Eksodus
21 “Dít is die regterlike bevele wat jy aan hulle moet oordra:+
2 “As jy ’n Hebreeuse slaaf koop,+ moet hy ses jaar lank as ’n slaaf dien, maar in die sewende jaar moet hy vrygelaat word sonder dat hy enigiets hoef te betaal.+ 3 As hy alleen gekom het, moet hy alleen weggaan. As hy ’n vrou het, moet sy vrou saam met hom weggaan. 4 As sy meester vir hom ’n vrou gee en hy seuns of dogters by haar het, moet die vrou en haar kinders haar meester s’n word, en hy moet alleen weggaan.+ 5 Maar as die slaaf uitdruklik sê: ‘Ek het my meester, my vrou en my seuns lief, en ek wil nie vrygelaat word nie,’+ 6 moet sy meester hom voor die ware God bring. Hy moet hom dan tot by die deur of die deurpos bring, en sy meester moet ’n els neem en dit deur sy oor steek, en hy sal vir die res van sy lewe sy slaaf wees.
7 “As ’n man sy dogter as ’n slavin verkoop, sal sy nie op dieselfde manier as ’n manlike slaaf vrygelaat word nie. 8 As haar meester nie tevrede met haar is nie en haar nie as ’n byvrou wil hê nie, maar haar aan iemand anders wil verkoop,* sal hy nie die reg hê om haar aan uitlanders te verkoop nie, aangesien hy haar verraai het. 9 As hy haar vir sy seun kies, moet hy haar die regte van ’n dogter gee. 10 As hy vir hom nog ’n vrou neem, moet sy nog steeds die kos en klere ontvang wat die eerste vrou toekom, en hy moet aanhou om die huweliksplig+ teenoor haar na te kom. 11 As hy hierdie drie dinge nie vir haar gee nie, moet sy vrygelaat word sonder dat sy enige geld hoef te betaal.
12 “Enigeen wat iemand so slaan dat hy sterf, moet doodgemaak word.+ 13 Maar as hy dit per ongeluk doen en die ware God dit toelaat, sal ek vir julle ’n plek aanwys waarheen hy kan vlug.+ 14 As ’n man baie kwaad word vir sy medemens en hy hom opsetlik doodmaak,+ moet die man sterf, al moet julle hom van my altaar af wegneem.+ 15 Iemand wat sy pa of sy ma slaan, moet doodgemaak word.+
16 “Enigeen wat iemand ontvoer+ en hom verkoop of wat betrap word terwyl die ontvoerde persoon by hom is,+ moet doodgemaak word.+
17 “Enigiemand wat sy pa of sy ma vervloek, moet doodgemaak word.+
18 “Dít is wat moet gebeur as mans stry en die een sy medemens met ’n klip of met die vuis* slaan en hy nie sterf nie, maar in die bed moet bly: 19 As hy kan opstaan en buite kan rondloop met ’n stut, moet die een wat hom geslaan het, nie gestraf word nie. Hy moet slegs vergoed vir die beseerde man se verlore werkstyd totdat hy heeltemal gesond is.
20 “As ’n man sy slaaf of sy slavin met ’n stok slaan en die persoon as gevolg hiervan sterf, moet daardie persoon gewreek word.+ 21 Maar as hy ’n dag of twee bly lewe, moet hy nie gewreek word nie, want hy is met sy eienaar se geld gekoop.
22 “As mans met mekaar baklei en hulle ’n swanger vrou seermaak en haar kind te vroeg gebore word,*+ maar daar nie ’n besering is wat tot die dood lei nie, moet die oortreder die skadevergoeding betaal wat die vrou se man van hom eis. Hy moet dit deur die regters betaal.+ 23 Maar as daar ’n besering is wat tot die dood lei, moet jy lewe vir lewe* gee.+ 24 Jy moet oog vir oog gee, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet,+ 25 brandwond vir brandwond, wond vir wond, hou vir hou.
26 “As ’n man sy slaaf of sy slavin op die oog slaan en dit permanent beskadig, moet hy die slaaf vrylaat as vergoeding vir sy oog.+ 27 En as hy sy slaaf of sy slavin se tand uitslaan, moet hy die slaaf vrylaat as vergoeding vir sy tand.
28 “As ’n bul ’n man of ’n vrou stoot en die persoon sterf, moet die bul met klippe doodgegooi word+ en moet sy vleis nie geëet word nie. Die eienaar van die bul sal nie gestraf word nie. 29 Maar as ’n bul die gewoonte gehad het om mense te stoot en sy eienaar gewaarsku is, maar hy die bul nie onder beheer gehou het nie, en dit ’n man of ’n vrou doodgemaak het, moet die bul met klippe doodgegooi word, en sy eienaar moet ook doodgemaak word. 30 As hy ’n losprys* moet betaal, dan moet hy alles betaal wat van hom geëis word as die loskoopprys vir sy lewe. 31 As die bul ’n seun of ’n dogter stoot, sal dieselfde regterlike bevel vir die bul se eienaar geld. 32 As die bul ’n slaaf of ’n slavin stoot, moet die bul se eienaar 30 sikkels* aan die slaaf se meester gee, en die bul moet met klippe doodgegooi word.
33 “As ’n man die deksel van ’n put afhaal of ’n put grawe en dit nie bedek nie en ’n bul of ’n donkie daarin val, 34 moet die eienaar van die put vergoeding betaal.+ Hy moet die bedrag daarvoor aan die eienaar betaal, en die dooie dier sal syne word. 35 As een man se bul ’n ander man se bul seermaak en dit doodgaan, dan moet hulle die lewende bul verkoop en die geld wat daarvoor betaal is, verdeel. Hulle moet ook die dooie dier verdeel. 36 Of as dit bekend was dat ’n bul die gewoonte gehad het om ander diere te stoot, maar sy eienaar die bul nie onder beheer gehou het nie, moet hy vergoeding betaal, bul vir bul, en die dooie dier sal syne word.