder en baba groei namate hulle ná die geboorte tyd saam bestee. Borsvoeding dra tot hierdie gehegtheid by. (Vergelyk 1 Tessalonisense 2:7.) ’n Moeder se liefkosing van en geselsery met haar baba is uiters belangrik om in die baba se emosionele behoeftes te voorsien. (Vergelyk Jesaja 66:12.) Maar wat van die vader? Hy moet ook ’n hegte band met sy nuwe spruitjie opbou. Jehovah self het in hierdie opsig ’n voorbeeld gestel. Die boek Spreuke vertel ons van Jehovah se verhouding met sy enigverwekte Seun, wat uitgebeeld word as iemand wat sê: “Jehovah self het my voortgebring as die begin van sy weg . . . Ek het die een geword vir wie hy dag vir dag besonder lief was” (Spreuke 8:22, 30, NW; Johannes 1:14). ’n Goeie vader bou eweneens reg van die begin van die kind se lewe af ’n innige, liefdevolle verhouding met sy kind op. “Betoon baie liefde”, sê een ouer. “Geen kind het al van drukkies en soentjies doodgegaan nie.”
8. Watter verstandelike stimulasie moet ouers hulle babas so spoedig moontlik gee?
8 Maar babas het meer nodig. Van hulle geboorte af is hulle brein gereed om inligting in te neem en te berg, en ouers is ’n vername bron hiervan. Neem byvoorbeeld taal. Hoe goed ’n kind leer praat en lees, staan volgens navorsers “vermoedelik in noue verband met die aard van die kind se vroeë interaksie met sy ouers”. Jy moet van kleins af met jou kind praat en vir hom lees. Hy sal jou gou wil begin naboots, en kort voor lank kan jy hom leer lees. Hy sal waarskynlik kan lees voor hy skool toe gaan. Dit sal veral voordelig wees as jy in ’n land woon waar daar min onderwysers en stampvol klaskamers is.
9. Wat is die belangrikste doel wat ouers in gedagte moet hou?
9 Dit is vir Christenouers van die allergrootste belang om in hulle kind se geestelike behoeftes te voorsien. (Sien Deuteronomium 8:3.) Met watter doel? Om hulle kind te help om ’n Christelike persoonlikheid te ontwikkel, om hom as ’t ware met “die nuwe persoonlikheid” te beklee (Efesiërs 4:24). Hiervoor moet hulle gepaste boumateriaal en gepaste boumetodes oorweeg.
SKERP DIE WAARHEID BY JOU KIND IN
10. Watter eienskappe moet kinders ontwikkel?
10 Die gehalte van ’n gebou hang in groot mate af van die soort materiaal wat in die gebou gebruik is. Die apostel Paulus het gesê dat “goud, silwer, kosbare stene” die beste boumateriaal vir Christelike persoonlikhede is (1 Korintiërs 3:10-12). Dit stel eienskappe voor soos geloof, wysheid, onderskeidingsvermoë, lojaliteit, respek en liefdevolle waardering vir Jehovah en sy wette (Psalm 19:8-12; Spreuke 2:1-6; 3:13, 14, NW). Hoe kan ouers hulle kinders van kindsbeen af help om hierdie eienskappe te ontwikkel? Deur ’n metode te volg wat lank gelede uiteengesit is.
11. Hoe het Israelitiese ouers hulle kinders gehelp om godvrugtige persoonlikhede te ontwikkel?
11 Kort voor die nasie Israel die Beloofde Land binnegegaan het, het Jehovah vir Israelitiese ouers gesê: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:6, 7). Ja, ouers moet voorbeelde, metgeselle, kommunikeerders en onderrigters wees.
12. Waarom is dit uiters belangrik dat ouers goeie voorbeelde moet wees?
12 Wees ’n voorbeeld. Jehovah het ten eerste gesê: “Hierdie woorde . . . moet in jou hart wees.” Toe het hy bygevoeg: “Jy moet dit jou kinders inskerp.” Godvrugtige eienskappe moet dus eers in die ouer se hart wees. Die ouer moet die waarheid liefhê en daarvolgens lewe. Slegs dan kan hy die kind se hart bereik (Spreuke 20:7). Waarom? Omdat kinders meer beïnvloed word deur wat hulle sien as deur wat hulle hoor.—Lukas 6:40; 1 Korintiërs 11:1.
13. Hoe kan Christenouers Jesus se voorbeeld navolg deur aandag aan hulle kinders te skenk?
13 Wees ’n metgesel. Jehovah het vir ouers in Israel gesê: ‘Spreek met jou kinders as jy in jou huis sit en as jy op pad is.’ Dit beteken dat ouers tyd saam met die kinders moet deurbring, ongeag hoe besig hulle is. Jesus het klaarblyklik gemeen dat kinders sy tyd waardig is. Gedurende die laaste dae van sy bediening “het [mense] jong kinders na hom toe begin bring sodat hy hulle sou aanraak”. Wat was Jesus se reaksie? “Hy het die kinders in sy arms geneem en hulle begin seën” (Markus 10:13, 16). Dink net daaraan—dit was die laaste ure van Jesus se lewe. Nogtans het hy tyd aan hierdie kinders afgestaan en aandag aan hulle geskenk. Wat ’n goeie les!
14. Waarom is dit voordelig dat ouers tyd saam met hulle kinders bestee?
14 Wees ’n kommunikeerder. As jy tyd saam met jou kind bestee, sal dit jou help om met hom te kommunikeer. Hoe meer jy met hom kommunikeer, hoe beter sal jy kan sien hoe sy persoonlikheid ontwikkel. Onthou egter dat kommunikasie meer behels as om net te gesels. “Ek moes die kuns aanleer om te luister”, het ’n moeder in Brasilië gesê, “om met my hart te luister.” Haar geduld het vrugte afgewerp toe haar seun met haar oor sy gevoelens begin praat het.
15. Wat moet in verband met vermaak in gedagte gehou word?
15 Kinders het “’n tyd om te lag . . . en ’n tyd om van vreugde rond te spring” nodig, dit wil sê ’n tyd vir ontspanning (Prediker 3:1, 4; Sagaria 8:5). Ontspanning kan baie voordelig wees wanneer ouers en kinders dit saam geniet. Dit is ongelukkig waar dat ontspanning in baie huise met televisiekykery vereenselwig word. Hoewel sommige televisieprogramme as vermaak beskou kan word, word goeie waardes deur baie vernietig, en televisiekykery is geneig om kommunikasie in die gesin te belemmer. Waarom doen jy dus nie iets aangenaams saam met jou kinders nie? Sing, speel speletjies, assosieer met vriende, besoek interessante plekke. Sulke bedrywighede bevorder kommunikasie.
16. Wat moet ouers hulle kinders van Jehovah leer, en hoe moet hulle dit doen?
16 Wees ’n onderrigter. ‘Jy moet jou kinders hierdie woorde inskerp’, het Jehovah gesê. Die konteks sê wat en hoe jy hulle moet leer. Eerstens “moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag”. (Deuteronomium 6:5, ons kursiveer.) Dan moet jy hulle “hierdie woorde . . . inskerp”. Onderrig met die doel om heelhartige liefde vir Jehovah en sy wette te ontwikkel. (Vergelyk Hebreërs 8:10.) Die woord “inskerp” beteken om deur herhaling te onderrig. Jehovah sê dus in werklikheid vir jou wat die vernaamste manier is om jou kinders te help om ’n godvrugtige persoonlikheid te ontwikkel: praat gereeld oor hom. Dit sluit in dat jy ’n gereelde Bybelstudie met hulle hou.
17. Wat moet ouers dalk in hulle kind ontwikkel? Waarom?
17 Die meeste ouers weet dat dit nie maklik is om inligting in ’n kind se hart te kry nie. Die apostel Petrus het mede-Christene aangespoor: “Ontwikkel soos pasgebore kindertjies ’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort” (1 Petrus 2:2). Die uitdrukking ‘ontwikkel ’n verlange’ dui daarop dat baie nie van nature na geestelike voedsel honger nie. Ouers moet dalk na maniere soek om daardie verlange in hulle kind te ontwikkel.
18. Wat is party van Jesus se onderrigmetodes wat ouers aangespoor word om te volg?
18 Jesus het harte bereik deur illustrasies te gebruik (Markus 13:34; Lukas 10:29-37). Hierdie onderrigmetode is veral doeltreffend in die geval van kinders. Leer hulle Bybelbeginsels deur kleurvolle, interessante verhale te gebruik, miskien dié wat in die publikasie My boek met Bybelverhale voorkom.a Betrek die kinders hierby. Laat hulle hulle skeppingsvermoë gebruik om Bybelgebeure te teken en op te voer. Jesus het ook vrae gebruik (Matteus 17:24-27). Volg sy metode tydens julle gesinstudie. Pleks van bloot ’n wet van God te noem, kan jy vrae stel soos: Waarom het Jehovah ons hierdie wet gegee? Wat sal gebeur as ons dit gehoorsaam? Wat sal gebeur as ons dit nie gehoorsaam nie? Sulke vrae help ’n kind om te redeneer en te sien dat God se wette prakties en voordelig is.—Deuteronomium 10:13.
19. Watter groot voordele sal die kinders geniet as ouers Bybelbeginsels volg in hulle handelinge met hulle kinders?
19 Deur ’n voorbeeld, ’n metgesel, ’n kommunikeerder en ’n onderrigter te wees, kan jy jou kind help om van kindsbeen af ’n hegte persoonlike verhouding met Jehovah God aan te knoop. Hierdie verhouding sal jou kind aanspoor om as ’n Christen gelukkig te wees. Hy sal daarna streef om sy geloof uit te leef selfs wanneer hy voor portuurdwang en versoekings te staan kom. Help hom altyd om hierdie kosbare verhouding te waardeer.—Spreuke 27:11.
DIE NOODSAAKLIKHEID VAN DISSIPLINE
20. Wat is dissipline, en hoe moet dit uitgeoefen word?
20 Dissipline is opleiding wat die verstand en hart regstel. Kinders het dit voortdurend nodig. Paulus vermaan vaders om “aan [te hou] om hulle [kinders] in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Ouers moet, net soos Jehovah, met liefde dissiplineer (Hebreërs 12:4-11). Dissipline wat op liefde gebaseer is, kan deur redenering aan hulle oorgedra word. Gevolglik word ons aangesê om ‘na tug te luister’ (Spreuke 8:33). Hoe moet dissipline uitgeoefen word?
21. Watter beginsels moet ouers in gedagte hou wanneer hulle hulle kinders dissiplineer?
21 Party ouers dink dat die dissiplinering van hulle kinders bloot insluit om op ’n dreigende stemtoon met hulle te praat, hulle uit te skel of hulle selfs te beledig. Maar oor dieselfde onderwerp waarsku Paulus: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie” (Efesiërs 6:4). Alle Christene word aangespoor om ‘teer te wees teenoor almal en dié wat nie gunstiggesind is nie met sagmoedigheid te onderrig’ (2 Timoteus 2:24, 25). Hoewel Christenouers besef dat hulle ferm moet wees, probeer hulle hierdie woorde in gedagte hou wanneer hulle hulle kinders dissiplineer. Maar soms is dit nie genoeg om net met hulle te redeneer nie, en dan het hulle dalk die een of ander vorm van straf nodig.—Spreuke 22:15.
22. Wat moet ’n kind gehelp word om te verstaan as dit nodig is om hom te straf?
22 Verskillende kinders het verskillende vorme van dissipline nodig. Party laat hulle nie ‘met woorde waarsku’ nie. As hulle af en toe gestraf word omdat hulle ongehoorsaam was, kan dit hulle lewe red (Spreuke 17:10; 23:13, 14; 29:19). ’n Kind moet egter verstaan waarom hy gestraf word. “Die roede en die bestraffing gee wysheid.” (Spreuke 29:15, ons kursiveer; Job 6:24.) Maar bestraffing het perke. “Ek sal jou tugtig met mate”, het Jehovah vir sy volk gesê. (Jeremia 46:28b, ons kursiveer.) Die Bybel keur dit glad nie goed dat ’n kind in woede ’n loesing kry of erg geslaan word nie, want dit kan hom emosioneel en selfs fisies skade berokken.—Spreuke 16:32.
23. Wat moet ’n kind kan besef wanneer sy ouers hom straf?
23 Toe Jehovah sy volk gewaarsku het dat hy hulle gaan dissiplineer, het hy eers vir hulle gesê: “Wees nie bevrees nie . . . want Ek is met jou” (Jeremia 46:28a). Ouerlike dissipline, in watter gepaste vorm ook al, moet ’n kind eweneens nooit laat voel dat hy verwerp is nie (Kolossense 3:21). Die kind moet eerder besef dat die dissipline gegee word omdat die ouer ‘met hom’, aan sy kant, is.
BESKERM JOU KIND TEEN LEED
24, 25. Wat is ’n ernstige bedreiging waarteen kinders deesdae beskerm moet word?
24 Baie volwassenes kyk terug op hulle kinderdae as ’n gelukkige tyd. Hulle dink terug aan ’n hartlike gevoel van veiligheid, verseker dat hulle ouers na hulle sou omsien, ongeag wat gebeur. Ouers wil hê dat hulle kinders so moet voel, maar in vandag se verdorwe wêreld is dit moeiliker as vantevore om kinders te beskerm.
25 Seksuele molestering van kinders is ’n ernstige bedreiging wat in onlangse jare toegeneem het. In Maleisië het verslae van kindermolestering oor ’n tydperk van tien jaar vervierdubbel. In Duitsland word ongeveer 300 000 kinders elke jaar seksueel gemolesteer, terwyl die jaarlikse syfer in ’n Suid-Amerikaanse land, volgens een studie, na raming ’n verstommende 9 000 000 is! Dit is tragies dat die meeste van hierdie kinders in hulle eie huis gemolesteer word deur mense wat hulle ken en vertrou. Maar kinders se ouers moet vir hulle ’n sterk verdediging wees. Hoe kan ouers as beskermers optree?
26. Wat is party maniere waarop kinders beskerm kan word, en hoe kan kennis ’n kind beskerm?
26 Aangesien die ondervinding toon dat kinders wat min van seks af weet veral kwesbaar is vir kindermolesteerders, is die opleiding van die kind ’n belangrike voorkomingsmaatreël, selfs al is hy nog jonk. Kennis kan ’n kind red “van die weg van die slegte, van die mens wat valse dinge spreek” (Spreuke 2:10-12). Watter kennis? Kennis van Bybelbeginsels, van wat sedelik reg en verkeerd is. Ook kennis van die feit dat party grootmense slegte dinge doen en dat ’n jong persoon nie gehoorsaam hoef te wees wanneer mense onwelvoeglike dade voorstel nie. (Vergelyk Daniël 1:4, 8; 3:16-18.) Moet sulke onderrigting nie net tot een bespreking beperk nie. Die meeste jong kinders moet herhaaldelik geleer word voordat hulle iets goed onthou. Namate kinders ’n bietjie ouer word, sal ’n vader sy dogter se reg op privaatheid liefdevol respekteer, en ’n moeder haar seun s’n—sodoende sal ’n kind se begrip van wat reg is, versterk word. En een van die beste maniere waarop kinders teen molestering beskerm kan word, is as die ouers goed oor hulle toesig hou.
VRA GODDELIKE LEIDING
27, 28. Wie is die ouers se grootste Bron van hulp wanneer hulle voor die uitdaging te staan kom om ’n kind groot te maak?
27 Dit is weliswaar ’n uitdaging om ’n kind van kleins af op te lei, maar gelowige ouers hoef nie die uitdaging alleen die hoof te bied nie. In die dae van die Rigters, toe ’n man met die naam Manoag gehoor het dat hy vader gaan word, het hy Jehovah se leiding gevra om die kind groot te maak. Jehovah het sy gebede verhoor.—Rigters 13:8, 12, 24.
28 Gelowige ouers kan vandag eweneens in gebed met Jehovah praat terwyl hulle hulle kinders grootmaak. Dit is harde werk om ’n ouer te wees, maar dit hou groot belonings in. ’n Christenegpaar in Hawaii sê: “Jy het 12 jaar om jou werk gedoen te kry voordat daardie kritieke tienerjare aanbreek. Maar as jy hard probeer het om Bybelbeginsels toe te pas, is dit die tyd om vreugde en vrede te maai wanneer hulle besluit hulle wil Jehovah van harte dien” (Spreuke 23:15, 16). Wanneer jou kind daardie besluit neem, sal jy ook beweeg word om te sê: ‘Seuns (en dogters) is ’n erfdeel van Jehovah.’
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.